Afrika se groei hou egter nie tred met wat elders gebeur nie. Volgens die Internasionale Monetêre Fonds het die Chinese ekonomie verlede jaar met 10% gegroei, Indië met 8.4% en Rusland met 6.4%. Ten einde teen 2015 die vasteland se armoedevlak te halveer, sal ’n volgehoue jaarlikse groeikoers van 7% noodsaaklik wees vir Afrika.
John Page, hoofekonoom van die Wêreldbank, meen dit is nie waar dat Afrika nie kan meeding met die res van die wêreld nie. Hy dink daar is “wêreldklas firmas in al die Afrika-lande” en dat Afrika bloot beter beleid en instellings nodig het, asook beleggings in infrastruktuur en menslike hulpbronne.
Beide Thabo Mbeki van Suid-Afrika en Abdoulaye Wade van Senegal het gister beklemtoon dat daar nie na Afrika gekyk moet word as ’n vasteland van “korrupsie en siekte“ nie. Tokyo Sexwale meen daar is rede vir optimisme en dat Afrika se sukses “gevier“ behoort te word. Hy het sy toespraak gelewer teen die agtergrond van dreunsang deur Cosatu-werkers wat buite die Internasionale Konferensiesentrum in Kaapstad gestaak het.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.