Joseph Kabila
Joseph Kabila, die 36-jarige staatshoof van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), is gister met sy aankoms by die parlement in Kaapstad met ’n rooi tapyt en geweersaluut begroet. Daarna is hy na Tuynhuis geneem vir samesprekings met president Thabo Mbeki.
Ná die bilaterale samesprekings het Kabila die parlement (in Frans) toegespreek. Hy is van mening dat Suid-Afrika en die DRK ekonomiese groei in Afrika kan aanvuur. Hy het ’n beroep op verbeterde samewerking tussen die twee lande gedoen. Daarna het hy verduidelik dat sy regering tans probeer om aan verskeie sake in die DRK aandag te gee: die landbousektor, mynwese en die bou van paaie, hawens en lughawens.
Sowat vier miljoen mense het die afgelope paar jaar in die konflikgeteisterde land die lewe gelaat.
Vandag sal Kabila en Mbeki deelneem aan die DRK-Sakeforum voordat Kabila na die Noordwes-provinisie vertrek vir ’n kort besoek.
Intussen het Moammar Khaddafi en Robert Mugabe Woensdag in Tripoli vergader en ooreengekom dat die Afrika-unie met sy 53 state in ’n federale regering omskep moet word wanneer Afrika-staatshoofde van 1-2 Julie in Akkra, Ghana, vergader.
Khaddafi is lankal ’n ondersteuner van die skepping van ’n Verenigde State van Afrika-konsep, wat volgens hom Afrika se 800 miljoen inwoners in staat sal stel om van “Westerse kolonialisme” ontslae te raak. Die vergadering in Ghana sal 50 jaar ná Ghana die eerste Afrika-staat geword het om onafhanklikheid te verwerf, plaasvind en is dus van simboliese belang.
Die twee leiers wou nie sê watter ander onderwerpe tydens die gesprek gedek is nie. Dit is egter bekend dat Zimbabwe petrol van Libië ontvang het, ingevolge ’n lening van 360 miljoen Amerikaanse dollar. Zimbabwe sou dan deel van die lening terugbetaal deur landbouprodukte aan Libië te lewer, maar die ooreenkoms het in 2002 platgeval aangesien Zimbabwe nie sy deel van die ooreenkoms kon nakom nie. Zimbabwe se inflasiekoers staan tans op 3 700%, die werkloosheidsyfer op 80% en daar is ’n chroniese tekort aan voedsel en petrol.
станции италияФильчаков прокурор отзывы