Reserwebank kap terug oor nasionalisering

Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago sê die bank vind dit moeilik om politieke risiko in die land te voorspel, maar het gewaarsku dat die nasionalisering van die Reserwebank baie ernstige gevolge vir die land sal hê.

Sy opmerking kom nadat die minister van minerale bronne Mosebenzi Zwane voorgestel het dat die gesag van die Reserwebank om banklisensies uit te reik onttrek word en dat dit die verantwoordelikheid van die minister van Finansies word.

Kganyago wou hom nie uitlaat oor die huidige politieke druk nie, maar het benadruk dat die Reserwebank sy werk onafhanklik en sonder vrees of vooroordeel doen.

Tydens ‘n besoek aan die SABC het hy gesê die land se kredietgradering word bepaal deur die struktuur van die politieke instansies in die land en gesê graderingsagentskappe word gelei deur faktore soos die regering se vermoë om geld te bekom en skuld te betaal.

Vroeër die week het die ANC se adjunksekretaris-generaal Jesse Duarte (foto) gesê die Reserwebank het versuim om die waarde van die Rand te beskerm omdat die bank in privaatbesit is.

Duarte het ‘n dwarsklap na die Bank gemik, en gesê die ANC het gevra vir ‘n verduideliking van waarom die rand “so senuweeagtig is”.

“Ons Reserwebank moet ons rand beskerm, maar die Reserwebank is in private besit, en daarom het ons ‘n probleem,” het Duarte gesê.

Duarte het ook verwys na die nuwe wysigings aan die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum wat verpligtinge op banke plaas om “polities invloedryke mense” te ondersoek.

Duarte het gesê dat indien ‘n enkele familie, soos die Guptas uitgedryf kan word, kan ander suksesvolle swart maatskappye volg. “Beteken dit dat ‘n swart maatskappy wat nie ‘n wit vennoot het nie en nie ‘n front is nie, staan ​​nie ‘n kans nie?” sy het gevra.

Dit is weens hierdie verpligtinge wat die vier groot banke bankdienste aan die Guptas onttrek het.

Bob ontplooi onlus-polisie

Organiseerders van onlangse betogings in Zimbabwe het Woensdag aangekondig dat alle ondernemings gesluit sal wees, maar winkels en kantore was wel oop.

Vragmotors met onlustepolisie gelaai was aan diens en die verkeer was vir die tweede agtereenvolgende dag lig in Bulawayo, waar anti-regeringsbetogings vir later die dag beplan is.

“Min mense het hul ware op die sypaadjies verkoop en min sake is gedoen,” het Zivanai Muzorodzi, ’n aktivis in die suidoostelike dorp Masvingo gesê.

“Ek dink daar is vrees onder die mense en hulle voel veiliger om die situasie van ’n afstand dop te hou.”

Saterdag het Mugabe onderneem om ’n einde aan die betogings te maak wat die afgelope maande aan die orde van die dag was terwyl Zimbabwe se ekonomiese krisis vererger het en die regering gesukkel het om staatsamp­tenare en die weermag se salarisse te betaal.

Verlede week het die polisie minstens 70 mense in hegtenis geneem, insluitende Promise Mkwananzi, die leier van die Tajamuka-protesveldtog, toe straatbetogings in Harare gehou is om hervormings voor die 2018-­verkiesings te eis.

Mugabe (92), wat sedert 1980 aan bewind is, het reeds aangedui dat hy weer as presidentskandidaat sal staan.

Hy het voorheen enige dislojaliteit teenoor sy outoritêre bewind onderdruk. Bespiegelinge oor wie hom sal opvolg, midde toenemende tekens van swak gesondheid, is aan die orde van die dag.

Mkwananzi is Maandag borgtog geweier.

May moet ernstige Brexit-verdeeldheid besweer

Die Britse eerste minister, Theresa May, het Woensdag haar senior ministers vir hul eerste gesprekke sedert die somervakansie oor Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) ontbied.

Dit kom te midde van berigte oor ernstige verdeeldheid wat die pad vorentoe betref.

Die minister van finansies, Philip Hammond, wil glo hê Brittanje moet ‘n ooreenkoms bereik om in die enkele EU-mark aan te bly.

Daar is ook verwarring oor die verantwoordelikhede van verskillende regeringsdepartemente in enige onderhandelinge met Brussel.

Die kabinetsvergadering by Chequers, noordwes van Londen, het ook ‘n dinkskrumsessie oor onderhandelingstaktiek met Brussel en sleuteloogmerke ingesluit.

MIV-Vigslyers kry van vandag dadelik behandeling

Suid-Afrikaners met MIV begin van vandag af met behandeling sodra hulle gediagnoseer is.

Die behandeling hang nie meer af van hul CD-4 telling nie.

Dit is in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie se nuwe MIV-riglyne wat bepaal dat pasiënte dadelik behandeling moet kry sodra daar vasgestel is dat hulle die siekte het.

Vroeër is pasiënte eers behandel nadat hul CD-4 telling laer as 500 gedaal het. Suid-Afrika het die wêreld se grootste program vir die behandeling van MIV met meer as drie miljoen mense.

Die adjunk-direkteur vir MIV/Vigs by die Departement van Gesondheid, dokter Yogan Pillay sê die land kan nie bekostig om pasiënte nié te behandel nié.

Hy sê een van die stappe wat geneem word, is om stabiele pasiënte na ondersteunersgroepe oor te dra waar hul medikasie by hulle afgelewer sal word.

Drie wat veiligheidswag met water spuit vandag verhoor

Drie wit studente van die Universiteit van die Vrystaat sal na verwagting vandag dissiplinêr verhoor word ná ‘n voorval met ‘n veiligheidswag Mmapaseka Mokhutli (foto) op die 16de Augustus.

Cosatu het die voorval skerp veroordeel en die aanval as “rassisties” beskryf.

Die drie studente het na bewering vloeistof uit ‘n blou bottel na die veiligheidswag gespuit by een van die Universiteit se hekke.

Rasbyters beweer die vloeistof was “urine”, terwyl die wag dit nie kon bevestig nie.

Volgens die UV se Lacea Loader het die drie wit studente nie hulle studentekaarte by hulle gehad toe hulle uit die kampus wou gaan nie.

Hulle is teruggestuur na die koshuis om hulle studentekaarte te kry.

Geslotekringbeeldmateriaal toon glo hoe die passasier vloeistof in die rigting van die wag spuit en die drie lag.

Dagga-party se aansoek uitgestel

Die Dagga-party se aansoek om die verbod op dagga ongrondwetlik te verklaar is Woensdag in die Wes-Kaap se Hooggeregshof tot Desember uitgestel.

Die uitstel is aangevra om die Staat tyd te gun om ‘n verslag oor die huidige daggabeleid in Suid-Afrika te bestudeer.

Daggaroker Garreth Prince (foto) sê die party bevraagteken die grondwetlikheid van die Wet op Narkotika. Prince het reeds ‘n vorige Grondwethofaansoek verloor.

Hy sê die aansoek handel nie daaroor of die dwelm skadelik is of nie, maar oor vryheid van keuse.

Prince sê alkohol en tabak is ook skadelik, maar word nie gekriminaliseer nie.

Die saak sal die 13de Desember hervat.

Vuurwapen in Brandfort-plaasaanval soek

Die Valke in die Vrystaat is steeds op soek na ‘n vuurwapen wat gebruik is deur vier vermeende swart plaasaanvallers naby Brandfort Maandag.

‘n Woordvoerder van die Valke, S’fiso Nyakane, sê hulle het hul soektog na ‘n dam naby die veld waar die aanval plaasgevind het, uitgebrei.

Charl Gutter is aangeval op sy plaas deur die vier swart verdagtes omstreeks 07:00 toe hy op die punt was om te vertrek van sy plaas.

‘n Worsteling het uitgebreek en een van die verdagtes het na bewering skote afgevuur op Gutter. Hy het teruggeskiet en een gewond in die rug.

Die beseerde aanvaller, Saniboy Segalo, het later gesterf in ‘n ambulans op pad na die hospitaal.

Nyakane sê Teboho Francis, Tefo Tlhabo en Tsietsi Rampa het vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en poging tot roof.

Hy sê hulle sal formeel om borgtog aansoek doen op 7 September.

Hulle bly in aanhouding.

‘n Miljard se vrugtelose uitgawes in Noordwes

Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge in Noordwes is bekommerd oor die stand van die provinsie se finansiële sake.

Dit, volgens komiteevoorsitter, Mahlakeng Mahlakeng. Dit blyk uit die jongste verslag van die ouditeur-generaal dat daar R2 miljard se onreëlmatige uitgawes in die 2014/15-boekjaar was.

Noordwes is, na wat berig word, die provinsie met die meeste onreëlmatige uitgawes in die land.

Volgens Mahlakeng is daar reeds aanduidings dat daar ’n verdere R1 miljard se vrugtelose uitgawes vir die 2015/16-boekjaar gaan wees.

Mahlakeng sê alle plaaslike regeringsdepartemente sal eersdaags voor die komitee verskyn om rekenskap van hul finansies te gee.

Die swempet-haartoets is ook ‘rassisme’

Saint Michael’s School for Girls (SMS) in Bloemfontein kon nie ‘n erger week gekies het vir ‘n netheidtoets van swart leerlinge se wolklosse nie.

Leerlinge by Pretoria Girls High School is in opstand oor die “polisiëring” van kroeshare en die bohaai het nou oorgespoel na die Engelse meisiesskool in Bloemfontein.

Aangehits deur die ophef op sosiale media en rasbyters, het die meisies per SMS Woensdagoggend afgespreek om ‘n protes van hul eie te hou en buite die skool te betoog.

Hul weiering om klasse by te woon, en hul krygskrete buite die skoolhekke met ondersteuning van swart ouers, het glo die ingryping deur die Vrystaatse Onderwysdepartement genoop.

Dit kom nadat die skool een van sy netheidtoetse gehou het wat behels dat ‘n swempet oor die koppe van swart leerlinge getrek word om te sien of dit pas.

Swart meisies word nie toegelaat om hul wolle in die natuurlike toestand te dra nie, omdat dit slordig lyk.

Wit meisies word ook nie toegelaat om hul hare los en slordig te dra nie.

Tradisionele “swart” haarstyle soos kopvelvlegsels of “dreadlocks” [koekhaarstringe] word ook nie toegelaat by sekere skole nie.

Dit beteken dat swartes se enigste ander opsie chemiese haarbehandelings is as hulle nie hul wolle kort wil dra nie.

Volgens die departement se Howard Ndaba, is hierdie reëls reeds deel van dissiplinêre kode van die skool vir die afgelope 20 jaar. Maar volgens swart leerlinge by die skool word die swempettoets net op swartes toegepas.

“Hulle sit die swempet op hul hare, en indien die swempet jou kop nie pas nie, beteken dit dat jou hare nie voldoen aan die vereiste standaarde van die skool nie. Jy word dan gevra word om jou hare te sny of iets te doen met jou hare,” het Ndaba gesê.

Ndaba sê die departement ondersoek bewerings dat slegs swart leerlinge getoets word.

Die voorsitter van Saint Michael se beheerliggaam, Brian Sweetlove, ontken dat ras ‘n rol speel in die toets of regulasies.

“Die toets is, of die hare in ‘n swempet pas en of die hare ‘n “Basher” (strooihoed) toelaat. Dit maak nie saak hoe lank dit is nie. Dit maak nie saak hoe dik dit is nie en dit maak nie saak oor die styl nie. Dit is nie ‘n wit of swart kwessie nie. Dit gaan oor die hoeveelheid hare wat kan inpas in ‘n swempet,” het hy gesê.

Sy verklarings het reeds op dowe swart ore geval. Die Vrystaatse departement van onderwys het die haarbeleid reeds opgehef terwyl die ondersoek duur.

Rasbyters het die skool ook van verdere “rassisme” beskuldig nadat `n onderwyser na bewering gesê het dat swart kinders soos ape optree.

Die departement van onderwys het bevestig dat die haarbeleid wel deel van die skool se gedragskode is, maar ondersoek nou aantygings dat net swart meisies daaraan onderwerp is.

WHO hou noodvergadering oor Zika

Reuters berig dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) Dinsdag aangekondig het dat sy nood­komitee oor Zika vandag sal ver­gader.

Die vergadering sal gehou word om die uitbreking se ewolusie en neurologiese defekte wat met die muskiet-oordraagbare virus gepaard gaan, te bespreek.

Die paneel van onafhanklike deskundiges onder leiding van dr. David Heymann, het laas op 14 Junie byeengekom en vergader elke drie maande om vordering in die stryd teen die siekte te hersien.

Heymann is tans professor in Epidemiologie by die London School of Hygiene & Tropical Medicine, hoof van die Sentrum vir Gesondheidssekuriteit by Chatham House in Londen en voorsitter van Openbare Gesondheid vir die Verenigde Koninkryk.

Hy het ook nóú saamgewerk met US Centers for Disease Control and Prevention (CDC) in die VSA na die uitbreking van Ebola in Afrika.

Die Zika-uitbreking het verlede jaar in Brasilië begin en sedertdien oor die Amerikas versprei.

Singapoer het Maandag bevestig dat 15 nuwe gevalle van die siekte aangemeld is, wat die totaal op 82 gevalle in die land te staan bring.

Suid-Korea, Taiwan en Australië het intussen reiswaarskuwings uitgereik om swanger vroue en ander oor die situasie in Singapoer in te lig.

Die meeste mense wat Zika opdoen, toon geen simptome nie wat dit makliker maak om talle ander aan te steek voordat nie virus ontdek word.

Werkers in Singapoer se koors word tans twee maal per dag gemeet, hulle moet vitamien C drink en muskietweerder gebruik.