
Die Johannesburgse dagblad Beeld wat aan die begin van die jaar ‘n veldtog teen die Potchefstroomse kampus van die Noord-Wes-universiteit ontketen het met sy interpretasie van ‘n draai-armgebaar as “Nazi-saluut”, skaar hom in sy beriggewing openlik by die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, wat ‘n verslag oor die universiteit aangevra het.
Daar word vandag om 10:00 in Sandton ‘n vergadering gehou om te besluit wat in die verslag sal staan wat aan Nzimande voorgelê sal word. Beeld beskryf dit as ‘n “waarheidsmoment vir die instelling”, wat suggereer dat die koerant sou wou sien dat die PUK finaal van sy Afrikaanse taal en kultuur beroof word en verengels en verafrikaniseer word. Volgens die koerant is daar “verdelingslyne… tussen interne en eksterne raadslede… oor kultuurkwessies”.
Die taakspan wat oor die universiteit verslag moet doen, staan onder voorsitterskap van dr. Leon Wessels, een van die vorige NP-politici wat ANC-gevoelens ontwikkel het en ook as kommissaris van die Menseregtekommissie gedien het.
Aspekte van die verslag wat vooraf aan die media gelek is, sluit in dat:
- ‘n eenvormige institusionele kultuur op al drie die NWU-kampusse gevestig moet word;
- “korrektiewe stappe” op die Potchefstroom-kampus gedoen sal word;
- “fascisme” op die kampus beëindig sal word en ‘n meer marxistiese benadering op die kampus, veral in die geesteswetenskappe, sal geld.
Benewens die redakteur van Beeld, Adriaan Basson, vir wie die Afrikaanstalige PUK ‘n steen des aanstoots is, het prof. Pierre de Vos van die Universiteit van Kaapstad insgelyks in Februarie die PUK in ‘n rubriek as ‘n “middelmatige universiteit” beskryf. Volgens De Vos is dit die geval omdat studente aldaar nie kan leer van studente wat “anders as hulle is (wat ras, hul seksuele oriëntasie, of taal betref) nie”.



