Die Suid-Afrikaanse Kommuniste party sê mynmaatskappye wat die voorwaardes vir mynlisensies breek, moet gestraf word.
Die hoofsekretaris van die SAKP, Blade Nzimande sê mynmaatskappye se sug na mega-winste kan nie verder toegelaat word nie.
Nzimande sê die voorgestelde indaba moet staatsingryping ondersoek, asook kollektiewe bedinging vir alle mynsektore en die graderingstelsels van myne aanpas.
Die adjunk-hoofsekretaris, Jeremy Cronin het gesê die party is verbind tot die transformasie van die mynbedryf.
Dié en ander verklarings is by die afsluiting van die party se driedaagse sentrale komitee vergadering in Johannesburg gemaak.
Cronin het gesê mynmaatskappye behoort behuising, mynveiligheid en inspraak deur werkers op te knap.
Die SAKP het ook ‘n beroep op die regering gedoen om ‘n mynindaba te belê om die staking wat die platinumbedryf lamlê, te bespreek.
Die party sê hoewel die staking en die ontwrigting in die platinum-gordel beëindig moet word, moet ‘n skikking ook die dieper kwessies aanspreek.
Die arbeidshof het sy uitspraak oor ‘n dringende aansoek deur die vakbond, Amcu teen die onttrekking van die platinumprodusente, Amplats en Implats aan die hof se bemiddelingsproses tot Maandag voorbehou.
Die aansoek teen die derde maatskappy, Lonmin is uitgestel weens sy voortgesette deelname aan die proses, wat vandag sal voortgaan.
Amplats en Implats het hulle onttrek aan die bemiddelingsproses omdat hulle deelneem aan die regeringstaakspan se loononderhandelings.
Die minister van Minerale Hulpbronne, Ngoako Ramatlodi het die span aangestel om as bemiddellaar op te tree. Dit is nie bekend wanneer die interministeriële taakspan hul onderhandelings sal hervat om die staking te probeer beëindig nie.
Amcu is gekant teen die mynhuise se meningspeilings onder sy werkers oor of hulle die staking wil beëindig en wil terugkeer werk toe.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.