Die Zimdollar is dood, lank leef die Zimdollar!

Image

‘n Paar ‘klein’ Zimdollarnote

'n Swartvrou betaal haar busgeld met 3 triljoen ou-Zimbabwiese dollar – gelykstaande aan vier rand. Die kondukteur aanvaar die baksteen netjies gevoude bondels van 'n triljoen elk sonder om die moeite te doen om die note te tel.

"Dit lyk nie asof iemand omgee nie en dit werk," sê die swartvrou, Lucy Denya, 'n sekretaresse in Harare wat beweer dat sy polisiebeamptes gesien het wat ou note gebruik om op busse toegelaat te word.

Die Zimbabwedollar is amptelik dood. Dit is van kant gemaak in die hoop dat die wêreldrekordinflasie van miljarde persentasiepunte in Zimbabwe gekeer kan word en Zimbabwe het dit met die VS-dollar en SA rand vervang.

Maar die rol van die ou-Zimdollar, soos dit bekend is, bly vloeibaar. Dit word steeds gebruik en het nog 'n geskilpunt vir die land se verdeelde leierskorps geword. Danksy die geldkrisis, is Zimbabwe nou een van die armste lande ter wêreld.

President Robert Mugabe het gevra vir die herinstelling van die Zimdollar as wettige betaalmiddel omdat die meeste Zimbabwiërs oor geen valuta beskik om basiese lewensmiddele te koop nie. Die sentrale bank onder goewerneur Gideon Gono, 'n Mugabe-lojalis, het die druk van ekstra plaaslike geld erken wat gebruik is om staatsbesteding te befonds, wat sodoende die inflasie gestook het.

Maar die minister van finansies, Tendai Biti, wat by die regering aangesluit het as deel van 'n magsdelingsooreenkoms tussen sy Beweging vir Demokratiese Verandering en Mugabe se ZANU-PF-party, het verklaar dat die plaaslike dollar vir altyd uitgedien is. Hy het gedreig om te bedank indien 'n terugkeer na die plaaslike geldeenheid op hom afgedwing sou word.

"Ons plaas nou die grafsteen op die lyk van die Zimbabwedollar," het Biti aan wetgewers tydens 'n sesmaandelikse fiskale beleidsverklaring gesê.

In 'n toespraak aan sakeleiers, het hy gesê: "Ons druk nie meer ons eie geld nie."

Volgens Biti het maandelikse inflasie in Junie effens gestyg, tot 0,6 persent, vanaf nul persent die vorige maand. Hy het die styging aan prysverhogings in eiendomsverhuring, petrol en ander nie-voedselitems toegeskryf. Hy het ook erken dat die BNP per kop van Zimbabwe van VS$720 in 2002 tot VS$265 verlede jaar gedaal het, wat die tekort aan kontant in die ekonomie weerspieël.

Daardie tekort word nie deur die stand van die globale ekonomie, waarvan Zimbabwe afhanklik is, aangehelp nie.

Met die ineenstorting van die land se landbou-ekonomie ná die beslaglegging op duisende blanke plase in 2000, het 'n beraamde 4 miljoen Zimbabwiërs – waarvan vele geskoolde werkers was – die land verlaat op soek na werk in Suid-Afrika en ander lande. Die sogenaamde "diasporadollar" het by verre die land se grootste bron van buitelandse valuta geword.

Maar weens die globale resessie is dié invloei besig om af te neem, sê die bankiers. In 'n tipiese geval het 'n sakeman se dogter in Brittanje 'n e-pos aan hom in Junie gestuur om te sê dat sy voortaan net die helfte van haar maandelikse bedrag van $400 aan hom sou stuur.

Die onafhanklike Zimabwiese Nasionale Kamer van Koophandel blameer die akute tekort aan valuta op bedrae wat nou bestee word om basiese goedere wat voorheen in Zimbabwe vervaardig is, soos seep en kookolie, van Suid-Afrika aan te koop.

Al wat die busbestuurders met Zimdollars kan doen, is om hulle aan ander passasiers teurg te gee as kleingeld vir Amerikaanse note. In een geval waaroor berig is, het 'n passasier 'n vuurwapen uitgehaal en op 'n busbestuurder gerig wat daarop aangedring het om vir hom kleingeld in plaaslike note te gee.

Buite die stedelike gebiede, waar valute moeilik bekombaar is, word Zimbabwe-dollars soos skuldbriewe in klein transaksies gebruik. En Zimbabwiese note van 'n triljoen dollar, wat die wêreld se grootste note verteenwoordig, word deur versamelaars op eBay opgeraap. In Zimbabwe verwissel hulle van hande soos koepons of beloftes om te betaal.

Winkels sonder kleingeld in valuta bied nie die uitgediende Zimdollars in ruil aan nie, maar gee gewoonlik lekkergoed of sjokoladestafies of handgeskrewe "koepons" op kasregisterstrokies wat in die toekoms opgeëis kan word.

Irene Gwata, die eienaar van 'n klein smouswinkeltjie op die noordwestelike platteland van Zimbabwe, sê valuta syfer in die onlangse tyd nie meer deur na haar klante toe nie. Die plaaslike bevolking verhandel nou bokvleis, hoenders en emmers mielies vir goedere, sê sy.

Sy het 'n swartvrou uit 'n stat op 'n bus sien klim en met 'n lewendige hoender in 'n draadhok betaal vir die reis van 150 km na Harare.

Met die gelate humor van die Zimbabwiese swartes, sê Gwata: "Mense wou weet of sy eiers vir kleingeld gaan kry."

штукатурка цементная ценаФильчаков прокурор

Afrikaans mag binne twee of drie geslagte uitsterf

Vrydagaand 14 Augustus (GRA-dag) het ek die onderstaande toespraak gelewer tydens 'n debat oor die toekoms van Afrikaans wat deur die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans gereël is. Mnre. Louis Smuts van Tabok en Cornelius Janse van Rensburg van die Vryheidsfront Plus se jeugbeweging het die saak vir die voortbestaan van Afrikaans verdedig, terwyl mnr. Henk van de Graaf van Radio Pretoria ook my pessimistiese prognose vir Afrikaans ondersteun het. Op pad na die Hervormde Kerksaal in Du Toitstraat in die middestad van Pretoria, het ons die indruk gekry dat ons vreemdelinge in die stad was. Terwyl die strate van Pretoria op 'n Vrydagaand wemel van mense, is daar geen blankes of Afrikaners te sien nie. 'n Mens wonder wat Paul Kruger en die oorspronklike stadsvaders daarvan sou gedink het, maar die demografiese transformasie – om 'n gepaste term te gebruik – van Pretoria ondersteun insgelyks my argument, dat Afrikaans sonder een of ander groot poging deur Afrikaners of 'n radikale staatkundige verandering in Suid-Afrika, bestem is om algaande te kwyn en dan uit te sterf.

Sedert Brittanje onder aanvoering van Lord Craig vir die eerste keer die Kaap in 1795 binnegeval het, het Nederlands, of dan die latere Afrikaans, byna konstant verliese van sprekers teenoor Engels getoon. Vandag bestaan daar vele mense in die land met Afrikaanse vanne wat nie Afrikaans magtig is nie. Hulle gaan nooit ‘n Afrikaanse boek lees nie, ‘n Afrikaanse film of TV-program kyk nie en natuurlik sal so ‘n persoon net in buitengewone omstandighede sy of haar kind na ‘n Afrikaanse skool stuur.

Van die groot aantal Afrikaner-emigrante wat sedert 1994 die land verlaat het, kan mens gerieflik sê dat slegs ‘n minderheid se kinders wat in die buiteland gebore is, nog Afrikaans praat. My beste vriend op skool – ek was aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg – se kinders verstaan geen woord Afrikaans nie, want hy is met ‘n Engelse vrou uit Natal getroud en agterna het hulle in Londen gaan woon waar hy sedertdien as advokaat praktiseer. Op een van my rare besoek aan hul woning het ek en hy oudergewoonte met mekaar Afrikaans gepraat.

"Daddy, what language is that?" het sy oudste seun in die geselskap gevra. "Dis Afrikaans," het sy pa geantwoord.

Net so hoor mens vele Afrikanerkinders wat binne enkele jare in Australië verengels aan hul Australiese maats sê: "My dad speaks Afrikaans." Maar self het hulle die taal verloor.

Een van die punte wat ek hier gaan benadruk, spreek uit dié voorbeelde: 'n ouer kan moeilik sy eie taal aan sy kind oordra indien die kind in 'n geheel en al anderstalige omgewing grootword. Onlangse studies wat in Kanada gedoen is, het bevind dat 'n groot persentasie kinders van Franssprekende ouers wat buite hul tuisprovinsie Québec grootword, eenvoudig verengels omdat sulke kinders in 'n sogenaamde "see van Engels" opgroei. Kanada, wat tweetaligheid ernstig opneem, anders as die huidige Suid-Afrika wat slegs lippediens aan sogenaamde "meertaligheid" bewys en in wese reeds 'n Engelse staat is, neem tweetaligheid ernstig op. Die staat stel selfs spesiale hulpmiddele en Franstalige skole in Engelse gebiede aan ouers beskikbaar en die bevordering en beskerming van Frans word as 'n belangrike aspek van staatsbeleid beskou.

Franstalige Kanadese of Québecois voel nasionalisties oor hul taal en is oor die algemeen baie taalgetrou, waarskynlik baie meer as Afrikaners. Desnieteenstaande en nieteenstaande tweetalige kommunikasie deur die staat en genoegsame Franstalige skole en amptelike steun vir die Franse kultuur, ondervind ouers buite die Franse gebied van Québec dit toenemend moeilik om hul moedertaal aan hul eie kinders oor te dra, net soos die Afrikaners in Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en elders. Daar word verwys na "die see van Engels" wat hierdie kinders omring en wat uiteindelik sterker is as die ouerhuis se invloed om die eie kultuur te handhaaf.

Die meeste Afrikaners is trots op hul Dietse of Nederlandse afkoms. Maar as ons praat van taalgetrouheid is Nederlanders wêreldwyd die immigrantegroep wat die vinnigste hul taal verloor. In sowel Australië as Kanada verloor 87% van Nederlandse immigrante in dié lande binne een geslag hul taal!

Redelik gou ná 1994 het ons agtergekom dat die politieke revolusie wat mnr. F.W. de Klerk in sy wysheid ontketen het ook 'n taalrevolusie was. Die ou tweetalige Suid-Afrika, wat ook vir die ontwikkeling van swart streekstale in die ou tuislande voorsiening gemaak het, het 'n Engelse land geword. Binne enkele jare het die grondwetlike illusie dat Afrikaans gelyke status teenoor Engels in die staatsdiens en in die openbaar sou geniet, so te sê soos mis voor die son verdwyn. Die staat doen nie eens moeite om simboliese fieterjasies te handhaaf wat selfs die indruk sou skep dat Afrikaans nog enige amptelike status sou geniet nie.

Duisende jare gelede kon 'n taal oorleef al is hy deur slegs enkele honderde mense gepraat wat aan dieselfde stam behoort het. Afrikaans is egter 'n moderne, ontwikkelde kultuurtaal wat grootliks in die twintigste eeu gestandaardiseer en gevorm is. As sodanig, het Afrikaans – soos enige ander taal ter wêreld – bepaalde elemente nodig wat die werking en voortbestaan daarvan verseker. Ek wil nou poog om sulke elemente te identifiseer:

  1. 'n Taal het sprekers nodig. Afrikaans beskik sekerlik steeds oor sprekers, maar van ons mees opgevoede en geskoolde mense word deur regstellende aksie landuit gedryf. Na raming het reeds 'n miljoen Afrikaners die land verlaat en waarskynlik gaan hulle kinders en kleinkinders hoofsaaklik Engels praat en deel van die 87% Dietse taalsprekers word wat binne een geslag hul taal verloor.
  2. 'n Taal het instellings soos skole, kleuterskole, universiteite, 'n akademie wat die taalreëls vasstel, asook biblioteke, museums en ander bewaringsinstansies nodig. Ná 1994 is feitlik alle staatshulp aan die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns onttrek. Afrikaanse universiteite is deur Kader Asmal saamgesmelt met die uitsluitlike doel om die Engelstalige studente aan die meeste Afrikaanse universiteite in die meerderheid te stel sodat hulle gouer kan verengels. Die Hoërskool Ermelo en vele ander laer- en hoërskole is onderwerp aan dikwels hardhandige maatreëls om hulle op die pad van tweetaligheid en verengelsing te plaas.
  3. Elke taal ter wêreld, selfs groot tale soos Frans, Duits en Spaans wat elkeen oor honderde miljoene sprekers beskik, ontvang staatshulp as dit kom by die befondsing van vertalings, die publikasie van tegniese en literêre boeke, 'n eie film- en TV-bedryf, asook die bevordering van daardie taal in die eie land en internasionaal. Danksy die de facto-status van staatlose taal wat Afrikaans sedert 1994 beklee, ontvang ons geen staatsondersteuning nie en sal enige Suid-Afrikaanse ambassade in die buiteland ons waarskynlik uitlag indien ons vra dat ons taal, letterkunde en kultuur ook elders ter wêreld bevorder moet word, veral onder die groot aantal Afrikaner-emigrante, maar ook onder sprekers van verwante tale soos Nederlanders, Vlaminge en Duitsers.
  4. 'n Taal moet 'n nuttigheids- of handelsfunksie hê, anders sien nóg moedertaalsprekers, nóg vreemdetaalsprekers enige nut in die handhawing of aanleer van die taal. Weereens, in ander tweetalige lande soos België en Kanada, bestaan streng wetgewing wat die swakker ekonomiese taal teen mededinging beskerm. In Vlaandere, die Nederlandstalige gebied van België, word geen Franse reklameborde of ander tekens toegelaat nie. In Québec weer, beskerm die Franssprekendes hulself teen mededinging van Engels en bestaan daar 'n spesiale staatsliggaam wat algemeen as die "taalpolisie" bekendstaan wat sorg dat Frans die heersende handelstaal bly en ook dat geen maatskappy in Québec 'n webwerf aanhou waarop Frans nie voorrang teenoor Engels geniet nie. Hoeveel Afrikanersakemanne in Suid-Afrika adverteer hul produkte of dienste in Afrikaans, wonder ek? Maar ons beskik oor geen taalpolisie of ander staatsinisiatiewe wat die gebruik van Afrikaans in die handel bevorder nie.
  5. 'n Taal het behoefte aan wat ek 'n "regverdige bestel" sou noem. In 'n meertalige land sou dit beteken dat daar 'n behoorlike grondwet en taalwette bestaan wat die staat, die administrasie en die burgers ernstig opneem. Ons het nou al male sonder tal gesien dat ons Engelse staat hom glad nie aan enige reëls steur wat die de facto-hegemonie van Engels sou belemmer nie.
  6. Uiteindelik – en dit is my eie oortuiging ook – is daar 'n verband tussen taal en grondgebied. Die internasionale voorbeelde, soos Vlaandere en Québec, vertel ons dat 'n situasie van taalongelykheid en konstante taalverskuiwing van die ondergeskikte taal na die dominante taal slegs gestabiliseer kan word deur 'n bepaalde gebied aan die taal toe te ken. Selfs kleiner tale of dialekte kan baat by of gered word deur 'n sogenaamde Sprachinsel of "taaleiland", 'n eie gebied wat binne die meerderheidstaalgebied aan so 'n taal of dialek toegeken word. Vir alle praktiese doeleindes beskik Afrikaans oor geen gebied in die land nie, hoewel daar vele dorpe, stede en streke bestaan waar ons taal deur die meerderheid inwoners gepraat word. In dié opsig handhaaf die RSA die ou Sowjetbeginsel waarop Hermann Giliomee reeds gewys het. Russies het in die ou Sowjetunie die "reg van toegang" tot die gebiede van ander tale gehad, maar die omgekeerde het nie gegeld nie. Engels in Suid-Afrika beskik oor die "reg van toegang" tot Afrikaanse gebiede of instellings, maar die omgekeerde geld nie. Waarskynlik is dit 'n biologiese beginsel, maar sonder grondgebied of een of ander vorm van territorium wat op sy eenvoudigste 'n Afrikaanse skool kan wees, kan geen taal oorleef nie. As ons eerlik is, moet ons erken dat Afrikaans hom tans binne Engels-verowerde gebied bevind en kan ons nie eens permanente aanspraak maak op die mees basiese instellings wat vir ons 'n vorm van territorium sou kon bied nie.
  7. In die moderne samelewing speel media natuurlik 'n geweldig belangrike rol. Een van die voordele van 'n eie land, volkstaat of gebied is dat jy nie net die grondgebied beheer nie, maar ook die luggolwe waar jy vrylik uitsaailisensies aan radiostasies en televisiekanale in jou taal kan toeken. Helaas, by gebrek aan 'n gebied, beskik Afrikaners of Afrikaanssprekendes glad nie oor dié voorreg wat vir baie ander taalgemeenskappe wêreldwyd 'n reg is nie. Radio Pretoria, 'n Afrikaanse gemeenskapsradiostasie, moes op eie koste 'n tienjaarlange hofstryd voer vir die reg om in Afrikaans uit te saai. Enige nuwe Afrikaanse stasie of kanaal moet 'n magdom Engelse vorms vir Okosa invul en sal waarskynlik deur die Engelstalige owerheid afgekeur word omdat 'n Afrikaanse medium nie sogenaamd "inklusief" genoeg is nie.
  8. 'n Laaste element waarsonder geen taal kan oorleef nie, is die taalgetrouheid of die taalnasionalisme van sy sprekers. Afrikaans het in die verlede die hindernisse van 'n tweetalige staatsbestel en Engelse oorheersing oorkom omdat die taal deur 'n baie sterk nasionalistiese beweging onder skrywers, taalkundiges, historici, omroepers, dramaturge, filmmakers, onderwysers, predikante en die gewone man op straat gedra is. Tans leef ons in die sogenaamde "globale tydvak" in 'n land wat hom as deel van die internasionale Engelse kultuur sien en daarom per definisie vyandig staan teenoor enigiets wat die staat of sy apologete as "etniese nasionalisme" sou tipeer. Afrikaans of dan Standaardafrikaans of die Afrikaanse kultuurtaal, is die gevolg van 'n nasionalistiese beweging. By gebrek aan so 'n taalnasionalisme, binne 'n reeds Afrikaansvyandige staatsbestel, is dit feitlik 'n uitgemaakte saak dat Afrikaans gaan uitsterf.

Tot dusver het ek agt elemente geïdentifiseer waarsonder geen taal op die duur kan oorleef nie. Ons het gesien dat Afrikaans oor geen van dié elemente wat ander, groter tale onderskraag, beskik nie.

Volgens taalkundiges is daar tans omtrent 5500 tale in die wêreld oor, waarvan sommige Indianetale is wat deur slegs enkele stamme gepraat word. Dieselfde taalkundiges beweer dat 90% van daardie tale in hierdie eeu gaan uitsterf teen die tempo vaon ongeveer een per week. Indien die huidige toestand in Suid-Afrika voortduur, gaan iemand beslis vir Afrikaans tydens een van daardie weke 'n grafsteen oprig, daarvan is ek oortuig.

Afrikaans is op die oomblik soos 'n pasiënt in die vroeë stadium van terminale kanker; hy lyk nog gesond, maar as die dokter – of in dié geval die taalkundige – hom bietjie ondersoek, is al die tekens daar dat ons taal ernstig siek is.

'n Mens hoef maar net Sewendelaan of Villa Rosa op die televisie aan te skakel, of te luister hoe hoërskoolkinders praat, om agter te kom dat baie sprekers van Afrikaans reeds 'n stadium bereik het wat as "oorgangstweetaligheid" bekendstaan.

Konstante taalverskuiwing van een taal na 'n ander lei uiteindelik tot die dood van die taal wat al die sprekers afstaan. Die proses waardeur 'n individu of gesin hul taal verloor, is eintlik baie dieselfde as die manier waarop die taalgemeenskap in sy geheel sy taal prysgee.

Wanneer die kind van 'n Nederlandse immigrant in Australië of Kanada – onthou 87% van hulle verloor hul moedertaal – in die sogenaamde Engelse see grootword, mag hy nog enkele Nederlandse woorde praat wat hy van sy ouers geleer het. Alles in die samelewing rondom hom is egter Engels en hy gaan in Engels skool. Alle komplekse begrippe kan hy slegs op Engels uitdruk. Selfs al praat so 'n kind sy moedertaal, gaan dit gemeng wees want vir 'n groot aantal begrippe, name of uitdrukkings in sy omgewing beskik hy gewoon oor geen terme in sy moedertaal nie. Uiteindelik kwyn die moedertaal en op die ou end bly feitlik niks oor nie. Natuurlik gaan enige kind van die volgende geslag geheel en al die oorspronklike taal verloor het.

Vele sprekers van Afrikaans bevind hulself reeds in 'n toestand van oorgangstweetaligheid. Hulle ken of gebruik nie meer alledaagse Afrikaanse woorde soos "loodgieter", "pragtig" of "polisiestasie" nie. Hulle praat van "plumber", "awesome" of "police station", bloot omdat dit die woorde is wat hulle in hul omgewing – hulle 100% Engelse omgewing – aantref.

Terwyl daar 'n polities korrekte argument bestaan dat die gekleurde sprekers van Afrikaans, veral in die Wes-Kaap, die "toekoms van Afrikaans" verteenwoordig vanweë hul relatief hoë bevolkingsaanwas, is die taalverskuiwing onder Afrikaakssprekende kleurlinge in die groter Kaapstadgebied nog veel erger as onder Afrikaners. In 'n redelik onlangse studie wat deur plaaslike en internasionale taalkundiges word die volgende kommentaar op bl. 95 aangetref:

"English has replaced Afrikaans as the most widely-used home language amongst primary school children in the metropolis, something that could indicate the beginnings of a language shift from Afrikaans." *

Terwyl die meerderheid kleurlingoupas en -oumas in die Kaapstadomgewing Afrikaans-eentalig was, is hul kinders tweetalig. Die huidige geslag kinders het egter nou die oorgang na Engels gemaak. Die proses van taalverskuiwing is reeds aan die gang en terwyl dit onder blanke Afrikaners minder opmerklik is, gaan die huidige verlies aan Afrikaans se hoër funksies in die staatsdiens, die howe, universiteite, banke en ander groot maatskappye en uiteindelik ook die skole verreikende implikasies vir die voortbestaan van Afrikaans hê.

Sonder om alarmisties te wees, moet ons besef: die krisis is baie groter as wat ons dink. Indien die status quo voortduur, gaan Afrikaans binne twee of drie geslagte vir alle praktiese doeleindes uitsterf.

Die skrif is aan die muur vir Afrikaans. Indien ons nie 'n baie groot poging aanwend nie, is dit feitlik onomkeerbaar.

 * Language policy implementation and language vitality in WesternCape primary schools deur Peter Plüddemann, Daryl Braam, Peter Broeder, Guus Extra, Michellé October. Praese Occasional Papers nr. 15, Universiteit van Kaapstad, 2004.

ролики детскиепрокурор Фильчаков

Meimaand en die Boeremagsaak

Ná 'n reses van sewe weke het die Boeremagsaak op 11 Augustus 2009 in die Hooggeregshof, te Vermeulenstraat, Pretoria, hervat. Toevallig is dié datum die herdenking van die dag waarop die hofsaak oorspronklik sou begin het vir die eerste drie beskuldigdes – Mike du Toit, André du Toit en Rooikoos du Plessis – in die jaar 2002.  Dit het egter nie gebeur nie omrede daar nog agt mans die voorafgaande paar dae gearresteer is en nog arrestasies sou volg.

Die saak sou eers op die 19de Mei 2003 begin, in die Paleis van Justisie op Kerkplein. Die eerste drie van die beskuldigdes was op daardie stadium reeds dertien maande in aanhouding. Die res – tussen nege en vier maande. Al die beskuldigdes staan nog steeds tereg op 42 klagte van onder meer hoogverraad, terrorisme, sabotasie, moord, poging tot moord en die onwettige besit van wapens en ammunisie.

'n Gestoei met die Regshulpraad veroorsaak egter dat die saak eintlik eers in Junie daardie jaar begin. Ses van die beskuldigdes pleit onskuldig op al die aanklagte. Dertien ander meen dat die staat geen jurisdiksie oor hulle het nie, aangesien hulle die huidige regering as onwettig beskou en hulle pleit vir eers nie. Twee ander, Dirk Hanekom en  Fritz Naude, sou eers wag tot Augustus voordat hulle sou pleit, omdat hulle advokaat op daardie stadium nog nie opdrag van die Regshulpraad ontvang het nie.

Tom Vorster weier om te pleit, omdat sy grondwetlike regte "grof geskend" is nadat tronkbewaarders beslag gelê het op geprivilegeerde dokumente van hom waarin hy die basis van sy verweer uiteengesit het. Regter Jordaan teken 'n pleit van onskuldig vir hom aan.

 Die vorige dag(18 Mei 2003) is Dawie Oosthuizen, een van die 23 beskuldigdes, tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Vier jaar van sy vonnis word opgeskort vir vyf jaar, nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.  Hy is egter op 20 Desember 2008 op parool vrygelaat, nadat hy vir die staat getuig het.

Gedurende die eerste jaar van die saak word die aansoek oor die jurisdiksie van die staat gebring. Daar is ook 'n vooraansoek waarin die eerste drie beskuldigdes vra dat hulle saak van die res geskei moet word. Ook maak hulle drie beswaar dat hulle nie 'n regverdige verhoor te wagte kan wees nie, omrede die ondersoekspan op hulle verweer beslag gelê het tydens 'n visentering gedurende Oktober die vorige jaar, in die Lokaal-gevangenis, Pretoria.

Die eerste getuie vir die staat, JC Smit, 'n polisieinformant, handel sy getuienis gedurende die eerste jaar af.

Op 4 Mei 2004 begin die tweede getuie, Louwrens du Plessis, vir die staat getuig. Hy sou die eerste een wees wat saam met die ander toegesluit was, wat vir die staat as 204-getuie sou getuig.                

Op die 14de  hou 'n swart werklose man 'n eenmanbetoging voor die hof, vir die vrylating van die 22 beskuldigdes, met 'n plakkaat: "Ek het die wit man in my land nodig."

Gedurende die maand word 'n video van Siener van Rensburg die eerste keer in die hof vertoon.

Op die saak se eerste verjaarsdag, die 19de, spreek regter Eben Jordaan die hoop uit "dat daar nié nog baie meer gaan wees nie."

Teen die saak se tweede verjaarsdag, die 19de van die volgende jaar, 2005, het slegs agt van die staat se getuies getuig en kos die saak reeds R3-miljoen.

Op 3 Mei 2006 ontsnap Herman van Rooyen en Rudi Gouws uit die Hooggeregshof. Die saak staan eers af vir 'n grootskaalse soektog na die twee. Teen die 16de  gelas die regter dat die saak in hul afwesigheid moet voortgaan. Hulle is 8 maande op vrye voet voordat hulle weer in hegtenis geneem word.

Die dag wat die saak sy derde verjaarsdag vier, op 19 Mei 2006, het 64 getuies vir die staat getuig.

Op die 16de  Mei van die jaar 2007 sterf Herman Scheepers, beskuldigde nommer 5 op 52-jarige ouderdom aan 'n breinvirus. Hy is op die 19de, wat ook die vierde  verjaardag van die saak was, te Piet Retief begrawe.

Snr. superintendent Louis Pretorius, wat die eerste staatsgetuie se hanteerder was, is op daardie tydstip die staat se 138ste getuie in die bank. Kort daarna staan die onkoste van die Regshulpraad op nagenoeg R11-miljoen en die oorkonde steek 28 000 blaaie verby.

Op 19 Mei 2008 is beskuldigde nr. 3, Rooikoos du Plessis in die bank. Tydens sy getuienis het die staat geëis dat sy vorige regsverteenwoordiger, me. Louisa van der Walt, moet onttrek, as gevolg van botsende belange met haar ander kliënt, André du Toit. Die regter gelas egter dat 'n ander regsverteenwoordiger namens haar André se kruisondervraging mag doen, en dus hoef sy nie te onttrek nie. Advokaat Piet Pistorius staan vir haar in. Hy is dan ook aan die woord op die saak se vyfde verjaarsdag en noem dit aan die regter, waarop dié 'n verbaasde "o" laat hoor het.

Die 19de Mei deser, is beskuldigde nr. 12, Dirk Hanekom, in die bank.

Die Regshulpraad het reeds meer as R20-miljoen aan die saak bestee. Die oorkonde is reeds meer as 38 000 bladsye lank.  In die hof word gespot dat daar maar 'n partytjie gehou sal word op die saak se tiende verjaarsdag.

Aan die begin van die maand het Tom Vorster, beskuldigde nr. 11, geweier om verder te getuig, omdat sy regte voortdurend deur die saak geskend word. Hy voltooi egter sy getuienis, met voortdurende woordskermutselings tussen hom en die staatsadvokaat, Fick (SC).

Op die 31ste Mei erken beskuldigde 12, eers onder kruisondervraging, dat hy onder die skuilnaam Jan Brand 'n proklamasie van die "oorlogskabinet van die Suid-Afrikaanse Boererepubliek" onderteken het. Ook dat hy as militêre bevelvoerder sou optree vir die Boeremag wat beoog het om op 'n politieke en militêre vlak oorlog teen die regering te voer. Sy bekentenis laat 'n unieke situasie in die saak ontstaan. Die staat eis dat sy advokaat moet onttrek, weens 'n botsing van belange tussen hom en sy advokaat se tweede kliënt. 'n Etiese komitee word genader vir advies oor die aangeleentheid. Daar word besluit dat die advokaat, Antonie Viviers, ter verdediging van beskuldigde 12, Dirk Hanekom, sal aanbly.  Sy ander kliënt, mnr. Fritz Naudé, wat reeds sy getuienis afgesluit het, se betoog sal later deur mnr. Paul Kruger, regsverteenwoordiger van vyf ander beskuldigdes, waargeneem word.

En so raak Meimaand(aan die begin van die winter) en nie Augustus nie (aan die einde van die winter) –  die herdenkingsmaand in die Boeremagsaak…

детский плед купитьОлександр Васильович Фільчаков

Die eerste goewerneur

Image

John Barrow… Hy het die Engelse lasterkampanje teen Afrikaners begin

Europa was teen 1795 in oorlog gewikkel, en aangesien die Kaap met behulp van die Britse leër en vloot verower is, was die gesag vir eers in die hande van admiraal G.K. Elphinstone en genls.-maj A. Clarke en J.H. Craig. Ná 'n paar maande het Craig die gesag gevoer oor die bevolking. Volgens die sensus van 1798 was daar 21 746 wit mense: in die Kaapse distrik 6 261, in Stellenbosch 7 256, in Swellendam 3 967 en Graaff-Reinet 4 262. Daar was meer as 25 000 slawe, tagtig persent van hulle in die Kaap en Stellenbosch. Die aantal Khoi-Khoin is op 15 000 geskat, van wie 14 000 in Graaff-Reinet en Swellendam.

Craig se eerste indruk, wat hy in 'n brief aan 'n vriend meegedeel het, was dat byna almal in die kolonie vyandig gesind was teenoor die nuwe heersers. Hy het egter alles in sy vermoë gedoen om die bewoners met die nuwe gesag te versoen. Volgens die vredesvoorwaardes sou die Engelse geen veranderings aan die wette en gewoontes van die Kaap aanbring nie. Die binnelandse handel sou vry wees.

Die eerste goewerneur was die sestigjarige Ierse edelman, lord Macartney, wat in 1797 diens aanvaar het. Hy was 'n alleenheerser wat deur middel van proklamasies, instruksies en kennisgewings geregeer het. Hy het sy eie privaatsekretarisse saamgebring om te help: John Barrow en Acheson Maxwell. Onder die ander hoë amptenare wat saamgekom het, was die koloniale sekretaris, Andrew Barnard en sy vrou, lady Anne Barnard.

Macartney was streng en ietwat prikkelbaar as gevolg van sy jig, maar hy het gesorg dat sy amptenare eerlik en nougeset hul werk doen. Verder was hy 'n vyand van alles wat maar enigsins na die Franse Revolusie gelyk het. Mense wat van simpatie met die Franse verdink is, is "Jakobyne" genoem en gestraf. Toe ene Hendrik Eksteen, 'n boer van die mooi plaas Bergvliet by Wynberg, sy vriende na sy dogter se bruilof nooi, het hy hulle na die Franse voorbeeld as "burger" aangespreek. Dit het Macartney so ontstig dat hy op die troudag dragonders na Eksteen se huis gestuur het. Hulle is by hom ingekwartier tot hy die goewerneur ekskuus gevra en as waarborg £1 000 betaal het dat hy nie weer so 'n oortreding sou pleeg nie. By 'n ander geleentheid wou Britse matrose muit oor allerhande griewe. Hy het kanonne van die kusbattery op die skip laat rig totdat die orde herstel is.

John Barrow word onthou deur die werke wat hy oor die Afrikaners geskryf het. Barrow, hoewel getroud met 'n Afrikanervrou, Anna Truter, het min Afrikaans geken en was onder invloed van Maynier uitgesproke antagonisties teenoor die Afrikaners. Sy Travels into the interior of South Africa, wat in 1801 en 1804 in twee dele verskyn het, is vertaal en het 'n groot invloed uitgeoefen. Vir hom was die Afrikaners almal lui, dom, onsedelik, wreed, oneerlik en lafhartig; die enigste positiewe eienskap was hul gasvryheid. Sy negatiewe bewerings is weerlê deur twee ander Europese reisigers, M.H.K. Lichtenstein en W.B.E. Paravicini di Capelli. Met Barrow begin die groot Britse lasterkampanje teen die Afrikaner wat tot in die twintigste eeu voortgesit is.

бурениетопкарго отзывы

Die vyand wat Napoleon gestuit het

Image

Skildery deur Adoph Northen

Die reusagtige Franse weermag wat op pad was om Tsaar Alexander I aan die begin van die 19de eeu te gaan verslaan, is self verslaan deur die kleinste vyand nog lank voordat die Russe getroef is

Die einde van Napoleon was dalk te danke aan tifusbasil en nie 'n koue winter nie. Sy mislukte inval in Rusland in 1812 waarin meer as 600 000 man, groter as die bevolking van Parys, na Moskou opgeruk het, het die einde van die kort Korsikaan se militêre roem beteken.

En 'n Amerikaanse historikus wat in mediese geskiedenis spesialiseer, beweer dat die rede wat gegee word vir Napoleon se mislukking – naamlik die ysige winter wat die troepe oorval het – eerder 'n luisplaag was.

Tweehonderd jaar later het dit aan die lig gekom dat die eerste soldate wat uit die linies gesteier het, nie alkoholiste was wat te diep in die bottel gekyk het nie, maar tifusslagoffers. Die pad van Moskou was met hulle lyke besaai.

Stephan Talty, die Amerikaner wat Napoleon se hopelose poging in 'n nuwe boek getiteld "The Illustrious Dead: The Terrifying Story of How Typhus Killed Napoleon's Greatest Army" bespreek, verduidelik omsigtig waarom 400 000 man nooit weer Parys gesien het nie.

Nie die vreeslose Kosakke of die wrede Russiese winter het die Franse Groot Weermag gestuit nie, maar die tifusbasil exanthematicus. Die grusame getuienis is in 2001 in die hoofstad van Litoue, Vilnius, in 'n massagraf ontdek waarin 2 000 soldate wat in die lang mars omgekom het, begrawe is.

Gespes en knope van uniforms met regimentenommers het bevestig dat dit die Napoleontiese opmars se dooies was. Navorsers het DNS-monsters van die tande geneem en die patogene van die tyd is bevestig.

Talty verduidelik hoe 6 000 soldate aanvanklik per week omgekom het, totdat die getal siekes oorweldigend geraak het en sommer in aansienlike getalle langs die pad utgesak het.

Die Duitse bevelvoerder Friedrich Wilhelm von Lossberg het ten tye aan sy vrou geskryf dat Napoleon nie sentimenteel raak oor siekte en dood nie en dat die sterftes nie die Franse Keiser raak nie.

Swak higiëne het die verspreiding van die luise vergemaklik en binne 10 tot 14 dae het slagoffers die eerste simptome ervaar: Hoë koors en geweldige hoofpyn. Daarna het hulle begin bibber van kouekoors en uitputting. 'n Veluitslag en swelling was algemeen en die siekes was so verswak dat hulle skaars 'n glas water kon oplig.

Sonder antibiotikum is bloed gelaat, kruiemengsels gedrink en suurlemoensap met wyn en water. Napoleon se geneesheer, Dominique-Jean Larrey, het die konstante reën blameer vir die toestand.

Erg verswak, op 19 Oktober, 1812, besluit Napoleon om met sy aansienlik uitgedunde mag terug te draai. Die reeds sterwende soldate, verhonger, het soos zombies in Vilnius ingestrompel en desperaat in die stad se universiteitlaboratorium monsters wat in formaldehide bewaar is, probeer eet.

Terug in Parys, het Napoleon sy landgenote gerusgestel met die nuus dat die "Keiser se gesondheid uitstekend" is!

new online casinoФильчаков