Kabinda se impak op SA se sokkertoernooi

Die bykanse histerie waarmee Suid-Afrika die brandende vure wil doodslaan na die aanval op die Togolese sokkerspan in Angola is te wagte.

Terwyl daar op die vlakke van die Afrika-Unie, SAOG en interne politiek hard gewerk word aan ‘n Afrika-identiteit en –eenheid, kon Suid-Afrika nou nie gou genoeg spring om afstand tussen hom en Angola te plaas nie.

Oor Suid-Afrika se jarelange versuim om ‘n woord te rep oor die toestande wat tot die aanval aanleiding gegee het, en wat verhoudinge met die regering in Luanda sou versuur, word nou nie ‘n woord gerep nie.

Selfs die bewoording om nou afstand te plaas, is polities so korrek as moontlik en strek niks verder as georafiese afstand nie. Oor die kleptokratiese nepotisme in die Angolese regeringshuis wat die land se ontwikkeling so trem, word niks gesê nie.

Kabinda is in verskeie opsigte ‘n Angolese kolonie met groot oliebronne, wat deur die regering in Luanda effektief leeggesuig word.

Terwyl daar oor jare hard gewerk is om Afrika as ‘n groter eenheid in die oë van die wêreld te skets, moet die uitveërs nou oornag ingespan word om te keer dat dié persepsie op die vooraand van Suid-Afrika se eie sokkerskouspel boemerang.

Geopolitieke persepsies is agter nie al wat nou impak maak nie. Suid-Afrika moet nou die skade beperk teen die agtergrond dat die land die wêreld se moord- en verkragtinghoofsetel is. Die aksie om hierdie persepsie hok te slaan is al amper net so duur soos die aksie om die misdaad self te probeer hokslaan. Nou het swak matriekuitslae boonop die persepsie kom voed van ‘n land wat sukkel om doeltreffend regeer te word, en berigte oor gevaarlike slaggate in paaie, deel van die voorbereide vervoerinfrastruktuur vir die sokkerskouspel, voorblad op voorblad haal.

Die kroning van Julius Malema as troonopvolger mag dalk as een persepsie in die Afrika-konteks beleef word, maar by die res van die wêreld help voed dit die persepsie van ‘n kontinent waar leiers soos Ghaddafi, Mugabe en Al-Basjir opgelewer en gekoester word. Trouens, Suid-Afrika skop nou viervoet vas om uitvoering te gee aan ‘n tussenstaatlike ooreenkoms met Zimbabwe wat onder meer bepaal dat Suid-Afrikaanse boere se belange in Zimbabwe as deel van die ooreenkoms beskerm sal word. Die vyeblaar waaragter geskuil word is dat die Zimbabwiese parlement nog nie die ooreenkoms geratifiseer het nie. Dat die Crawford von Abo-saak ‘n ander lig hierop werp en in ieder geval sonder die ooreenkoms of ratifikasie verpligtinge op die Suid-Afrikaanse regering plaas, word nou uit die openbare oog gehou.

Die harde les is dat ‘n land nie anargiste kan omarm sonder dat die beeld op hom self begin afvryf nie.

Persepsies word nie oornag aan- en afgeskakel nie, en negatiewe persepsies word baie makliker geskep en gevoed as die positiewes.

абразивный инструмент дляФильчаков прокурор харьков

Onderwysvakbonde se skoon lei

Dat onderwys in Suid-Afrika in ‘n krisis verkeer, is geen geheim nie.

Slegs sowat ‘n kwart van die kinders wat Graad 1 skool toe gaan, haal matriek.

In Matriek druip ongeveer 40 persent, en die oorgrote deel van diegene wat matriek slaag, slaag dit met ‘n onaanvaarbare lae gemiddelde punt.

Al hoe meer universiteite skop vas en sê matriekuitslae dui nie aan of iemand universiteitsmateriaal is nie, en bied hul eie keuringstoetse aan, en onderwerp diegene wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, aan oorbruggingskursusse. ‘n Groot deel hiervan beplan om hul studies in Engelsmedium te deurloop, maar is nie Engels voldoende magtig nie.

Universiteite kry nie subsidies vir hierdie oorbruggingskursusse nie omdat die staat van die fiksiebeginsel af uitgaan dat skole hiervoor betaal is, en daardie rekening dus vereffen is.

Boonop spandeer Suid-Afrika in wêreld- en Afrikakonteks ‘n baie hoë deel van sy nasionale begroting aan onderwys, maar dosente volhard in hul aansprake dat studente uit buurlande, soos die disfunksionele Zimbabwe, beter toegerus by universiteite aanland as die gemiddelde Suid-Afrikaanse student.

Minstens een rektor voel matriekeksamens moet as irrelevant en die kool die sous nie werd nie, afgeskaf word.

Dat so ‘n situasie binne ‘n betreklike kort tydjie omgekeer kan word is al telkemale in verskillende lande bewys, soos die verstommende snelheid waarmee ‘n bykans Middeleeuse Japan, ‘n voorheen gekoloniseerde Suid-Korea en ander kon deurbreek.

Die beste voorbeeld is egter hier te lande self. Vandag leef daar nog mense wat lang afstande te voet na plaasskooltjies afgelê het, waar meesters en juffroue met dikwels dun kwalifikasies maar ‘n dik lat kaalvoetkindertjies met hul griffies en leie gedril het om te skryf, somme te maak en hul geskiedenis te ken. Saans is by kers- en olielamplig gestudeer. Van hierdie kaalvoetkinders was kort hierna algemene gesigte aan universiteite soos Leiden, Heidelberg, Oxford en Cambridge.

Hardwerkende doelgerigtheid oorkom baie struikelblokke. Onderwysers wat laat kom, vergaderings in skooltyd hou, vroeg huis toe gaan en agter bedenklike vakbonde gaan skuil as die skroewe vasgedraai word, skep struikelblokke vir leerders wat reeds ‘n horde struikelblokke moet oorkom. Hieronder tel lang afstande aflê, maar gelukkig dikwels danksy busvervoer nie onoorkomelik nie, leerkragte met dun kwalifikasies, gebrekkige handboeke, nie-moedertaalondedrrig waar nie die kind of leerkrag die onderrigmedium onder die knie het nie en huislike omstandighede wat nie baie bevorderlik vir huiswerk is nie.

Een geslag het gewys dit kan oorkom word.

Die drie groot vakbonde, SAOU, SADOU en Naptosa se gesamentlike verklaring dat lui onderwysers nie meer agter die vakbonde sal kan skuil nie, is waarskynlik die grootste deurbraak van die huidige verlore geslag. Die land kan maar net hoop hulle het dit erns met die skoon lei.

 

пескоструйная насадка для компрессораФильчаков прокурор

Die fisiologie van versoening vereis veel meer as simboliek

Die “debat” oor die moontlikheid dat pres. Jacob Zuma dalk as “versoeningsgebaar” kwytskelding gaan gee aan Eugene de Kock laat die gemoedere in sommige geledere kook.

Te midde hiervan meen Rapport se Jan-Jan Joubert die keuse van De Kock as versoeningsgebaar teenoor die Afrikaner is ‘n mistasting van wie en wat die Afrikaner werklik is.

Dit bring wel ‘n geldige saak na vore.

Soos enige volk met ‘n gevestigde demokratiese tradisie sal daar geen uniformigheid by Afrikaners wees nie, ook nie wie sy helde sal wees nie. Dit is immers duidelik gedemonstreer toe ‘n vrou die Universiteit van Stellenbosch oortuig het om ‘n ere-doktorsgraad aan wyle Bram Fischer toe te ken.

In Bloemfontein staan die glaspaleis, hoofkwartier van die Mangaung-munisipaliteit, amptelik as die Bram Fischergebou bekend. By meer as een geleentheid is al uit ANC-geledere gesê dit bewys dat die ANC ook Afrikaners vereer.

In sy inhuldigingstoespraak as nuwe rektor van die Vrystaatse Universiteit het prof. Jonathan Jansen ook Fischer se lofrede besing, vermoedelik om Afrikanersentimente te midde van veranderingspolitiek te paai.

Pogings is ook aangewend om die lughawe by Kaapstad na Fischer te vernoem. Selfs Max du Preez se mees verbete pogings kon nie daarin slaag om van Fischer ‘n Afrikaner-volksheld te maak nie.

Nog iemand wat graag vernoem en as sogenaamde bewys van versoening teenoor die Afrikaner genoem word, is wyle Beyers Naudé. Soos die terminaal siek Shabir Shaikh het sy familie ook die vorige bedeling oortuig dat Naudé baie siek is, en nie lank het om te leef nie, en sy inperkingsbevel is opgehef. Naudé was hierna nog lank aktief, soos met die Waarheids- en Versoeningskommissie.

Koöptering om Afrikanergesindhede jeens die ANC te swaai soos die opname van Marthinus van Schalkwyk, en nou soms sinies verwys na dr. Pieter Mulder, loop ook gereeld in wisselende mate deur. Sommiges tref ‘n onderskeid tussen Mulder se koöptering en dié van Van Schalkwyk onder meer omdat die landbou-bedryf na jare se bedenklike politieke bestuur gered moes word.

Mulder se styl van adjunk-ministerskap staan ook in skrille kontras met ‘n voorganger, Dirk du Toit, wat Afrikaners sterk teen die ANC help polariseer het.

Daar is egter meer konkrete stappe wat die regering kan doen om versoening met die Afrikaner oor ‘n breër front tasbaar gestalte te gee. Hieronder tel die behoorlike verskansing van taalregte, soos in die opvoeding op alle vlakke, die inneem en volhou van ‘n standpunt wat geen twyfel by voornemende plaasaanvallers laat dat boere nie vry buit is nie, die opheffing van rasgebaseerde regstellende aksie …die lys is baie lank.

Simboliese aksies kan soms nodig wees, maar sonder dat dit die kern van die probleem aanspreek beteken dit min, of kan selfs boemerang. Enige moontlike wins uit die simboliek sal in die wind verwaai solank as wat Julius Malema nie net toegelaat word om ongehinderd polariserende opmerkings te maak nie, maar dit ook nie gerepudieer word nie.

Die goeie hoofmanskap om saans by die vuurtjie van elke familie te gaan sê wat daardie familie wil hoor, werk nie met alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe nie. Danksy die media weet die mense by een vuurtjie in elk geval wat vir die mense by ‘n ander gesê word.

Dié praktyk is daarom net so onaanvaarbaar soos om tot die land se hoogste wetgewende liggaam verkies te word onder die vaandel van: “Ons sal jou stem wees,” en dan na die verkiesing tjoepstil te bly.

пескоструй для karcherалександр лобановский супермаркет класс

Die pap op die grond

Byna die helfte van die matrieks het dit nie gemaak nie, terwyl ‘n aantal so goed presteer het dat daar min twyfel kan wees dat die standaard nie so onmoontlik hoog was nie.

Elke jaar word die ontleedmes ingespan, en elke jaar word sekere probleme aan die lig gebring:

– onderwysers wat laat, of glad nie opdaag nie

– Vergaderings wat, dikwels deur Sadou gereël, in klastyd plaasvind en nie daarna nie.

– Kinders wat drie tot vier uur per dag onderrig ontvang, in plaas van sewe ure.

Hierdie probleme behoort betreklik maklik opgelos te kan word. Kort-kort word gelees van ‘n LUR of premier wat ‘n onaangekondigde besoek aan skole bring, en die hekke stiptelik op die skool se aanvangstyd sluit om sodoende die leerders wat laatkom uit te vang. Benewens leerder word egter ook onderwysers en selfs skoolhoofde ook gereeld uitgevang.

Dit beteken die uitvangery vind nie gereeld genoeg plaas nie, en dat daar nie streng genoeg teen oortreders opgetree word nie. Punt.

Ander probleme is moeiliker om op te los, soos die feit dat heelwat leerders nie saans by elektriese lig kan studeer nie. Tog word gereeld aankondigings gedoen hoe gevorder word met die installering van elektrisiteit en selfs die voorsiening van ‘n sekere hoeveelheid gratis krag. Iewers iets verkeerd as dit nie in verbeterde matriekuitslae neerslag vind nie.

Die boodskap wat leerders kry, is dalk ook nie bevorderlik nie. Toe die opvoedkundige, Sol Plaatjie die sekretaris-generaal van die ANC was, was geleerdheid vir leierskap hoog aangeslaan. Toe die regering jare later ‘n standbeeld van Plaatjie wou onthul, het die familie vasgeskop omdat die standbeeld hom met ‘n swartmag-saluut uitbeeld. Die familie het hom glad nie daarmee geassosieer nie.

Nou beskik die ANC-jeughliga oor ‘n president wat presies die teenoorgestelde is. Sy akademiese prestasie is allermins iets om op trots te wees. Julius Malema se irrasionele optrede moet vergewe word aangesien hy bloot ‘n nuwe generasie vergestalt, word aangevoer.

Die land se president self het bykans geen formele skoolopleiding nie.

Winnie Madikezela-Mandele, kriminele rekord vir bedrog ten spyt, keer terug na die parlement en steeds lyk dit op beeldmateriaal asof sy kort-kort kompulsief die swartmagsaluut maak.

Die uitdagings wat die wêreld, en dus ook Suid-Afrika aan mense bied is egter ligjare verwyder van politieke retoriek, skeefgetrekte persepsies en presidente met tekkies by ‘n vyfde huwelik.

Daar is plek vir kultuur, maar geen kultuur ter wat ‘n positiewe bydrae kon maak is deur afbrekende elemente beheers nie. Kultuurontwikkeling behels juis die behoud van die goeie en aangevul deur dit wat dit verryk.

‘n Onoordeelkundige byvoeging lei tot ‘n karikatuur-variasie van die kultuur wat veronderstel is om in stand gehou te word, soos tekkies by ‘n tradisionele troue.

Kulture in transito stel hulself ook dikwels bloot aan anti-kultuurelemente, soos dwelmgebruik in westerse samelewings.

Die wêreld waarbinne ons leef stel egter sekere basiese vereistes – naamlik dat elkeen sy brood in die sweet van sy aanskyn sal verdien. Dit behels harde werk – hetsy as leerkrag of as leerder, die handhawing van werksetiek en leeretiek, eerbaarheid en pligsgetrouheid.

Vroeg elke nuwe jaar word wyle pres. Jan Brand van die Vrystaat gereeld aangehaal: “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.”

Aan die einde van die jaar wanneer teleurstellings getel word of die matriekuitslae ontleed word, word die wiel herontwerp. Iewers het iemand nie sy of haar plig gedoen nie. Die minister van Basiese Onderwys moet kennis neem: Daar is nie ‘n kortpad na beter matriekuitslae nie. Vra maar die mense in Mpumalanga wat so vraestelle lek.

 

дитячи велосипедилобановский александр дети

‘n Broeiende kruitvat

Hoewel die nuus nou eers na die Suid-Afrikaanse media begin deursyfer oor die eskalerende konflik in Suid-Soedan, is dit iets wat reeds die afgelope jaar opgebou het, en teen die middel van Desember was die jaar se dodetal reeds digby die 1 300. Ander stel die ongevalle op meer as 2 000. Om perspektief te gee: Suid-Afrika se moordsyfer is jaarliks in die orde van 20 000.

In Suid-Soedan is die konflik aanvanklik afgemaak as onderlinge veediefstal tussen stamme terwyl daar ‘n hongersnood begin ontwikkel, maar waar statte aangeval en hele gesinne uitgewis word is dit moeilik om dit bloot as onbenullige stam-onderonsies af te maak.

In die proses is ‘n kwartmiljoen mense ontwortel.

Die ironie is dat die suide van Soedan sedert ‘n taamlik suksesvolle verdrag sedert 2005 betreklike outonomie los van die Moslem noorde van die land beleef. Die suide het tradisioneel swaar deurgeloop in hierdie burgeroolog wat met tussenposes ongeveer ‘n half eeu geduur het.

Nou word die geweld teen ander stamme skynbaar gewoon voortgesit.

Teen die middel van verlede jaar is nog bespiegel dat buitelandse oliemaatskappye stilweg hoop die suide skei van die noorde af. Die suide het ryk oliebronne, en die noorde deel nie net daarin nie, maar bedrieg die suide boonop blykbaar met die verdeling van die inkomste. Met die suide wat nou in onderlinge stamtwiste betrokke is, raak die opsie van ‘n onafhanklike suide onaptytliker.

Die vermoede bestaan juis dat die ontdekking van olie die dryfkrag agter die massamoorde in Darfoer, deel van die Moslem-noorde was.

Op die oomblik is die werklike Soedannese tragedie dat bykans 2 000 mense kon omkom, en nog meer tydens die slagting ledemate verloor en ontwortel is, terwyl die wêreld die stroom berigte uit die gebied geïgnoreer het.

Op 7 Januarie berig RSG in sy nasionale nuusdiens soos volg: “Minstens 140 mense is dood en 90 gewond in die afgelope week in afgeleë dele van Suid-Soedan. Die Verenigde Nasies sê gevegte, hoofsaaklik tussen strydende stamme, het sedert die begin van die jaar in die Warrap-omgewing plaasgevind. Berigte oor die gevegte het twee dae gelede eers aan die lig gekom, nadat VN- veiligheidsspanne per vliegtuig na die afgeleë gebiede gereis het. ‘n Span van VN-vredesmagsoldate het per voertuig vertrek, om te probeer uitvind hoe die situasie op die grond ontvou.”

Dit laat die vraag ontstaan oor hoeveel ander tragedies ter wêreld plaasvind waarvan die wêreld verkies om nie kennis te neem nie. Onlangs het oud-pres. Thabo Mbeki nog gesê daar was geen volksmoord in Darfoer nie, maar teen die agtergrond van sy nukkerige standpunt oor die oorsaak van MIV-Vigs, moet dit onthou word van wie dit kom.

Met die huidige president se aanstelling van Pieter Mulder as adjunkminister van landbou, is daar gehoop dat die kwessie van plaasmoorde meer prominensie sal haal, maar dit lyk helaas of Zuma se bedrywige persoonlike lewe sy aandag opeis.

Die wêreld neem hoegenaamd nie kennis van die persentasie-massamoord van Suid-Afrikaanse kommersiële boere nie. Die getalle wat in totaal vermoor word is baie hoër as baie ander getalle wat sukkel om elders in die wêreld die oog te tref. Persentasiegewys is dit skokkend. By tye werk dit uit op ongeveer 130 per 100 000 per jaar. Suid-Afrika se gemiddelde moordkoers is net minder as 40 per 100 000 per jaar.

Bruin mans in die Wes-Kaap, waar bende-oorloë hoogty vier, se moordkoers van meer as 90 per 100 000 per jaar word as die hoogste ter wêreld vir ‘n identifiseerbare groep beskou, maar die aanslag op kommersiële boere en hul gesinslede is lankal by daardie kerf verby.

Die buitensporigheid blyk daaruit dat die wêreldgemiddeld 5 per 100 000 per jaar is, en dié van Wes-Europa 1 per 100 000 per jaar.

Watter plaaskind slaap nog rustig?

 

одежда для яхтсменовлобановский александр компромат

Sport en politiek

‘n Baie klein beriggie lui dat die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) Koeweit geskors het. Koeweit se skorsing volg nadat dié land nie ‘n spertyd kon haal om wetgewing wat politieke inmenging moontlik maak, tot die IOK se bevrediging te wysig nie.

Koeweit se skorsing volg slegs enkele jare na sy buurman, Irak, ook geskors is. Hierdie skorsing het gekom onder die bewind wat Saddam Hoesein se diktatuur opgevolg het, en is tot ontsteltenis van die Amerikaanse besettingsmag toegepas kort voor die Olimpiese Spele in Beijing. Die skorsing is op die laaste nippertjie opgehef.

Dit dui op ‘n tikkie ironie. Wat die IOK betref, kan die burgery maar onder ‘n erge diktatuur gebuk gaan, maar politieke inmenging in sport sal selfs in ‘n liberale demokrasie nie geduld word nie.

Dit laat die vraag ontstaan of die nuwe Suid-Afrikaanse sportwet, wat betreklike wydlopende magte aan die regering bied, nie ook op die IOK se radarskerm verskyn het nie, en nou tot ‘n betreklik bedeesde regeringsreaksie op Makaya Ntini se weglating uit die Protea-span gelei het.

Die IOK is egter nie al internasionale sportliggaam waar politieke inmenging verbied word nie. Liggame soos Fifa, die Internasionale Krieketraad en die Internasionale Rugbyraad verbied benewens politieke inmenging ook rassisme. Dit was juis oor laasgenoemde dat die Internasionale Rubyraad ‘n klomp lapwerk moes kom doen na Suid-Afrika ‘n jaar gelede oor raskwotas verkla is.

Dit is egter Fifa wat ‘n reuse reputasie het dat dit niemand ontsien om die valbyl te laat val as dit by politieke inmenging kom nie. Onder die bekendes wat reeds geskors was, tel lande soos Griekeland, Kenia en Iran. Dit is interessant om op die internet te lees hoe breedsprakig Keniaanse politici voor die skorsing was. Latere uitsprake deur Suid-Afrikaanse politici toe die sportwet onder die vergrootglas gekom het, het amper woordeliks meerderwaardig dieselfde geklink.

Al raak dit prakties ondenkbaar dat Suid-Afrika nog sy gasheerstatus vir vanjaar se Fifa-eindtoernooi sal verloor, moet regeringswoordvoerders nie nou meen hulle of die land is onaantasbaar nie, of dat politieke inmenging hier te lande in die oë van die wêreld aanvaarbaar is nie.

 

насосные станции джамбоАлександр Фильчаков

Die aap uit die mou

Dit is laatmiddag as Hopping Cartoon, die Amasone-skreeu-aap, al kwetterend deur die takke vleg na die groot wit boomhuis in die hoogste boom. Die boom waar die Monica-passaat die hardste waai.

Hy vloog die boomhuis by ‘n opening in en skuif oor die growwe plankvloer voor hy amper teenaan ‘n groot aap tot stilstand kom. Die plankvloer is al vol naelmerke soos klein apies hul beste voet voorsit vir die groot indoena.

“Vir wat raas jy so?” wil Jimmy Cartoon, die eiland se groot indoena vererg weet.

“Maar ek word mos betaal om u Mbongi te wees” verweer die klein apie hom seergemaak.

“Ja, ja, goed, maar waarom is jy hier?” wil die aap met die groot voortande weet. Glo van te veel grondboontjies vreet.

“Ons is geblaas…ons is geblaas!” babbel die skreeu-apie opgewonde terwyl hy van meubelstuk tot meubelstuk spring.

“Waarmee is ons geblaas?”

Die groot aap ken vir Hopping en weet hy moet hom nie onnodig vir die fyngevoelige dingetjie vererg nie.

“Twee ouens op die suidelike eiland het die aap betrap wat een van hul studenteleiers vir ons sens..sens…”

“Sensiteringsaksie” voltooi Jimmy die woord, nie min trots daarop nie dat ‘n aap so ‘n groot woord soos daai kan onthou. Veral ‘n groot aap soos hy.

“Ja!” gil Hopping.

“Daai woord! Twee van hul ape het ons aap betrap!”

Jimmy frons ‘n oomblik, maar dan is dit of hy ontspan.

Hy staan op en stap na die balkon.

Onderweg loop hy ‘n paar muntstukke wat op die vloer gelê het by en skop dit dat dit doer trek, oor die kant van die balkon en tussen die bome in verdwyn.

Dan praat hy afgemete.

“Eintlik is die operasie al ver gevorder. Ek is seker ons sal kan keer dat die twee karnallies te veel skade aanrig. Hul eie ape sal daarvoor sorg”.

“Soos u sê”, sê Hopping, sy voorkop die ene plooie.

“Die geldmag?” vra hy.

Die groot aap skud sy kop. “Nee, nie die geldmag nie. Sommer net ons wat onsmentaliteit op al die eilande wil afdwing.”

Hopping vra nie verder nie.

Die twee ape maak hulle gemaklik sit op die balkon, terwyl hulle behaaglik na vlooie krap. Dit het ondertussen donker geword, maar die maan skyn oor die boomtoppe.

“Ek wonder hoeveel mane is daar?” spreek Hopping ‘n gedagte uit wat menige aap gereeld kwel.

“Ons weet nie, want ons is net ape” mymer Jimmy, wat ook maar dikwels met die maan gepla is.

“Ek wonder of daar ooit intelligente lewe iewers in die heelal is?” filosofeer Hopping verder.

“Ek glo nie” sê die groot induna net voor hy insluimer.

Hy het vir ‘n oomblik gewonder hoekom Hopping nie die woord “elders” in die sin voor “in die heelal” gebruik het nie.

Op die Suidelike eiland aan die oorkant van die groot rivier het dit ‘n rukkie gelede al lig begin word.

Die eiland se groot indoenas kom bymekaar, want hulle moet ‘n lastigheid bespreek.

Iemand in hul Aapintelligensiediens het ontdek die ouens op die groot eiland wil hulle ondermyn met ‘n sensiteringsaksie.

Eintlik weet hulle lankal daarvan, maar die lastigheid is dat agente dit ook nou uitgevind het.

Trouens, daar is gekonkel om met die hulp van die groot eiland van Ekskeel Boontjie en sy trawante ontslae te raak. Eintlik wou die groot eiland vir Pit Botaap in die stoel gehad het, maar dit het misluk.

Nou het twee agente daarvan uitgevind.

Twee onkreukbares daarby, en dis die probleem.

“Wie is die aap wat die aap van die groot eiland probeer werf het?” wil Piepie Botaap, die grootste aap, weet terwyl hy dreigend met sy wysvinger rondswaai.

‘n Groot aap met ‘n bles, Pit Botaap, skuif sy breë skouers eers heen en weer.

“Peens Epol, ‘n studenteleier,” sê hy.

“Wat gaan ons doen?” vra Piepie. Piepie kan Pit nie verdra nie. Pit is meer bek as binnegoed, maar as dinge aan hom oorgelaat was, was dit lankal klaar met Kees.

Eintlik nie die Kese nie, hulle sou alles lankal gehad het.

 

Maar Pit en die ape in sy stellasie!

Hulle veroorsaak vir Piepie se manne en die lang bobbejaan se ape darem baie hoofbrekings.

Soos laas toe Pit aangedring het dat Jasse Jesaap van die groot eiland ‘n vistuin of visum of so iets moet kry. Ter wille van die Suidelike eiland se inter-eilandbeeld.

En wat gebeur?

Ons agente moes hulle moeg hardloop agter Jasman aan.

Soos die slag by die Grootvoël-landinstrook.

Jasse het die nuusdra-ape in die aankomsgrot toegespreek.

Amper het Jasman die afluister-bamboes gebreek toe hy op die kussing waaronder dit versteek was, gaan staan het om in die kerskandelaar teen die dak daarvoor te soek.

Hy het die plek behoorlik soos ‘n vernuftige bobbejaan op soek na Skerpioene omgedolwe voor hy begin praat het. En toe het die stoepid nog op daai einste kussing gaan sit ook! En nog stilletjies gepoep ook wat oor die bamboes gedreun het.

Die Pit irriteer vir Piepie oneindig met daai groot bek van hom.

Soos laas wat een van ons vissbootjies gaan rondvoeter het waar dit nie gehoort het nie.

Dis toe dat ‘n klomp stoute ape met hul ketties op die arme be-aping van die Skuinskruis 7 losgebrand het.

Die laaste klip het nog nie eens mooi die skippie getref nie, toe is Pit op die prentjiekassie en sê sy lamlendige hoenderstellasie gaan die ding ondersoek.

Nou is al die mane al verskeie kere oor, maar hy het nog glad nie die boodskap deurgegee nie.

Of is dit dalk net een maan?

Hoe sal ‘n aap soos hy nou ook verseker weet?

Dis darem jammer hy het Pit se steun nodig gehad om van Ekskeel ontslae te raak.

Kyk net hoe oulik werk hy en die ander aap wie se steun hy nodig gehad het saam.

Eers sorg Alpyn Skeelbos dat hy, Piepie, die groot indoena word.

Toe maak hy weer vir Alpyn die groot aap van die ringkopkomitee.

Toe maak Alpyn weer vir hom, Piepie, ereburger van Alpynsgehuggie.

Toe stel Piepie vir Alpyn aan as voorsitter van die komitee wat moet kyk hoeveel meer tjoklits die indoenas moet kry.

Nadat Alpyn sy kant mooi gebring het, word hy, Alpyn, weer tot die kring van die Groot Indoenas toegelaat, en kan hy nou self baie tjoklits kry. En boonop heelwat piesangs ook, en dan nog grondboontjie-gegeurde roomys ook.

Koue roomys, wat die rugstring laat ril.

So moet ‘n ding mos werk.

“Ek dink ons moet die Apenbond eers raadpleeg” sê Rolf Holeijer, die apie met die seunsgesiggie.

“Jou annerding!” snou Foefel de Grap die klein apie toe.

“Mey hol?” wil die klein apie verontwaardig weet.

Hy weet hoe Foefel met die wyfie-apies lol. Hy self hoef nie te lol nie, die wyfie-apies draf sommer agter hom aan.

“Ek dink dis ‘n goeie plan” sê Piepie Botaap oor die voostel dat die Apenbond eers geraadpleeg word.

Want dis tog waaroor alles gaan.

Die ape verdaag, maar onderweg stamp hulle ook maar aspris goed aan mekaar om by die deur uit te wurm.

Die ape is doodgerus. Daar is niks wat die Apenbond nie kan hanteer nie.

Dit is ‘n paar maande later wanneer die dromme die suidelike eiland se groot indoenas weer bymekaar roep.

Piepie Botaap gaan terugvoering gee oor die Apenbond se oplossings.

Wanneer almal hul sit gekry het, en die ergste vlooivangery agter die rug is, maak Piepie stem skoon”.

“Ons het terugvoering gekry. Ons moet die twee agente uit sirkulasie plaas. Hulle hou ‘n te groot gevaar vir die Apenbond se toekomsvisie in.”

“Hoe gaan ons dit doen?” wil een van die ape weet.

“Die een het ons klaar reggekry. Dit blyk dat Aapstert McGeenoog meer van seunsapies hou as van miesie-apies. Ons kon hom gou oortuig. Hy gaan kamma na die bleekbeeneiland oorloop…”

“En die ander een?”

“Hy skep ‘n groter probleem. Hy het na ‘n ander gehuggie verkas, maar bly in sirkulasie. Hy het ‘n onkreukbare integriteit…”

“Moet ons hom nie betrek nie?” wil ‘n ander weet.

“Dis te laat. Hy het een van die Apenbond se groot kanonne in daai gehuggie klaar met korrupsie uitgevang. Blerrie van Skelm en sy trawante het hom reeds op die swart lys geplaas.”

“Nou wie is die knaap wat so in die Apanbond se grondboontjies kom rondkrap?”

“Heppie Toe-aap”.

“Nou hoekom nie klaarspeel met die mannetjie nie?”

“Wel, sy pa was self ‘n lid van die Apenbond. En tweedens neem die Apenbond in Bloekomspringfontein Heppie nie ernstig op nie. Hulle sal maar net sorg dat sy stertvere die heel tyd geknip bly. Dan kan hy nie baie skade aanrig nie.

‘n Paar maande later kom die groot indoenas vir oulaas as span bymekaar.

Piepie Botaap het ondertussen hard op sy kop geval en Foefel is in sy plek ingewerk.

Piepie het die groot eiland se sensiteringsoperasiwe begin dwarsboon, en die hou wat hy teen die kop gekry het, het vir die Apenbond as groot verligting gekom.

Die wiele kan weer voortrol.

Rolf Holeijer het taamlike vrye teuels gekry om die eiland op ‘n skinkbord aan die bobbejane te gee.

Hy is nogal in sy skik oor die joppie wat hy verrig het en prys sy eie stert oor die gemors wat hy aangejaag het, gereeld.

“Wat het toe van Heppie Toe-aap geword?” wil een van die indoenas weet.

“Wie’s dit?” wil Foefel weet.

Dit was nooit sy doel om te weet wat aangaan nie. Hy moes net opdragte uitvoer, anders het die ouens van die groot eiland sy gekafoefel aan die groot klok gehang.

“Ons het hom so goed as gebêre” kwetter ‘n blou-apie van die kantlyn af. “Blerrie se makkers het net ‘n klomp twak oor Heppie aan die bobbejane verkoop. Die bobbejane sal wel met hom klaarspeel.”

“Gaan die bobbejane niks agterkom nie?”

Die ape lag en lag tot die trane rol.

“Waarom dink jy word hulle bobbejane genoem?”

“Die Apenbond sou mos nooit laat glip het as ons nie oortuig was daarvan dat ons genoeg toue van agter die skerms kon trek nie,” sê Foefel.

 

“Ja, maar is daar genoeg gewigte en gewrigte ingebou?” wil een van die ou indoenas weet. Hy kon nie heeltemal met die spoed van verandering byhou nie.

“Dink jy miskien Rolf Holeijer is ‘n aap?” wil Foefel vererg weet.

Die ou aap hou sy mening vir homself.

Hy self het hom minstens aan genoeg albasters gehelp om hom deur sy oudag te sien.

Wat sy kinders betref, daar is altyd ander eilande om na toe te swem as die nuwe groot indoenas te veel bobbejaanstreke uithaal.

“Ons maak mos nie op gewigte en gewrigte staat nie” sê ‘n aap.

“Ja, maar ons kan ook nie die feit dat ons ‘n klomp ape in die Ape Maai Chaos (AMC) geplant het aan die groot klok hang nie. Hulle moet op hul tyd hul rol speel” sê Foefel.

“En wat as hulle ontken dat hulle ooit van ons impimpies was?” wil nog ‘n gladdebek-apie weet.

“Nou hoekom sal hulle dit ontken? Ek bedoel, hoe sal hulle dit kan ontken as dit vir ons nodig raak om die matte onder hulle uit te ruk?”

“Ek weet nie, maar ek hoor die AMC praat van ‘n inkwisisie. As ‘n aap glo genoeg gaan bieg gaan hy loskom. Gaan van die ouens met vuil kombuise nie dalk daai inligting verruil om uit die dinges te kom nie?”

Foefel raak nou geïrriteerd met die gladdebek-apie.

“Wie is ons manne by die AMC” wil ‘n nuweling weet. Dus vir hom nuus, en hy is nog naïef genoeg om te dink hy gaan ingelig word.

Hy kry egter net ‘n vuil kyk van Foefel.

‘n Rukkie later, toe Foefel se aandag elders toegespits is, fluister ‘n ou aap langs die nuweling vir hom in sy oor:

Pannie Mombakkies, Frik die Nooit…” maar teen die tyd kyk Foefel weer in daai rigting en die ou aap bly stil.

Hy het nie nou aspirasies om soos Pit Koornkriek weer te gaan kleintjies maak nie.

“Om terug te kom na daai Toe-aap. Presies hoe gaan die AMC met hom klaarspeel?” vra Foefel.

“Maklik” kom dit van die Holeijer.

“Die AMC het een van die bobbejane wat aan ons kant was beloof hy sal niks oorkom as hy die wêreld vir daai Toe-aap moeilik maak nie. Sien, daai bobbejaan se senuwees het geknak oor wat hy bang was die AMC met hom gaan aanvang. Hy het die kans met altwee hande aangegryp”.

“Hoekom praat julle van ‘AMC’?” vra nog ‘n nuwerige apie. “Moet dit nie eintlik ‘ANC’ wees nie?”

Die klein apie kry ‘n klomp vreeslike kyke.

“Vuilbek!” raas Foefel. “Wil jy hê ek moet jou bek met witblits uitwas?”

“Wil jy hê Vigs moet die hele eiland vol versprei?” raas Pit.

Die apie weet nog nie waaroor die hele bohaai gaan nie.

Hy kan nie dink watter woord wat met ‘n “n” begin en met “maai” rym kan soveel aanstoot, ekskuus, verontwaardiging in ‘n geselskap soos hierdie veroorsaak nie.

Kyk, die ape se gereedskap kom baie meer dikwels as hul geraamtes uit die kas.

Maar dan, hy is mos darem net ‘n aap.

Maar solank daai klein apie daar anderkant net gebêre is, is alles honkiedôrie.

“Hoekom soek die AB na ‘n opvolger vir jou wat nie deel van die Apenbond is nie?” wil ‘n gladde apie van Foefel weet.

Foefel kyk die gladde apie kwaai aan.

“Wat bedoel jy?” wil Foefel weet.

“Man, ek bedoel daai snuitertjie Mapstieks van Skuinskyk”.

“Ek dink nie jy weet waarvan jy praat nie, en as daar iets in steek is ek seker dis te ingewikkeld vir enige aap om te verstaan” sê Foefel.

Hy kry nogtans die gevoel dat ‘n skraal windjie oor sy graf gewaai het.

As die basuinskreërs wat weet darem moet begin skree oor wat hulle weet, is dit klaar met Kees.

Hy wil darem nie aan die verkeerde kant van die Gryskopape se Mafia beland nie.

 

трековые однофазные светильникиФильчаков

Laat liewer die Boeremag vry

Ek sien daar is sprake dat Eugene de Kock saam met Schabir Shaik kwytskelding gaan kry.

Dit herinner sterk aan die koppeling tussen Robert McBride en Barend Strydom se vrylatings.

Strydom se vrylating is as “troosprys” aan die Afrikaner voorgehou. Feit is dat Strydom, soos McBride onskuldige mense sonder provokasie vermoor het. Hulle het myns insiens die doodstraf verdien.

De Kock en Strydom is nie verteenwoordigend van die etos van die Boerekrygsman soos vergestalt gedurende die ABO nie. Die Boerekrygers het ten spyte van oorlogtoestande en die ellende waaraan hulle vroue en kinders in die konsentrasiekampe onderworpe was, korrek teenoor Britse gewondes en gevangenes opgetree.

De La Rey se optrede teenoor Methuen is ‘n voorbeeld hiervan, ‘n monument tot die Boere se medemenslikheid.

De Kock se verweer dat hy opdragte uitgevoer het hou nie steek nie. Ek twyfel sterk of daar sulke opdragte was. Indien wel, kon hy geweier het en uit die Mag bedank het.

In die tydperk van WOII het talle Afrikanerpolisiemanne geweier om die Rooi Eed af te lê – met nadelige beroepsgevolge.

De Kock en diesulkes het as nuttige teerkwas gedien om die destydse SAP en Weermag mee swart te smeer.

Dit is soortgelyk aan hoe die hele Duitse oorlogspoging in die geskiedskrywing in die tydperk na WOII in oneer gedompel is as gevolg van die vergrype wat in die konsentrasiekampe plaasgevind het.

Myns insiens sal ‘n baie meer versoenende gebaar wees om diegene wat in die Boeremagsaak aangkla is, vry te laat. Hulle is meestal, soos met die AWB, tot futiele dade van geweld aangespoor deur agent-provokateurs van die NI.

Laat hulle lotgevalle ook dien as waarskuwing vir diegene wat so maklik oorlogspraatjies maak.

 

насосные станции дляФільчаков Олександр Васильович прокурор

Inligting en die stryd teen terreur

Twee berigte vanoggend in die Nederlandse koerant, Trouw, en ‘n artikel in Volksblad op dieselfde dag, trek vroeg in die nuwe jaar die fokus op iets wat die wêreld skynbaar nie afgeskud kry nie – internasionale terreur.

Waar internasionale terreur in die laat 20ste eeu ‘n allegaartjie van harde Marxiste, ideologiese idealiste met ‘n stywe kwota anargisme, bedorwe rykmanskinders en ‘n diep verankerde Midde-Oosterse geweldsresep was, het die huidige vlaag ‘n meer uniforme ondertoon – ‘n Islamitiese fundamentalisme.

Waar klein groepies soos die Baader-Meinhoffs, die Japannese Rooi Leër, die Tupamore’s, Monenero’s, verskeie Palestynse groepe, die Ierse Republikeinse Leër en veral Inla, die Baskiese ETA en die Italiaanse Rooi Brigades die verbaasde wêreld laat wonder oor waar die volgende aanslag gaan plaasvind, en die Armeense groep ASALA kort-kort ‘n asembenewende aksie uitgevoer het, het hulle min in gemeen gehad behalwe dat hulle oor landsgrense heen saamgewerk het.

Vandag oorheers Osama bin Laden se Al Kaïda die toneel en talle organisasies wat ook die aandag trek, soos die Boko Karam, Sjabaab en ander word ook met Al Kaïda geassosieer. Hul neste strek van Somalië na Nigerië na Jemen en verskeie ander lande.

Die Baskiese groep, Eta, het nog nie heeltemal sy terreur links laat lê nie soos verlede jaar se reeks aanvalle tydens dié organisasie se 50ste bestaansjaar getuig. Ander terreurgroepe wat die nuus haal, dikwels weens hul aanvalle op joernaliste, soos dié in Meksiko, Colombia en Venezuela word meestal na dwelmkartelle herlei.

Met die ou generasie plaag het terroriste waarskynlik veel meer reaksie ontlok as wat hul werklike operasionele vermoëns op die oog af vereis, maar weens hul gewetenloosheid, soos aanvalle op passasiersvliegtuie, moes state noodgedwonge reuse uitgawes aangaan om veiligheidsmaatreëls en veral inligtingstelsels tot stand te bring. In die proses moes selfs ernstig ingekort word op juis die waardes van vryheid wat die geteikende lande so verdedig het, soos persvryheid. Die VSA en Brittanje, wat ten nouste by die oorlog teen terreur betrek word, deel die 20ste posisie op die persvryheidsindeks, terwyl lande soos Finland en Noorweë wat nie betrokke is nie, die eerste plek deel.

Die huidige aanslag verg ongelukkig ook ingrypende maatreëls wat burgers van baie veronderstelde vryhede stroop. Die skandeerders wat nou benodig word om die nuwe generasie plofstof op te spoor wat terroriste aan boord van vliegtuie probeer smokkel, is omstrede, en word selfs as strydig met wetgewing teen kinderpornografie vergelyk.

Vanoggend word berig dat een van die terroriste wat in verband met die Twin Tower-aanval in 2001 aangekeer is, se lewenslange gevangenisstraf deur ‘n hof bekragtig is. Zacarias Moussaoui, die sogenaamde 20ste terroris, het sy saak probeer heropen deur sy aanvanklike bekentenisse terug te trek.

Op dieselfde dag berig Trouw egter ook dat die Amerikaanse dinkskrum, Center for a New American Security, in ‘n verslag verdoemend bevind oor hoe swak die Amerikaanse inligtingsdiens, of soos dit deesdae in Suid-Afrika genoem word, intelligensiediens, se inligting oor Afganistan is. Die verslag het ‘n week na ‘n selfmoordbomaanslag deur ‘n dubbele spioen op ‘n CIA-basis verskyn. Agt mense het in die aanslag omgekom.

Volgens die sentrum kan die CIA nie genoegsame intelligensie versamel om die Amerikaanse president en bevelvoerders in staat te stel om behoorlike ingeligte besluite te neem nie.

Hoe objektief die sentrum is, is onmoontlik om te bepaal, maar onderstreep nogtans ‘n waarheid: Om internasionale terreur doeltreffend operasioneel te kan hokslaan, moet uiters doeltreffende intelligensie beskikbaar wees. Die alternatief is om elke denkbare teiken te probeer beskerm, iets wat haas onbegonne is gegewe die uitgerekte tuisfront wat aangeval kan word.

 

to startДанильченко

Sportkwotas

Die geval Nitini en die huidige eina-vertonings van ‘n paar spelers van kleur laat die fokus weer, verdiend of onverdiend, op die kwessie van sportkwotas val.

Die agtergrond is dat internasionale sportliggame soos Fifa, die IOK, die Internasionale Rugbyraad en ook krieket se beheerliggaam rassisme en politieke inmenging in sport verbied. Veral Fifa het ‘n reputasie dat dit genadeloos is as dit by politieke inmenging kom, en lande soos Griekeland, Kenia en Iran is al geskors, terwyl die regerings van lande soos Nigerië en Brasilië op die laaste nippertjie voor Fifa se sterk standpuntinname geswig het.

Vir Suid-Afrika geld ‘n ander stel reëls egter. Op TV kom die Suid-Afrikaanse adjunk-minister van Sport, Gert Oosthuizen, baie na daaraan om te spog dat Suid-Afrika die eerste gasheerland vir die wêreldsokkerbekertoenooi is waar die regering as rolspeler in die kontrakteringsproses ingesluit is.

Tog is dit asof die meedoënloosheid waarmee Suid-Afrikaanse politici op die sporttoneel toegetree het, nou stiller is as nog betreklik onlangs, soos met die Caster-debakel. Baie onlangs nog is geen geheim gemaak daarvan nie dat prestasie ondergeskik is aan dogma. ‘n Swygsame Minister Stofile nadat Makaya Ntini uit die Proteaspan weggelaat is, was onlangs nog haas ondenkbaar. ‘n Paar jaar gelede is selfs geskryf dat Stofile ballisties raak as Ntini se plek in die gedrang kom.

Sportkwotas is omstrede, ongeag uit welke hoek daarna gekyk word. In sport gaan dit oor sportmangees, Godgegewe talent en harde werk.

Politieke inmenging werk afbrekend hierop in, soos blyk onder meer daaruit dat jong talentvolle spelers met hul voete in die islolasiejare, soos Lee Barnard en Louis Vorster, eers werklik geleentheid gekry het toe hulle hul jeugdige glans verloor, en die ritse honderdtalle iets van die verlede was.

Die begaafde veelsydige Peter de Vaal is weer gekies vir n Springboktoer wat nooit plaasgevind het nie.

Daar was baie ander.

Dit is te betwyfel of die eens skitterende Jacques Rudolf, toe op sy kruin, ooit weer heeltemal dieselfde hoogtes bereik het as toe hy, in ‘n blatante politieke ingryping uit die Proteaspan weggelaat is. Die gevolglike druk op die kwotaspeler het ook na daardie kant sy tol geëis.

Word na die samestelling van Suid-Afrikaanse provinsiale rugbyspanne en die Springbokspan gekyk, wil dit voorkom asof ‘n jong wit vleuel, as hy enigsins oor die potensiaal beskik om in ‘n ander posisie die mas op te kom, so vroeg as moontlik sy skuif moet maak. Dit kom voor asof die dae van wit vleuels soos Jannie Engelbrecht, Gert Muller, Sid Nomis, Leon Vogel en ander legendes eenvoudig getel is. Dit skep ook by sommige rugbykenners die indruk dat baie afrigters se koppe nog onbewustelik werk in die rigting dat spelers van kleur so ver as moontlik van die punte waar dinkwerk belangrik is, gehou moet word.

Om verteenwoordigende spanne te kry, ongeag die motief, is ‘n komplekse proses, en verg almal se samewerking. Die regering, wat so graag inmeng, het ‘n uiters belangrike rol om te speel soos met die skep van geriewe veral op die platteland, die uitreiking – en nie dreigemente van terugtrek nie – van paspoorte aan spelers, beïnvloeding op die SABC om ook die sportsoorte wat meer verteenwoordigend moet wees meer gereeld in die nuusbulletins van die gemeenskappe wat geteiken word aan die beurt te laat kom, en versoeke aan die pers in privaat besit om ook dekking aan hierdie sportsoorte te verleen.

Soos sake nou staan, dra swarttalige nuusbulletins op TV selde nuus oor kriekettoetse, en selfs rugbytoetse word afgeskeep. Die SABC het die radio-uitsaairegte van provinsiale rugbywedstryde uitgekoop, maar ondersteuners sonder betaal-TV sit Vrydagaande wanneer hul spanne wegwedstryde speel, droëbek. Hulle lees eers die volgende dag in die koerant wat gebeur het.

Swart koerante dra selde rugby- en krieketnuus, al kry hulle ruim mediakaartjies. Verhale van koerantfotograwe wat blatant sonder kameras by wedstryde opdaag en eintlik net by die onthaal sigbaar is, is volop. In die daaropvolgende uitgawe swyg die koerant in al elf amptelike tale heeltemal dat so ‘n wedstryd ooit plaasgevind het.

Maar word spanne gekies, moet die kwota daar wees.

Dit is beslis nie wat die reëls van die internasionale sportliggame in die oog het nie.

 

печиФільчаков Олександр Васильович прокурор

Oor Obama hang ‘n donker wolk

‘n Donker wolk hang oor president Barack Obama as hy Maandag weer sy taak in Washington hervat.

Nie alleen sit hy met die ergste ekonomiese krisis wat die land in 70 jaar teister nie, maar sy velkleur wat veronderstel is om hom teen kritiek te vrywaar en wat hy tot dusver met sukses in die buiteland aangewend het, het nie meer dieselfde sjarme tuis as voorheen nie.

Die kloof tussen sy wit en swart kiesers het sommer gou-gou binne die bestek van ‘n jaar ‘n afgrond in sy gewildheidspeilings geword wat op net onder die 50% wankel.

Chicago se swak poging in 2009 om die volgende Olimpiese Spele aan te bied en wat persoonlik as ‘n swart etniese advertensie deur die president gedra is, was nie die kleinste aandeel hierin nie. Sy anti-wit uitlatings vroeër in 2009 met die inhegtenisname van die die swart inbreker-prof van Harvard, Henry Gates, het ook meegehelp

Uitdagings wat in 2009 uitgestaan het, gaan in 2010 net groter raak soos Obama se teleurstellende reaksie op die Kersdag onderbroekbomaanval op ‘n vlug na Detroit reeds getoon het.

“Gitmo” soos Guantanamobaai se marteltronke bekend staan, wat al ‘n jaar gelede gesluit sou word, sal weer opskuif op die agenda, nadat dit bekend geraak het dat 198 van die aangehoudenes daar uit Jemen afkomstig was.

Jemen het nou deel geword van die front teen die VSA saam met Noord-Afrika, Pakistan en Afghanistan.

Al Kaida is dus weer met mening terug, nadat 9/11 se aanvalle in New York en op die Pentagon besig was om in die Amerikaanse gemoed te vervaag.

Ná 11 September was die Amerikaners so verenig soos tydens Pearl Harbor, maar ipv daarvan om die vyand op hulle eie grondgebied te bestry, het hulle Osama bin Laden se aas gevat, in Irak betrokke geraak en die olieryke Arabiese wêreld prysgegee.

Met een oorlog wat reeds verloor is, dreig Afghanistan om nommer twee te word, volgens onlangse uitlatings van gesoute CIA-personeel wat die risiko vir ‘n mislukking as ‘n werklikheid skilder.

Ongeveer 200 000 troepe verkeer in tans Irak en Afghanistan en nog 30 000 is onderweg na laasgenoemde, en dit is byna seker dat Amerika daardeur as die grootste werwer vir terreurgroepe optree met ‘n deursigtige valse buitelandse beleid.

Iran het ook nie gaan lê nie en beplan grootskaalse oorlogsoefeninge om druk op die Amerikaners te laat oplaai. Hulle het tot dusver gedemonstreer dat ‘n gebrek aan tegnologie net ‘n voordeel kan wees deur die seestraat van Hormuz te myn wat olievervoer kan belemmer om die wêreldekonomie ‘n ernstige knou toe te dien.

Werkloosheid in die VSA staan op 10% en Obama is besig om sy land se sukkelende ekonomie by te staan met triljoene dollar se skuld, verhoogde staatsuitgawes, oop suidelike grense, uitvoerende bankhoofde se bonusse wat onlangs mbv staathulp gefinansier is en geen sorge dat byna ‘n derde van alle werksgeleenthede reeds na China uitgevoer is nie.

Die eerste swart president speel ongestoord voort op die ou ramkiekie van “globaal”, “interanfhanklik” en die “vrye mark”.

In sy Nuwejaarsboodskap het hy ‘n beter 2010 belowe, maar volgens die IMF het die VSA aan die begin van die eeu 32 persent van die wêreld se BNP gelewer en produseer tans net 24 persent. Dit is ‘n daling wat selfs nie eens die Sowjet-unie binne ‘n enkele dekade kon ewenaar  nie.

Die vredespryswenner het lank geaarsel en toe die Afghaanse oorlog laat eskaleer.

En gespanne verhoudinge met Noord-Korea, China se bondgenoot, lê nog voor.

 

игры для деочекФильчаков прокурор харькова

Dekade van vrees?

Enkele maande voor die Britse Premier, die Arbeider, Gordon Brown, ‘n algemene verkiesing moet afkondig wat hy bykans vir seker teen die Konserwatiewe Party gaan verloor, spreek hy die moontlikheid uit dat terreur dalk van die komende dekade een van vrees kan maak.

Die aankeer van ‘n Nigeriër aan boord van ‘n vlug van Amsterdam na Detroit, toe hy besig was om ‘n ploftoestel te laat ontplof, dui daarop dat dit nie bloot klimaatskepping met die oog op die verkiesing is nie. Die Nigeriër het bande met Al Kaïda.

Hierdie insident plaas ook vir die pasverkose Amerikaanse president en voortydige Nobel-vredespryswenner, Barack Obama, voor ‘n morele krisis. Obama het die sluiting van die Amerikaanse basis in Guantanombaai in Kuba, waar die Amerikaanse owerhede weens ‘n tegniese leemte in hul grondwet terroriste en verdagtes kan aanhou sonder die normale regte waarop Amerikaanse aangehoudenes geregtig is, as verkiesingsvoorneme gebruik.

Nou plaas die realiteit Obama in ‘n hoek.

Moderne tegnologie dra daartoe by dat internasionale terreur nie maklik vasgevat kan word nie. Nie alleen het moderne tegnologie die wêreld as’t ware laat krimp nie, dit vergemaklik kommunikasie tussen terreurselle en hul ideologiese hinterland. Met die jongste insident is groepe in Yemen en Somalië minstens verbaal betrokke. Geld kan oor die wêreld van rekenings en hande verwissel. Terreurgroepe span gereeld die moderne tegnologie in om die klimaat van vrees wat hulle skep na die wêreld te kommunikeer. Die TV word die tuisteater waar miljarde kykers oor die hele wêreld kan sien hoe hulle enige tyd die volgende “akteurs” van die “opvoering” kan wees.

Dieselfde tegnologie maak die monitor hiervan moontlik. Doeltreffende teenoptrede word egter bemoeilik deurdat baie van die lande wat geteiken word, grondwette het wat aan die terroriste soveel regte gee dat hulle effektief ideologiese “no go” -areas skep waar hulle in relatiewe veiligheid hul aksies kan beplan en orkestreer. So word die tuisfront wat verdedig moet word bykans oneindig lank gerek, en word dit bykans onmoontlik gemaak om die hele front ondeurdringbaar goed te verdedig.

So lank onskuldige mense die teikens van terreuraanvalle bly, so lank sal die wêreld in ‘n greep van vrees vasgevang wees, en so lank sal die dryfkrag teenwoordig wees om terreurbeplanning deur enige maatreël denkbaar te bekamp – al druis van die metodes regstreeks in teen die waardes wat die Weste probeer beskerm.

Dit kos slegs ‘n oomblik se oog van die bal afhaal om vir die aftakelingsmagte ‘n sagte teiken te skep. Suid-Afrika beleef dit telkemale, soos die prys wat betaal moet word wanneer ondeurdagte besluite deurgevoer word soos die onttrekking van die weermag van die landsgrense, die opskorting van kommando’s en die afskaffing van spesialiseenhede. Elke keer was daar teoreties ‘n alternatief op die tafel, maar tussen die ongetoetste teorie en die harde praktyk hou die pap aan op die grond val, en onskuldige mense soos boere en hul gesinslede wat in plaasaanvalle sterf, is die slagoffers.

Obama het sy vredesprys gekry en dié spektakel so waardig as moontlik hanteer, maar die lakmoestoets bly steeds hoe hy die vrede in die praktyk gaan wen. Gordon Brown moet waak daarteen om nie twee vlieë met een klap te probeer slaan deur die dreigement van terreur subtiel in te span om die Britte tot versigtigheid tot ‘n demokratiese verandering van bewindhebbende party te beweeg nie.

Hier te lande moet gewaak word dat ‘n keiser wat bruilof op bruilof vier, nie die oog van die bal van ander sake wat om uitvoering (of soos dit gestel word, “delivery”) roep te haal nie. Op RSG se program, Kommentaar, is gisteraand in die 2010-vooruitskouing skeptisisme uitgespreek dat die ANC in die praktyk van sy kader-ontplooiingsbeleid sal afsien, met die gevolg dat gebrekkige dienslewering en korrupsie uiters moeilik hokgeslaan sal kan word.

Dit sal nie die eerste keer wees dat ‘n land, met ‘n regeringsleier met ‘n kop vol muisneste, in die Rubicon vasval nie.

 

ик сушкиЛобановский Харьков

Ag nee wat!

By geleentheid loop iemand ‘n ou kennis raak.

My jinne, ou Vrystaat, hoe gaan dit?

Iemand in Vrystaat se geselskap is stom verbaas.

Heng, Jan, ek het nie geweet jy kom van die Vrystaat af nie!”

Jan Vrystaat lyk of hy ‘n spook gesien het.

Jan het in ‘n kleinerige Vrystaatse dorpie grootgeword, en na matriek werk in Durban gekry. Daar in die “last outpost” het hy nie lekker met die souties geakkordeer nie, en sy Vrystaatse wortels tydig en ontydig in almal se kele afgedruk.

Kort voor lank, staan hy as Vrystaat bekend. ‘n Ruk later, besef hy dat dit as ‘n neerhalende bynaam bedoel word.

Toe Jan dus sy trek na ‘n ander provinsie kry, begin hy met ‘n nuwe lei, en rep nie weer ‘n woord oor sy Vrystaatse herkoms nie. Inteendeel, hy kraak die Vrystaat tydig en ontydig af.

Tot dié dag.

Almal, maar almal, het al dinge in hul lewe gedoen waarvan hulle graag sal wil vergeet, of dinge gesê waaroor hulle hul tonge wil sluk.

Asof dit nie erg genoeg is nie, word goed wat mens nie gesê of gedoen het nie, ook gereeld by ‘n mens se reputasie gelas. Dit kan so erg word dat ‘n mens heeltemal aan hierdie onwaarhede beoordeel word, wat een ding is as dit net jouself raak, maar regtig baie sleg is as dit brood uit jou gesin se mond begin neem.

Dis nog een ding as ‘n mens hiervan bewus is, en mens kan selfs regstellend optree deur die verantwoordelike mense te gaan konfronteer, of in gevalle selfs vir laster te dagvaar.

Die ironie is dat die een persoon onskuldig in ‘n ding kan beland en maak nie saak hoe hard hy probeer nie, dit nie afgeskud kry nie, terwyl ‘n ander oop oë in die ding kon inloop en dat dit hom hoegenaamd nie toegereken word nie.

Onlangs is ‘n baie bekende oud-politikus oorlede. Die koerante het met groot lof van hierdie persoon, ‘n ware heer, geskryf.

Wat verswyg is, is dat sy doktorsgraad gehandel het oor die “Christelike beleid van apartheid versus die humanitiese beleid van gelykstelling.” Sy studente, terwyl hy dosent was, moes nie net leer van hoe Christelik apartheid is nie (destyds), maar ook dat bruin mense (kleurlinge genoem) beskawingsonmondig was, en swart mense (Bantoes – respekvol met ‘n hoofletter geskryf – genoem) beskawingsvreemd is.

Goed doen in toetse en eksamen het behels om ‘n diktaat hieroor uit die kop te bemeester. Sulke hoë akademiese taal is gebruik dat dit soms moeilik was om te onthou watter vraag by watter antwoord pas, en was nulletjies in toetse nie te raar nie. Dit is darem met hertoetse opgevolg, waar mens dan andersom geraai het.

Hy het toe politikus geword, en dit regtig ver gebring. Tot diep in die nuwe Suid-Afrika in waar hy ‘n hoë politieke amp onder ‘n “beskawingsvreemde” gedien het – die enigste “beskwawingsmondige” in die betrokke UR.

Om nou identifikasie en verleentheid te voorkom, word nie verder uitgebrei nie. Die feit is egter dat sommige van sy studente hom geglo het, en in die nuwe Suid-Afrika met gebakte pere gaan sit het, terwyl hul mentor self die byl vrygespring het.

Dié tipe ironie tref my toe ek op Praag se webblad lees hoe Max du Preez openlik gedaag word om te openbaar waar finansiering van die Vrye Weekblad vandaan gekom het, en iemand in die kommentaar selfs insinueer dat daar dalk ‘n band tussen Max en die ou NI was. Max, vermoed ek, sal in alle tale swyg. Om te reageer, sal weerlig trek.

Dit laat egter nog vrae na die oppervlak borrel. Presies hoeveel lande en wie hier te lande was almal bewus van of betrokke by die sensiteringsaksies om ‘n klimaat vir die nuwe Suid-Afrika te skep? Nie almal betrokke was bewus nie – was bloot nuttige instrumente – en nie almal wat geweet het, was aktief betrokke nie.

Presies hoeveel hiervan deur wetgewing oor amptelike geheime beskerm word, weet ek nie, want omtrent alles wat ek weet is buite-om die gepaardgaande strukture opgedoen, en binne strukture het ek geen formele terugvoer gekry nie.

Amptelik weet ek dus niks ampteliks nie. Nie amptelik was ek teenwoordig toe iemand so ‘n ongeklaarde agent wat as ongeklaarde diplomaat diens gedoen het uitgesnuffel is. Van ‘n baie groot moondheid. Trouens, hy was besig om iemand wat later‘n belangrike rol by Kodesa gespeel het en nou al weer jare in die akademie is, as destydse Afrikaanse studenteleier te werf.

Kort hierna het die agent wat die uitsnuffeling gedoen het, uit die bloute na ‘n ander supermoondheid oorgeloop.

Hierna was dit taamlik maklik om die verloop van die proses te monitor, meestal van buite die stelsel.

Presies waar die tentakels geloop het, wie betrokke was, dit weet ek nie.

Of Max deel was, weet ek nog minder, hoewel ek hom nie op my eie sou verdink nie, omdat die sielkundige profiel van ‘n tipiese persoon wat vir so iets gewerf sou word, myns insiens anders daaruit sou sien.

Tensy iemand so ‘n persoon op ‘n manier baie laag aan sy anatomie in ‘n beergreep beet sou kry, en dat uitsprake en optredes eintlik as ‘n goeie dekking sou dien. Soos om by ‘n boekebespreking die skrywer te striem oor goed wat nié in die boek geskryf sou wees nie, net om dan die vloer mee gevee te word as die skrywer die bladsynommers verskaf waar dit wel bespreek is. En ‘n week of wat later op presies dieselfde manier ‘n krater van homself te maak.

Natuurlik verander sommige mense se politieke oriëntasie. Die uitdrukking van: “Meer Rooms as die pous wees,” is immers nie uit die lug gegryp nie.

“Vrystaat” hierbo was na sy Natalse ervaring so verbaal anti-Vrystaat dat sy latere kennisse beswaarlik kon glo hy het self daar grootgeword.

Wat is ‘n senisterings-, of desensiteringsaksie?

Dit behels die bepaling van ‘n politieke probleem in ‘n strategies belangrike land. Mense, veral jong toekomstige leiers word geïdentifiseer, en gewerf. Daarna word hierdie pionne gerig en bemagtig om hul invloed te laat geld.

Hoe ‘n groter omvang dit aanneem, hoe makliker word dit om mense strategies te plaas. Dis nog makliker as die aksie met die samewerking van die geteikende regering, of minstens van die regeringsleiers geskied.

Dit kan duur wees, maar is goedkoper en minder riskant as ‘n gewapende oorlog.

Terwyl klimaat geskep word, word nog meer posisionering gedoen tot genoeg mense in plek is.

Dit kan aanvaar word dat die VSA na die Bay of Pigs deurlopend sou probeer om Kuba op hierdie manier in te katrol.

Daar word beweer dat die VSA in ‘n stadium ver gevorder was met die inkatrol van Saddam Hoessein en sy bewind.

Dit bied ideale materiaal vir boeke oor samesweringsteorieë omdat dit effektief onmoontlik is die teendeel te bewys.

Politici wat skielik aftree en dan skielik oor baie geld beskik en onder meer allerlei institute tot stand bring, is vir ‘n samesweringsteorie oorgenoeg “bewys” dat die politikus op iemand se “payroll” was, of is. Hierteenoor sal individue wat skynbaar net so intelligent en talentvol is maar werklik onafhanklik dink, hulle maar net deurlopend met bevordering en keuring vir poste vasloop.

Dit kan vergelyk word met die teoretiese muur. Aan die een kant neem die aarde se magnetiese veld af, en is die aarde dus algaande meer blootgestel aan skadelike kosmiese bestraling wat onder meer genetiese mutasies veroorsaak. Aan die ander kant van die muur neem outisme – wat met genetiese de novo mutasies verband hou, binne net meer as ‘n dekade met sowat 700 persent toe.

Om egter te bewys dat dit wat eenkant van die muur gebeur, regstreeks verband hou met dit wat aan die ander kant van die muur gebeur, is ‘n perd van ‘n ander gedaante. (Om nie ras te betrek nie word van kleur weggebly).

Om opinies oor sensiteringsaksies te lug, en wie daarby betrokke is of was, het in die gemoed van die publiek nie dieselfde lastige bewysvereistes nie.

Iemand wat onskuldig betrek word, het dus ‘n moeilike taak as hy sy beweerde betrokkenheid wil ontken, want hy moet nou die onbewysbare probeer bewys. Iemand wat wel betrokke was, maar sy hare uit sy kop daaroor wil trek, het ook ‘n moeilike taak.

Verstommend egter, is om in die media uitsprake van oud-kollegas te lees wat veronderstel was om nog minder te weet, maar wat skielik hieroor en ander beweerde samesweringsaksies skielik glo goed ingelig blyk te wees. Verskoon maar ‘n stywe dop skeptisisme.

Ek weet maar net wat ek self weet, en dis baie min, maar baie meer as wat ek graag sou wou weet, want dit maak my sinies teenoor ‘n hele aantal mense…

 

free online casinoОлександр Васильович Фільчаков

Zuma se oproep om nasionale eenheid

Pres. Jacob Zuma se oproepe om nasionale eenheid, ‘n staking van negatiwiteit en dat almal as ambassadeurs vir die land moet optree, maak in werklikheid deel uit van ‘n stroom rubriekskrywers se oproepe met ‘n soortgelyke aanslag. Uit selfs voorheen onwaarskynlike oorde het erkennings gekom dat die Kemptonparkse onderhandelings gebrekkig was, maar die stertjie is bygelas dat dit nou te ene male gebeur het en dat positiewe maniere gevind moet word om daarby verby te beweeg.

In ‘n mutli-kulturele samelewing is oproepe op eenheid moeilik, wat ook beteken dat meningsvormers van die gepolariseerde uiterste nader aan die middelgrond moet beweeg.

Na die een kant kan ‘n oproepe op Afrikaners wat hulle op die een pool bevind gedoen word om hul verwagtinge rondom staatkundige regte met Volkeregtelike beginsels te harmoniseer, om hul burgerlike aksies soos Afriforum te ondersteun en te versterk, en sodoende te bemagtig om die howe op te soek om die regte wat in beginsel bestaan, af te dwing. Dr. Christo Landman het in ‘n onlangse artikel ‘n interessante punt geopper deur voor te stel dat ‘n Afrikanerleierskap opgelei word om toegerus te wees om leiding te neem.

‘n Belangrike funksie sou waarskynlik wees om deurlopend met die regering oor verwagtinge en ander saakmakende aspekte te kommunikeer.

Die Christengemeenskap, wat stellig te midde van veelwywery, tradisionele slagtings ter ere van voorvadergeeste en ander praktyke vervreemding ervaar, sal waarskynlik soortgelyke behoeftes hê.

Die versoek kom nou van pres. Zuma, en dit sal dus goed wees om ‘n aantal praktiese voorstelle aan die hand te doen om die klimaat hiervoor te bevorder:

– Omskep die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe in ‘n grondwetlike kommissie soos wat dit bedoel en oorspronklik veronderstel is. Dit beteken dat die wetgewing dienooreenkomstig herskryf moet word, die aanstellings daarmee versoen word, en dit genoegsaam gefinansier en bemagtig word om sy werk te doen.

– Verhoog die intervalle waartydens ministers en ander meningsvormers plaasaanvalle veroordeel sodat die boodskap duidelik genoeg inslaan dat boere nie vrybuit is nie.

– Verskans moedertaalonderrig genoegsaam om Afrikaanssprekendes gerus te stel – ook tot op tersiêre vlak.

– Dring daarop aan dat die ANC-jeugliga ‘n fatsoenlike president kry. Die destydse linkse uitroep, apartheid kan nie hervorm word nie want dit moet vernietig word, word in die geestesoog opgeroep as aan Julius Malema gedink word. In plaas van “vernietig” moet “afdanking” ingelees word.

– Staak die kader-ontplooiingsbeleid, en veral die hersirkulering van comrades wat reeds vasgebrand het.

– Skaf “affirmative action” nou af. Dit is dik vir ‘ daalder om te verwag iemand wat die slagoffer hiervan entoesiasties ‘n ambassadeur vir die land t moet wees (hy is immers gediskwalifiseer om die aanstelling te kry weens sy velkleur en geslag).

– Hou op om Mugabe met sagte handjies te hanteer, want dit skep die wantroue dat sy optredes hier te lande as aanvaarbaar beskou word – eral as meningsvormers gereeld met uitsprake kom soos dat Mugabe hier aangestel moet word om die grondhervormingsprogram deur te voer.

– Verbied alle onteieningspraatjies wat nie met die grondwet en internasionale verdrae waarvan Suid-Afrika mede-ondertenaars is, versoenbaar is nie.

Die lysie kan baie langer word.

‘n Paar geleende gevleuelde woorde kan dalk as rigsnoer vir 2010 dien:

“Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ‘n realis nie.” (Dr. Anton Rupert)

“Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” Pres. Jan Brand.

Dit is reg dat die positiewe bruis en energiek is …die realis wat ongeag die realiteit waarop sy voete geanker is na die silwer randjie reik.

“..ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.” Piet Retief in sy manifes.

Die versoeking is groot om tong in die kies met een van Langenhoven se dwars aanhalings af te sluit, maar sy kritiek op die huisaltare wat by die agterdeur uitgesmyt is en in die jaartse lê, en hom laat dink aan die verbasing oor liggame van bloed en vlees wat nie sonder ‘n gees wil bestaan nie, is moontlik meer gepas.

Die jaar 2010 het nie net een versoeningsdag, net een menseregtedag – wat groepregte moet insluit – , een gesinsdag, een herdenkingsdag vir mense met gestremdhede, 14 dae teen geweld teen vroue en kinders of een Christusfees nie … daar 365.

 

насосного оборудованияФильчаков прокуратура харьков