Inligting en die stryd teen terreur

Twee berigte vanoggend in die Nederlandse koerant, Trouw, en ‘n artikel in Volksblad op dieselfde dag, trek vroeg in die nuwe jaar die fokus op iets wat die wêreld skynbaar nie afgeskud kry nie – internasionale terreur.

Waar internasionale terreur in die laat 20ste eeu ‘n allegaartjie van harde Marxiste, ideologiese idealiste met ‘n stywe kwota anargisme, bedorwe rykmanskinders en ‘n diep verankerde Midde-Oosterse geweldsresep was, het die huidige vlaag ‘n meer uniforme ondertoon – ‘n Islamitiese fundamentalisme.

Waar klein groepies soos die Baader-Meinhoffs, die Japannese Rooi Leër, die Tupamore’s, Monenero’s, verskeie Palestynse groepe, die Ierse Republikeinse Leër en veral Inla, die Baskiese ETA en die Italiaanse Rooi Brigades die verbaasde wêreld laat wonder oor waar die volgende aanslag gaan plaasvind, en die Armeense groep ASALA kort-kort ‘n asembenewende aksie uitgevoer het, het hulle min in gemeen gehad behalwe dat hulle oor landsgrense heen saamgewerk het.

Vandag oorheers Osama bin Laden se Al Kaïda die toneel en talle organisasies wat ook die aandag trek, soos die Boko Karam, Sjabaab en ander word ook met Al Kaïda geassosieer. Hul neste strek van Somalië na Nigerië na Jemen en verskeie ander lande.

Die Baskiese groep, Eta, het nog nie heeltemal sy terreur links laat lê nie soos verlede jaar se reeks aanvalle tydens dié organisasie se 50ste bestaansjaar getuig. Ander terreurgroepe wat die nuus haal, dikwels weens hul aanvalle op joernaliste, soos dié in Meksiko, Colombia en Venezuela word meestal na dwelmkartelle herlei.

Met die ou generasie plaag het terroriste waarskynlik veel meer reaksie ontlok as wat hul werklike operasionele vermoëns op die oog af vereis, maar weens hul gewetenloosheid, soos aanvalle op passasiersvliegtuie, moes state noodgedwonge reuse uitgawes aangaan om veiligheidsmaatreëls en veral inligtingstelsels tot stand te bring. In die proses moes selfs ernstig ingekort word op juis die waardes van vryheid wat die geteikende lande so verdedig het, soos persvryheid. Die VSA en Brittanje, wat ten nouste by die oorlog teen terreur betrek word, deel die 20ste posisie op die persvryheidsindeks, terwyl lande soos Finland en Noorweë wat nie betrokke is nie, die eerste plek deel.

Die huidige aanslag verg ongelukkig ook ingrypende maatreëls wat burgers van baie veronderstelde vryhede stroop. Die skandeerders wat nou benodig word om die nuwe generasie plofstof op te spoor wat terroriste aan boord van vliegtuie probeer smokkel, is omstrede, en word selfs as strydig met wetgewing teen kinderpornografie vergelyk.

Vanoggend word berig dat een van die terroriste wat in verband met die Twin Tower-aanval in 2001 aangekeer is, se lewenslange gevangenisstraf deur ‘n hof bekragtig is. Zacarias Moussaoui, die sogenaamde 20ste terroris, het sy saak probeer heropen deur sy aanvanklike bekentenisse terug te trek.

Op dieselfde dag berig Trouw egter ook dat die Amerikaanse dinkskrum, Center for a New American Security, in ‘n verslag verdoemend bevind oor hoe swak die Amerikaanse inligtingsdiens, of soos dit deesdae in Suid-Afrika genoem word, intelligensiediens, se inligting oor Afganistan is. Die verslag het ‘n week na ‘n selfmoordbomaanslag deur ‘n dubbele spioen op ‘n CIA-basis verskyn. Agt mense het in die aanslag omgekom.

Volgens die sentrum kan die CIA nie genoegsame intelligensie versamel om die Amerikaanse president en bevelvoerders in staat te stel om behoorlike ingeligte besluite te neem nie.

Hoe objektief die sentrum is, is onmoontlik om te bepaal, maar onderstreep nogtans ‘n waarheid: Om internasionale terreur doeltreffend operasioneel te kan hokslaan, moet uiters doeltreffende intelligensie beskikbaar wees. Die alternatief is om elke denkbare teiken te probeer beskerm, iets wat haas onbegonne is gegewe die uitgerekte tuisfront wat aangeval kan word.

 

to startДанильченко

Maak 'n opvolg-bydrae