Onderwysvakbonde se skoon lei

Dat onderwys in Suid-Afrika in ‘n krisis verkeer, is geen geheim nie.

Slegs sowat ‘n kwart van die kinders wat Graad 1 skool toe gaan, haal matriek.

In Matriek druip ongeveer 40 persent, en die oorgrote deel van diegene wat matriek slaag, slaag dit met ‘n onaanvaarbare lae gemiddelde punt.

Al hoe meer universiteite skop vas en sê matriekuitslae dui nie aan of iemand universiteitsmateriaal is nie, en bied hul eie keuringstoetse aan, en onderwerp diegene wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, aan oorbruggingskursusse. ‘n Groot deel hiervan beplan om hul studies in Engelsmedium te deurloop, maar is nie Engels voldoende magtig nie.

Universiteite kry nie subsidies vir hierdie oorbruggingskursusse nie omdat die staat van die fiksiebeginsel af uitgaan dat skole hiervoor betaal is, en daardie rekening dus vereffen is.

Boonop spandeer Suid-Afrika in wêreld- en Afrikakonteks ‘n baie hoë deel van sy nasionale begroting aan onderwys, maar dosente volhard in hul aansprake dat studente uit buurlande, soos die disfunksionele Zimbabwe, beter toegerus by universiteite aanland as die gemiddelde Suid-Afrikaanse student.

Minstens een rektor voel matriekeksamens moet as irrelevant en die kool die sous nie werd nie, afgeskaf word.

Dat so ‘n situasie binne ‘n betreklike kort tydjie omgekeer kan word is al telkemale in verskillende lande bewys, soos die verstommende snelheid waarmee ‘n bykans Middeleeuse Japan, ‘n voorheen gekoloniseerde Suid-Korea en ander kon deurbreek.

Die beste voorbeeld is egter hier te lande self. Vandag leef daar nog mense wat lang afstande te voet na plaasskooltjies afgelê het, waar meesters en juffroue met dikwels dun kwalifikasies maar ‘n dik lat kaalvoetkindertjies met hul griffies en leie gedril het om te skryf, somme te maak en hul geskiedenis te ken. Saans is by kers- en olielamplig gestudeer. Van hierdie kaalvoetkinders was kort hierna algemene gesigte aan universiteite soos Leiden, Heidelberg, Oxford en Cambridge.

Hardwerkende doelgerigtheid oorkom baie struikelblokke. Onderwysers wat laat kom, vergaderings in skooltyd hou, vroeg huis toe gaan en agter bedenklike vakbonde gaan skuil as die skroewe vasgedraai word, skep struikelblokke vir leerders wat reeds ‘n horde struikelblokke moet oorkom. Hieronder tel lang afstande aflê, maar gelukkig dikwels danksy busvervoer nie onoorkomelik nie, leerkragte met dun kwalifikasies, gebrekkige handboeke, nie-moedertaalondedrrig waar nie die kind of leerkrag die onderrigmedium onder die knie het nie en huislike omstandighede wat nie baie bevorderlik vir huiswerk is nie.

Een geslag het gewys dit kan oorkom word.

Die drie groot vakbonde, SAOU, SADOU en Naptosa se gesamentlike verklaring dat lui onderwysers nie meer agter die vakbonde sal kan skuil nie, is waarskynlik die grootste deurbraak van die huidige verlore geslag. Die land kan maar net hoop hulle het dit erns met die skoon lei.

 

пескоструйная насадка для компрессораФильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae