praag.co.za

Zuma se oproep om nasionale eenheid

Written by

in

Pres. Jacob Zuma se oproepe om nasionale eenheid, ‘n staking van negatiwiteit en dat almal as ambassadeurs vir die land moet optree, maak in werklikheid deel uit van ‘n stroom rubriekskrywers se oproepe met ‘n soortgelyke aanslag. Uit selfs voorheen onwaarskynlike oorde het erkennings gekom dat die Kemptonparkse onderhandelings gebrekkig was, maar die stertjie is bygelas dat dit nou te ene male gebeur het en dat positiewe maniere gevind moet word om daarby verby te beweeg.

In ‘n mutli-kulturele samelewing is oproepe op eenheid moeilik, wat ook beteken dat meningsvormers van die gepolariseerde uiterste nader aan die middelgrond moet beweeg.

Na die een kant kan ‘n oproepe op Afrikaners wat hulle op die een pool bevind gedoen word om hul verwagtinge rondom staatkundige regte met Volkeregtelike beginsels te harmoniseer, om hul burgerlike aksies soos Afriforum te ondersteun en te versterk, en sodoende te bemagtig om die howe op te soek om die regte wat in beginsel bestaan, af te dwing. Dr. Christo Landman het in ‘n onlangse artikel ‘n interessante punt geopper deur voor te stel dat ‘n Afrikanerleierskap opgelei word om toegerus te wees om leiding te neem.

‘n Belangrike funksie sou waarskynlik wees om deurlopend met die regering oor verwagtinge en ander saakmakende aspekte te kommunikeer.

Die Christengemeenskap, wat stellig te midde van veelwywery, tradisionele slagtings ter ere van voorvadergeeste en ander praktyke vervreemding ervaar, sal waarskynlik soortgelyke behoeftes hê.

Die versoek kom nou van pres. Zuma, en dit sal dus goed wees om ‘n aantal praktiese voorstelle aan die hand te doen om die klimaat hiervoor te bevorder:

– Omskep die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe in ‘n grondwetlike kommissie soos wat dit bedoel en oorspronklik veronderstel is. Dit beteken dat die wetgewing dienooreenkomstig herskryf moet word, die aanstellings daarmee versoen word, en dit genoegsaam gefinansier en bemagtig word om sy werk te doen.

– Verhoog die intervalle waartydens ministers en ander meningsvormers plaasaanvalle veroordeel sodat die boodskap duidelik genoeg inslaan dat boere nie vrybuit is nie.

– Verskans moedertaalonderrig genoegsaam om Afrikaanssprekendes gerus te stel – ook tot op tersiêre vlak.

– Dring daarop aan dat die ANC-jeugliga ‘n fatsoenlike president kry. Die destydse linkse uitroep, apartheid kan nie hervorm word nie want dit moet vernietig word, word in die geestesoog opgeroep as aan Julius Malema gedink word. In plaas van “vernietig” moet “afdanking” ingelees word.

– Staak die kader-ontplooiingsbeleid, en veral die hersirkulering van comrades wat reeds vasgebrand het.

– Skaf “affirmative action” nou af. Dit is dik vir ‘ daalder om te verwag iemand wat die slagoffer hiervan entoesiasties ‘n ambassadeur vir die land t moet wees (hy is immers gediskwalifiseer om die aanstelling te kry weens sy velkleur en geslag).

– Hou op om Mugabe met sagte handjies te hanteer, want dit skep die wantroue dat sy optredes hier te lande as aanvaarbaar beskou word – eral as meningsvormers gereeld met uitsprake kom soos dat Mugabe hier aangestel moet word om die grondhervormingsprogram deur te voer.

– Verbied alle onteieningspraatjies wat nie met die grondwet en internasionale verdrae waarvan Suid-Afrika mede-ondertenaars is, versoenbaar is nie.

Die lysie kan baie langer word.

‘n Paar geleende gevleuelde woorde kan dalk as rigsnoer vir 2010 dien:

“Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ‘n realis nie.” (Dr. Anton Rupert)

“Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” Pres. Jan Brand.

Dit is reg dat die positiewe bruis en energiek is …die realis wat ongeag die realiteit waarop sy voete geanker is na die silwer randjie reik.

“..ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.” Piet Retief in sy manifes.

Die versoeking is groot om tong in die kies met een van Langenhoven se dwars aanhalings af te sluit, maar sy kritiek op die huisaltare wat by die agterdeur uitgesmyt is en in die jaartse lê, en hom laat dink aan die verbasing oor liggame van bloed en vlees wat nie sonder ‘n gees wil bestaan nie, is moontlik meer gepas.

Die jaar 2010 het nie net een versoeningsdag, net een menseregtedag – wat groepregte moet insluit – , een gesinsdag, een herdenkingsdag vir mense met gestremdhede, 14 dae teen geweld teen vroue en kinders of een Christusfees nie … daar 365.

 

насосного оборудованияФильчаков прокуратура харьков

Comments

Leave a Reply