Die geval Nitini en die huidige eina-vertonings van ‘n paar spelers van kleur laat die fokus weer, verdiend of onverdiend, op die kwessie van sportkwotas val.
Die agtergrond is dat internasionale sportliggame soos Fifa, die IOK, die Internasionale Rugbyraad en ook krieket se beheerliggaam rassisme en politieke inmenging in sport verbied. Veral Fifa het ‘n reputasie dat dit genadeloos is as dit by politieke inmenging kom, en lande soos Griekeland, Kenia en Iran is al geskors, terwyl die regerings van lande soos Nigerië en Brasilië op die laaste nippertjie voor Fifa se sterk standpuntinname geswig het.
Vir Suid-Afrika geld ‘n ander stel reëls egter. Op TV kom die Suid-Afrikaanse adjunk-minister van Sport, Gert Oosthuizen, baie na daaraan om te spog dat Suid-Afrika die eerste gasheerland vir die wêreldsokkerbekertoenooi is waar die regering as rolspeler in die kontrakteringsproses ingesluit is.
Tog is dit asof die meedoënloosheid waarmee Suid-Afrikaanse politici op die sporttoneel toegetree het, nou stiller is as nog betreklik onlangs, soos met die Caster-debakel. Baie onlangs nog is geen geheim gemaak daarvan nie dat prestasie ondergeskik is aan dogma. ‘n Swygsame Minister Stofile nadat Makaya Ntini uit die Proteaspan weggelaat is, was onlangs nog haas ondenkbaar. ‘n Paar jaar gelede is selfs geskryf dat Stofile ballisties raak as Ntini se plek in die gedrang kom.
Sportkwotas is omstrede, ongeag uit welke hoek daarna gekyk word. In sport gaan dit oor sportmangees, Godgegewe talent en harde werk.
Politieke inmenging werk afbrekend hierop in, soos blyk onder meer daaruit dat jong talentvolle spelers met hul voete in die islolasiejare, soos Lee Barnard en Louis Vorster, eers werklik geleentheid gekry het toe hulle hul jeugdige glans verloor, en die ritse honderdtalle iets van die verlede was.
Die begaafde veelsydige Peter de Vaal is weer gekies vir n Springboktoer wat nooit plaasgevind het nie.
Daar was baie ander.
Dit is te betwyfel of die eens skitterende Jacques Rudolf, toe op sy kruin, ooit weer heeltemal dieselfde hoogtes bereik het as toe hy, in ‘n blatante politieke ingryping uit die Proteaspan weggelaat is. Die gevolglike druk op die kwotaspeler het ook na daardie kant sy tol geëis.
Word na die samestelling van Suid-Afrikaanse provinsiale rugbyspanne en die Springbokspan gekyk, wil dit voorkom asof ‘n jong wit vleuel, as hy enigsins oor die potensiaal beskik om in ‘n ander posisie die mas op te kom, so vroeg as moontlik sy skuif moet maak. Dit kom voor asof die dae van wit vleuels soos Jannie Engelbrecht, Gert Muller, Sid Nomis, Leon Vogel en ander legendes eenvoudig getel is. Dit skep ook by sommige rugbykenners die indruk dat baie afrigters se koppe nog onbewustelik werk in die rigting dat spelers van kleur so ver as moontlik van die punte waar dinkwerk belangrik is, gehou moet word.
Om verteenwoordigende spanne te kry, ongeag die motief, is ‘n komplekse proses, en verg almal se samewerking. Die regering, wat so graag inmeng, het ‘n uiters belangrike rol om te speel soos met die skep van geriewe veral op die platteland, die uitreiking – en nie dreigemente van terugtrek nie – van paspoorte aan spelers, beïnvloeding op die SABC om ook die sportsoorte wat meer verteenwoordigend moet wees meer gereeld in die nuusbulletins van die gemeenskappe wat geteiken word aan die beurt te laat kom, en versoeke aan die pers in privaat besit om ook dekking aan hierdie sportsoorte te verleen.
Soos sake nou staan, dra swarttalige nuusbulletins op TV selde nuus oor kriekettoetse, en selfs rugbytoetse word afgeskeep. Die SABC het die radio-uitsaairegte van provinsiale rugbywedstryde uitgekoop, maar ondersteuners sonder betaal-TV sit Vrydagaande wanneer hul spanne wegwedstryde speel, droëbek. Hulle lees eers die volgende dag in die koerant wat gebeur het.
Swart koerante dra selde rugby- en krieketnuus, al kry hulle ruim mediakaartjies. Verhale van koerantfotograwe wat blatant sonder kameras by wedstryde opdaag en eintlik net by die onthaal sigbaar is, is volop. In die daaropvolgende uitgawe swyg die koerant in al elf amptelike tale heeltemal dat so ‘n wedstryd ooit plaasgevind het.
Maar word spanne gekies, moet die kwota daar wees.
Dit is beslis nie wat die reëls van die internasionale sportliggame in die oog het nie.
