praag.co.za

Ag nee wat!

Written by

in

By geleentheid loop iemand ‘n ou kennis raak.

My jinne, ou Vrystaat, hoe gaan dit?

Iemand in Vrystaat se geselskap is stom verbaas.

Heng, Jan, ek het nie geweet jy kom van die Vrystaat af nie!”

Jan Vrystaat lyk of hy ‘n spook gesien het.

Jan het in ‘n kleinerige Vrystaatse dorpie grootgeword, en na matriek werk in Durban gekry. Daar in die “last outpost” het hy nie lekker met die souties geakkordeer nie, en sy Vrystaatse wortels tydig en ontydig in almal se kele afgedruk.

Kort voor lank, staan hy as Vrystaat bekend. ‘n Ruk later, besef hy dat dit as ‘n neerhalende bynaam bedoel word.

Toe Jan dus sy trek na ‘n ander provinsie kry, begin hy met ‘n nuwe lei, en rep nie weer ‘n woord oor sy Vrystaatse herkoms nie. Inteendeel, hy kraak die Vrystaat tydig en ontydig af.

Tot dié dag.

Almal, maar almal, het al dinge in hul lewe gedoen waarvan hulle graag sal wil vergeet, of dinge gesê waaroor hulle hul tonge wil sluk.

Asof dit nie erg genoeg is nie, word goed wat mens nie gesê of gedoen het nie, ook gereeld by ‘n mens se reputasie gelas. Dit kan so erg word dat ‘n mens heeltemal aan hierdie onwaarhede beoordeel word, wat een ding is as dit net jouself raak, maar regtig baie sleg is as dit brood uit jou gesin se mond begin neem.

Dis nog een ding as ‘n mens hiervan bewus is, en mens kan selfs regstellend optree deur die verantwoordelike mense te gaan konfronteer, of in gevalle selfs vir laster te dagvaar.

Die ironie is dat die een persoon onskuldig in ‘n ding kan beland en maak nie saak hoe hard hy probeer nie, dit nie afgeskud kry nie, terwyl ‘n ander oop oë in die ding kon inloop en dat dit hom hoegenaamd nie toegereken word nie.

Onlangs is ‘n baie bekende oud-politikus oorlede. Die koerante het met groot lof van hierdie persoon, ‘n ware heer, geskryf.

Wat verswyg is, is dat sy doktorsgraad gehandel het oor die “Christelike beleid van apartheid versus die humanitiese beleid van gelykstelling.” Sy studente, terwyl hy dosent was, moes nie net leer van hoe Christelik apartheid is nie (destyds), maar ook dat bruin mense (kleurlinge genoem) beskawingsonmondig was, en swart mense (Bantoes – respekvol met ‘n hoofletter geskryf – genoem) beskawingsvreemd is.

Goed doen in toetse en eksamen het behels om ‘n diktaat hieroor uit die kop te bemeester. Sulke hoë akademiese taal is gebruik dat dit soms moeilik was om te onthou watter vraag by watter antwoord pas, en was nulletjies in toetse nie te raar nie. Dit is darem met hertoetse opgevolg, waar mens dan andersom geraai het.

Hy het toe politikus geword, en dit regtig ver gebring. Tot diep in die nuwe Suid-Afrika in waar hy ‘n hoë politieke amp onder ‘n “beskawingsvreemde” gedien het – die enigste “beskwawingsmondige” in die betrokke UR.

Om nou identifikasie en verleentheid te voorkom, word nie verder uitgebrei nie. Die feit is egter dat sommige van sy studente hom geglo het, en in die nuwe Suid-Afrika met gebakte pere gaan sit het, terwyl hul mentor self die byl vrygespring het.

Dié tipe ironie tref my toe ek op Praag se webblad lees hoe Max du Preez openlik gedaag word om te openbaar waar finansiering van die Vrye Weekblad vandaan gekom het, en iemand in die kommentaar selfs insinueer dat daar dalk ‘n band tussen Max en die ou NI was. Max, vermoed ek, sal in alle tale swyg. Om te reageer, sal weerlig trek.

Dit laat egter nog vrae na die oppervlak borrel. Presies hoeveel lande en wie hier te lande was almal bewus van of betrokke by die sensiteringsaksies om ‘n klimaat vir die nuwe Suid-Afrika te skep? Nie almal betrokke was bewus nie – was bloot nuttige instrumente – en nie almal wat geweet het, was aktief betrokke nie.

Presies hoeveel hiervan deur wetgewing oor amptelike geheime beskerm word, weet ek nie, want omtrent alles wat ek weet is buite-om die gepaardgaande strukture opgedoen, en binne strukture het ek geen formele terugvoer gekry nie.

Amptelik weet ek dus niks ampteliks nie. Nie amptelik was ek teenwoordig toe iemand so ‘n ongeklaarde agent wat as ongeklaarde diplomaat diens gedoen het uitgesnuffel is. Van ‘n baie groot moondheid. Trouens, hy was besig om iemand wat later‘n belangrike rol by Kodesa gespeel het en nou al weer jare in die akademie is, as destydse Afrikaanse studenteleier te werf.

Kort hierna het die agent wat die uitsnuffeling gedoen het, uit die bloute na ‘n ander supermoondheid oorgeloop.

Hierna was dit taamlik maklik om die verloop van die proses te monitor, meestal van buite die stelsel.

Presies waar die tentakels geloop het, wie betrokke was, dit weet ek nie.

Of Max deel was, weet ek nog minder, hoewel ek hom nie op my eie sou verdink nie, omdat die sielkundige profiel van ‘n tipiese persoon wat vir so iets gewerf sou word, myns insiens anders daaruit sou sien.

Tensy iemand so ‘n persoon op ‘n manier baie laag aan sy anatomie in ‘n beergreep beet sou kry, en dat uitsprake en optredes eintlik as ‘n goeie dekking sou dien. Soos om by ‘n boekebespreking die skrywer te striem oor goed wat nié in die boek geskryf sou wees nie, net om dan die vloer mee gevee te word as die skrywer die bladsynommers verskaf waar dit wel bespreek is. En ‘n week of wat later op presies dieselfde manier ‘n krater van homself te maak.

Natuurlik verander sommige mense se politieke oriëntasie. Die uitdrukking van: “Meer Rooms as die pous wees,” is immers nie uit die lug gegryp nie.

“Vrystaat” hierbo was na sy Natalse ervaring so verbaal anti-Vrystaat dat sy latere kennisse beswaarlik kon glo hy het self daar grootgeword.

Wat is ‘n senisterings-, of desensiteringsaksie?

Dit behels die bepaling van ‘n politieke probleem in ‘n strategies belangrike land. Mense, veral jong toekomstige leiers word geïdentifiseer, en gewerf. Daarna word hierdie pionne gerig en bemagtig om hul invloed te laat geld.

Hoe ‘n groter omvang dit aanneem, hoe makliker word dit om mense strategies te plaas. Dis nog makliker as die aksie met die samewerking van die geteikende regering, of minstens van die regeringsleiers geskied.

Dit kan duur wees, maar is goedkoper en minder riskant as ‘n gewapende oorlog.

Terwyl klimaat geskep word, word nog meer posisionering gedoen tot genoeg mense in plek is.

Dit kan aanvaar word dat die VSA na die Bay of Pigs deurlopend sou probeer om Kuba op hierdie manier in te katrol.

Daar word beweer dat die VSA in ‘n stadium ver gevorder was met die inkatrol van Saddam Hoessein en sy bewind.

Dit bied ideale materiaal vir boeke oor samesweringsteorieë omdat dit effektief onmoontlik is die teendeel te bewys.

Politici wat skielik aftree en dan skielik oor baie geld beskik en onder meer allerlei institute tot stand bring, is vir ‘n samesweringsteorie oorgenoeg “bewys” dat die politikus op iemand se “payroll” was, of is. Hierteenoor sal individue wat skynbaar net so intelligent en talentvol is maar werklik onafhanklik dink, hulle maar net deurlopend met bevordering en keuring vir poste vasloop.

Dit kan vergelyk word met die teoretiese muur. Aan die een kant neem die aarde se magnetiese veld af, en is die aarde dus algaande meer blootgestel aan skadelike kosmiese bestraling wat onder meer genetiese mutasies veroorsaak. Aan die ander kant van die muur neem outisme – wat met genetiese de novo mutasies verband hou, binne net meer as ‘n dekade met sowat 700 persent toe.

Om egter te bewys dat dit wat eenkant van die muur gebeur, regstreeks verband hou met dit wat aan die ander kant van die muur gebeur, is ‘n perd van ‘n ander gedaante. (Om nie ras te betrek nie word van kleur weggebly).

Om opinies oor sensiteringsaksies te lug, en wie daarby betrokke is of was, het in die gemoed van die publiek nie dieselfde lastige bewysvereistes nie.

Iemand wat onskuldig betrek word, het dus ‘n moeilike taak as hy sy beweerde betrokkenheid wil ontken, want hy moet nou die onbewysbare probeer bewys. Iemand wat wel betrokke was, maar sy hare uit sy kop daaroor wil trek, het ook ‘n moeilike taak.

Verstommend egter, is om in die media uitsprake van oud-kollegas te lees wat veronderstel was om nog minder te weet, maar wat skielik hieroor en ander beweerde samesweringsaksies skielik glo goed ingelig blyk te wees. Verskoon maar ‘n stywe dop skeptisisme.

Ek weet maar net wat ek self weet, en dis baie min, maar baie meer as wat ek graag sou wou weet, want dit maak my sinies teenoor ‘n hele aantal mense…

 

free online casinoОлександр Васильович Фільчаков

Comments

Leave a Reply