‘n Baie klein beriggie lui dat die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) Koeweit geskors het. Koeweit se skorsing volg nadat dié land nie ‘n spertyd kon haal om wetgewing wat politieke inmenging moontlik maak, tot die IOK se bevrediging te wysig nie.
Koeweit se skorsing volg slegs enkele jare na sy buurman, Irak, ook geskors is. Hierdie skorsing het gekom onder die bewind wat Saddam Hoesein se diktatuur opgevolg het, en is tot ontsteltenis van die Amerikaanse besettingsmag toegepas kort voor die Olimpiese Spele in Beijing. Die skorsing is op die laaste nippertjie opgehef.
Dit dui op ‘n tikkie ironie. Wat die IOK betref, kan die burgery maar onder ‘n erge diktatuur gebuk gaan, maar politieke inmenging in sport sal selfs in ‘n liberale demokrasie nie geduld word nie.
Dit laat die vraag ontstaan of die nuwe Suid-Afrikaanse sportwet, wat betreklike wydlopende magte aan die regering bied, nie ook op die IOK se radarskerm verskyn het nie, en nou tot ‘n betreklik bedeesde regeringsreaksie op Makaya Ntini se weglating uit die Protea-span gelei het.
Die IOK is egter nie al internasionale sportliggaam waar politieke inmenging verbied word nie. Liggame soos Fifa, die Internasionale Krieketraad en die Internasionale Rugbyraad verbied benewens politieke inmenging ook rassisme. Dit was juis oor laasgenoemde dat die Internasionale Rubyraad ‘n klomp lapwerk moes kom doen na Suid-Afrika ‘n jaar gelede oor raskwotas verkla is.
Dit is egter Fifa wat ‘n reuse reputasie het dat dit niemand ontsien om die valbyl te laat val as dit by politieke inmenging kom nie. Onder die bekendes wat reeds geskors was, tel lande soos Griekeland, Kenia en Iran. Dit is interessant om op die internet te lees hoe breedsprakig Keniaanse politici voor die skorsing was. Latere uitsprake deur Suid-Afrikaanse politici toe die sportwet onder die vergrootglas gekom het, het amper woordeliks meerderwaardig dieselfde geklink.
Al raak dit prakties ondenkbaar dat Suid-Afrika nog sy gasheerstatus vir vanjaar se Fifa-eindtoernooi sal verloor, moet regeringswoordvoerders nie nou meen hulle of die land is onaantasbaar nie, of dat politieke inmenging hier te lande in die oë van die wêreld aanvaarbaar is nie.
