praag.co.za

Dekade van vrees?

Written by

in

Enkele maande voor die Britse Premier, die Arbeider, Gordon Brown, ‘n algemene verkiesing moet afkondig wat hy bykans vir seker teen die Konserwatiewe Party gaan verloor, spreek hy die moontlikheid uit dat terreur dalk van die komende dekade een van vrees kan maak.

Die aankeer van ‘n Nigeriër aan boord van ‘n vlug van Amsterdam na Detroit, toe hy besig was om ‘n ploftoestel te laat ontplof, dui daarop dat dit nie bloot klimaatskepping met die oog op die verkiesing is nie. Die Nigeriër het bande met Al Kaïda.

Hierdie insident plaas ook vir die pasverkose Amerikaanse president en voortydige Nobel-vredespryswenner, Barack Obama, voor ‘n morele krisis. Obama het die sluiting van die Amerikaanse basis in Guantanombaai in Kuba, waar die Amerikaanse owerhede weens ‘n tegniese leemte in hul grondwet terroriste en verdagtes kan aanhou sonder die normale regte waarop Amerikaanse aangehoudenes geregtig is, as verkiesingsvoorneme gebruik.

Nou plaas die realiteit Obama in ‘n hoek.

Moderne tegnologie dra daartoe by dat internasionale terreur nie maklik vasgevat kan word nie. Nie alleen het moderne tegnologie die wêreld as’t ware laat krimp nie, dit vergemaklik kommunikasie tussen terreurselle en hul ideologiese hinterland. Met die jongste insident is groepe in Yemen en Somalië minstens verbaal betrokke. Geld kan oor die wêreld van rekenings en hande verwissel. Terreurgroepe span gereeld die moderne tegnologie in om die klimaat van vrees wat hulle skep na die wêreld te kommunikeer. Die TV word die tuisteater waar miljarde kykers oor die hele wêreld kan sien hoe hulle enige tyd die volgende “akteurs” van die “opvoering” kan wees.

Dieselfde tegnologie maak die monitor hiervan moontlik. Doeltreffende teenoptrede word egter bemoeilik deurdat baie van die lande wat geteiken word, grondwette het wat aan die terroriste soveel regte gee dat hulle effektief ideologiese “no go” -areas skep waar hulle in relatiewe veiligheid hul aksies kan beplan en orkestreer. So word die tuisfront wat verdedig moet word bykans oneindig lank gerek, en word dit bykans onmoontlik gemaak om die hele front ondeurdringbaar goed te verdedig.

So lank onskuldige mense die teikens van terreuraanvalle bly, so lank sal die wêreld in ‘n greep van vrees vasgevang wees, en so lank sal die dryfkrag teenwoordig wees om terreurbeplanning deur enige maatreël denkbaar te bekamp – al druis van die metodes regstreeks in teen die waardes wat die Weste probeer beskerm.

Dit kos slegs ‘n oomblik se oog van die bal afhaal om vir die aftakelingsmagte ‘n sagte teiken te skep. Suid-Afrika beleef dit telkemale, soos die prys wat betaal moet word wanneer ondeurdagte besluite deurgevoer word soos die onttrekking van die weermag van die landsgrense, die opskorting van kommando’s en die afskaffing van spesialiseenhede. Elke keer was daar teoreties ‘n alternatief op die tafel, maar tussen die ongetoetste teorie en die harde praktyk hou die pap aan op die grond val, en onskuldige mense soos boere en hul gesinslede wat in plaasaanvalle sterf, is die slagoffers.

Obama het sy vredesprys gekry en dié spektakel so waardig as moontlik hanteer, maar die lakmoestoets bly steeds hoe hy die vrede in die praktyk gaan wen. Gordon Brown moet waak daarteen om nie twee vlieë met een klap te probeer slaan deur die dreigement van terreur subtiel in te span om die Britte tot versigtigheid tot ‘n demokratiese verandering van bewindhebbende party te beweeg nie.

Hier te lande moet gewaak word dat ‘n keiser wat bruilof op bruilof vier, nie die oog van die bal van ander sake wat om uitvoering (of soos dit gestel word, “delivery”) roep te haal nie. Op RSG se program, Kommentaar, is gisteraand in die 2010-vooruitskouing skeptisisme uitgespreek dat die ANC in die praktyk van sy kader-ontplooiingsbeleid sal afsien, met die gevolg dat gebrekkige dienslewering en korrupsie uiters moeilik hokgeslaan sal kan word.

Dit sal nie die eerste keer wees dat ‘n land, met ‘n regeringsleier met ‘n kop vol muisneste, in die Rubicon vasval nie.

 

ик сушкиЛобановский Харьков

Comments

Leave a Reply