
Hoewel die nuus nou eers na die Suid-Afrikaanse media begin deursyfer oor die eskalerende konflik in Suid-Soedan, is dit iets wat reeds die afgelope jaar opgebou het, en teen die middel van Desember was die jaar se dodetal reeds digby die 1 300. Ander stel die ongevalle op meer as 2 000. Om perspektief te gee: Suid-Afrika se moordsyfer is jaarliks in die orde van 20 000.
In Suid-Soedan is die konflik aanvanklik afgemaak as onderlinge veediefstal tussen stamme terwyl daar ‘n hongersnood begin ontwikkel, maar waar statte aangeval en hele gesinne uitgewis word is dit moeilik om dit bloot as onbenullige stam-onderonsies af te maak.
In die proses is ‘n kwartmiljoen mense ontwortel.
Die ironie is dat die suide van Soedan sedert ‘n taamlik suksesvolle verdrag sedert 2005 betreklike outonomie los van die Moslem noorde van die land beleef. Die suide het tradisioneel swaar deurgeloop in hierdie burgeroolog wat met tussenposes ongeveer ‘n half eeu geduur het.
Nou word die geweld teen ander stamme skynbaar gewoon voortgesit.
Teen die middel van verlede jaar is nog bespiegel dat buitelandse oliemaatskappye stilweg hoop die suide skei van die noorde af. Die suide het ryk oliebronne, en die noorde deel nie net daarin nie, maar bedrieg die suide boonop blykbaar met die verdeling van die inkomste. Met die suide wat nou in onderlinge stamtwiste betrokke is, raak die opsie van ‘n onafhanklike suide onaptytliker.
Die vermoede bestaan juis dat die ontdekking van olie die dryfkrag agter die massamoorde in Darfoer, deel van die Moslem-noorde was.
Op die oomblik is die werklike Soedannese tragedie dat bykans 2 000 mense kon omkom, en nog meer tydens die slagting ledemate verloor en ontwortel is, terwyl die wêreld die stroom berigte uit die gebied geïgnoreer het.
Op 7 Januarie berig RSG in sy nasionale nuusdiens soos volg: “Minstens 140 mense is dood en 90 gewond in die afgelope week in afgeleë dele van Suid-Soedan. Die Verenigde Nasies sê gevegte, hoofsaaklik tussen strydende stamme, het sedert die begin van die jaar in die Warrap-omgewing plaasgevind. Berigte oor die gevegte het twee dae gelede eers aan die lig gekom, nadat VN- veiligheidsspanne per vliegtuig na die afgeleë gebiede gereis het. ‘n Span van VN-vredesmagsoldate het per voertuig vertrek, om te probeer uitvind hoe die situasie op die grond ontvou.”
Dit laat die vraag ontstaan oor hoeveel ander tragedies ter wêreld plaasvind waarvan die wêreld verkies om nie kennis te neem nie. Onlangs het oud-pres. Thabo Mbeki nog gesê daar was geen volksmoord in Darfoer nie, maar teen die agtergrond van sy nukkerige standpunt oor die oorsaak van MIV-Vigs, moet dit onthou word van wie dit kom.
Met die huidige president se aanstelling van Pieter Mulder as adjunkminister van landbou, is daar gehoop dat die kwessie van plaasmoorde meer prominensie sal haal, maar dit lyk helaas of Zuma se bedrywige persoonlike lewe sy aandag opeis.
Die wêreld neem hoegenaamd nie kennis van die persentasie-massamoord van Suid-Afrikaanse kommersiële boere nie. Die getalle wat in totaal vermoor word is baie hoër as baie ander getalle wat sukkel om elders in die wêreld die oog te tref. Persentasiegewys is dit skokkend. By tye werk dit uit op ongeveer 130 per 100 000 per jaar. Suid-Afrika se gemiddelde moordkoers is net minder as 40 per 100 000 per jaar.
Bruin mans in die Wes-Kaap, waar bende-oorloë hoogty vier, se moordkoers van meer as 90 per 100 000 per jaar word as die hoogste ter wêreld vir ‘n identifiseerbare groep beskou, maar die aanslag op kommersiële boere en hul gesinslede is lankal by daardie kerf verby.
Die buitensporigheid blyk daaruit dat die wêreldgemiddeld 5 per 100 000 per jaar is, en dié van Wes-Europa 1 per 100 000 per jaar.
Watter plaaskind slaap nog rustig?
