Die “debat” oor die moontlikheid dat pres. Jacob Zuma dalk as “versoeningsgebaar” kwytskelding gaan gee aan Eugene de Kock laat die gemoedere in sommige geledere kook.
Te midde hiervan meen Rapport se Jan-Jan Joubert die keuse van De Kock as versoeningsgebaar teenoor die Afrikaner is ‘n mistasting van wie en wat die Afrikaner werklik is.
Dit bring wel ‘n geldige saak na vore.
Soos enige volk met ‘n gevestigde demokratiese tradisie sal daar geen uniformigheid by Afrikaners wees nie, ook nie wie sy helde sal wees nie. Dit is immers duidelik gedemonstreer toe ‘n vrou die Universiteit van Stellenbosch oortuig het om ‘n ere-doktorsgraad aan wyle Bram Fischer toe te ken.
In Bloemfontein staan die glaspaleis, hoofkwartier van die Mangaung-munisipaliteit, amptelik as die Bram Fischergebou bekend. By meer as een geleentheid is al uit ANC-geledere gesê dit bewys dat die ANC ook Afrikaners vereer.
In sy inhuldigingstoespraak as nuwe rektor van die Vrystaatse Universiteit het prof. Jonathan Jansen ook Fischer se lofrede besing, vermoedelik om Afrikanersentimente te midde van veranderingspolitiek te paai.
Pogings is ook aangewend om die lughawe by Kaapstad na Fischer te vernoem. Selfs Max du Preez se mees verbete pogings kon nie daarin slaag om van Fischer ‘n Afrikaner-volksheld te maak nie.
Nog iemand wat graag vernoem en as sogenaamde bewys van versoening teenoor die Afrikaner genoem word, is wyle Beyers Naudé. Soos die terminaal siek Shabir Shaikh het sy familie ook die vorige bedeling oortuig dat Naudé baie siek is, en nie lank het om te leef nie, en sy inperkingsbevel is opgehef. Naudé was hierna nog lank aktief, soos met die Waarheids- en Versoeningskommissie.
Koöptering om Afrikanergesindhede jeens die ANC te swaai soos die opname van Marthinus van Schalkwyk, en nou soms sinies verwys na dr. Pieter Mulder, loop ook gereeld in wisselende mate deur. Sommiges tref ‘n onderskeid tussen Mulder se koöptering en dié van Van Schalkwyk onder meer omdat die landbou-bedryf na jare se bedenklike politieke bestuur gered moes word.
Mulder se styl van adjunk-ministerskap staan ook in skrille kontras met ‘n voorganger, Dirk du Toit, wat Afrikaners sterk teen die ANC help polariseer het.
Daar is egter meer konkrete stappe wat die regering kan doen om versoening met die Afrikaner oor ‘n breër front tasbaar gestalte te gee. Hieronder tel die behoorlike verskansing van taalregte, soos in die opvoeding op alle vlakke, die inneem en volhou van ‘n standpunt wat geen twyfel by voornemende plaasaanvallers laat dat boere nie vry buit is nie, die opheffing van rasgebaseerde regstellende aksie …die lys is baie lank.
Simboliese aksies kan soms nodig wees, maar sonder dat dit die kern van die probleem aanspreek beteken dit min, of kan selfs boemerang. Enige moontlike wins uit die simboliek sal in die wind verwaai solank as wat Julius Malema nie net toegelaat word om ongehinderd polariserende opmerkings te maak nie, maar dit ook nie gerepudieer word nie.
Die goeie hoofmanskap om saans by die vuurtjie van elke familie te gaan sê wat daardie familie wil hoor, werk nie met alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe nie. Danksy die media weet die mense by een vuurtjie in elk geval wat vir die mense by ‘n ander gesê word.
Dié praktyk is daarom net so onaanvaarbaar soos om tot die land se hoogste wetgewende liggaam verkies te word onder die vaandel van: “Ons sal jou stem wees,” en dan na die verkiesing tjoepstil te bly.
