Naspers-gorilla sit Afrikaners plat

Die debat rondom Naspers en Afrikaanse media wat Alpegro in Net één Afrikaanse koerantstem aanroer, mag nie sonder reaksie verbygaan nie.

Saam met Alpegro smag ek ook na ‘n “verskeidenheid van insigte en menings” soos in die dae toe daar twee groot persgroepe in Afrikaans was. Laat niemand daaroor twyfel nie: daar was destyds veel meer spraakvryheid as vandag en ek het as bloedjong student in die 1970s artikels en resensies in Rapport, Oggendblad en selfs Beeld kon publiseer wat heeltemal teen die heersende ideologie van destyds ingedruis het.

Dit was ‘n tyd toe ‘n mens sowel dissident as Afrikaner mog wees. Dit wil voorkom asof ‘n mens vandag nie meer een van die twee mag wees nie: tans word ons oorheers deur die “Afrikaanses”, ‘n term wat blykbaar in die kantore van Naspers uitgedink is, wat bepaal dat ‘n mens kleurloos moet wees en moet konformeer sover dit die heersende Anglo-Amerikaanse denkpatrone betref.

Die mag en finansiële sukses van Naspers veroorsaak ook dat sy joernaliste en bestuurders hul eie posisie in Afrikaans as vanselfsprekend belangrik beskou. By gebrek aan politieke leiers of invloedryke denkers/skrywers, het die Naspers-”executive” of -redaksielid hom of haar tot arbiter uitgeroep.

Omdat dié mense meermale in die Kaap woonagtig is, word die hele Afrikaanse wêreld vandag voorgestel as ‘n soort spieël waarin die “mooi mense” van die media hulle selwers narcisties beskou, dikwels teen die agtergrond van Tafel- of Helderberg gefotografeer. Vanuit Constantia en Rondebosch kom insgelyks ‘n hele Brits-koloniale geurtjie aangewalm wat Afrikaners as die antihelde in poniekoerante voorstel.

Ons is tog meer as rugby- of krieketspelers wat inkopies of binneversiering doen, as hulle nie skandes maak nie? Dan is daar die alewige gesanik oor “die regses” waarmee blykbaar almal wat nie vir mev. Zille stem of hul kinders na Engelse skole stuur nie, bedoel word. En volgens die riemtelegram sit soveel van die Naspers-elite se bloedjies reeds op Engelse skole…

Omdat daar ‘n sogenaamde “variant” van Afrikaans vol Engelse woorde in die Kaap gepraat word, dink Naspers-media dit goed om ons dikwels aan dié Kreools bloot te stel. In die vorige uitgawe van Rapport het Kerneels Breytenbach selfs ‘n loempenproletariese kortverhaal – of wat dit ook al veronderstel was om te wees – in Kreools gepubliseer.

Daar word selfs dikke boeke uitgegee wat van Kreools en onafrikaanse uitdrukkings wemel.

As Naspers die “gorilla in die vertrek” geword het, soos prof. Anton Harber geskryf het, wonder ‘n mens of hy nie besig is om Afrikaans en veral die groot aantal Afrikaners in die Noorde heeltemal plat te sit nie.

александр лобановский харьков класс

Afrikanerlinkses en Afrikanerondergang

Twaalf jaar gelede het ek in ‘n bydrae op LitNet, geargumenteer dat die links-regsverdeling in Suid-Afrika en selfs elders ter wêreld nie meer van toepassing is nie. In 2003 het ek tydens ‘n praatjie, Is die globale ryk wenslik?, iets van ‘n kritiek gelewer op die neo-Marxistiese denke van Hardt en Negri se boek Empire wat in globalisering die verwesenliking van proletariese internasionalisme sien.

Suid-Afrika mag as anargiese, amorele samelewing jenseits von Gute und Böse wees, maar ons is nog lank nie jenseits von die Linke und die Rechte nie. Gereeld word daar deur akademici of in die Nasperskoerante teen “die regses” uitgevaar, dermate dat ‘n mens soms die indruk kry dat ons in ‘n soort Oos-Duitsland woon waar enige vorm van konserwatiewe, liberale of regse denke per se gestigmatiseer is. Slegs sosialisme, verkieslik Marxisme, is legitiem.

Ferdi Greyling van Beeld is byvoorbeeld ‘n volgeling van die voormalige sosialistiese Franse president, François Mitterand, wat op ‘n stadium gesê het: Le nationalisme, c’est la guerre. Volgens Greyling lei “regse denke” noodwendig tot geweld. Nietemin bestaan daar in vele demokratiese lande regse partye – selfs die Republikeinse Party in die VSA – wat dit regkry om aan verkiesings deel te neem sonder om hul opponente met koeëls of bomme te bestook.

Soos ek, tesame met Raymond Aron en Paul Johnson, al voorheen geargumenteer het, is daar veel eerder ‘n element van apokaliptiese geweld wat linkse denke onderlê. Die aangrypende sjarme van die revolusie is juis dat alle maatskaplike probleme – ja, selfs die  bestaan van maatskaplike klasse – meteens tydens ‘n staatsgreep van Links uitgewis kan word. Dink maar aan die kultus rondom Lenin, Ché Guevara, Fidel Castro en vele ander. Ook Mandela word as ‘n linkse revolusionêr beskou wat self baie versigtig was om nooit enige kritiek op die kommunisme uit te spreek nie. Terwyl die onlangse Russiese leiers hul telkens in die openbaar van Stalin se vergrype gedistansieer het, het Mandela nog nooit negatief na Stalin, Mao of selfs Pol Pot verwys nie.

Is daar egter iets soos ‘n Afrikanerlinkse of linkse Afrikaner wat oor spesifieke eienskappe of neigings beskik wat hom van ander linkses onderskei? Op die Engelse kampus waar ek gestudeer het, is daar destyds gepraat van “the Left” en almal had ‘n baie spesifieke idee oor die betekenis daarvan. In dié opsig was die Afrikanerlinkses, afgesien van “renegaat”-figure soos Bram Fischer en Beyers Naudé, afwesig van die Brits-geïnspireerde “Left” in Suid-Afrika. Die deelname van Afrikaners aan die mitiese “struggle”, wat vanuit Brittanje, Swede en Noorweë gefinansier is, was insgelyks beperk. Trouens, die sogenaamde “struggle” was juis ‘n etniese alliansie wat téén Afrikaners gemonster is.

As ‘n mens deesdae die uitsprake van Afrikaanse akademici en joernaliste lees, wil dit voorkom asof hulle eintlik part en deel van die ANC en SAKP se stryd en uiteindelike oorwinning oor die reaksionêre magte van apartheid was. Soms is daar ‘n bepaalde frustrasie by Afrikanerlinkses en veral die Nasperskommentators te bespeur dat hulle die laaste tien minute van die revolusie toe hulle vanuit ‘n voorheen “regse” standpunt daartoe bekeer is, misgeloop het.

Reeds baie gou ná 1994 het Afrikanerlinkses daarin geslaag om aan die universiteite en in die media ‘n hegemonie te bewerkstellig, waardeur die diskoers in Afrikaans feitlik van alle teengeluide gesuiwer is. Soortgelyk aan die situasie in vele ander lande waar suksesvolle linkse revolusies tydens die twintigste eeu plaasgevind het, is dissidente reeds vroeg ná 1994 en toenemend as “reaksionêr”, “fascisties”, “regs”, “verregs” en meer bepaald binne die Suid-Afrikaanse konteks, as “rassiste” getipeer en selfs gestigmatiseer.

Eintlik is dit ‘n fassinerende en histories onverwagse wending wat hier by ons ingetree het, waar die leidende Afrikanerintellektuele, -joernaliste en -politieke denkers hulle binne slegs enkele jare volledig vanaf ‘n soort volks- of nasionalistiese projek tot dié van linkse transformasie bekeer het. Skadu’s van Weimar toe soveel Duitsers tussen die “swart” en “rooi” pole geweifel het en van een dag tot die volgende vanaf die hamer en sekel tot die hakekruis, of andersom, oorgehaal kon word?

Sekerlik bestaan daar skakerings van linkse radikalisme, met Pol Pot en Mao tydens die Kulturele Revolusie wat ‘n soort ekstreme “transformasie” definieer waardeur miljoene menselewens verlore gegaan het. Die tergende vraag is: hoe radikaal is die Afrikanerlinkses?

In dié verband het ek met belangstelling geluister na prof. André Brink wat tydens die dokumentêre TV-program, André Brink, the African/l’Africain, verklaar het dat “my volk verdien om te verdwyn”. Die presiese sin waarin Afrikaners behoort te verdwyn, sal hy hopelik self kan beantwoord. Ook het dr. Leopold Scholtz reeds by verskeie geleenthede die assimilasie van Afrikaners bepleit. Die algemene gevoel is een van: Afrikaners as groep of die Afrikaneridentiteit as sodanig hoort nie meer in Suid-Afrika nie.

Dan is daar die hele debat rondom Standaardafrikaans wat reeds deur RSG as ‘n soort “apartheidsdialek” verklaar is en daarom “geherstandaardiseer” moet word. Soos ek reeds onlangs in Taalkundige Lisenkoïsme: Standaardafrikaans in die spervuur uitgewys het, was selfs Stalin nie so radikaal dat hy klassieke (Tsaristiese) Russies wou verander nie en het daarom sy teenkanting teen ‘n “marxistiese taalkunde” uitgespreek. Hier by ons lyk dit egter asof die revolusie ook nie die standaardtaal ontsien nie.

Die internasionale of globale kapitalisme, tesame met die oorheersing van die Amerikaanse kultuur, word dikwels deur minderheidskulture as ‘n vorm van “regse oorheersing” getipeer – anders as Hardt en Negri byvoorbeeld. Daarom definieer vele nasionalistiese bewegings onder minderheidsvolkere (dinke maar aan die Baske, Katalane en Noord-Iere) hulle insgelyks as “links” en anti-kapitalisties. Waar hulle van kapitalistiese metodes gebruik maak, word dit dikwels meer sosialisties gestruktureer, by wyse van koöperasies byvoorbeeld. In Baskeland bestaan die Mondragon-koöperasie wat aan 100 000 mense werk verskaf en tot die voordeel van die gemeenskap bedryf word.

Blykbaar word daar op Orania ook na die koöperatiewe model van ekonomiese ontwikkeling gekyk, soos in die volgende artikel: Koöperatiewe ekonomie: middeweg tussen kapitalisme en kommunisme. Waarskynlik sou ‘n hele horde Afrikanerlinkses egter die oprigting van Afrikanerkoöperasies as “regs-reaksionêr” beskryf, terwyl soortgelyke Baskiese inisiatiewe in Spanje weer as “links” gesien sou word.

Die vreemde verskynsel onder Afrikanerlinkses is juis dat hulle in Afrikanerondergang iets positiefs of voortrefliks gewaar. Waarskynlik is dit ‘n unieke eienskap van die linkse beweging hier by ons dat hulle die kulturele en selfs ekonomiese grond waaruit hulle put of in die verlede geput het, wil vernietig. Hoewel Naspers hom toenemend van die Afrikaanse mediamark losgemaak het en deesdae sy heil in China, Pole, Rusland en Indië sien, is die mediagroep oor jare aktief en lojaal deur Afrikaners ondersteun. Die woord “Afrikaner” het egter onder linkse “Afrikaanses” soos hulle verkieslik na hulself verwys, ‘n vloekwoord geword. Om Afrikaner te wees, is per se “regs”, selfs “verregs”, skyn die indruk te wees wat ‘n mens by Afrikanerlinkses kry.

My kennis van Europese tale is maar taamlik beroerd, want afgesien van Frans en ‘n leeskennis van Duits en natuurlik Nederlands, “kan” ek nie eintlik enige Europese tale nie, soos die Nederlanders sê. Italiaans, Russies en die Skandinawiese tale fassineer my egter reeds geruime tyd en met die internet deesdae is dit moontlik om nie net ‘n taal aanlyn aan te leer nie, maar ook blootstelling aan films, TV, koerante en tydskrifte te bekom. Dus: die hoop beskaam nie.

Darem het ek op skool en universiteit Latyn gehad, waarvan ek nie veel onthou nie, helaas. Nietemin word ek sedert my eerste kennismaking met Latyn in standerd ses geboei oor die vraag waarom mense dié eens hoogstaande kultuurtaal moes ophou praat het? En natuurlik die groot vraag: waarom het die Romeinse Ryk, wat eeue lank die hele Europa en die Midde-Ooste oorheers het, ondergegaan?

Arnold Toynbee, Oswald Spengler en ander skrywers het al breedvoerig oor Rome en ander groot beskawings geskryf waarvan daar intussen net ‘n paar ruïnes oorgbly het. Veral Toynbee beskryf dit as ‘n proses van “beskawingselfmoord”. Volgens hom gaan ‘n beskawing of kultuur byna nooit ten gronde weens eksterne militêre geweld of nadelige omstandighede, maar weens onderlinge verdeeldheid en ‘n soort lewensmoegheid.

Vele Afrikanerkonserwatiewes koester ‘n intense afkeer jeens mnr. FW de Klerk weens sy verraad jeens die Afrikaner. Feit is egter dat die graad van verraad jeens hul voorouers en hul vryheidsideaal wat Afrikaners aanhou pleeg, veel erger as FW s’n is. Hulle stuur vrywillig hul kinders na Engelse skole en werk saam om die huidige stelsel te onderhou, dank selfs ander Afrikaners op grond van hul ras en taal af om by die ANC se “gelykheidswette” te hou. Volgens Jan-Jan Joubert, “stem 96% van Afrikaners trots DA” en daarom vir ‘n Engelstalige party wat die multikulturele ideaal, regstellende aksie en selfs grondhervorming voorhou. Naas die heel linkse Helen Zille wat in die verlede die ANC onomwonde ondersteun het, is FW de Klerk eintlik ‘n “regse”.

Dis waarom dit myns insiens toenemend futiel is om Brittanje, Swede, Noorweë en die ANC vir Afrikanerondergang te blameer. Die afgang van Afrikaners is ‘n daaglikse proses wat deur ons mense gewíl word, of liewer: daar is blykbaar geen wil om dit te stuit nie.

Watter geheimsinnige proses het ons by hierdie punt van volkselfmoord gebring, net soos wat Rome in sy doodsnikke verkies het om geen weerstand teen Alarik die Wesgoot te bied nie?

‘n Mens kan seker antwoord dat die Afrikaner te vinnig opgebloei het, oor ‘n tydperk van 200 jaar of so, met ons taal wat maar bietjie meer as ‘n eeu gelede gestandaardiseer is. Weens ons vinnige opgang, beleef ons tans ‘n ewe snelle afgang.

Soos Toynbee, Nietzsche en vele ander egter argumenteer, is dit altyd “skeppende minderhede” wat die lotgevalle van nasies bepaal. Oor die algemeen val die meerderheid bloot by die huidige sosiopolitieke toestand in, tensy hulle deur ‘n minderheid opgeroep word om hul daarteen te verset.

Daarom meen ek dat die opkoms van ‘n sterk linkse beweging onder Afrikaners sedert die laat tagtigerjare bepalend vir ons onlangse verlede was en ook vir ons toekoms gaan wees. Die revolusie in Afrikaans was eintlik baie meer intens as in Suid-Afrika self. Binne ‘n baie kort tyd – ‘n paar jaar – het ‘n klein groepie linkse denkers ‘n hegemonie in die media en aan die universiteite bereik van waar hulle met ‘n suiweringsveldtog teen alle dissidente – die gehate “regses” – begin het.

Van die meer prominente woordvoerders van die linkse beweging onder Afrikaners – hoewel sommige nie van die etiket “links” hou nie – is die volgende:

Amanda Gouws

André P. Brink

Max du Preez

Pierre de Vos

Antjie Krog

Neels Jackson

Christi van der Westhuizen

Leopold Scholtz

Anton van Niekerk

Willie Esterhuyse

Tim du Plessis

In volgende rubrieke, of dalk ‘n kort e-boek, wil ek verder ingaan op die rol wat die genoemde figure speel om via hul magsposisies aan die universiteite en in die media enige opflikkeringe van ‘n Afrikanerwil tot oorlewing uit te doof. Ek het ook persoonlik aan elkeen van dié mense geskryf om hul idees oor ‘n aantal onderwerpe te toets, maar die meeste het soveel minagting vir enigeen wat hom of haar ‘n Afrikaner noem, dat hulle nie geantwoord het nie.

As daar egter een ding is wat my hoop gee, is dit ons oeroue Westerse kapasiteit vir skeppende en rasionele denke. Die “ideologiese stryd” waarvan die ANC in sy marxistiese retoriek praat, woed vandag feller as ooit in Afrikaans self waar ons moet poog om ons van die totalitêre denkbeelde van Afrikanerlinkses te bevry. Ons het iets soos die Franse “nuwe filosofie” van die 1970’s nodig, toe ‘n groep onverskrokke woordvoerders in Parys dit durf waag het om ná Solsjinitsin se boeke die heilige koeie van die Marxisme en die revolusie te slag.

Om te begryp wat op die spel is, sal ons ook die vraag moet vra: Wie en wat is ‘n Afrikaner? Anders as wat daardie ander pro-Engelse en linkse idioot, Van Zyl Slabbert, gedink het, gaan dit nie vir my daaroor om mense volgens ‘n “binnegroep” en “buitegroep” te definieer nie, maar om ‘n veel meer grondliggende vraag.

Ons moet verstaan dat die “totale aanslag” waarvan PW Botha gepraat het, juis nou in Afrikaans aan die gang is. As ek die radikaal-linkse denkers, die “Afrikaanses”, reg verstaan, gaan dit nie net om die vernietiging van Afrikanerskap as sodanig nie, maar ook om die verwerping van die waardes van die Europese Verligting wat ons reeds drie honderd jaar lank definieer.

Фильчаков прокурор отзывы

Russel Botman se verwysingsraamwerk

Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het nou vakansie. Twee van sy blanke viserektore neem in hierdie stil tyd agtereenvolgend in sy plek waar. Hulle kwalifiseer nie daarvoor om permanent die rektor te word nie, want dit sal ‘n terugslag vir transformasie wees. Hulle mag selfs net tussentyds viserektore wees. Die idee is dat hulle hulle poste moet gebruik om transformasie te bevorder, sodat nie-wittes in hulle plekke aangestel kan word; aldus Botman (Die Burger, 5 Sep, p 11). Wat hulle akademies diskwalifiseer, is dat hulle wit en mans is. Só lyk die eienaardige weë van geregtigheid in die nie-rassistiese en nie-seksistiese nuwe Suid-Afrika.

In dieselfde week as die ANC se Mangaung-konferensie was dit seker gepas dat Botman soggens sy Sielsgedagte (5:55-6:00) oor RSG uitgesaai het. Hy het waarskynlik aangebied om dit te doen en RSG het dit verwelkom, want dit is immers seker dat hy niks sal sê wat die ANC, en by implikasie die SABC, ontstel nie. Enigeen kan op die RSG-webwerf met potgooi vasstel wat Botman gepreek het.

Op 18 Desember het dit gegaan om die stryd tussen twee etniese en taalgroepe, die sprekers van Grieks en Hebreeus. Daar was taalkonflik en diskriminasie, terwyl daar eerder goedhartigheid teenoor almal moet wees; niemand moet afgeskeep word nie. Botman skaar hom by diegene wat die swakste was en die swaarste gekry het. [In sy gewilde idioom, gelaai met rasse- en geslagsvoorkeur: Hy kies kant vir die dogter van die (bruin) plaaswerker teen die seun van die (wit) boer.] Nadat Botman kant gekies het, spreek hy die wens uit dat daar nie diskriminasie moet wees nie. Menswaardigheid moet vooropgestel word. ‘n Mens vra jou af: Waarom bevorder Botman dan toenemende diskriminasie teen wit studente en personeel en Afrikaans aan die US?

Op 19 Desember het Botman oor Stefanus gepreek, wat die ene wysheid, goedheid en goedhartigheid was. Vrygelate slawe uit Afrika en sommige Jode was egter die vyande van Stefanus. Hulle het hom van laster aangekla en hom gemartel en gestenig. Op grond hiervan kon Botman (maar hy verseg om dit te doen) ‘n sterk waarskuwing gerig het oor die gevare wat vryheid inhou vir diegene wat nie weet hoe om dit te hanteer nie. Ook hoe elemente uit Afrika wysheid, goedheid en goedhartigheid in ‘n land kan vernietig, veral as hulle toegelaat word om onbeheersd ‘n land binne te stroom. Botman kom egter nie tot hierdie voor die hand liggende gevolgtrekkings nie.

Op 20 Desember het Botman beweer dat Afrika se vroegste geskiedenis belangrik is. Babas en ander kinders het swaar gekry. Daar was uitbuiting. Die voorouers is wreed behandel. Mense is aan hulleself oorgelaat. [Dalk omdat daar die beskuldiging van paternalisme kon wees as hulp verleen sou word?] Afrika het slegte en goeie stories. Volgens Botman moet ons ‘n goeie Afrika-storie probeer wees. Dit sal nie maklik wees nie.

Teen 22 Desember moes dit vir die luisteraars duidelik gewees het dat Botman voortgaan om dieselfde frases te gebruik; dat hy blykbaar nie die moeite gedoen het om die teks van sy voordragte vooraf behoorlik uit te werk en uit te skryf nie. Maar hy kom as rektor skynbaar met enigiets weg; waarom nie ook op RSG nie? Hy het gepraat oor rolspelers, die gemeenskap, die mense en dat God die geskiedenis skep; ook toekomstige geskiedenis.

Op 23 Desember het die kontras tussen sy welvaart en dié van gewone sterflinge Botman gehinder. Daar is mense wat ly, wat swaarkry. Kerstyd gee aan ons die geleentheid om ons goedhartigheid te bewys, om nie gierig te wees nie. Sou dit nie ‘n navolgenswaardige voorbeeld van versoening wees as Botman uit sy eie sak studiebeurse vir wit studente skep nie? Maar dan dink ‘n mens daaraan dat daar in die praktyk verwag word dat versoening (net/veral) van die wittes se kant af moet kom. Ook dat daar aan die US talle beurse eksklusief vir nie-wittes is, terwyl die US geweier het om enigiets te make te hê met ‘n erflating wat voorskryf dat sy studiebeurse net aan wit studente toegeken mag word.

Wat opval, is hoe buitengewoon klein Botman se register van onderwerpe is. Hy het net ‘n beperke getal kapstokke waaraan hy sy gedagtes hang: slawe, Afrika, swaarkry, diskriminasie, menswaardigheid, wreedheid, marteling, lyding en uitbuiting. As rektor gaan dit vir hom ook net om enkele sake: hoop, verandering (eerder as verbetering), transformasie, regstelling, inklusiwiteit en meertaligheid (eerder as Afrikaans).

Moenie van Botman verwag om hom ideologies-neutraal oor die wetenskap, akademie en universiteit uit te laat nie. Die US-Raad verplig hom bv nie om die akademies beste studente tot studie toe te laat en die akademies beste dosente aan te stel en te bevorder nie. Dit is blykbaar genoeg as soms oor die US se “uitnemendheid” gepraat word. Die waarheid is dat akademiese uitnemendheid aan die getransformeerde US plek vir politieke uitnemendheid ooreenkomstig die ANC se resep gemaak het.

Kaapstad is as die Ontwerphoofstad vir 2014 aangewys. Dit klink na dieselde soort irrasionaliteit as wanneer twee stede vertweeling, dus maatjies, word. Daar word altyd gesorg dat sulke stede ver van mekaar is, verkieslik op verskillende kontinente. Die burgemeesters, amptenare en ander bevoordeeldes vlieg dan luuks oor en weer na mekaar toe en daar word duur verblyf en buitensporige onthale gereël. In dié proses is die belastingbetalers die finansieel benadeeldes.

Soos dit in ons era van transformasie hoort, bevind Botman hom nou as die voorsitter van die direksie van die World Design Capital 2014-implementeringsmaatskappy. Volgens die woordeboek is ontwerp (“design”) ‘n plan, ‘n vooraf opgestelde skema waarvolgens aan iets gestalte gegee kan word, of hoe bestaande dinge reggetrek kan word. Toegepas op ‘n metropool soos Kaapstad beteken dit dat bekwame mense (1) as ontwerpers en (2) as uitvoerders van daardie ontwerpe moet optree, (3) dat daar geld hiervoor moet wees, (4) wat impliseer dat almal hulle belasting moet betaal; (5) dat mense hulle ordelik en ordentlik moet gedra, bv dat hulle hulle vanselfsprekend van diefstal en vandalisme moet weerhou; (6) dat die instroming van ‘n oormaat nie-funksionele armlastiges van elders nie toegelaat moet word nie, ens.

Hoe vertolk Botman hierdie saak? Hy het sy siening in ‘n artikel geformuleer (Die Burger, 27 Nov, p 15). Hy val weg deur daarop te wys dat sommige mense ontwerp as ‘n Eerstewêreldse tierlantyntjie beskou; dat aandag eerder aan die bekamping van armoede en ongelykheid gegee moet word. Voorspelbaar is sy invalshoek dus Derdewêrelds, oftewel pro-Afrika. Hy verduidelik dat ontwerp nie net vir welgestelde individue [waarvan hy een is] en groot korporasies bedoel is nie.

Dan kom hy behoorlik in rat: “In die strakste sin het eeue van kolonialisme en apartheid [hy het slawerny seker per abuis uitgelaat] gesorg vir Suid-Afrikaanse stede wat die verdraaide doelwitte van rasseskeiding en -diskriminasie weerspieël − en Kaapstad is geen uitsondering nie. Een van ons uitdagings is nou om ons stedelike ruimtes en instellings te herontwerp om ‘n gemeenskap gegrond op die beginsels van geregtigheid en gelykheid moontlik te maak.”

Wat Botman vir die Kaapse metropool beoog, is dus dieselfde as vir die US: algehele transformasie. Hy verwys na die ideaal van “gelykheid”. Daar is natuurlik reeds gelyke stemreg: Hophuis- en krotbewoners se stemme weeg net so swaar soos dié van mense wat self vir hulle huise moet betaal. Gaan Botman as pleitbesorger vir geregtigheid sorg dat naas gelyke voordele daar ook gelyke verpligtinge gaan wees, bv dat almal vir munisipale belasting en dienste moet opdok?

Botman haal Zayd Minty, die Stad Kaapstad se bestuurder vir kuns en kultuur, goedkeurend aan: Dit is Kaapstad “se kans om ons energie te gebruik om onsself te herposisioneer as ‘n stad wat ons verlede kan oorkom.” Botman borduur dan voort: “Ons Ontwerphoofstad-status bied die stad nou die geleentheid om ‘n gemeenskaplike visie te ontwikkel as ‘n inklusiewe, vernuwende, entrepreneuriese en volhoubare Afrika-stad.” Die universiteite in Kaapstad en omgewing is volgens Botman van die bestes in Afrika. [Hy vergelyk hulle huidige toestand nie met hulle akademiese status in die vorige eeu of met universiteite buite Afrika nie.] Hierdie universiteite het glo ‘n sleutelrol en verantwoordelikheid in dié ontwerpproses.

Daarna skryf Botman spesifiek oor die US [waar hy die proses ter vernietiging van die inrigting se beweerde bedenklike verlede lei; die helhool wat eksklusief blank en Afrikaans was en Afrikanerleiers opgelewer het]: “Reeds in 1999 het die US amptelik sy aandeel in die ongeregtighede van die verlede erken. Die universiteit het hom ook verbind tot regstelling en ontwikkeling deur dienslewering aan voorheen en tans benadeelde gemeenskappe en gebiede.” [Let op in hoe ‘n onverbiddelike mate Botman op politiek pleks van ontwerp bly fokus. Sluit hy by sy “tans benadeeldes” wittes in?] Dan kom hy by die US se HOOP-projek waar daar gestreef word na “volhoubare oplossings van Suid-Afrika en Afrika se dringendste behoeftes.”

Dit maak nie saak wat Botman se onderwerp is nie (bv godsdiens, akademie, ontwerp), sy storie bly dieselfde. Sy verwysingsraamwerk bestaan uit ‘n kombinasie van bevrydingsteologie en ANC-ideologie, wat ‘n goeie skeut kommunisme insluit.

‘n Mens sal nooit van al die kommentaar weet wat deur Die Burger op Botman se artikel ontvang is nie. Die Naspers-koerante doen klaarblyklik baie meer moeite as ander koerante om nie-politiek-korrekte kommentaar uit sy gedrukte en elektroniese weergawes te hou. Op 29 November (p 21) is ‘n enkele brief van ‘n leser gepubliseer, wat Botman se ideologie op ‘n realistiese manier aarde toe bring:

“In die 20 jaar wat ek hier woon, is niks gedoen om die metropool se rioolstelsels te verbeter nie. Nuwe uitvalwerke word nie gebou nie, en bestaandes kan nie die volume hanteer nie. Kyk maar as jou vliegtuig opstyg in die rigting van Valsbaai hoe die rioolwerke se uitval in die see in loop. Kyk om jou en sien waaraan onnodig geld bestee word. Projekte word ‘geskep’ en toegeken aan kontrakteurs wat alleen daarby baat vind, maar die eindproduk is ‘n vermorsing van belastinggeld. Daar is baie voorbeelde, soos die Kaapstad-stadion en die ‘internasionale handelsentrum’ by Khayamandi, met die aangrensende sokkerveld. Die sentrum se ruite is stukkend gegooi en die sokkerveld is nie voltooi nie. Ja, esteties baie mooi ontwerp, maar nie funksioneel nie. Wat van die voetgangerbrûe oor die R300 en die N2? Mense se beeste loop daaroor, en die mense self hardloop nog oor die pad en word doodgery. Is dit wat ‘ontwerp’ beteken?”

Die gepeupel word toegelaat om alles te saboteer wat die moeite werd is, of dit nou bv ontwerp of ‘n universiteit is. Botman skaar hom nogtans aan die kant van die gepeupel.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Boonzaaier en ‘regse’ Afrikaners is Zille se kanonvoer

Vandeesweek het nog ‘n patetiese gesig ons getref: dié van Hein Boonzaaier, Johan Prinsloo, Martin Keevy en Mark Trollip wat in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van hoogverraad en terrorisme verskyn het. Soos gewoonlik lag die Engelse van die Mail & Guardian en ander koerante hulself slap oor “Boeremistiek”.

Volgens die Mail & Guardian “het dit duidelik geword dat die verregses deur agterdog oor verraad lamgelê word en intens deur uiteenlopende interpretasies van mistieke gesigte verdeel word. Dit bring die vraag na vore of die vier beskuldigdes enige kans gestaan het om ‘n mortier na die ANC se Bloemfontein-konferensie te slinger of bloot deur rassistiese verbeeldingsvlugte wat aan profesie verbind word, meegevoer is.”

Kennelik het die Mail & Guardian sy inligting van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) ontvang en moet ‘n mens dit met ‘n knippie sout neem. Trouens, ek vermoed reeds lankal dat ‘n groot deel van wat ons in die SA media lees, van Suid-Afrikaanse en veral buitelandse (Britse en Amerikaanse) inligtingsbronne afkomstig is. ‘n Groot deel van die joernaliste is waarskynlik ook op die betaalstaat van hierdie geheimedienste en voer ons met die soort inligting en idees wat “vir ons goed is”.

Die arme publiek bevind hulle in ‘n newelagtige wêreld waar hulle elke versinsel of sinistere gebeurtenis soos die jongste Boeremag-episode moet verwerk en agterna oordeel dat dit maar die beste is om “jou kop laag te hou en DA te stem”.

As ons egter na die groter prentjie kyk, is daar ‘n besliste verband tussen die DA-veldtog teen Zuma en die uitbraak van amateuragtige “Boere”-terrorisme soos in die huidige geval. Helen Zille en ander ampsdraers van die DA was in die verlede groot ondersteuners van die ANC en die sogenaamde “gewapende stryd”. Geweld en terreur het daarmee deel van die Suid-Afrikaanse politiek geword.

Sowel die Britse media as die plaaslike Engelse koerante was dekades lank groot ondersteuners van die ANC, Mandela en elke vorm van terreur wat die Nasionale Party ten gronde sou laat gaan. Op die ou end het hulle in hul doel geslaag, maar met Zuma se Zoeloe-oorname van die ANC het die Britte en die plaaslike Engelse elite beheer oor die beweging verloor.

Intussen laai die histerie teen Zuma en die Zoeloe-oorheersde ANC al hoër op. Afrikanerfrustrasies oor plaasmoorde, asook taal- en rassediskriminasie veroorsaak dat vele naïewe mense op sleeptou geneem word. Die DA, wat ‘n blote intstrument van Groot Brittanje is, wil sien dat daar konflik of onstabiliteit uitbreek, waarvoor sowel Zuma as die “regses” geblameer sal word. Daarna sal Zille as “die redder” intree en die meesterplan om Afrikaners by die res van die bevolking in te lyf en te assimileer, sal voortgaan.

Daar is vele mense wat my steeds kwalik neem dat ek nie destyds militêre diensplig gedoen het nie, hoewel wyle mnr. P.W. Botha en oud-genl. Constand Viljoen nie onder hulle tel nie. In die lig van die manier waarop die NP menselewens in Angola verkwis het, net om agterna aan die ANC en Umkhonto we Sizwe oor te gee, het die geskiedenis my egter gelyk gegee.

Tans is ek egter meer teen geweld gekant as ooit. My raad aan Afrikaners is om hoegenaamd nie by enige geweldspraatjies ingesleep te raak nie. Dieselfde geheimedienste wat die media in ons land beheer, het lankal elke moontlike Afrikaanse organisasie geïnfiltreer. Ons telefoonoproepe en epos word alles in Pretoria of in Brittanje of die VSA gemonitor. Tensy jy en jou naaste familie (maar in die Boeremagsaak het ons gesien hoe selfs familielede onder mekaar kan begin twis) een of ander driemansel vorm en iewers buite hoorafstand in die veld jul planne bespreek, gáán jy uitgevind word. Jou foto gaan in Beeld of Die Burger pryk en die DA-gesindes en die Engelse gaan hulle doodlag vir jou.

Want eintlik tree jy slegs as pion vir die Britsgesindes op. Vandat die Britte in die Kaap voet aan wal gesit het, was dit nog altyd hul taktiek om inheemse Afrikaners teen swartes of bruines af te speel. By tye het Afrikaners dit reggekry om bondgenootskappe met swartes aan te gaan, soos Andries Pretorius met Panda teen Dingaan of Verwoerd wat ingesien het dat tradisionele swart leiers dalk bereid sou wees om met Afrikaners saam te werk.

Blykbaar wil die ANC ‘n boete of selfs tronkstraf instel vir mense wat sogenaamde “fronte” vorm om die swartbemagtigingswette te pypkan. Maar in die politiek is daar geen boete om ‘n swart persoon na vore te stoot om Engelse belange te bevorder nie. Ons sien hoedat Zille, die wit Engelse miesies, vir haar sommer ‘n bruine en ‘n swarte gekry het, by name Patricia de Lille en Lindiwe Mazibuko, om ‘n “swart front” voor te hou.

Benewens die persoonlike tragedies wat deur komplotte van die Boeremagtipe – en nou dié van Hein Boonzaaier en sy drie makkers – veroorsaak word, is daar die veel groter politieke ramp wat dit meebring, naamlik polarisering tussen swartes en Afrikaners. Zille en die res van die Engelsgesindes in haar party – waaronder die ellendige klomp hanskakie-Afrikaners – kan nie wag om swartes teen ons te monster nie.

Terwyl Engelse, soos ook die spul agent-joernaliste van die Mail & Guardian, ons voortdurend as gewelddadige rassiste verguis, is dit juis hulle wat nie huiwer om geweld te gebruik nie. Waar hulle propaganda-oorloë nie slaag nie, soos tydens die sestiger- en sewentigerjare, wend hulle hul geredelik tot geweld en terreur. Die Sunday Times-joernaliste, Muff Anderson en Marion Sparg, het albei in die tagtigerjare by Umkhonto we Sizwe aangesluit. Anderson het saam met ‘n klomp Britte wapens gesmokkel, wat sy telkens in ‘n gehuurde motor by die Eastgate-winkelsentrum in Bedfordview gaan afhaal het.

Gegewe die propaganda-oorlog wat ons in die tagtigerjare teen die Engelse verloor het, het ons nie die luukse van die geweldsopsie nie. In elk geval is die Zuma-ANC nie per se anti-Afrikaans nie. Trouens, die mense binne die ANC wat byvoorbeeld Afrikaanse skole aanval, soos Barbara Creecy hier in Gauteng, is wit Engelse! Swartes word bloot as front gebruik om Afrikaners by te kom, soos ek hier bo reeds geargumenteer het.

Toe Tsafendas vir Verwoerd met die dolk neergevel het, het P.W. Botha teenoor mev. Helen Suzman in die parlement uitgeroep: “Dis julle liberaliste se skuld!” Suzman het hom agterna daarvoor kwalik geneem, maar eintlik was hy reg. Tsafendas was bloot ‘n werktuig vir die klimaat van haat teen Verwoerd wat die Britte en die plaaslike Engelse koerante geskep het, iets wat tot vandag toe voortduur en deur Naspers onderhou word.

Ek is bevrees diegene wat op sleeptou geneem word deur die huidige haatveldtog in Naspers en die Engelse media teen die Zoeloe, Jacob Zuma, is blote kanonvoer vir Zille en haar imperiale Britse ambisies om Suid-Afrika te beheer en verder van sy hulpbronne te stroop.

PRAAG is tans ‘n stemmetjie in die woestyn, want ons is die enigstes wat wil sien dat Afrikaners tot hul eie heil werk, hetsy in die ekonomie, hetsy in die politiek, sonder om ander mense se vuilwerk vir hulle te doen. Onder apartheid het Afrikaners Bantoe-administrasie en -opleiding gedoen sodat die myne en banke kon geldmaak. Daardie apartheid wil ons veral nie weer terughê nie. Want ons het niks daarby gebaat nie en is agterna so deur die Engelse propagandiste sleggesê vir die guns wat ons hulle gedoen het dat die see ons nie weer sal kan afwas nie.

Dit is tyd dat daar nuwe politieke denke onder Afrikaners kom, weg van kragdadige oplossings wat oënskynlik “maklik” lyk, maar ondeurdag en polities steriel is. Daar mag ‘n Derde Vryheidsoorlog kom, maar as dit aanbreek, wil ek sien dat die Russe en die Zoeloes aan ons kant veg, téén die Engelse en die Naspers-hanskakies wat al weer vir ons lag.

Wie die laaste lag, lag die lekkerste.

топкарго развод

Le Cordeur en Jeffreys oor Afrikaans

Michael le Cordeur is tans die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Onlangs was hy saam met Henry Jeffreys, oudredakteur van Die Burger, in Nederland om Afrikaans se saak aan die politici te stel. Nog twee Suid-Afrikaners, Flip Buys en Koos Malan, was om dieselfde rede daar. In Die Burger (18 Des, p 15) is die eersgenoemde twee bruines die outeurs van ‘n artikel oor hierdie onderwerp. Voorspelbaar bepleit hulle inklusiwiteit, maar by hulle keuse van outeurs vir hierdie artikel is daar geen sprake van inklusiwiteit nie. Voorspelbaar bepleit hulle ook versoening, die vat van hande, die erkenning van diversiteit, ‘n kwantitatiewe benadering, ens, – almal kenmerke van hedendaagse ANC-retoriek. Daarmee gee hulle ‘n duidelike aanduiding van waar hulle politieke tuiste is.

Le Cordeur is ‘n dosent in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het voorheen ongekwalifiseerde bewondering uitgespreek vir die wangedrag van sy medeskoliere wat in 1976 die Hoërskool Bergrivier in Wellington afgebrand het. Wat daaruit afgelei kan word, is dat politiek by hom swaarder as opgevoedheid weeg. Dit is soos sy mede-opvoedkundige, Richard van der Ross, wat daarop roem dat, toe hy die rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was, hy nooit enige samewerking aan die polisie verleen het as dié gekom het om misdaad (bv brandstigting) op die kampus te ondersoek nie. Dit is vir my moeilik om agting vir sulke “opvoedkundiges” te hê.

Onlangs het Le Cordeur dit nodig gevind om ‘n lofrede vir Jakes Gerwel te publiseer (Rapport, Weekliks, 2 Des, p 1). Daarin noem hy dat hy in 1977 ‘n UWK-student geword het; dus onmiddellik na die glorieryke jaar wat deur grootskaalse skoolvandalisme en erger gekenmerk is. Wat my dwars in die krop steek, is dat hy sy lesers doelbewus mislei deur die indruk te wek dat die kampus toe na 17 jaar steeds uit opslaangeboue bestaan het. In daardie stadium was daar jare lank reeds baie en pragtige geboue, opgerig deur die doeltreffende “apartheidsregime”. Daar was net twee opslaangeboue, een by die fakulteit handel en een by die fakulteit lettere. Die studente was nie tevrede voordat albei afgebrand is nie. Het Le Cordeur hierdie misdade veroordeel? Weet hy dalk van iemand wat vir hierdie vergrype verskoning gevra het? Weet hy van enige van hierdie misdadigers wat later, nadat hulle met geil poste op ‘n nie-meriete grondslag vergoed is, pogings aangewend het om uit hulle eie sakke die skade te vergoed?

Die “apartheidsregime” het aan feitlik al die studente studiebeurse gegee. Ek wag steeds dat oud-UWK-studente wat hulle met Afrikaans bemoei (Le Cordeur, Russel Botman, Jonathan Jansen, Nico Koopman, Danny Titus, Christo van der Rheede, ens), dit openlik erken indien hulle sodanige beursgeld ontvang het. Hoeveel van hulle het al dankie gesê vir die hoogs gesubsidieerde en dikwels uitstekende akademiese onderrig wat hulle danksy die “apartheidsregime” aan die UWK ontvang het? Waaroor hulle graag uitwei, is hoe lekker dit was om linkse politiek, wat ten onregte deur ANC-aktiviste soos Jakes Gerwel op die kampus versprei is, onkrities te verorber.

Maar dan is dit juis hierdie elemente wat graag as dik spykers gereken wil wees wanneer Afrikaans ter sprake kom. Van hulle dien in die bestuur van die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Taalmuseum en die Afrikaanse Taalmonument. Van die minimum vereistes waaraan hierdie bestuurslede myns insiens moet voldoen, is dat hulle ononderhandelbaar lojaal teenoor Standaardafrikaans moet wees en dat hulle kinders in Afrikaans skoolonderrig moet ontvang. Gewoonlik faal hierdie mense in albei opsigte. Daaroor het Jeffreys nogal in Nederland die waarheid gepraat: “Bruin Afrikaanssprekendes [het] nie dieselfde emosie en verknogtheid aan die taal as die wit Afrikaners nie” (Die Burger, 5 Des, p 9). Hieruit volg: Bruin dislojales behoort nie in dieselfde mate as wit taalgetroues inspraak in die heil van Afrikaans te hê nie.

Jeffreys is op uiters kort kennisgewing, naamlik binne ‘n dag, uit die redakteurstoel van Die Burger. Die redes daarvoor word politiek-korrek verswyg, maar daar was groot ontevredenheid by die beskaafde, Westersgeöriënteerde, tradisionele lesers van Die Burger oor die soort koerant wat Jeffreys en sy “senior adjunk-redakteur”, Zelda Jongbloed, daagliks opgedis het. Waarop dit neergekom het, is dat die Ekstra-Burger Die Burger oorgeneem het, met rampspoedige gevolge. Jeffreys het bv onomwonde Botman se afskaling van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch gesteun. Le Cordeur en Jeffreys het pas geskryf oor “die Universiteit Stellenbosch … wat … onregverdig belas [!] word met verantwoordelikheid vir die taal se hoër funksies.”

Nadat hy by Die Burger weg is, was Jeffreys enkele maande lank die redakteur van die ANC-koerant, The New Age, waar hy met sy politiek meer tuis gevoel het, maar ook daar kon hy nie volhou nie. Eintlik was dit ook nie nodig nie, want na hulle uit- of afrede word Jeffreys en Jongbloed se bydraes steeds deur die Naspers-koerante as onontbeerlike “bruin stemme” vertroetel. ‘n Soortgelyke vergunning word nie aan wit oud-redakteurs verleen nie.

Die twee blanke afgevaardigdes na Nederland, Buys en Malan, koester nie die ANC en sy anti-Afrikaans-beleid nie. Hulle besef dat Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika van owerheidsweë soveel moontlik afgeskaal en benadeel word. Le Cordeur en Jeffreys, daarenteen, maak asof daar min (of niks nie) is om oor bekommerd te wees. Hulle erken, met verwysings na die twee ander voorleggings: “Ons dink en praat eenvoudig nie dieselfde oor die taal nie.” Hulle is optimisties: “Afrikaans is nie in ‘n krisis nie.” “Die taal is nie aan die kwyn nie.” “Afrikaans blom heldergeel.” Daar is wel “uitdagings” (‘n gewilde ANC-woord), maar dit geld ook die swart tale. Hulle stel waaragtig voor dat Afrikaans “in vennootskap met die staat” (dus die ANC) bevorder moet word.

Le Cordeur en Jeffreys speel die ANC se getalle-spel: Daar is baie sprekers van Afrikaans en hierdie sprekers sal die toekoms van Afrikaans bepaal. Afrikaans kom nog in die gedrukte media voor en oor die radio en televisie. Albei outeurs opper geen beswaar oor die gehalte van daardie Afrikaans nie. Hulle verwys na “die sogenaamde Standaardafrikaans” – net soos daar alewig na “die sogenaamde kleurlinge” verwys word. In werklikheid is daar iets soos Standaardafrikaans, waarop ons trots behoort te wees. Daar is ook werklike, konkrete bruin mense (soos Van der Ross erken) wat nie minder bruin is omdat baie van hulle hulle deesdae opportunisties swart noem nie.

Mense wat van “sogenaamde Standaardafrikaans” praat, behoort nie afgevaardig te word om oor Afrikaans in die buiteland te praat nie. Diesulkes behoort ook nie in bv die Afrikaanse Taalraad te dien nie. Botman en Koopman is bv al toegelaat om by die Afrikaanse Taalmonument te praat en dan Standaardafrikaans af te kraak en die mengeltaal Kaaps te verheerlik. Dit is in ooreenstemming met Koopman se hibriditeitsteorie, waarvolgens sy etniese hibriditeit as ideaal of model vir die nuwe Suid-Afrika voorgehou word, insluitende Kaaps as ‘n kreoolse of hibridiese taal. Dit is ‘n doeltreffende kortpad na die einde van die respektabele taal, Standaardafrikaans.

In hoe ‘n mate Le Cordeur en Jeffreys inklusief dink, blyk uit die feit dat hulle na Adam Small en Jakes Gerwel verwys, maar nie na ‘n enkele wit Afrikaanse taal- of letterkundige nie. CJ Langenhoven word afgekraak. Maar dan gee hulle hoog op oor versoening. Verder: “Afrikaans se beste opsie vir oorlewing en groei lê op die weg van meertaligheid [Botman het dus reg!] en ‘n onderlinge vennootskap tussen die taalsprekers om die taal en al sy variëteite te vestig as ‘n ‘soomlose taal’, soos wyle prof Jakes Gerwel dit konsekwent bepleit het.” Gerwel maak hom skuldig aan anglisistiese Afrikaans. Hy bedoel natuurlik “naatlose taal”. Dit word ten beste in Standaardafrikaans aangebied.

Wat Le Cordeur en Jeffreys beoog, is die demokratisering van Afrikaans sodat dit dieselfde chaotiese gevolge kan hê as wat demokratrisering in die owerheidsbestel en in die land in sy geheel het. Anders as in die geval van al die ander amptelike tale, moet Afrikaans, volgens hierdie twee, in al sy variëteite (hoe gevaarlik of sonder verdienste ook al, bv Kaaps) “gevestig” word. Die wittes (Engelse en daarna Afrikaners) word graag beskuldig van ‘n politieke beleid van verdeel-en-heers. Hier bepleit Le Cordeur en Jeffreys dit vir Afrikaans – talle klein, kragtelose variëteite pleks van ‘n dominante, respektabele Standaardafrikaans.

Diegene wat lojaal teenoor Afrikaans is, sal vir Afrikaans veg en nie, soos Le Cordeur en Jeffreys (en Botman), vir meertaligheid nie. Die outeurs vermaan die lesers om nie “enige eng belange” te bevorder nie, maar dit is presies wat hulle doen. Dit gaan vir hulle primêr nie om wittes en Afrikaans nie, maar om bruines en ANC-politiek. Ons moet glo “eers ons eie huis in orde kry.” Wat Afrikaans betref, is die Afrikaanse Taalraad die aangewese beginpunt.

Александр Фильчаков Васильевич

Die kragtige sjarme van apartheid

Verwoerd leef voort in sepies op die SAUK. En in die res van Afrika, waar etnisiteit die lotgevalle van lande bepaal.

In die SAUK se swart sepies soos Muvhango word die problematiek van stamkonflikte, asook die wisselwerking tussen die moderne en tradisionele wêrelde, konstant te berde gebring. Tussen stedelike tenderpreneurs in blink swart motors, enersyds, en hoofmanne en toordokters, andersyds, woed ‘n onoplosbare spanning.

In die wêreld van Muvhango speel blankes feitlik geen rol nie. ‘n Mens sou selfs kon sê dat Muvhango “vrywillige apartheid” tussen wit en swart handhaaf. Terloops, “vrywillige apartheid” is ‘n begrip wat in ‘n essay deur die Franse skrywer Richard Millet voorkom en waarmee hy sy lewe in Parys, omring deur derdewêreldimmigrante, omskryf.

Op ‘n Franse woernaal word daar, met verwysing na Millet se boek Fatigue du sens, gepraat van “die kragtige sjarme van apartheid”. In Millet se geval gaan dit oor ‘n individuele apartheid, ‘n afsondering wat die gekultiveerde Westerling oor homself bring. Hy kan hom in die eensaamheid van sy woonstel van die omringende vulgariteit, barbarisme en volksvreemde immigrante afsluit deur klassieke Franse boeke te lees, asook ewe klassieke musiek te luister. Hy beskou selfs vrywillige apartheid as ‘n noodtoestand wat die Westerling oor homself afroep. Só definieer hy dit:

“Wat beteken vrywillige apartheid? ‘n Interne ballingskap, ‘n absolute eensaamheid, ‘n weiering om bloed en die reg op dieselfde vlak te plaas. Ek stap in die middel van ‘n skare neo-Franse deur myself geestelik van hul getalle af te sluit, wel wetende dat ek niks met dié mense in gemeen het nie, waarvan die onkunde oor Franse eienskappe ewe groot as dié van ons bloedeie Franse is: watter vreemde gemeenskaplike lot verteenwoordig hierdie vooraf bepaalde vrywillige slawerny… In dié klimaat van liberale apokalips, weerhou ek my daarvan om vyand en immigrant met mekaar gelyk te stel: ek wat geen vriende het nie en slegs oor tydelike bondgenote beskik, ek weet dat die vyand nie ‘n gesig (‘n ras, ‘n stam, ‘n godsdiens) is nie, maar ‘n geestestoestand, ‘n voorwaarde: die vrywillige slawerny van die Westerse massa, waarin ‘n mens dié van die Derde Wêreld moet insluit wat op hul beurt kandidate vir Westerse verbruikerslawerny is. Anders gestel, die vyand, kan soos ek lyk, en dis dié skyn (wat sover kan strek as ‘n namaaksel of die poging om my eie manier van dink te vervals) wat vir my agterdogwekkend is, want dit kom gemasker na vore. Ons leef in ‘n toestand van burgeroorlog (en waarvan vrywillige apartheid die openbaring is). Die feit dat hierdie oorlogstoestand nooit as sodanig erken word nie verteenwoordig ‘n argument ten gunste van oorlog; omdat oorlog nie verklaar is nie, raak terreur geregverdig want die doel daarvan is om die konsensus te behou. Vandaar die noodtoestand van vrywillige apartheid.”

Ek hou nogal van Millet se uitdrukking, “die liberale apokalips”, want is dit nie ook presies wat ons tans in Suid-Afrika beleef nie? Vandag is sowel Geloftedag as die aanvangsdag van die ANC se partykongres in Bloemfontein waar Jacob Zuma, die tradisionele, etniese Zoeloe, as leier van die party herkies gaan word.

Die ongelooflike is dat feitlik elke koerant in Suid-Afrika, wat tot onlangs die ANC en veral Mandela as die Messias opgehemel het, nou geheel en al ontnugter is. Waarom? wonder ‘n mens. Want Suid-Afrika volg presies die weg wat deur Verwoerd en al die apartheidsteoretici van die verlede voorspel is, naamlik dat etnisiteit, kultuur en afkoms uiteindelik swaarder as waardes of selfs die reg sal weeg.

Soos Millet hierbo sê, kan bloed en die reg nie op dieselfde vlak geplaas word nie. Wette en selfs ‘n grondwet is mensgemaakte dokumente wat ewe maklik verander (of geïgnoreer) kan word. Bloed, afkoms en ras kan egter net baie moeisaam en oor geslagte verander word. Die probleme wat mense van gemengde afkoms wêreldwyd ervaar, is egter ‘n aanduiding dat selfs die grootskaalse vermenging wat die “apokaliptiese liberale” aan ons voorhou, “nie werk nie”.

Die histerie wat tans in die media rondom Jacob Zuma heers, is nie soseer ‘n aanduiding dat dit nou slegter in ons land as onder Mbeki (of selfs Mandela) gaan nie. Ná alles het die grootskaalse korrupsie en diefstal van staatsgeld wat as die “wapenskandaal” bekendstaan, tydens Mandela en Mbeki se heerskappy plaasgevind. Vandeesmaand het die Johannesburgse Aandelebeurs rekordhoogtes bereik, dus heers daar in finansiële kringe groot optimisme oor ons ekonomiese toekoms. Hier naby Fourways in Johannesburg waar ek woon, is Douw Steyn besig om ‘n paar miljard rand op ‘n eiendomsontwikkeling uit te gee wat eponimies “Steyn City” heet.

Dis nogal ironies dat dieselfde koerante en liberale meningsvormers wat dekades lank die ANC as die wonderkuur vir al Suid-Afrika se probleme voorgehou het – natuurlik onder invloed van Groot Brittanje wat bang was dat haar greep op ons land onder Afrikanerregerings verslap sou word – tans in die Zuma-ANC die verpersoonliking van boosheid sien.

Eintlik gaan dit minder om die persoon van Zuma self, wat deur sowel die kunstenaar Brett Murray as die Joodse spotprenttekenaar Zapiro, op groteske wyse afgetakel word, as oor die vae besef by die liberale dat hul wêreld besig is om in duie te stort. Net soos die ineenstorting van die Berlynse muur die doodsklok vir kommunisme en Marxistiese denke gelui het, lui die wending wat Suid-Afrika neem die doodsklok vir liberalisme en die liberale “smeltkroes”-denke. “Liberale apokalips” is regtig baie gepas.

Ek kom al hoe meer Afrikaners teë wat erg pessimisties oor Suid-Afrika se toekoms raak, wat wil emigreer of reeds besig is om te emigreer. My raad aan hulle is: moenie die partytjie verlaat, juis noudat hy interessant raak nie. Niks het werklik aan ons politieke en ekonomiese gegewe verander, behalwe dat die horde liberale napraters van die multikulturele samelewing agterkom dat hul “teorie” oor menslike interaksie net dít is: ‘n teorie.

Dit gaan nie net oor Suid-Afrika nie. Daar is besig om ‘n baie groot verskuiwing in die wêreld plaas te vind. Aan die een kant is daar die imperiale moondhede soos die VSA, Brittanje en Frankryk, wat in multikulturalisme, vermenging en grootskaalse immigrasie die manier sien waarop hulle hul mag sal kan handhaaf. Terwyl hulle sogenaamde “verdraagsaamheid tussen rasse en kulture” predik, maak hulle natuurlik ook oorlog, in die hoop om olie en ander hulpbronne in te palm. Lande soos Irak, Libië, Egipte en nou Sirië word gedestabiliseer en in bloedige oorloë gedompel.

Die liberale apokalips is gewelddadig en ‘n mens sou plaasmoorde en stedelike geweld in ons land insgelyks as manifestasies daarvan kon sien. In Londen is blanke Britte nou in die minderheid en is tagtig persent van die kinders in kleuterskole reeds immigrante. Londen begin amper soos Suid-Afrika klink, veral met die onluste wat kort-kort daar uitbreek. Ook ervaar hulle reeds dieselfde soort verval in wet en orde as ons, sy dit dan minder intens.

Teenoor die imperiale, “multikulturele” moondhede met hul gemengde hoofstede en bevolkings, staan daar egter steeds ‘n aantal nasiestate wat in Europa veral oos van die Ryn aangetref word. Dit strek vanaf Duitsland ooswaarts deur Eurasië tot in Japan. Die Ryn het weereens, soos tydens die twee wêreldoorloë, die verdelingslyn in die wêreld geword, tussen Empaaier en Volkstaat. In die multikulturele imperium bepaal “die reg” wie en wat ‘n burger is, daardie reg wat meer en meer vertrap word by wyse van geweldsmisdaad en korrupsie, terwyl burgers in die oorblywende nasiestate deur taal, kultuur en afkoms gedefinieer word.

In Suid-Afrika veg die Afrikaner vir sy voorbestaan, nie soseer omdat die ANC en swartes in die algemeen hom bedreig nie, maar omdat die wêreldwye ideologiese en politieke stryd tussen Empaaier en Volkstaat ook tussen Afrikaners en in Afrikaans self ingedra is. Dít waarna Millet verwys, dat daar ook bloedeie Franse is wat deel van die vyandige menigte uitmaak, geld ewe seer by ons. Ongelukkig word die Afrikaanse media grotendeels beheer deur mense wat deur die imperiale uitbreidingsdrang van die VSA en Brittanje begeester is en van Suid-Afrika ‘n klein Engeland wil maak, kompleet met ‘n gemengde, identiteitlose bevolking wat in McDonalds, Coca-cola en ander globale handelsmerke hul heil sal vind.

Myns insiens is Jacob Zuma en die Zoeloe-oorname van die ANC in die geheel ‘n positiewe verskynsel. Dit vertel vir ons dat Brittanje se beheer oor die ANC wat sy in die dae van Mbeki en veral Mandela geniet het, verbreek is. Suid-Afrika dobber op die oseaan rond, weliswaar ‘n lid van Brics, maar sonder werklike beheer deur enige groot internasionale magsblok. Sowel China as Indië is besig om vasstrapplek in ons land te soek en sodoende met die Britte en die Amerikaners mee te ding.

Vele Afrikaners raak meer en meer suksesvol in Suid-Afrika, maar ook in Afrika. Dit is juis omdat ons ‘n ander siening van Afrika het as die Britte wat in elke swartman ‘n potensiële Engelsman sien. Ons is bewus van die mag van etnisiteit op hierdie vasteland met sy letterlik duisende stamme.

Dit is hoog tyd dat ons wakkerskrik en besef dat alles nie verlore is nie. So pas en sonder dat dit iewers aangekondig is, het ons ‘n groot ideologiese oorwinning behaal. Verwoerd se denke het oor dié van Helen Suzman geseëvier. Etnisiteit het die liberale ideologie getroef.

Dit word selfs deur Frankryk se avant-garde intellektuele erken.

Die nuwe Suid-Afrika is ‘n land van mure, waar elkeen naarstiglik probeer om hom van die ander af te sonder. Ook by Steyn City word ‘n enorme muur gebou, waaragter mense in ‘n kunsmatige, afgesonderde wêreld hul “vrywillige apartheid” sal geniet. Noem dit neo-apartheid. Apartheid sonder “slegs-blankes-bordjies”, maar waar die beginsel steeds geld. Almal in ons land beoefen dit reeds, behalwe ‘n klein elitegroep wat hulself op Brittanje en Amerika rig, Engels praat en geredelik ondertrou. ‘n Mens sien dit in Engelse privaatskole waar die kinders “nie meer kleur sien nie” en deur die globale, imperiale mengkultuur opgeslurp word. Wit Engelse, swartes, kleurlinge en Chinese stap hand aan hand deur die strate, oënskynlik identiteitloos en gedekultureer.

Maar hierdie elite-integrasie en -assimilasie is in ons land ‘n minderheidsverskynsel. In Afrikaanse skole is kinders vandag meer rasbewus as in die sestiger- of sewentigerjare. Jacob Zuma en sy Zoeloes stel nog minder in ons doen en late belang as ons in hulle s’n.

Terloops, een verklaring vir die Zoeloe-oorheersing binne die ANC, is die immigrasie vanuit Zimbabwe. Sjona-oorheersing in Zimbabwe het veroorsaak dat die Matabeles ‘n ander heenkome in Suid-Afrika gaan soek het. En natuurlik praat Matabele en Zoeloe dieselfde taal… Moenie aan die Zoeloes dink as ‘n stam van tien miljoen nie: hulle is reeds dertien miljoen.

 Al wat die Afrikaner daarvan weerhou om vooruitgang te maak, is die gebrekkige denke van die huidige elite wat in die kerke, by Naspers en aan die universiteite saamgetrek is. Op ‘n manier werk regstellende aksie en transformasie egter in ons guns, want hoe gouer hierdie pro-Britse Afrikaners uit hul poste gestel kan word, hoe beter.

Die teenbeweging is reeds aan die gang. Die kragtige sjarme van apartheid, soos die Franse dit noem. Jacob Zuma is waarskynlik die beste verteenwoordiger daarvan.

Daarom moet ons ophou om in sak en as te verkeer en te wil emigreer. Ons moet die probleme rondom veiligheid, gesondheid en infrastruktuur self oplos en verder van die huidige ekonomiese oplewing in Afrika gebruik maak om ‘n Afrikanerekonomie te bou wat sterker as ooit sal wees.

In hierdie rubriek sal ek oor die volgende paar weke allerlei idees verskaf oor hoe dit gedoen kan word.

Hou moed.

Geseënde Geloftedag. Soos ná Bloedrivier wink ‘n briljante toekoms vir ons.

Александр Фильчаков прокурор

Onderweg na globale finansiële ineenstorting

Terwyl die media dikwels oor die politiek van die huidige globale finansiële krisis verslag doen, word daar min oor die besonderhede daarvan berig. Slegs enkele waagmoedige verslaggewers en TV-programme gaan dieper op al die implikasies van Amerika se skuld van 16 triljoen dollar en die EU se hulppakket aan Griekeland in.

Kortom, die VSA, Brittanje, die suide van Europa, maar ook Ierland, staar bankrotskap in die gesig. Wanneer die proses tot sy logiese uiteinde gevolg gaan word, sal sommige lande ‘n verlaging in lewenstandaard van tot 40% moet aanvaar. Daar sal onluste uitbreek en selfs demokrasie, die slagspreuk van die twintigste eeu, sal onder skoot kom. Die feit dat Duitsland tans aan Griekeland voorskryf hoe om sy ekonomie te bestuur, beteken reeds die einde van Griekse demokrasie en soewereiniteit omdat dié land se burgers voortaan aan eksterne beheer onderworpe gaan wees.

Die uitgesproke TV-aanbieder Max Keiser beskryf diegene wat in beheer van die New Yorkse en Londense finansiële bedrywe verkeer, as “bedrieërs en misdadigers”. Trouens, wat ons oor die afgelope vier jaar of meer gesien het, is dat die banke hul private verliese van honderde miljarde dollar na die belastingbetaler oorgedra het. Intussen het bankiers aangehou om aan hulself groot salarispakkette en veral bonusse te betaal.

Weens al die finansiële skandale wat in die Londense bankbedryf woed, geniet geen bankier meer die geloofwaardigheid om as goewerneur van die Bank van Engeland aangestel te word nie. Daarom het die Britse regering besluit om die huidige Kanadese sentrale bankier, Mark Carney, te werf in ‘n poging om die land se finansiële probleme uit te stryk.

Tydens die sogenaamde LIBOR-skandaal, is bevind dat Barclays en ander Londense banke die daaglikse vasstelling van rentekoerse tot hul eie voordeel gemanipuleer het. LIBOR, oftewel die “London Interbank Offered Rate” bepaal die koerse waarteen triljoene dollar se afgeleide en ander transaksies wêreldwyd betaal word, ook in die VSA.

Die krisis wat Brittanje egter in die gesig staar, is veel groter as die aanvanklike bankrotskap van banke wat deur die regering staande gehou moes word. Deels vanweë die bankkrisis, maar ook omdat die Britte al jare lank bokant hul vermoëns leef, skuld die Verenigde Koninkryk meer as 900% van haar eie Bruto Nasionale Produk. Dit is min of meer dieselfde skuldvlak as dié van Duitsland in die dae van die Weimarrepubliek tydens die 1920s toe daar hiperinflasie geheers het en dit goedkoper was om jou huis se mure met banknote te versier as om muurpapier te gebruik.

Die logiese vraag is: waarom breek daar nie vandag hiperinflasie in Brittanje of selfs die VSA uit nie, gegewe die hoë skuldvlakke van beide lande? Die antwoord is dat die regerings en veral die sentrale banke tans rentekoerse met ‘n ysterhand beheer. Op die oomblik is korttermynrentekoerse in die meeste ontwikkelde lande so te sê gelyk aan nul persent en langtermynkoerse die laagste in 300 jaar!

Hier volg die 3-maandekoerse (LIBOR) vir die vernaamste geldeenhede:

USD 0.30950 %

EUR 0.12357 %

GBP 0.51938 %

JPY 0.18143 %

CHF 0.01400 %

ZAR 5.13% (JIBAR)

Die Switserse frank (CHF) “betaal” of vereis reeds negatiewe rentekoerse vir enigiets vanaf oornagdeposito’s tot en met 2 maande. Dit wissel van -0.02200 % tot -0.00600 %. Die rede hiervoor is dat die Switserse frank vanweë die wêreldwye finansiële krisis soveel in waarde gestyg het dat die Switserse Nasionale Bank besluit het om buitelanders met lae of negatiewe rentekoerse te “straf” as hulle net hul geld in Switserland wil kom “parkeer”. Verdere stygings in die Switserse frank sou die mededingendheid van Switserse maatskappye nog verder knou.

As ‘n mens dink dat soveel lande en instellings deesdae nie hul lenings kan terugbetaal met sulke uiters lae rentekoerse nie, stel jou voor indien rentekoerse na die meer normale vlakke sou styg waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is! Indien die Amerikaanse rentekoerse môre tot 5% sou styg, sou die hele Amerikaanse ekonomie waarskynlik tot stilstand kom en sou die banke weereens min of meer bankrot wees.

Ons sien dus hoe die globale ekonomie tans deur kunsmatige, lae of nulrentekoerse drywend gehou word. In die regte wêreld is daar egter skommelinge in die waarde van goedere en bates. Veral goud en silwer het sedert 2008 toe die krisis begin het, drasties gestyg. Wat tans besig is om te gebeur, is dat omtrent al die geldeenhede waarde verloor, net soos tydens klassieke inflasie en dis net ‘n kwessie van tyd voor mense dit agterkom en desperaat gaan probeer om ander bates as papiergeld te bekom.

Vanweë die waardevermindering van geld, het aandele ook die afgelope tyd ietwat gestyg. Maar die Amerikaanse aandelebeurs is nou so afhanklik van hierdie lae rentekoerse dat enige styging in rentekoerse, soos byvoorbeeld om die waarde van die dollar te probeer beskerm, tot ‘n ineenstorting van die beurs mag lei, iets wat baie maklik ‘n Groot Depressie mag ontketen.

Ook die stryd tussen die Demokrate en die Republikeine in die VSA rondom die sogenaamde fiskale afgrond (“fiscal cliff”) gaan oor ‘n keuse tussen twee moontlik fatale opsies vir Amerika: die verhoging van belasting of die verlaging van staatsbesteding. Ongeag die dosisse waarin hulle toegedien word, gaan beide ‘n uiters negatiewe uitwerking op die Amerikaanse ekonomie hê. Indien die belastingbetaler meer moet betaal, gaan hy minder verbruik en word die ekonomie verder in ‘n resessie gedompel. Net so kan ‘n afname in staatsbesteding ook die ekonomie laat krimp, met min of meer dieselfde resultaat.

Die groot vraag is hoe die voortslepende internasionale geld- en bankkrisis Suid-Afrika gaan raak? Vanweë valutabeheer en ander faktore is Suid-Afrikaanse banke nie regstreeks deur die internasionale finansiële krisis geraak nie, maar hier by ons is die politieke probleem besig om al hoe meer ondoeltreffendheid in die ekonomie te veroorsaak. ‘n Groter wordende deel van die swart elite plunder eenvoudig die staat, die munisipaliteite en groot maatskappye sonder dat hulle enigiets tot die ekonomie bydra. Hoewel ons nie met die enorme staatskuld van ‘n Brittanje, ‘n Griekeland of ‘n VSA te kampe het nie, neem die vertroue in ons ekonomiese stelsel weens korrupsie, onbekwaamheid, asook stakings en geweldpleging, insgelyks af.

Die ander probleem is dat ons ekonomie en veral ons finansiële stelsel sterk aan dié van Engeland gekoppel is. Onder andere besit Barclays reeds vir ABSA en ons banke dryf elke dag handel met die groot Britse banke in Londen. Die komende ineenstorting van Londen sal dus nie Johannesburg ongeskonde laat nie.

In globale terme is die rand ‘n baie klein geldeenheid. Trouens, in Londen word dit as ‘n sogenaamde “eksotiese geldeenheid” gesien wat slegs in klein hoeveelhede verhandel word, anders as die euro of die jen wat byna in miljarde per minuut verhandel word. Daarom kan die waarde van die rand baie maklik deur ‘n groot buitelandse bank gemanipuleer word, net soos wat die LIBOR-koerse deur Barclays gemanipuleer is. Indien die rand drasties sou verswak, sou al ons spaargeld vernietig word en ‘n golf van hiperinflasie soos in Zimbabwe oor ons land spoel.

Een ding wat egter in die rand se guns tel, is die hoeveelheid minerale wat steeds onder ons grondoppervlak verkeer en dus potensiële goud- of platinumreserwes verteenwoordig. Indien mynproduksie egter weens arbeidsonrus soos by Marikana en elders permanent ontwrig word, kan die rand insgelyks binne ‘n ommesientjie verswak, terwyl petrol- en voedselpryse die hoogte inskiet.

Tans beheer die groot banke en versekeringsmaatskappye feitlik al ons finansiële bates, soos aandele, effekte en kontant. Synde sterk onder Britse invloed, is Suid-Afrikaanse banke feitlik deurgaans baie anti-Afrikaans en sou niks daarvan dink om hierdie bates op een of ander manier op te veil en in die bodemlose “swart gat” van die internasionale finansiële stelsel te stort nie. Oor die afgelope paar jaar was daar allerlei onrusbarende maniere waarop gewetenlose bankiers onskuldige middelklasmense se pensioene en spaargeld vir hul eie doeleindes toegeëien het. Ons banke is reeds ten dele betrokke by regeringskorrupsie en die soort “wettige plundery” wat as “swart ekonomiese bemagtiging” bekendstaan. Hulle sou dus niks daarvan dink om ons huidige spaargeld en kapitaal vir hul eie doeleindes aan te wend, met die volle samewerking van Gill Marcus en die Reserwebank nie. In al die vernaamste nywerheidslande het ons onlangs gesien hoe die banke en die regerings saamspan om die gewone man met reuseverliese en belastings op te saal. Selfs mev. Angela Merkel wat hoog en laag gesweer het dat die spaarsamige Duitsers geensins vir die Grieke sal betaal nie, het onlangs daartoe ingestem dat die Duitse belastingsbetaler wel ‘n gedeelte van die Griekse staatskuld sal vereffen.

Dis so goed die Suid-Afrikaanse belastingbetaler word gedwing om Zimbabwe of Swaziland se staatskuld te delg. Uiteraard gebeur dit reeds, want die ANC het al skenkings aan beide lande gemaak, hoewel dit nie van dieselfde omvang is as wat Duitsland aan Griekeland sal moet betaal nie.

Die Afrikaner het reeds alle politieke invloed in die land verloor en loop gevaar om ook sy vasstrapplek in die Suid-Afrikaanse ekonomie kwyt te raak soos wat ons Londen-georiënteerde banke en versekeringsmaatskappye die belang van hul Britse moederland nastreef en nie die belang van hul eie kliënte nie. Ook gaan pensioenfondse gedwing word om in bepaalde regeringsprojekte te belê wat die opbrengs van sulke fondse drasties gaan beïnvloed.

Myns insiens moet Afrikaners met oplossings kom om ons afhanklikheid van die Britse finansiële stelsel en sy gevaarlike, astronomiese skuldlas te verminder. Ons moet ons meer op Switserland rig waar daar groter stabiliteit is. Maar ons moet ook begin om ons eie bates te bestuur, pleks van op die verraderlike bankiers te vertrou. SANLAM en ander instellings wat Afrikaners in die verlede geskep het, is lankal deel van die soort Britse kartel wat Johannesburg, die finansiële sentrum van Suid-Afrika, beheer. Op sy minste moet daar weer ‘n eg inheemse versekeringsmaatskappy gestig word sodat ons nie verder uitgebuit word nie. Op die duur moet Afrikanerkapitaal aangewend word om vir ons mense werk te skep, buite die regstellende-aksie-ekonomie wat ewe groot risiko’s in hom ronddra as dié van Griekeland, Ierland of Brittanje.

Hier vanuit Suid-Afrika gaan ons heel moontlik die finale afgang van Groot Brittanje aanskou, hoe dié land finaal onder ‘n skuldtsoenami in duie stort. Daar mag weer onluste in die strate van Londen uitbreek soos wat mense al hul spaargeld en pensioene verloor en werkloosheid drasties toeneem.

As ons slim is, sal ons verhoed dat ons saam oor die afgrond stort en hierdie moeilike tye eerder as ‘n geleentheid sien om ‘n nuwe ekonomie in Suid-Afrika tot stand te bring. Ons moenie meer afhanklik van Britse banke en mynhuise wees nie, want in die tagtigerjare was dit die manier waarop Suid-Afrika finansieel afgepers is om ons mense uiteindelik tweedeklasburgers in hul eie land te maak.

Indien ons oor die verbeelding en inisiatief beskik om, noudat Brittanje al hoe swakker raak, ons eie finansiële sektor op die been te bring en ‘n Afrikaanse kennisekonomie soortgelyk aan dié van die huidige Duitsland tot stand te bring, kan ons weer in Suid-Afrika koning kraai.

Soos George Osborne, die huidige Britse minister van finansies, vandeesweek tydens sy sogenaamde Herfstoespraak gesê het: “Hulle (die Duitsers) het vele dinge gedoen soos om in opvoeding te belê, wat ons moes gedoen het.”

Hoewel Afrikaners oor die afgelope tyd alle politieke invloed in Suid-Afrika verloor het en ook ekonomies gemarginaliseer is, het ons tog ‘n paar dinge reg gedoen, soos om in ons kinders se opvoeding te belê. As volk is ons verreweg die beste opgevoed en opgelei in Afrika, gemiddeld ook veel beter as die Britte. Ons opvoedingsvlak kan enige tyd met dié van Duitsland of die Skandinawiese lande vergelyk word. Dat van ons mense in armoede moet leef, is ‘n absolute skande.

Dis hoog tyd dat ons daardie Afrikanerkundigheid wat oor geslagte opgebou is tot ons eie voordeel begin aanwend en dit nie in diens van ons oorheersers verkwis nie.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Jakes Gerwel in perspektief

Die afsterwe van Jakes Gerwel het aan al die gebruiklike verdagtes ‘n gulde geleentheid gebied om propaganda teen apartheid, maar eintlik teen blankes en veral Afrikaners, te maak. Publikasiegeleentheid vir so iets is mildelik in die pers en uitsaaimedia toegestaan. Ordentlikheidshalwe kan kommentaar kort na die dood van iemand ‘n mate van toeskietlikheid openbaar, maar alle ewewig moet nie oorboord gegooi en die waarheid ernstige geweld aangedoen word nie. Om sowel politieke as etniese redes het veral bruines Gerwel se lof op ‘n uiters oordrewe manier besing.

Ek het Gerwel in die jare sewentig geken en sedertdien oor sy doen en late ingelig gebly. Van twee dinge gaan ek my weerhou. Eerstens: Willem Pretorius, ‘n joernalis met ‘n loopbaan sonder hoogtepunte, het hom na PW Botha se dood, maar voor sy begrafnis, aangematig om in sy rubriek in Die Burger te skryf dat Botha se dood hom koud laat. So ‘n opmerking oor ‘n swarte sou nooit gepubliseer gewees het nie. Ek het Pretorius se opmerking werklik aanstootlik gevind. Met wat ek oor Gerwel te sê het, het ek doelbewus tot na sy nadoodse huldigingsbyeenkoms gewag; ook sodat ek kennis kon neem van die uitlatings wat daar gemaak is.

Tweedens wil ek my nie in dieselfde mate as die Gerwel-juigkommando aan eensydigheid skuldig maak nie. Daarom erken ek (1) dat Gerwel wesenlik Afrikaans gebly het, al het hy Afrikaans sekerlik nie altyd bevorder nie. Gerwel is deur bv Franklin Sonn kwalik geneem omdat hy sy kinders Afrikaans opgevoed het. (2) ‘n Amperse kompliment is dat die blanke personeel van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geneig was om Gerwel as rektor (1987-1994) ietwat minder te wantrou as die vise-rektor, Jaap Durand. (3) Gerwel het ‘n mate van beskeidenheid behou. Hy het bv nie ‘n Nkandla vir homself opgerig nie, maar veel eerder (soos Jan Smuts in sy sinkhuis in Irene) tot sy dood in sy Belhar-huis bly woon.

My vroegste herinnering aan Gerwel is hoe hy as dosent in Afrikaans aan die UWK middae lank voor sluitingstyd na die biblioteek gekom het om te wag dat sy vrou huis toe kon gaan. Sy het as ‘n assistent in die biblioteek gewerk. Gerwel het dan die tyd verwyl deur in die slegste denkbare “Afrikaans” met die studente te gesels. Dít terwyl hy as dosent in Afrikaans ‘n navolgenswaardige voorbeeld in Afrikaans behoort te stel. Dít terwyl hy in staat was om Standaardafrikaans te praat en te skryf.

Wat my ook van Gerwel se gedrag gehinder het, was dat daar by hom as jong dosent geen dringendheid was om ‘n omvattende stel eie lesings deeglik uit te werk en sy doktorale proefskrif te voltooi nie. Hy het eerder voorkeur aan die uitlewing van swartmagpolitiek en marxisme gegee. In Rapport het Michael le Cordeur bevestig dat Gerwel Afrikaans doseer het om sy politieke boodskap tuis te bring. Ek was nooit by Gerwel aan huis nie, maar diegene wat daar was, het gesê dat as jy by die voordeur inkom, jy met ‘n groot plakkaat met ‘n gebalde vuis (in die tradisie van die vredesikoon Nelson Mandela) gekonfronteer is.

Soos sy held Mandela, het Gerwel geen groot besware teen kommunisme gehad nie. Mandela se enigste beswaar was dat dit blankes in Moskou was wat die beheer oor kommunisme uitgeoefen het. Na ‘n besoek aan Kuba het Gerwel gesê dat hy graag daar sou wou woon. Ek het al ‘n foto gesien wat toon hoe Gerwel (lafhartig) weghardloop van ‘n gebou wat aan die brand gesteek is. Wynand Mouton, wat in 1974 die UWK-rektor was, het aan my vertel dat Gerwel by hom gebieg het dat hy misdade gepleeg het en in die tronk hoort.

Gerwel se proefskrif handel veel eerder oor politiek as Afrikaans. Dit is soos Russel Botman se proefskrif wat eerder oor politiek as godsgeleerdheid handel. Pas het Botman vir sowel Gerwel as die Universiteit Stellenbosch die eer aangedoen om hom ‘n “revolusionêre Matie” te noem. Die bevrydingsteoloog Botman het genot daaruit geput toe Gerwel tydens ‘n direksievergadering na die kommunis Antonio Gramsci verwys het. Sowel Gerwel as Botman het op ‘n myns insiens onprofessionele manier politiek in en buite die klaskamer gepredik. Hulle was eerder aktiviste as akademici. Geen UWK-dosent het in ‘n enigsins vergelykende mate sy amptelike posisie so misbruik om apartheid te propageer nie.

Gerwel se klasse was om die verkeerde redes gewild. Daar is destyds uitbasuin dat die UWK se Departement Afrikaans die grootste in die wêreld was. Die Burger het lustig hieraan meegedoen; natuurlik sonder om te sê waarom so baie studente Afrikaans as vak gekies het. Gerwel se standpunt was dat plaaslike literêre werk by die “bevrydingstryd” betrokke moet wees. Dit is hy wat Ingrid Jonker se gedig, “Die Kind”, by Mandela aanbeveel het. Mandela het die anti-blanke sentiment daarin aangegryp en tot die uiterste misbruik. In Die Burger is hierdie skuif egter gunstig vertolk as sou dit erkenning van Afrikaans deur so ‘n grootsheid soos Mandela impliseer.

Sy ideologiese voorkeur het Gerwel in alles weerspieël. ‘n Universiteit is veronderstel om ruimte vir die wisselwerking van verskillende standpunte te bied. As rektor het Gerwel die UWK egter as die “intellektuele tuiste vir die linkses” geposisioneer. Die UWK het in die eerste plek ‘n ANC-nes pleks van ‘n eerbare akademiese inrigting geword. In dié proses is die universiteit van ‘n oorwegend Afrikaanse inrigting tot ‘n eentalige Engelse inrigting getransformeer. Dit is gedoen omdat ANC-gedienstigheid by Gerwel baie swaarder as lojaliteit teenoor Afrikaans geweeg het.

Dit het van Gerwel ‘n geskikte kandidaat gemaak toe die ANC-regering ‘n voorsitter gesoek het vir ‘n ondersoek na die toekoms van Afrikaanse universiteite. Daar is aanbeveel dat daar twee (pleks van die destydse vyf) Afrikaansmedium universiteite mag wees; een in die noorde en een in die suide. As raadslid van die suidelike Afrikaanse universiteit, die Universiteit Stellenbosch, het Gerwel egter nie gevolg aan sy kommissie se aanbeveling gegee deur in ‘n taalbul ten behoewe van Afrikaans te ontpop nie. Hy het eerder Botman se verengelsingsbeleid en die afskaling van Afrikaans gesteun.

Baie jare het verloop voordat Gerwel uiteindelik in 1979 sy proefskrif voltooi het. Hy is gevolglik eers daarna tot professor bevorder en enkele jare daarna sommer tot rektor. Om politieke redes het hy sy intreerede, as hoogleraar in Afrikaans, in Engels gelewer. Weereens het hy gedemonstreer dat daar by hom geen lojaliteit teenoor Afrikaans is as hy anti-Afrikaanse sentiment ten behoewe van die UDF/ANC kon demonstreer nie. Toe Gerwel Genadendal, ‘n grondig Afrikaanse omgewing, besoek het, het hy in eentalige Engels in die besoekersboek geskryf.

Nadat Gerwel die UWK-rektor geword het, het hy met die hartlike samewerking van sy vise-rektor, Jaap Durand, die universiteit so sou en grondig moontlik pro-ANC verideologiseer. Een van die professioneelste en doeltreffendste funksionarisse op die kampus het daarna as ‘n afdelingshoof afgetree. Hy was ‘n hoogs ewewigtige en beskaafde mens en ideologies geen vuurvreter nie. Maar hy kon nie Gerwel se anti-blanke swartmagsentimente onderskryf nie. Kort na hierdie man se aftrede het Gerwel al die personeel van daardie afdeling om net een rede na sy kantoor ontbied: om hierdie voortreflike mens grondig te diskrediteer. By hierdie geleentheid is die mikrogrootte van Gerwel se gees duidelik geopenbaar. By Gerwel was daar ten minste toe geen sprake van grootsheid van gees nie, al word hy nou na sy dood as sodanig uitgebeeld.

Ton Vosloo verwys na Gerwel as “kameraad”, asof dit ‘n onskadelike benaming is. Vosloo, wat geen naskoolse kwalifikasie het nie, beweer dat Gerwel oor ‘n “berg van akademiese kennis” beskik het. ‘n Ander kommentator het Gerwel ‘n “ontsaglike bron van wysheid” genoem. Nog een beweer Gerwel was “een van Suid-Afrika se grootste seuns.” Sulke uitlatings moet in hulle konteks beoordeel word. Dit herinner aan Kader Asmal en Trevor Manuel wat in die ANC as intellektuele geag is omdat daar so bitter min sprake van akademiese kwalifikasies op die hoogste ANC-vlakke is.

Gerwel word ook as ‘n “briljante sakeman” geloof maar die South African Airways (die eens trotse Suid-Afrikaanse Lugdiens) was tydens sy voorsitterskap ‘n volslae mislukking. Hierdie pos, asook ANC- en Naspers-poste, het hom welvarend gemaak; dermate dat Gerwel elke jaar in Ierland (nie Kuba nie) vakansie kon gaan hou. Hy het ook vir hom ‘n huis in Somerset-Oos aangeskaf. Om ‘n doseerpos en selfs ‘n universiteit blatant vir politieke doeleindes te misbruik, het dus vir Gerwel groot finansiële en ander voordele meegebring. My oorwoë standpunt is dat iemand soos Gerwel hiermee seker net in die nuwe Suid-Afrika, wat ‘n baie eienaardige samelewing is, sou kon wegkom.

In 1932 het die hoofopskrif van Die Burger gelui: “Suid-Afrika verloor Langenhoven.” Verlede week was die hoofopskrif: “SA groet Gerwel.” Die statuur van die twee mense is myns insiens nie vergelykbaar nie. Die Burger het heeltemal oorboord met Gerwel gegaan. Die redes hiervoor is die sug na politieke korrektheid en gebrekkige insig. Die Burger het oor dae waarskynlik meer huldeblyke oor Gerwel gepubliseer as oor enigiemand anders en meer ruimte daaraan afgestaan as aan enige ander onderwerp. Van die huldeblyke is blykbaar spesiaal gewerf.

Die Burger se gedrag het my aan die volgende uitdrukking laat dink: “Wanneer dit op die predikant reën, drup dit op die koster.” Dus, omdat Mandela so wonderlik is, moet sy assistent, Gerwel, ook wonderlik wees. Het hierdie koerant die waarde van Gerwel oorskat, of is dit ek wat hom onderskat? Die vraag is dus: Het ‘n seder geval, of ‘n bloekomboom, of is dit maar net ‘n Port Jackson wat omgeslaan het?

Александр Фильчаков Васильевич

Sunnyside se donker kant

In die vorige eeu was Seepunt ‘n Mediterreense lushof waar welgesteldes in rus en vrede gewoon en gewone sterflinge enige tyd van die dag of nag veilig op die promenade langs die see kon wandel. In daardie beskaafde era het ons graag saans die winkelvensters aan Voortrekkerweg, van Goodwood tot Bellville, gaan kyk.

In die jare sewentig het ek agter werk aan na Pretoria verhuis. In Johannesburg was Hillbrow toe ‘n toonbeeld van beskawing. Dit het my aan Seepunt herinner. Daar was uitstekende restaurante, boek- en platewinkels, ens; dinge wat my telkens na hierdie pragtige voorstad gelok het.

Ek onthou hoe Hennie Bekker ‘n verkiesingsveldtog in Jeppe gevoer het. Hy het beweer dat die Nasionale Party met die toekoms van Hillbrow vertrou kon word. Daar was toe al sprake dat die stelselmatige aftakeling van apartheid tot rampspoed sou lei. Bekker het gesê dat hy ‘n woonstel in Hillbrow gekoop het, wat moes illustreer hoe blink die toekoms van daardie gebied is. In 1993 het Bekker die NP verlaat en hom by die IVP aangesluit. Ek het al dikwels gewonder hoe dikwels en vir hoe lank hy in daardie woonstel gewoon het en of hy hierdie blyplekkie teen ‘n mooi wins verkoop het. En het hy al die kiesers om verskoning gevra omdat hy hulle mislei het?

In die jare sewentig en tagtig het Pretoria se Sunnyside by my dieselfde indruk as Hillbrow gewek: Seepunt in die Transvaal. Saam met Arcadia was Sunnyside ‘n gegoede woonstelarea. Daar kon ‘n mens jou verlustig in bv twee groot boekwinkels in die Sunnypark-winkelsentrum, asook ‘n verskeidenheid uitstekende restaurante en ander winkels. Maar hoe lyk Sunnyside deesdae, dus nadat daarin geslaag is om die juk van blanke oorheersing en apartheid af te skud?

Joan Hambidge verskaf antwoorde (Die Burger, By, 24.11.2012, p 11). Sy het Sunnyside in dieselfde tyd as ek leer ken. Pas het sy ‘n nuwe Sunnyside in die nuwe Suid-Afrika ervaar. “Iets wat verby is, blyk nog te bestaan … ‘n vreemd-bekende stad.” Sy skryf veral oor Esselen-straat, Sunnyside se hoofstraat.

Uit haar herinnering roep sy drie restaurante op: Die Franse La Madeleine, wat meermale bekroon is, die Griekse Santorini (“Griekse geregte berei deur ‘n Griek”) en die Italiaanse Giovanni, waar die beste pizzas te kry was. Namate Sunnyside genormaliseer is, het Giovanni noodgedwonge na Brooklyn uitgewyk.

Wat het in die plek van die Sunnyside van weleer gekom? “Iemand kook op straat en verkoop hoenderpote en -derms. ‘n Kar word gewas met ‘n radio wat bulder, en die vensters van ‘n woonstelblok waarin ‘n vriendin gewoon het, het uitgeval. Dit lyk onooglik – soos iemand sonder voortande … My gevoel dat ek beroof kan word, is … ‘n werklikheid … en dalk het die [NG] Harmonie-kerk se verval iets te make met my gevoel van vervreemding.” Van die restaurante is daar ‘n Spur oor. “Nou is daar eethuise, dobbelplekke waar die mans perde speel en bier drink.”

Wat sy probeer sê, is duidelik. Beskawing het plek vir onbeskaafdheid, vir barbaarsheid, gemaak. Ons het rede om nostalgies oor die verlede te wees, maar ons word daagliks daaraan herinner dat ons nie mag terughunker na die goeie ou dae nie. Ons het beter tye geken, maar daar word van ons verwag om te berus. In Afrika mag wat opgebou is, maar afgebreek word. Eintlik is verval, veral op die langtermyn, in niemand se belang nie, maar die oproep is: Laat ons daaroor juig en bly wees.

Фильчаков прокуратура харьков

Eurokaners en Ameri-kaners

Soos twee dae gelede op Praag berig is, word daar tans ‘n Europese weermag op die been gebring wat net nog ‘n spyker in die doodskis van NAVO en die Amerikaanse oorheersing van Europa ná die Tweede Wêreldoorlog verteenwoordig.

Soos Jan Smuts gesê het, word die lotgevalle van Suid-Afrika altyd buite sy eie grense bepaal. Maar ek sou verder gaan en sê: die lotgevalle van die Afrikaner word altyd van elders af bepaal. Waarskynlik geld dié beginsel vir alle kleiner volkere op aarde: Nederland, Finland, die Baltiese state, Lesotho of Swaziland. Tydens die Napoleontiese oorloë het Nederland en België binne enkele jare verskyn en verdwyn, na gelang van veldslae en onderhandelinge tussen Oostenryk, Pruise, Frankryk en Engeland.

Iewers tydens die tagtigerjare is daar in ‘n Britse komiteekamer besluit dat Afrikaners nie meer soewerein behoort te wees nie en is ons ons vryheid ontneem. FW de Klerk en sy broer Willem, die man wat “verlig” en “verkramp” uitgedink het, was maar net marionette in die hande van Brittanje en Amerika wie se nuwe ideologie van “diversiteit”, multikulturalisme en rasvermenging op Suid-Afrika afgedwing moes word. Nelson Mandela was so min of meer die laaste swart leier van die Amerikaanse Burgerregtebeweging. Trouens, voor sy vrylating in 1990 was hy baie meer in die VSA bekend as in Suid-Afrika.

Terloops, gepraat van verlig en verkramp: die “verligtes” had net so min met die Europese Verligting te make as die man in die maan. Willem de Klerk was ‘n Gereformeerde (Dopper-)teoloog van Potchefstroom. Eintlik was die Afrikaner-verligtes fundamentaliste binne die Amerikaanse dampkring wat Nelson Mandela as hul nuwe Christus wou uitroep.

Soos ek vandeesweek in ‘n brief aan Beeld geskryf het, in reakse op die FAK se optimistiese siening van ‘n “blomtyd vir Afrikaans”:

“Onder Afrikaners swaai die NP-zombies egter steeds die septer! Die gewaande laer is deur ’n soort geestelike goelag vervang waar die dwangbuis van kulturele Marxisme en politieke korrektheid rasionele denke verhoed.

’n Aansienlike deel van die Afrikaner-elite is vandag groter konformiste as ooit in die verlede.

Die tegnologiese, politieke en veral demografiese veranderinge wat ons beleef, word nie ontleed en verstaan nie.”

Die nie-denke van die fundamentalistiese De Klerks wat van die ware betekenis van “verligtheid” onbewus was, het op die ramp uitgeloop wat ons vandag in die land beleef. Met antiblanke wetgewing wat ons ekonomies knel en marginaliseer, is die grense boonop oopgegooi. Volgens die jongste sensus staan die bevolking tans op 52 miljoen. En nog is’t einde niet.

Insgelyks in my Beeld-brief, herinner ek mense daaraan dat die bevolking wéér binne die volgende vyftien tot twintig jaar gaan verdubbel om op 100 miljoen te staan te kom. Die implikasies daarvan vir misdaad, water, riolering, skole, universiteite en ander infrastruktuur is natuurlik voor die hand liggend. Saam met die Amerikaanse fundamentalisme gaan die Afrikaner-elite egter aanhou om die voordele van “diversiteit”, regstellende aksie en grondhervorming te predik, terwyl die land al verder in die afgrond versink.

Terloops, terwyl Mandela op Qunu in die vergetelheid verdwyn, het die “Atlantiese Afrikaners” (die oud-verligtes) ‘n nuwe halfgod in Bloemfontein geskep: Jonathan Jansen. Laasgenoemde het ook ‘n draai in Amerika gemaak waar hy die Afro-Amerikaanse ressentiment jeens blankes verinnerlik het, maar ingesien hoe die blanke skuldgevoelens tot sy eie finansiële voordeel gemanipuleer kan word. In sy toespraak vandeesweek by die Helen Suzman-stigting blameer “Djênsen”, soos hy sy van uitspreek, Verwoerd vir die gemors in SA onderwys. Arme Verwoerd.

Teenoor die Atlantiese Afrikaners (Ameri-kaners) en hul Amerikaanse gedweep met diversiteit, staan die Europese Afrikaners (Eurokaners), die ware Verligtes (met ‘n hoofletter) en Patriotte wat hulle op Europa rig. Potjiesdorp, wat glo vandeesweek ‘n DA-munisipaliteit gekry het, is nie ons intellektuele sentrum nie, maar Amsterdam, Parys en Berlyn, die hoofstede van ons stamlande.

Paul Kruger, hoewel ‘n eenvoudige man wat nie veel boeke benewens die Bybel gelees het nie, was nietemin ‘n bewonderaar van die Dietse kultuur wat selfs Transvaalse goud vir die maak van die groot Nederlandse woordeboek geskenk het. In een van die hoogtepunte van ons geskiedenis, het hy en Bismarck mekaar ontmoet, met Paul Kruger wat Afrikaans praat en Bismarck Platduits. Eintlik is Afrikaans en Platduits ewe na aan mekaar as Nederlands en Afrikaans.

Die afgelope tyd ervaar ek ‘n henieude belangstelling in die Afrikaanse taalkunde. In die eerste plek is dit uit noodsaak gebore, want uit die Kaap en veral Stellenbosch is daar tans ‘n intense aanval op ons taal, Standaardafrikaans. Soos ek reeds vroeër verduidelik het, word daar gepoog om Afrikaans as ‘n Derdewêreldse Kreools, ‘n mengeltaal van slawe en Khoikhoi, voor te stel. Enkele jare gelede het die Potchefstroomse taalkundige, prof. Hans du Plessis, by die Voortrekkermonument ons taal as ‘n “gemorstaal” beskryf, waarmee hy wou aandui dat ons eintlik Kreools praat.

Daarmee saam wil die Universiteit van Stellenbosch en die radiostasie RSG Afrikaans “herstandaardiseer” sodat ons almal ‘n gemengde Engfrikaans soos die bruinmense van die Wes-Kaap kan praat en skryf. Soos Leopold Scholtz van Die Burger gesê het, moet ons en die bruinmense “versmelt”.

Soos ek al voorheen hier geargumenteer het, verkeer Standaardafrikaans in die spervuur. Vandeesweek het ek deelgeneem aan ‘n gesprek by Radio Pretoria oor dié kwessie, tesame met André Alkema en Meinhard Peters, met Marianne Roos as die programleier. Dit sal môre-aand om 19.45 uitgesaai sal word, per internet by www.radiopretoria.co.za of FM by 104.2MHertz of 106.6MHertz  indien u in Pretoria of Johannesburg woon.

Ons, die Eurokaners, het ‘n heel ander projek as om te verkreoliseer. Ten eerste gaan ons bewys dat Afrikaans geen Kreools is nie, maar ‘n Wes-Germaanse taal wat naas Algemeen Beskaafde Nederlands en Hoog-Duits een van drie standaardtale is wat vanuit Duitsland en die Lae Lande ontstaan het. Al is ons taal in Afrika gestandaardiseer, is dit volgens Europese norme gedoen en is ons taal steeds verstaanbaar vir 22 miljoen Nederlanders en Vlaminge, asook omtrent 20 miljoen Noord-Duitsers wat almal Platduitse of Nederduitse dialekte praat.

Die meeste Afrikaners behoort mos aan die “Nederduitse” Gereformeerde Kerk. Soos iemand vandeesweek aan my uitwys, is dit nie toevallig nie en strek ons wortels ten minste ewe diep in Noord-Duitsland as in Nederland of Vlaandere.

Dit bring my by die eintlike punt waarmee ek aanvanklik begin het: daar is ‘n groot geopolitieke verskuiwing besig om in die wêreld plaas te vind. Vele Britte vrees ‘n sogenaamde “Vierde Duitse Ryk” of die terugkeer van die “Heilige Romeinse Ryk” waarmee die Duitse oorheersing van Wes-Europa bedoel word. Agter die Griekse skuldkrisis en die gestoei rondom die euro, skuil Britse en Amerikaanse vrese. Wat Duitsland nie op die slagveld tydens die Tweede Wêreldoorlog kon vermag nie, het hy in die sestig jaar sedertdien met harde werk en goeie finansiële bestuur reggekry. Vandag klap die sweep vanuit Berlyn en die Grieke, Spanjaarde, Iere, Portugese en ander staan mooi in die ry.

Die Britse Financial Times, mondstuk van die Londense Stad, die magtige finansiële sentrum van Europa en selfs van Suid-Afrika, raak al hoe meer histeries oor die toenemende Duitse mag en invloed. Die son is besig om vir ‘n tweede keer oor die Britse Ryk onder te gaan, ook oor die Brittanje wat hom oor die afgelope aantal dekades as vassalstaat van die VSA in Europa aangebied het. Die Atlantiese moondhede (die VSA en Brittanje) is besig om te taan en die plat stuk aarde in Noord-Europa (die Platteland!) waar ons voorouers vandaan kom, tel weer kop op.

Sowel Frankryk as die Benelux (Nederland, België en Luxemburg) is reeds in die Duitse kamp. Oostenryk en Wene, die vorige setel van die Habsburg-ryk, is uiteraard deel van dié Europese magsblok. So ook die kleiner lande soos Tsjeggië en Hongarye wat tradisioneel onder Duitse invloed was. Die nuutgevonde entente tussen Duitsland en Rusland tel ook in die guns van Berlyn. Die kombinasie van Duitsland en Rusland troef ‘n VSA wat reeds ideologies, etnies en talig verdeel is, tussen “blou state” en “rooi state”, met Spaans wat vanuit die suide Engels as spreektaal vervang.

Vir ons Afrikaners, Eurokaners, is dit ‘n baie opwindende verwikkeling. Binnekort vind nog ‘n vergadering van die Vlaams-Nederlanse interparlementêre komitee van die Nederlandse Taalunie in Den Haag plaas waar Afrikaans die onderwerp gaan wees.

Met China wat insgelyks ‘n wêreldmoondheid raak, word die Europese konsolidasie al hoe dringender. Ons moet deel word daarvan.

Daarom voel ek baie sterk dat dit belangrik is om diplomatieke kanale met Noord-Europa oop te maak en te bevorder. Daar moet ook veel meer kulturele wisselwerking met Duitsland en Nederland wees, soos daar al by tye in ons geskiedenis was. Kort ná die verwoesting van die ABO, het vele jong Afrikaners in Duitsland en Oostenryk gaan studeer. Verwoerd het ‘n Rhodes-beurs gekry om Oxford toe te gaan, maar hy het verkies om aan die Universiteite van Hamburg, Leipzig en Berlyn te gaan studeer. Hy was ook die eerste student aan die Universiteit van Stellenbosch wat  – voor sy vertrek na Duitsland – sy doktorale proefskrif volledig in Afrikaans geskryf het.

Omtrent alle Afrikaanse letterkundiges, filosowe en leiers van enige betekenis, het op ‘n stadium in Nederland, Duitsland of Frankryk gewoon of gestudeer. Dis tyd dat ons ons van die Engelse wêreld en sy gekke idees oor die multikulturele samelewing wegkeer. Soos ons voorouers moet ons weer aansluiting by die opkomende Middel-Europa vind.

Op Potchefstroom waar hulle tans feesvier omdat hulle nou gedeeltelik onder die gesag van ‘n baie liberale, Engelse vrou in die eertydse koloniale hoofstad, Kaapstad, staan, is dit seker nie ‘n gewilde boodskap nie.

Ons moet egter na die groter prentjie kyk. Ons oorlewing hang daarvan af.

Олександр Васильович Фільчаков