Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het nou vakansie. Twee van sy blanke viserektore neem in hierdie stil tyd agtereenvolgend in sy plek waar. Hulle kwalifiseer nie daarvoor om permanent die rektor te word nie, want dit sal ‘n terugslag vir transformasie wees. Hulle mag selfs net tussentyds viserektore wees. Die idee is dat hulle hulle poste moet gebruik om transformasie te bevorder, sodat nie-wittes in hulle plekke aangestel kan word; aldus Botman (Die Burger, 5 Sep, p 11). Wat hulle akademies diskwalifiseer, is dat hulle wit en mans is. Só lyk die eienaardige weë van geregtigheid in die nie-rassistiese en nie-seksistiese nuwe Suid-Afrika.
In dieselfde week as die ANC se Mangaung-konferensie was dit seker gepas dat Botman soggens sy Sielsgedagte (5:55-6:00) oor RSG uitgesaai het. Hy het waarskynlik aangebied om dit te doen en RSG het dit verwelkom, want dit is immers seker dat hy niks sal sê wat die ANC, en by implikasie die SABC, ontstel nie. Enigeen kan op die RSG-webwerf met potgooi vasstel wat Botman gepreek het.
Op 18 Desember het dit gegaan om die stryd tussen twee etniese en taalgroepe, die sprekers van Grieks en Hebreeus. Daar was taalkonflik en diskriminasie, terwyl daar eerder goedhartigheid teenoor almal moet wees; niemand moet afgeskeep word nie. Botman skaar hom by diegene wat die swakste was en die swaarste gekry het. [In sy gewilde idioom, gelaai met rasse- en geslagsvoorkeur: Hy kies kant vir die dogter van die (bruin) plaaswerker teen die seun van die (wit) boer.] Nadat Botman kant gekies het, spreek hy die wens uit dat daar nie diskriminasie moet wees nie. Menswaardigheid moet vooropgestel word. ‘n Mens vra jou af: Waarom bevorder Botman dan toenemende diskriminasie teen wit studente en personeel en Afrikaans aan die US?
Op 19 Desember het Botman oor Stefanus gepreek, wat die ene wysheid, goedheid en goedhartigheid was. Vrygelate slawe uit Afrika en sommige Jode was egter die vyande van Stefanus. Hulle het hom van laster aangekla en hom gemartel en gestenig. Op grond hiervan kon Botman (maar hy verseg om dit te doen) ‘n sterk waarskuwing gerig het oor die gevare wat vryheid inhou vir diegene wat nie weet hoe om dit te hanteer nie. Ook hoe elemente uit Afrika wysheid, goedheid en goedhartigheid in ‘n land kan vernietig, veral as hulle toegelaat word om onbeheersd ‘n land binne te stroom. Botman kom egter nie tot hierdie voor die hand liggende gevolgtrekkings nie.
Op 20 Desember het Botman beweer dat Afrika se vroegste geskiedenis belangrik is. Babas en ander kinders het swaar gekry. Daar was uitbuiting. Die voorouers is wreed behandel. Mense is aan hulleself oorgelaat. [Dalk omdat daar die beskuldiging van paternalisme kon wees as hulp verleen sou word?] Afrika het slegte en goeie stories. Volgens Botman moet ons ‘n goeie Afrika-storie probeer wees. Dit sal nie maklik wees nie.
Teen 22 Desember moes dit vir die luisteraars duidelik gewees het dat Botman voortgaan om dieselfde frases te gebruik; dat hy blykbaar nie die moeite gedoen het om die teks van sy voordragte vooraf behoorlik uit te werk en uit te skryf nie. Maar hy kom as rektor skynbaar met enigiets weg; waarom nie ook op RSG nie? Hy het gepraat oor rolspelers, die gemeenskap, die mense en dat God die geskiedenis skep; ook toekomstige geskiedenis.
Op 23 Desember het die kontras tussen sy welvaart en dié van gewone sterflinge Botman gehinder. Daar is mense wat ly, wat swaarkry. Kerstyd gee aan ons die geleentheid om ons goedhartigheid te bewys, om nie gierig te wees nie. Sou dit nie ‘n navolgenswaardige voorbeeld van versoening wees as Botman uit sy eie sak studiebeurse vir wit studente skep nie? Maar dan dink ‘n mens daaraan dat daar in die praktyk verwag word dat versoening (net/veral) van die wittes se kant af moet kom. Ook dat daar aan die US talle beurse eksklusief vir nie-wittes is, terwyl die US geweier het om enigiets te make te hê met ‘n erflating wat voorskryf dat sy studiebeurse net aan wit studente toegeken mag word.
Wat opval, is hoe buitengewoon klein Botman se register van onderwerpe is. Hy het net ‘n beperke getal kapstokke waaraan hy sy gedagtes hang: slawe, Afrika, swaarkry, diskriminasie, menswaardigheid, wreedheid, marteling, lyding en uitbuiting. As rektor gaan dit vir hom ook net om enkele sake: hoop, verandering (eerder as verbetering), transformasie, regstelling, inklusiwiteit en meertaligheid (eerder as Afrikaans).
Moenie van Botman verwag om hom ideologies-neutraal oor die wetenskap, akademie en universiteit uit te laat nie. Die US-Raad verplig hom bv nie om die akademies beste studente tot studie toe te laat en die akademies beste dosente aan te stel en te bevorder nie. Dit is blykbaar genoeg as soms oor die US se “uitnemendheid” gepraat word. Die waarheid is dat akademiese uitnemendheid aan die getransformeerde US plek vir politieke uitnemendheid ooreenkomstig die ANC se resep gemaak het.
Kaapstad is as die Ontwerphoofstad vir 2014 aangewys. Dit klink na dieselde soort irrasionaliteit as wanneer twee stede vertweeling, dus maatjies, word. Daar word altyd gesorg dat sulke stede ver van mekaar is, verkieslik op verskillende kontinente. Die burgemeesters, amptenare en ander bevoordeeldes vlieg dan luuks oor en weer na mekaar toe en daar word duur verblyf en buitensporige onthale gereël. In dié proses is die belastingbetalers die finansieel benadeeldes.
Soos dit in ons era van transformasie hoort, bevind Botman hom nou as die voorsitter van die direksie van die World Design Capital 2014-implementeringsmaatskappy. Volgens die woordeboek is ontwerp (“design”) ‘n plan, ‘n vooraf opgestelde skema waarvolgens aan iets gestalte gegee kan word, of hoe bestaande dinge reggetrek kan word. Toegepas op ‘n metropool soos Kaapstad beteken dit dat bekwame mense (1) as ontwerpers en (2) as uitvoerders van daardie ontwerpe moet optree, (3) dat daar geld hiervoor moet wees, (4) wat impliseer dat almal hulle belasting moet betaal; (5) dat mense hulle ordelik en ordentlik moet gedra, bv dat hulle hulle vanselfsprekend van diefstal en vandalisme moet weerhou; (6) dat die instroming van ‘n oormaat nie-funksionele armlastiges van elders nie toegelaat moet word nie, ens.
Hoe vertolk Botman hierdie saak? Hy het sy siening in ‘n artikel geformuleer (Die Burger, 27 Nov, p 15). Hy val weg deur daarop te wys dat sommige mense ontwerp as ‘n Eerstewêreldse tierlantyntjie beskou; dat aandag eerder aan die bekamping van armoede en ongelykheid gegee moet word. Voorspelbaar is sy invalshoek dus Derdewêrelds, oftewel pro-Afrika. Hy verduidelik dat ontwerp nie net vir welgestelde individue [waarvan hy een is] en groot korporasies bedoel is nie.
Dan kom hy behoorlik in rat: “In die strakste sin het eeue van kolonialisme en apartheid [hy het slawerny seker per abuis uitgelaat] gesorg vir Suid-Afrikaanse stede wat die verdraaide doelwitte van rasseskeiding en -diskriminasie weerspieël − en Kaapstad is geen uitsondering nie. Een van ons uitdagings is nou om ons stedelike ruimtes en instellings te herontwerp om ‘n gemeenskap gegrond op die beginsels van geregtigheid en gelykheid moontlik te maak.”
Wat Botman vir die Kaapse metropool beoog, is dus dieselfde as vir die US: algehele transformasie. Hy verwys na die ideaal van “gelykheid”. Daar is natuurlik reeds gelyke stemreg: Hophuis- en krotbewoners se stemme weeg net so swaar soos dié van mense wat self vir hulle huise moet betaal. Gaan Botman as pleitbesorger vir geregtigheid sorg dat naas gelyke voordele daar ook gelyke verpligtinge gaan wees, bv dat almal vir munisipale belasting en dienste moet opdok?
Botman haal Zayd Minty, die Stad Kaapstad se bestuurder vir kuns en kultuur, goedkeurend aan: Dit is Kaapstad “se kans om ons energie te gebruik om onsself te herposisioneer as ‘n stad wat ons verlede kan oorkom.” Botman borduur dan voort: “Ons Ontwerphoofstad-status bied die stad nou die geleentheid om ‘n gemeenskaplike visie te ontwikkel as ‘n inklusiewe, vernuwende, entrepreneuriese en volhoubare Afrika-stad.” Die universiteite in Kaapstad en omgewing is volgens Botman van die bestes in Afrika. [Hy vergelyk hulle huidige toestand nie met hulle akademiese status in die vorige eeu of met universiteite buite Afrika nie.] Hierdie universiteite het glo ‘n sleutelrol en verantwoordelikheid in dié ontwerpproses.
Daarna skryf Botman spesifiek oor die US [waar hy die proses ter vernietiging van die inrigting se beweerde bedenklike verlede lei; die helhool wat eksklusief blank en Afrikaans was en Afrikanerleiers opgelewer het]: “Reeds in 1999 het die US amptelik sy aandeel in die ongeregtighede van die verlede erken. Die universiteit het hom ook verbind tot regstelling en ontwikkeling deur dienslewering aan voorheen en tans benadeelde gemeenskappe en gebiede.” [Let op in hoe ‘n onverbiddelike mate Botman op politiek pleks van ontwerp bly fokus. Sluit hy by sy “tans benadeeldes” wittes in?] Dan kom hy by die US se HOOP-projek waar daar gestreef word na “volhoubare oplossings van Suid-Afrika en Afrika se dringendste behoeftes.”
Dit maak nie saak wat Botman se onderwerp is nie (bv godsdiens, akademie, ontwerp), sy storie bly dieselfde. Sy verwysingsraamwerk bestaan uit ‘n kombinasie van bevrydingsteologie en ANC-ideologie, wat ‘n goeie skeut kommunisme insluit.
‘n Mens sal nooit van al die kommentaar weet wat deur Die Burger op Botman se artikel ontvang is nie. Die Naspers-koerante doen klaarblyklik baie meer moeite as ander koerante om nie-politiek-korrekte kommentaar uit sy gedrukte en elektroniese weergawes te hou. Op 29 November (p 21) is ‘n enkele brief van ‘n leser gepubliseer, wat Botman se ideologie op ‘n realistiese manier aarde toe bring:
“In die 20 jaar wat ek hier woon, is niks gedoen om die metropool se rioolstelsels te verbeter nie. Nuwe uitvalwerke word nie gebou nie, en bestaandes kan nie die volume hanteer nie. Kyk maar as jou vliegtuig opstyg in die rigting van Valsbaai hoe die rioolwerke se uitval in die see in loop. Kyk om jou en sien waaraan onnodig geld bestee word. Projekte word ‘geskep’ en toegeken aan kontrakteurs wat alleen daarby baat vind, maar die eindproduk is ‘n vermorsing van belastinggeld. Daar is baie voorbeelde, soos die Kaapstad-stadion en die ‘internasionale handelsentrum’ by Khayamandi, met die aangrensende sokkerveld. Die sentrum se ruite is stukkend gegooi en die sokkerveld is nie voltooi nie. Ja, esteties baie mooi ontwerp, maar nie funksioneel nie. Wat van die voetgangerbrûe oor die R300 en die N2? Mense se beeste loop daaroor, en die mense self hardloop nog oor die pad en word doodgery. Is dit wat ‘ontwerp’ beteken?”
Die gepeupel word toegelaat om alles te saboteer wat die moeite werd is, of dit nou bv ontwerp of ‘n universiteit is. Botman skaar hom nogtans aan die kant van die gepeupel.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.