Boonzaaier en ‘regse’ Afrikaners is Zille se kanonvoer

Vandeesweek het nog ‘n patetiese gesig ons getref: dié van Hein Boonzaaier, Johan Prinsloo, Martin Keevy en Mark Trollip wat in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van hoogverraad en terrorisme verskyn het. Soos gewoonlik lag die Engelse van die Mail & Guardian en ander koerante hulself slap oor “Boeremistiek”.

Volgens die Mail & Guardian “het dit duidelik geword dat die verregses deur agterdog oor verraad lamgelê word en intens deur uiteenlopende interpretasies van mistieke gesigte verdeel word. Dit bring die vraag na vore of die vier beskuldigdes enige kans gestaan het om ‘n mortier na die ANC se Bloemfontein-konferensie te slinger of bloot deur rassistiese verbeeldingsvlugte wat aan profesie verbind word, meegevoer is.”

Kennelik het die Mail & Guardian sy inligting van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) ontvang en moet ‘n mens dit met ‘n knippie sout neem. Trouens, ek vermoed reeds lankal dat ‘n groot deel van wat ons in die SA media lees, van Suid-Afrikaanse en veral buitelandse (Britse en Amerikaanse) inligtingsbronne afkomstig is. ‘n Groot deel van die joernaliste is waarskynlik ook op die betaalstaat van hierdie geheimedienste en voer ons met die soort inligting en idees wat “vir ons goed is”.

Die arme publiek bevind hulle in ‘n newelagtige wêreld waar hulle elke versinsel of sinistere gebeurtenis soos die jongste Boeremag-episode moet verwerk en agterna oordeel dat dit maar die beste is om “jou kop laag te hou en DA te stem”.

As ons egter na die groter prentjie kyk, is daar ‘n besliste verband tussen die DA-veldtog teen Zuma en die uitbraak van amateuragtige “Boere”-terrorisme soos in die huidige geval. Helen Zille en ander ampsdraers van die DA was in die verlede groot ondersteuners van die ANC en die sogenaamde “gewapende stryd”. Geweld en terreur het daarmee deel van die Suid-Afrikaanse politiek geword.

Sowel die Britse media as die plaaslike Engelse koerante was dekades lank groot ondersteuners van die ANC, Mandela en elke vorm van terreur wat die Nasionale Party ten gronde sou laat gaan. Op die ou end het hulle in hul doel geslaag, maar met Zuma se Zoeloe-oorname van die ANC het die Britte en die plaaslike Engelse elite beheer oor die beweging verloor.

Intussen laai die histerie teen Zuma en die Zoeloe-oorheersde ANC al hoër op. Afrikanerfrustrasies oor plaasmoorde, asook taal- en rassediskriminasie veroorsaak dat vele naïewe mense op sleeptou geneem word. Die DA, wat ‘n blote intstrument van Groot Brittanje is, wil sien dat daar konflik of onstabiliteit uitbreek, waarvoor sowel Zuma as die “regses” geblameer sal word. Daarna sal Zille as “die redder” intree en die meesterplan om Afrikaners by die res van die bevolking in te lyf en te assimileer, sal voortgaan.

Daar is vele mense wat my steeds kwalik neem dat ek nie destyds militêre diensplig gedoen het nie, hoewel wyle mnr. P.W. Botha en oud-genl. Constand Viljoen nie onder hulle tel nie. In die lig van die manier waarop die NP menselewens in Angola verkwis het, net om agterna aan die ANC en Umkhonto we Sizwe oor te gee, het die geskiedenis my egter gelyk gegee.

Tans is ek egter meer teen geweld gekant as ooit. My raad aan Afrikaners is om hoegenaamd nie by enige geweldspraatjies ingesleep te raak nie. Dieselfde geheimedienste wat die media in ons land beheer, het lankal elke moontlike Afrikaanse organisasie geïnfiltreer. Ons telefoonoproepe en epos word alles in Pretoria of in Brittanje of die VSA gemonitor. Tensy jy en jou naaste familie (maar in die Boeremagsaak het ons gesien hoe selfs familielede onder mekaar kan begin twis) een of ander driemansel vorm en iewers buite hoorafstand in die veld jul planne bespreek, gáán jy uitgevind word. Jou foto gaan in Beeld of Die Burger pryk en die DA-gesindes en die Engelse gaan hulle doodlag vir jou.

Want eintlik tree jy slegs as pion vir die Britsgesindes op. Vandat die Britte in die Kaap voet aan wal gesit het, was dit nog altyd hul taktiek om inheemse Afrikaners teen swartes of bruines af te speel. By tye het Afrikaners dit reggekry om bondgenootskappe met swartes aan te gaan, soos Andries Pretorius met Panda teen Dingaan of Verwoerd wat ingesien het dat tradisionele swart leiers dalk bereid sou wees om met Afrikaners saam te werk.

Blykbaar wil die ANC ‘n boete of selfs tronkstraf instel vir mense wat sogenaamde “fronte” vorm om die swartbemagtigingswette te pypkan. Maar in die politiek is daar geen boete om ‘n swart persoon na vore te stoot om Engelse belange te bevorder nie. Ons sien hoedat Zille, die wit Engelse miesies, vir haar sommer ‘n bruine en ‘n swarte gekry het, by name Patricia de Lille en Lindiwe Mazibuko, om ‘n “swart front” voor te hou.

Benewens die persoonlike tragedies wat deur komplotte van die Boeremagtipe – en nou dié van Hein Boonzaaier en sy drie makkers – veroorsaak word, is daar die veel groter politieke ramp wat dit meebring, naamlik polarisering tussen swartes en Afrikaners. Zille en die res van die Engelsgesindes in haar party – waaronder die ellendige klomp hanskakie-Afrikaners – kan nie wag om swartes teen ons te monster nie.

Terwyl Engelse, soos ook die spul agent-joernaliste van die Mail & Guardian, ons voortdurend as gewelddadige rassiste verguis, is dit juis hulle wat nie huiwer om geweld te gebruik nie. Waar hulle propaganda-oorloë nie slaag nie, soos tydens die sestiger- en sewentigerjare, wend hulle hul geredelik tot geweld en terreur. Die Sunday Times-joernaliste, Muff Anderson en Marion Sparg, het albei in die tagtigerjare by Umkhonto we Sizwe aangesluit. Anderson het saam met ‘n klomp Britte wapens gesmokkel, wat sy telkens in ‘n gehuurde motor by die Eastgate-winkelsentrum in Bedfordview gaan afhaal het.

Gegewe die propaganda-oorlog wat ons in die tagtigerjare teen die Engelse verloor het, het ons nie die luukse van die geweldsopsie nie. In elk geval is die Zuma-ANC nie per se anti-Afrikaans nie. Trouens, die mense binne die ANC wat byvoorbeeld Afrikaanse skole aanval, soos Barbara Creecy hier in Gauteng, is wit Engelse! Swartes word bloot as front gebruik om Afrikaners by te kom, soos ek hier bo reeds geargumenteer het.

Toe Tsafendas vir Verwoerd met die dolk neergevel het, het P.W. Botha teenoor mev. Helen Suzman in die parlement uitgeroep: “Dis julle liberaliste se skuld!” Suzman het hom agterna daarvoor kwalik geneem, maar eintlik was hy reg. Tsafendas was bloot ‘n werktuig vir die klimaat van haat teen Verwoerd wat die Britte en die plaaslike Engelse koerante geskep het, iets wat tot vandag toe voortduur en deur Naspers onderhou word.

Ek is bevrees diegene wat op sleeptou geneem word deur die huidige haatveldtog in Naspers en die Engelse media teen die Zoeloe, Jacob Zuma, is blote kanonvoer vir Zille en haar imperiale Britse ambisies om Suid-Afrika te beheer en verder van sy hulpbronne te stroop.

PRAAG is tans ‘n stemmetjie in die woestyn, want ons is die enigstes wat wil sien dat Afrikaners tot hul eie heil werk, hetsy in die ekonomie, hetsy in die politiek, sonder om ander mense se vuilwerk vir hulle te doen. Onder apartheid het Afrikaners Bantoe-administrasie en -opleiding gedoen sodat die myne en banke kon geldmaak. Daardie apartheid wil ons veral nie weer terughê nie. Want ons het niks daarby gebaat nie en is agterna so deur die Engelse propagandiste sleggesê vir die guns wat ons hulle gedoen het dat die see ons nie weer sal kan afwas nie.

Dit is tyd dat daar nuwe politieke denke onder Afrikaners kom, weg van kragdadige oplossings wat oënskynlik “maklik” lyk, maar ondeurdag en polities steriel is. Daar mag ‘n Derde Vryheidsoorlog kom, maar as dit aanbreek, wil ek sien dat die Russe en die Zoeloes aan ons kant veg, téén die Engelse en die Naspers-hanskakies wat al weer vir ons lag.

Wie die laaste lag, lag die lekkerste.

топкарго развод

Maak 'n opvolg-bydrae