praag.co.za

Sunnyside se donker kant

Written by

in

In die vorige eeu was Seepunt ‘n Mediterreense lushof waar welgesteldes in rus en vrede gewoon en gewone sterflinge enige tyd van die dag of nag veilig op die promenade langs die see kon wandel. In daardie beskaafde era het ons graag saans die winkelvensters aan Voortrekkerweg, van Goodwood tot Bellville, gaan kyk.

In die jare sewentig het ek agter werk aan na Pretoria verhuis. In Johannesburg was Hillbrow toe ‘n toonbeeld van beskawing. Dit het my aan Seepunt herinner. Daar was uitstekende restaurante, boek- en platewinkels, ens; dinge wat my telkens na hierdie pragtige voorstad gelok het.

Ek onthou hoe Hennie Bekker ‘n verkiesingsveldtog in Jeppe gevoer het. Hy het beweer dat die Nasionale Party met die toekoms van Hillbrow vertrou kon word. Daar was toe al sprake dat die stelselmatige aftakeling van apartheid tot rampspoed sou lei. Bekker het gesê dat hy ‘n woonstel in Hillbrow gekoop het, wat moes illustreer hoe blink die toekoms van daardie gebied is. In 1993 het Bekker die NP verlaat en hom by die IVP aangesluit. Ek het al dikwels gewonder hoe dikwels en vir hoe lank hy in daardie woonstel gewoon het en of hy hierdie blyplekkie teen ‘n mooi wins verkoop het. En het hy al die kiesers om verskoning gevra omdat hy hulle mislei het?

In die jare sewentig en tagtig het Pretoria se Sunnyside by my dieselfde indruk as Hillbrow gewek: Seepunt in die Transvaal. Saam met Arcadia was Sunnyside ‘n gegoede woonstelarea. Daar kon ‘n mens jou verlustig in bv twee groot boekwinkels in die Sunnypark-winkelsentrum, asook ‘n verskeidenheid uitstekende restaurante en ander winkels. Maar hoe lyk Sunnyside deesdae, dus nadat daarin geslaag is om die juk van blanke oorheersing en apartheid af te skud?

Joan Hambidge verskaf antwoorde (Die Burger, By, 24.11.2012, p 11). Sy het Sunnyside in dieselfde tyd as ek leer ken. Pas het sy ‘n nuwe Sunnyside in die nuwe Suid-Afrika ervaar. “Iets wat verby is, blyk nog te bestaan … ‘n vreemd-bekende stad.” Sy skryf veral oor Esselen-straat, Sunnyside se hoofstraat.

Uit haar herinnering roep sy drie restaurante op: Die Franse La Madeleine, wat meermale bekroon is, die Griekse Santorini (“Griekse geregte berei deur ‘n Griek”) en die Italiaanse Giovanni, waar die beste pizzas te kry was. Namate Sunnyside genormaliseer is, het Giovanni noodgedwonge na Brooklyn uitgewyk.

Wat het in die plek van die Sunnyside van weleer gekom? “Iemand kook op straat en verkoop hoenderpote en -derms. ‘n Kar word gewas met ‘n radio wat bulder, en die vensters van ‘n woonstelblok waarin ‘n vriendin gewoon het, het uitgeval. Dit lyk onooglik – soos iemand sonder voortande … My gevoel dat ek beroof kan word, is … ‘n werklikheid … en dalk het die [NG] Harmonie-kerk se verval iets te make met my gevoel van vervreemding.” Van die restaurante is daar ‘n Spur oor. “Nou is daar eethuise, dobbelplekke waar die mans perde speel en bier drink.”

Wat sy probeer sê, is duidelik. Beskawing het plek vir onbeskaafdheid, vir barbaarsheid, gemaak. Ons het rede om nostalgies oor die verlede te wees, maar ons word daagliks daaraan herinner dat ons nie mag terughunker na die goeie ou dae nie. Ons het beter tye geken, maar daar word van ons verwag om te berus. In Afrika mag wat opgebou is, maar afgebreek word. Eintlik is verval, veral op die langtermyn, in niemand se belang nie, maar die oproep is: Laat ons daaroor juig en bly wees.

Фильчаков прокуратура харьков

Comments

Leave a Reply