SA se duurste grondeis van R1 miljard afgehandel

malamalaSuid-Afrika se duurste grondeis is Donderdag amptelik afgehandel, met president Jacob Zuma wat twee gedeeltes van die internasionaal bekende luukse wildkamp, Mala Mala – wat aan die Kruger Nasionale Park grens – aan die N’wandlamhlarhi Community Property Association oorhandig het.

Die oorsese toerismebedryf is in rep en roer oor die omstrede grondeis en ‘n afname in besprekings kan die eens winsgewende kamp knou.

Die omstrede R1 miljard-ooreenkoms kom te midde van die regering wat weer die omstrede grondhervormingskwessie deur middel van die voorgestelde wysigings aan die Wet op Herstel van Grondregte na 2018 wil verleng.

Die stryd tussen die eienaars van Mala Mala en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het so ver gegaan as die Konstitusionele Hof.

Minister Gugile Nkwinti het gesê: “Die totale grondwaarde blyk buitensporig te wees, maar dit moet in ag geneem word dat hierdie primagrond is soos deur deskundige getuies in die hof verduidelik is.”

MalaMala is geïntegreer by die Kruger Nasionale Park in 1993 toe die grensdraad tussen die twee verwyder is. Die reservaat se westelike grens, die Sandrivier , is van die beste wildbesigtiging in die gebied.

Die reservaat het ‘n 70% besetting en sy jaarlikse wins word beraam op R25 miljoen . Sowat 95 % van sy kliënte is buitelanders.

Michael Rattray , uitvoerende hoof van Mala Mala wat ‘n miljard Rand in die sak gesteek het, het gesê die finale transaksie sal ‘n voorbeeld word van hoe ‘n grondeis suksesvol hanteer kan word.

Volgens Tanya Kotze van Africa Direct wat spesialiseer in oorsese toeriste, het die onsekerheid oor die reservaat se toekoms reeds ‘n invloed op besprekings in Amerika wat afgeneem het.

Nuwejaarsvieringe lei tot talle verdrinkings

swemmers‘n Twaalfjarige kind het verdrink in die Swartkopsrivier naby die dorp Motherwell in Port Elizabeth.

Die polisie sê die seun was saam met ander kinders naby ‘n brug toe hy in die moeilikheid beland het.

Polisieduikers is ook op soek in die rivier na ‘n ander sestienjarige seun. Albei is deel van ‘n groep van die Vista Rus-huis vir kinders.

Vroeër, het ‘n man verdrink by Bluewater Bay, terwyl ‘n nog ‘n man steeds vermis word. Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gehelp om die liggaam van ‘n 23-jarige man uit die see te haal.

‘n Vrou het verdrink in Kalkbaai in Kaapstad. Dit is die eerste verdrinking in die gebied Woensdag met duisende mense wat na die stad se strande gestroom het om die nuwe jaar te vier.

Lewensredders sê hulle is geroep na die strand in Muizenberg, waar ‘n volwasse vrou probleme ondervind het. Die omstandighede rondom die verdrinking is nog nie duidelik nie.

Onafhanklike eksamenraad se uitslae effens beter

annoberholzer
Ann Oberholzer

Van die matrieks wat die onafhanklike eksamenraad (IEB) se eksamen geskryf het, het 98% geslaag.

Dié eksamen is deur meer as 9.500 leerlinge van 185 skole afgelê.

Die raad se bestuurshoof, Ann Oberholzer, sê dit toon ‘n geringe verbetering van 0,3 persent op verlede jaar se uitslae, het RSG berig

Sy sê wat veral verblydend is, is dat twee persent meer leerlinge vir universiteitstoelating gekwalifiseer het.

Dié persentasie het van 83 persent tot 85 persent verbeter.

AbaTemboe-oudstes sê net Mandla kan Mandelas lei

Zwelivelile Mandlasizwe Dalibhunga Mandela van die Temboestam by Mvezo
Zwelivelile Mandlasizwe Dalibhunga Mandela van die Temboestam by Mvezo

Stamhoofde het Nelson Mandela se kleinseun, Mandla, as die nuwe wettige hoof van die Mandela-familie verklaar, in weerwil van die oudste dogter Makaziwe wat deur Winnie Madikizela-Mandela as hoof aangewys is.

“Of ons daarvan hou of nie, Mandla is die enigste persoon wat ons as leier van die Mandela-familie beskou,” het die AbaTemboe se koninklike woordvoerder Mfundo Mtirara Donderdag gesê.

Hy het gepraat in reaksie op Madikizela -Mandela se aankondiging vandeesweek dat Makaziwe Mandela nou die hoof van die gesin is.

Woensdagaand Madikizela-Mandela berigte in die media van die strydende Mandela-familie probeer weerlê .

“In ooreenstemming met gewoontereg en tradisie, sal die oudste dogter, Makaziwe Mandela, die familie met die ondersteuning van haar twee susters lei,” het sy gesê.

Maar Mtirara het gister gesê dat Makaziwe nie die familie kan lei nie.

“Leierskap gaan van vader na seun. Ons respekteer Makaziwe as die oudste dogter. Sy behoort Mandla te ondersteun en te adviseer,” het hy gesê.

Nkosi Xolile Ndevu , sekretaris-generaal van die Kongres vanTradisionele Leiers van SA , het gesê Mandla is die enigste erfgenaam van die leierskap van die Mandela-familie.

“Tradisioneel is daar geen manier waarop Makaziwe die familie lan lei nie. Mandla het die verantwoordelikheid om die familie se hoof te wees.

“Sy plig is om familiebyeenkomste te reël en te lei. Mafungwashe ( eerstegebore dogter ) kan nie enige tradisionele seremonies lei nie,” het hy gesê.

Mandla, Makaziwe en Madikizela -Mandela kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Suid-Afrikaners is stokkiesdraai-kampioene

lazyAfwesigheid by die werk die tyd van die jaar in Suid-Afrika is van die hoogste in die wêreld.

Só sê ‘n Kaapse regsverteenwoordiger, Michael Bagraim, wat geageer het op syfers van Statistiek Suid-Afrika wat wys dat afwesigheid van die werk Suid-Afrika sowat 12 miljard rand ‘n jaar kos.

Hy sê afwesigheid in die Feestyd neem tot bykans 20 persent toe. – RSG

ANC sal aanstons op integriteit van OB-verslag reageer

madonselaDie lekkasie van sekere inligting uit die Openbare Beskermer Thuli Madonsela se voorlopige Nkandla-verslag kon die geloofwaardigheid van die finale verslag aangetas het, meen bronne wat vertroud is met die saak.

Madonsela het Woesdag gesê dat een van die persone aan wie sy die voorlopige verslag gestuur het, dit kon laat uitlek het.

Die kabinet sal na verwagting vandag op die verwikkelinge reageer.

Vroeër het die hoofsekretaris van die ANC, Gwede Mantashe Madonsela se kantoor daarvan beskuldig dat hulle doelbewus die verslag laat uitlek het vir politieke gewin. Madonsela het die aantygins ontken.

Die waarnemende minister in die presidense wat verantwoordelik is vir prestasiemonitering, Angie Motshekga sal meer lig op die kwessie werp wanneer sy die media in Pretoria toespreek ná ‘n twee dae-lange vergadering deur die kabinet.

Madonsela sal ook vandag die media toespreek oor haar afgehandelde verslae oor verskeie ondersoeke, onder ander na die voormalige minister van kommunikasie, Dina Pule, die minister van Landbou en Visserye, Tina Joemat-Petterson, sowel as die SAUK.

Aardskudding tref Gauteng, Limpopo, Mpumalanga

Johannesburg
Johannesburg

Die aardskudding wat dele van Gauteng gisteraand getref het, is volgens berigte ook in dele van Hartbeespoort, Johannesburg, Limpopo en Mpumalanga gevoel.

Twitter-gebruikers van Pretoria tot Randburg het gisteraand gegons dat hulle mure en vloere vir vyf tot sewe sekondes geskud het.

Volgens berigte is geen skade aangemeld nie.

Verlede maand het ‘n aardskudding van vier op die Richterskaal dele van Johannesburg geruk. – RSG

Oud-Jeugliga-adjunk slaan vuis oor posisie

Lamola
Lamola

‘n Voormalige ampsdraer van die ANC-jeugliga, Ronald Lamola, het glo die naweek handgemeen geraak, het The Star Dinsdag berig.

Lamola het in Julius Malema se ampstermyn as die organisasie se adjunkpresident gedien.

Die vuisslanery het begin toe die adjunkvoorsitter van die Ehlanzeni-streek, Nathaniel Mashile, beweer het Lamola en Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, ontmoet in die geheim om ‘n sameswering te beplan.

Hy het die twee beskuldig dat hulle Mpumalanga se premier, David Mabuza, uit sy pos wil verwyder.

Lamola sê Mashile hom glo met ’n bottel gegooi het en hy homself moes verdedig. As hy nie terugbaklei het nie, sou sy aanvaller hom erg beseer het, het Lamola gesê.

Mashile het die aantygings ontken.

Die Britse bo-lip bewe

happypillsDie Britte se vermaarde stywe bo-lip het effens begin bewe.

Brittanje verbruik meer anti-depressante as byna al hulle bure in Europa, het ‘n internasionale studie het bevind.

Die Verenigde Koninkryk het die sewende hoogste voorskryfkoers vir medikasie soos Prozac in die Westerse wêreld, met 71 daaglikse dosisse per dag vir elke 1000 inwoners in 2011.

Dit is byna dubbel die 38 voorskrifdosisse per dag as ‘n dekade vroeër, volgens die studie deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling, wat die wêreld se geïndustrialiseerde lande verteenwoordig.

Die oplewing het gelei tot kommer onder sommige dokters dat antidepressante in Brittanje te maklik voorgeskryf word.

Die rede vir die oormatige gebruik van “geluk in ‘n botteltjie” word toegeskryf aan moeilike ekonomiese omstandighede en hoë werkloosheid.

Steenbrasdam het g’n kraak

Steenbrasdam
Steenbrasdam

Die stad Kaapstad het gerugte dat die wal van die Steenbrasdam naby Gordonsbaai ‘n kraak in het, as onverantwoordelik beskryf.

Volgens Farouk Robertson van die stad se Water en Sanitasie-afdeling word die gerugte op sosiale netwerke versprei.

Hy sê die swaar reënval van die afgelope naweek het veroorsaak dat die laer-Steenbrasdam oorvol is, wat volgens hom normaal is.

Opruimingswerk sal vandag voortgaan in die Wes- en Oos-Kaap wat die naweek onder swaar reën en oorstromings deurgeloop het.

Talle paaie in die Bredasdorp en Hermanus-omgewing is weens oorstromings steeds vir verkeer gesluit en so ook Champans Peak.

‘n Woordvoerder vir Rampbestuur in Kaapstad, Wilfred-Solomons Johannes, sê hulle het gister vanuit die lug ‘n beraming van die skade gedoen.

Inwoners in informele nedersettings het die ergste deurgeloop en meer as 18.000 mense word geraak, met sowat 300 wat in die Sir Lowry’s pas omgewing verwyder moes word.

Mense op die Kaapse Vlakte, Somerset-Wes en die Strand moes ook hulle huise verlaat.

Tien verdrinkings is in kusprovinsies aangemeld waarvan agt weens oorstromings in die Oos- en Wes-Kaap was. – RSG

Chinese beleggers wil Modderfontein in wêreldstad omskep

modderfontein‘n Chinse maatskappy van Hong Kong, Sjanghai Zondai beoog ‘n mini-stad oos van Johannesburg.

Die Modderfonteinarea in Gauteng gaan ‘n kommersiële transformasie beleef, en die ontwikkelaars hoop dat dit stede soos Londen , Hong Kong en New York Stad sal troef.

Die konglomeraat het 1600 hektaar grond gekoop en beplan om R80 miljard rand te belê om die stad ‘n hoofstad van die wêreld te maak .

In een van die grootste kommersiële eiendomstransaksies op die vasteland se geskiedenis, gaan die Chinese miljarde inploeg in ‘n poging om die rustige dorp te omskep in ‘n internasionale sakesentrum .

Die groep sal die grond van die AECI chemikalieë en plofstof maatskappy aankoop.

Stigter Zhikang Dai sê Chinese beleggers het meer vertroue in Suid-Afrika, eerder as Europa of Noord- Amerika.

Die 15 jaar plan vir Modderfontein sluit ‘n pretpark, 10 hotelle, 10 winkelsentrums, behuising en ‘n konferensiesentrum in.

Die groep sê ten minste 20.000 voltydse werkgeleenthede sal geskep word en hul ontwikkeling sal die swart middelklas teiken.

En terwyl sommige vrees dat die Chinese hul sake-praktyke op Suid-Afrika sal afdwing, sê die betrokkenes dit is nie die geval nie.

“China is hier vir sake. Hulle sal jou nie vertel hoe jy jou regering moet verander of watter godsdiens om te volg nie. Hulle rig nie militêre basisse op nie. Hulle kom hier om sake te doen,” sê Ernie Lai King van Edward Nathan Sonnenbergs .

Die Chinese beleggers het Suid-Afrikaners genooi om name vir hul nuwe stad, wat op die Chinese filosofie van lewe in harmonie met die natuur geskoei is, voor te stel.

 

Premier, LUR moet kwartmiljoen opdok vir hospitaal se nalatigheid

operasieDie premier van die Vrystaat asook die Vrystaatse LUR van gesondheid moet R250 000 aan ’n pasiënt betaal nadat ‘n operasie in ’n provinsiale hospitaal hom byna sy lewe gekos het.

Die personeel van die hospitaal het ’n depper in Donovan Gouws (37), ’n verkoopsverteenwoordiger van Torontoweg, Welkom, se buik gelos.

Hulle moet ook  se regskoste en die koste van vier deskundige getuies betaal, het waarnemende regter L.M.S. Sesele gister in die Vrystaatse hooggeregshof by ooreenkoms gelas, berig ​Volksblad.

Luidens hofstukke is sy blaas boonop ook geskeur in die operasie om ’n liesbreuk te herstel. Hy is in Februarie 2010 in die Bongani-hospitaal in Welkom geopereer.

Hy kon ná die operasie nie eet nie, was aanhoudend naar en het lewensbedreigende bloedvergiftiging opgedoen.

Carter wou Mbeki slaan oor hy Vigs-medisyne weerhou

Wou Vigs-medisyne met alle geweld verkoop
Wou Vigs-medisyne met alle geweld verkoop

Die voormalige Amerikaanse president Jimmy Carter het oudpres. Thabo Mbeki byna met die vuis toegetakel oor MIV/vigs-behandeling in Suid-Afrika, het die Sunday Times berig.

“Die eerste keer toe ek Kaapstad toe gekom het, het ek byna in ‘n vuisgeveg met die president van Suid-Afrika, Thabo Mbeki, betrokke geraak weens sy versuim om dié epidemie te takel, het Carter aan die Sondagkoerant gesê.

“Dit is die naaste wat ek gekom het om ‘n staatshoof aan die bors te gryp”.

Carter het gesê die rusie was oor Mbeki en die destydse minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, se weiering om vigs te behandel.

In 1999 het Mbeki beweer dat die antiretrovirale middel AZT  giftig is en het hy geweier om behandeling beskikbaar te stel ten spyte dat die Verenigde Nasies sy bystand aangebied het.

Carter het gesê hy en Bill Gates het Mbeki probeer oortuig om die antiretrovirale middel ten minste aan swanger vroue met vigs te gee, “maar Mbeki was daarteen gekant”. – Sapa