Druk is besig om op te laai teen die stakende Amcu-lede in die platinumbedryf.
Die mynwerkersvakbond, die NUM het die regering se versoek ondersteun om die stakende werkers in die platinumbedryf te vra om na hul werk terug te keer.
President Jacob Zuma en die minister van arbeid, Mildred Oliphant het vroeër ‘n beroep op Amcu gedoen om die staking te beëindig.
Amcu-lede staak al die afgelope drie maande. Die adjunk-president van die NUM, Thamsanqa Matosa sê die stakers wil die ekonomie vernietig.
Matosa sê die NUM het mynmaatskappye versoek om werkers te beskerm wat wil teruggaan werk toe. Hy sê NUM-lede wat werk, word ook geïntimideer.
Intussen het die hoofsekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi ‘n vraagteken oor eenheid in die drie-party alliansie in die aanloop tot die verkiesing geplaas.
Vavi en adjunk-president Kgalema Mothlanthe was hoofsprekers by die Werkersdagvieringe in Port Elizabeth.
Vavi het gesê die alliansie lyk goed op papier maar ‘n ware alliansie is een waarin mense saamwerk en met mekaar oorleg pleeg.
Hy het gesê niemand behoort in ‘n alliansie gemarginaliseerd te voel nie.
Drie Suid-Afrikaanse weermaglede is tydens ‘n aanval in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo gewond. Een verkeer in ‘n ernstige toestand.
Die twee anders sterk goed aan in ‘n hospitaal in Goma, volgens die SANW
‘n Woordvoerder van die departement van verdediging, Jaco Theunissen, sê een van die gewapende rebellegroepe in die DRK het in die vroeë oggendure ‘n Suid-Afrikaanse basis aangeval. Die soldaat wie se beserings as ernstig beskryf is, is stabiel.
Nog ‘n soldaat is deur skrapnel getref en ‘n derde soldaat het sy enkel in die skermutseling geswik.
Daar word geglo dat die rebelle gekoppel is aan die Mai Mai.
Die drie soldate is gewond in Nyabondo sowat 70 km noord van Goma in die oorloggeteisterde provinsie Noord-Kivu.
Die drie is deel van ‘n ontplooiing van 3000 soldate van Suid-Afrika, Malawi en Tanzanië, wat deel uitmaak van die VN-stabiliseringsending in die Kongo.
‘n Honderd Suid-Afrikaanse soldate uit ‘n 1000 in die DRK is by die Nyabondo-basis ontplooi, het kaptein Theunissen gesê.
Theunissen sê die soldate is aangeval deur ‘n geskatte 4500 rebelle in hul basis.
‘n Militêre kenner blameer die aanval op die Alliansie vir ‘n vrye en soewereine Kongo.
“Daar word geglo dit is Mai Mai. Hulle kom van Uganda na die DRK, want M23 is onlangs verslaan,” het hy gesê.
Die alliansie bestaan vermoedelik uit sowat 500 man, byna uitsluitlik lede van die Hunde-stam .
Die groep is betrokke in gewelddadige en uitgerekte grondgeskille met die Tutsi’s in Noord- Kivu.
Die Mai Mai is oënskynlik gevorm om die inval van Rwandese magte en geaffilieerde Kongolese rebellegroepe te weerstaan, maar daar word vermoed dat die groep spanning in die oostelike streek van die DRK uitbuit tot sy eie voordeel.
Theunissen het gesê die SANW het uitstekende werk gedoen in ‘n skoonmaakoperasie ná die aanval.
Indiërs wat so kerm oor die swart ANC-regering moet teruggaan na Indië, sê Visvin Reddy.
Reddy is ‘n voormalige ANC-raadslid en Chatsworth-takvoorsitter. Hy sê die klakouse marginaliseer hulleself net verder.
President Zuma het Indiërs voorheen as swart beskryf.
Reddy het kritiek gekry vir sy Facebook-opmerking, maar hy het gesê hy staan by sy omstrede opmerkings.
Op sy Facebook-blad oor ‘n week gelede het Reddy uitgevaar teen anti-ANC kommentaar. “Wag tot 8 Mei. Die ANC sal steeds die land regeer. Julle kermkouse moet die land verlaat. Gaan terug na Indië, en julle sal sien watter goeie lewe wat ons hier het. Gaan voort met julle gemors en marginaliseer julleself verder. Moenie die ANC blameer nie, blameer jouself. Jy het nog nie die demokrasie omhels nie. Slegs ‘n dwase Indiër in SA sal nie betrokke raak by die meerderheid op ‘n konstruktiewe wyse nie… ”
Hy het gesê enige kwaadwillige kritiek teen die regering wat kan lei tot die gespanne verhouding tussen swart en Indiër Suid-Afrikaners wil hy ontmoedig.
“Ek sê nie die kritiek teen die regering is nie welkom nie, maar dit moet op ‘n konstruktiewe wyse gedoen word, anders kan dit gesien word as ‘n aanval op die meerderheid en dat dit kan spanning skep,” het hy gesê.
“Ek sê, laat ons die meerderheid omhels… Soms is die kritiek wat jy sien kwaadwillig en is afkomstig van mense wat DA-propaganda gevoer word.”
Hy het gesê Indië het, ten spyte van sy ryk tradisies, ‘n groot bevolking en hoë vlakke van armoede.
Indiese leiers het Reddy vir sy kommentaar geroskam.
“Ons is hier gebore, ons is Suid-Afrikaners en niemand moet vir my sê om terug te gaan na Indië nie,” sê Ashwin Trikamjee , president van die Suid-Afrikaanse Hindoe Maha Sabha .
Trikamjee het egter saamgestem dat kritiek teen die ANC ongegrond en kwaadwillig is.
SA Minority Rights Equality Movement (Samrem) het gesê die kommentaar toon Reddy se eie rassistiese mentaliteit.
“Ons wil die ANC daaraan herinner dat wetgewing soos die Wet op Gelyke Indiensneming, die kwotastelsel wat gebaseer is op ras in die toelating van ons kinders by instellings van hoër onderwys, en die uitsluiting van minderheidsgroepe uit breë-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging is op sigself om apartheidstyl rassisme te bevestig,” het waarnemende voorsitter, Daleep Lutchman gesê.
Die ANC het hom gedistansieer van die uitlatings deur Reddy. Die provinsiale sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala sê Reddy se kommentaar is ongevraagd en is nie in voeling met die beginsels van ‘n demokrasie nie.
Zikalala sê die ANC besef hy het Indiërs se steun nodig en sal nooit teenoor hulle oneerbiedig wees nie.
Die verkiesingswiele het vanoggend amptelik begin rol toe Suid-Afrikaners in die buiteland hul kruisies kon trek, het RSG berig.
Die sowat 26.000 geregistreerde kiesers in die buiteland kan slegs aan die nasionale verkiesing deelneem en kan nie vir verteenwoordigers op provinsiale vlak stem nie.
Die meeste stemgeregtigde Suid-Afrikaners is in Londen, terwyl duisende kiesers ook in Afrika-lande woon en werk. In Nieu Seeland is die eerste kruisies in die Suid-Afrikaanse verkiesing getrek, terwyl Suid-Afrikaners in Amerika later vandag na die stembus sal gaan.
Slegs nege uit meer as 300 Suid-Afrikaners in Lesotho kon vandag hulle kruisies trek. Die adjunk-hoë kommissaris in Maseru, Sello Jele, sê gedurende die registrasieproses is meer as 300 mense geregistreer, maar slegs nege van hulle is goedgekeur om spesiale stemme uit te bring vir die komende algemene verkiesing.
Hy sê hulle was verbaas om dit te verneem. Hy sê van die redes is ongeldige identiteitsdokumente en die VEC-10-vorms wat voltooi moet word en wat nie betyds ontvang is nie.
In Swaziland verloop die stemmery vlot by die Hoë Kommissariaat in Mbabane. Die OVK se voorsittende beampte by die Kommissariaat,
Arron Themba sê kiesers kom drupsgewys aan en hulle hoop dat meer mense deur die dag sal opdaag. Meer as 70 Suid-Afrikaners in Swaziland het vir die verkiesing geregistreer. Stembusse sluit om negeuur.
In Kenia is Suid-Afrikaners besig om hul kruisies te trek by die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissariaat in Nairobi.
Talle kiesers het reeds vroegoggend opgedaag om te stem vir die komende verkiesing Woesdag in Suid-Afrika.
Die Hoë Kommissaris in Kenia, Ratubatsi Moloi sê hulle verwag dat al 156 geregistreerde kiesers, wat oor ‘n wye gebied in Kenia woon, vandag na Nairobi sal reis om te stem.
Front Nasionaal het sy wanhoop uitgespreek oor die departement van korrektiewe dienste se gesloer met Clive Derby-Lewis se mediese parool.
“Ons kom nou naby aan die 21-dae-ultimatum wat aan die departement van korrektiewe dienste gestel is tydens ons betoging op 12 April. Tot op hede het mnr. Clive Derby-Lewis nog nie enige mediese ondersoek deur die departement ondergaan nie,” sê dr. Dan Roodt, onderleier van die party. “Daarom gaan ons weereens ‘n memorandum aan die departement oorhandig op Vrydag 2 Mei om 12:00 by sy hoofkwartier in die Poyntons-gebou in Pretoria.”
‘n Stille betoging deur partylede wat plakkate dra, sal gehou word. Sekere partylede dreig om ‘n kommunistiese vlag te verbrand. “Ons begryp dat die hamer-en-sekel ‘n simbool van die Nasionale Demokratiese Revolusie is en deur Nelson Mandela en Joe Slovo gebruik is,” sê Roodt. “Maar sekere van ons lede is keelvol oor die onregverdige verlenging van Clive Derby-Lewis se straftydperk, dus is humeure besig om kort te raak.”
Terselfdertyd sal die party die eerste gebied in Pretoria verklaar wat vir kulturele selfbeskikking kwalifiseer. Afrikaans sal as die oorheersende kulturele, handels- en openbare taal in dié eerste “taaleiland” herstel word. Die plaaslike taal Afrikaans ly tans onder diskriminasie en marginalisering onder die ANC-bewind.
“Dis ongelukkig dat ons die term ‘taaleiland’, na die Duitse Sprachinsel, moet gebruik, maar in stryd met die SA grondwet is ons taal tot die status van ‘n dialek verlaag in ‘n openlik kolonialistiese, imperialistiese, verengelste Suid-Afrika,” sê Roodt. “In Johannesburg en in Kaapstad verwys vele mense beledigend na Afrikaans as ‘n “spreektaal” en ‘n “kombuistaal”. Drastiese stappe is nou nodig om die taal te bewaar, waaronder territoriale oplossings.”
Sowel die verdere aanhouding van Derby-Lewis, ‘n siek ou man, as die ondergang van Afrikaans is te wyte aan die misbruik en sentralisering van mag in die hande van slegs enkele mense in Suid-Afrika, verklaar die party.
“Ons gaan nie stilsit terwyl ‘n gerekende konserwatiewe denker soos Clive Derby-Lewis weens laakbare aanvalle en verwaarlosing in die tronk sterf nie. Insgelyks sal ons nie toelaat dat Afrikaans tot uitsterwing gedwing word deur beide die regering en groot sake nie,” sê Roodt.
Die polisie het oproeriges in Finetown naby Ennerdale, suid van Johannesburg, met rubberkoeëls uiteengejaag.
Motoriste is gevra om die gebied te vermy weens die geweld, veral by Jamesweg en Provincialweg.
Die polisie het op oproermakers naby die Indiërwoonbuurt Lenasia geskiet nadat hulle paaie versper en motoriste met klippe bestook het.
Gewelddadige swart inwoners het polisiebeamptes ook met bakstene gegooi en ‘n beampte is beseer in die oproer.
Hy is na die hospitaal vir behandeling geneem.
Die rede vir die protesoptrede is nie bekend nie.
Ennerdale het ‘n lang geskiedenis van gewelddadige opstand wat reeds vanaf 2006 woed.
Die gebied kan nie ontwikkel word nie omdat die grond onstabiel is weens dolomitiese klei en oorhoofse elektriese kraglyne, maar die plakkers wil nie na rede luister nie
Chaos is deel van gemeenskap wat voorheen die veeldoelige gemeenskapsentrum en plaaslike kliniek onder klippe gesteek het en kort-kort motors en sakeondernemings aan die brand steek.
‘n Plaaslike regeringsamptenaar is ook voorheen in die hospitaal opgeneem nadat hy ernstige beserings in die geweld opgedoen het.
ANC-amptenare vermy die gebied weens die dreigemente teen hulle.
MSF, oftewel Dokters Sonder Grense, se hoof Stefano Argenziano sê sy organisasie sal hul teenwoordigheid in die Sentraal-Afrikaanse Republiek heroorweeg nadat drie van hul personeellede doodgemaak is.
Argenziano het gepraat na aanleiding van die aanval in Boguila waarin minstens 22 mense, onder wie drie lede van die organisasie MSF, in ‘n aanval deur gewapende mans op ‘n hospitaal in die Sentraal Afrikaanse Republiek dood is.
Sowat tweeduisend Franse en meer as vyfduisend Afrika-vredesmaglede sukkel om die geweld in die land wat al meer as 18 maande woed, onder beheer te kry.
Die Afrikageleide MISCA-vredesmag het ook die aanval bevestig.
Volgens ‘n leëroffisier het drie gewapende aanvallers die gebou in die dorp bestorm waar die mediese liefdadigheidsgroep en plaaslike stamlede ‘n vergadering gehou het.
“Terwyl ons verbind bly tot die verskaffing van humanitêre hulp aan die gemeenskap, het ons ook die veiligheid van ons personeel om in ag te neem,” het Argenziano Maandag gesê.
Boguila is ‘n dorp naby die grens met Tsjad , waar MSF sedert 2006 ingegrawe is.
MSF het aangekondig dat die aanvallers ten minste 16 burgerlikes vermoor het.
‘n Woordvoerder vir die Franse ministerie van buitelandse sake, het Maandag gesê dat die Franse regering “die dodelike aanval sterk veroordeel”.
In Maart 2013 het Seleka-rebelle die Christelike President Francois Bozizé omvergewerp.
Die VN se hoof Ban Ki-moon, het reeds ‘n passievolle pleidooi aan die strydende partye gelewer om ‘n nuwe volksmoord in Afrika, 20 jaar na Rwanda, te voorkom.
Na ‘n eenparige stemming vroeër hierdie maand deur die Veiligheidsraad, sal ‘n VN-mag van 12.000 in September oorneem van 2000 Franse en 6000 Afrika-vredesmaglede reeds in plek.
President Jacob Zuma het godsdiensleiers gevra om hulle te weerhou van politieke aangeleenthede.
Zuma het Suid-Afrikaners gevra om te bid vir ‘n vreedsame verkiesing op 7 Mei by ‘n interkerklike diens by die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad.
Die EFF-leier Julius Malema het op sy beurt by ‘n verkiesingsaamtrek by Kwaggafontein in Mpumalanga swartes aangehits om grond terug te eis wat hulle sogenaamd onder die koloniale- en apartheidsbewind verloor het.
Malema se oproep kom nadat die Front Nasionaal die grootste wit grondeis ingedien het teen swart besetting.
Malema het na wittes wat die grond “gevat” het as “die vyand” verwys, maar bygevoeg dat “versoening” moontlik is as wittes swart aansprake aanvaar.
Malema het ook gesê dat hy nie in ‘n oorlog met president Jacob Zuma betrokke wil raak nie, maar dat Zuma in die pad staan van hul veldtog om die grond terug te kry.
Zoeloe-ondersteuners van die ANC het die EFF egter gekoggel oor hul onrealistiese grongrypdrome en gesê as wit bates genasionaliseer word sal geen enkele EFF-ondersteuner ‘n sent daarvan sien nie.
Die EFF se grondgrypaanslag is die breinkind van die wit Joodse aktivis Kim Heller.
Malema sal Dinsdag ‘n EFF-optog na die SAUK in Johannesburg lei oor die verbod op die party se verkiesingsadvertensie.
Okasa het die naweek ten gunste van die SAUK beslis oor sy besluit om nie die advertensie uit te saai nie.
Die komitee het beslis dat die advertensie onwettige optrede kan aanmoedig, omdat daarin gesê word dat mense fisies die e-tolpoorte moet afbreek.
Intussen sal die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, Pansy Tlakula, haarself vandag in die Verkiesingshof moet verdedig, na bewerings van ongerymdhede oor die huurkontrak van die OVK-hoofkantoor.
Tlakula is deur die UDM-leier, Bantu Holomisa, gevra om haar pos te ontruim.
Hy voer aan dat haar posisie die geloofwaardigheid van die kommissie en die vertroue van die publiek in die uitslag van die verkiesings, in die gedrang kan bring.
Die oproep om haar uitrede sal na verwagting nie veel oplewer nie, aangesien talle swart kiesers dit as nog ‘n anti-Zoeloe-front beskou.
Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, sal Dinsdag die interministeriële komitee lei na konflikbrandpunte in die Oos-Kaap waarby Holomisa geïmpliseer word.
Die komitee wil bestendigheid verseker in probleemareas voor aanstaande week se verkiesings.
Sterkspruit in die noorde van die provinsie is een van die plekke waar Holomisa inwoners aanhits om nie deel te wees van die Senqu-munisipaliteit nie.
Die munisipaliteit gee volgens die inwoners voorkeur aan ontwikkelings op Barkly-Oos en Lady Grey. Die UDM het inwoners belowe dat hy hulle eise na die Grondwethof sal neem.
Holomisa het inwoners ook belowe dat hulle geen regskoste vir die eise sal hoef te betaal nie. Dit is nie seker wie die koste sal dra nie.
Die Gautengse departement van Gesondheid gaan lughawens voortdurend monitor om te voorkom dat passasiers met aansteeklike siektes die land binnekom, het RSG berig.
Die LUR van Gesondheid, Hope Papo sê klinieke is geopen op die O R Tambo Internasionale Lughawe en die Lanseria Lughawe om gevaarlike virusinfeksies te voorkom.
Dit sluit alle hemorragiese virussiektes asook voëlgriep in.
Twee dokters, 14 verpleegkundiges en drie administratiewe personeellede is verantwoordelik vir die klinieke en om passasiers vanaf die buiteland te monitor.
Infrarooi-skandeerders is ook op die lughawens aangebring om reisigers met hoë liggaamstemperature te identifiseer.