VSA dreig SA met opskorting van AGOA

President Barack Obama het Suid-Afrika 60 dae gegee om te reageer om die AGOA-ooreenkoms te red.

Die African Growth and Opportunity Act (AGOA) is ‘n handelsooreenkoms wat die vrye invoer van Amerikaanse landbouprodukte in ruil vir uitvoervoordele behels.

Amerika sê Suid-Afrika het onder meer onnodige sanitêre vereistes vir Amerikaanse vark- en beesvleis ingestel, nadat pluimveeprodukte verlede Desember na ‘n uitbreking van voëlgriep verbied is.

Suid-Afrika sal die voordele ingevolge die wet op Afrika Groeigeleenthede prysgee, indien die hindernisse rakende Amerikaanse hoender- en vleisuitvoere nie uit die weg geruim word nie.

Die verlies aan voordele beloop na raming bykans R100 miljoen.

Suid-Afrika het ‘n spertyd van 15 Oktober misgeloop om op nuwe reëls vir invoere van Amerikaanse pluimvee- en vleis-produkte ooreen te kom.

“Ek neem hierdie stap omdat Suid-Afrika voortgaan om beperkings aan langdurige Amerikaanse handel te stel, insluitend hindernisse wat op sekere Amerikaanse landbou-uitvoere geld,” het hy gesê in ‘n brief aan die Kongres.

Vrye toegang tot Suid-Afrika vir Amerikaanse handel en belegging is een van die kriteria vir lidmaatskap van AGOA.

Die ooreenkoms is vroeër vanjaar hernu en bied belastingvrye toegang tot goedere van sub-Sahara Afrika-lande, wat wissel van ru-olie tot klere.

In 2014 het Suid-Afrika $176 miljoen se landbouprodukte na die Verenigde State uitgevoer onder AGOA.

Produkte wat geraak word sluit lemoene, wyn, makadamianeute en sitrussap in, volgens Amerikaanse data.

Suid-Kaap: Voëls toets negatief vir voëlgriep

Talle dooie voëls in die Suid-Kaap is negatief vir voëlgriep getoets, het RSG berig.

Die staatsveearts is ontbied nadat dooie trekvoëls in die Wildernis-gebied ontdek is.

‘n Woordvoerder van SanParke, Nandi Mgwadlamba sê daar is geen teken van voëlgriep of Newcastle-siekte by die voëls opgespoor nie.

Dit blyk dat die voëls gevrek het van ‘n bakteriële infeksie wat in die grond voorkom.

Warm temperature is nodig om dit te versprei. Dit hou geen gevaar vir mense in nie.

SA verbied voëlgriep-pluimvee uit Kanada, EU

Suid-Afrika het die invoer van pluimveeprodukte vanaf lande waar voëlgriep voorkom, verbied, het RSG berig.

‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Pluimvee Vereniging, Charlotte Nkuna sê die Departement van Landbou het die verbod uitgereik.

Die departement sal vandag vrae beantwoord oor die verbod. Kanada en talle lande in Europa, insluitende Brittanje, Duitsland en Nederland het duisende pluimvee vankant gemaak weens die virus.

Nkuna het bevestig dat pluimvee van plaaslike verskaffers veilig is vir verbruikers.

Die virus oorleef glo selfs in bevrore pluimvee.

Infrarooi by lughawens teen ebola, voëlgriep

ebola-disease1Die Gautengse departement van Gesondheid gaan lughawens voortdurend monitor om te voorkom dat passasiers met aansteeklike siektes die land binnekom, het RSG berig.

Die LUR van Gesondheid, Hope Papo sê klinieke is geopen op die O R Tambo Internasionale Lughawe en die Lanseria Lughawe om gevaarlike virusinfeksies te voorkom.

Dit sluit alle hemorragiese virussiektes asook voëlgriep in.

Twee dokters, 14 verpleegkundiges en drie administratiewe personeellede is verantwoordelik vir die klinieke en om passasiers vanaf die buiteland te monitor.

Infrarooi-skandeerders is ook op die lughawens aangebring om reisigers met hoë liggaamstemperature te identifiseer.