Julian Müller-boek sit gelowiges aan die dink

Die publikasie Geloof anderkant Sondag is deel van Julian Müller se trilogie. Die ander twee boeke is:  Om te mag twyfel en Opstanding. Dit blyk dat in die trilogie die aspek van “twyfel in geloof” sentraal staan.

Titel: Geloof anderkant Sondag
Skrywer: Julian Müller
Kategorie: Godsdiens
ISBN: 9780624066231
Datum Vrygestel: 21 Julie 2014
Prys (insl. BTW): R 175.00
Formaat: Sagteband, 204pp

‘n Beoordeling van eersgenoemde hang grootliks af van ‘n eie standpunt in sake:

  • Die kerk as godsdiensinstelling en
  • Geloof (beter gestel: oor die inhoud van geloof).

In ‘n Bybelse mensbeskouing is geloof ‘n eienskap of ‘n vermoë van menswees, naas ‘n juridiese besef, ‘n etiese verantwoordelikheid, ‘n sosiale lewe, ‘n ekonomiese aktiwiteit, ‘n taalvermoë, om logiese te kan dink, ens.

Dit is die inhoud wat die mens aan geloof gee wat dikwels omstrede is!

geloofanderkantIn hierdie verband kan (ja, moet!) die kerkbegrip aan ‘n struktuuranalise onderwerp word. Die kerk is ‘n enkele instelling in ‘n meer omvattende koninkryksperspektief. In ‘n koninkryksperspektief moet elke instelling ‘n godgewilde karakter hê en word elke instelling deur interne vryheid geken. So is die kerk ‘n vertikale godsdiensinstelling vir die formele aanbidding van Adonai Jahweh, naas en in onderskeiding van die volgende:

  • Die huwelik ‘n verbinding tussen man en vrou wat op gesinsvorming aangewese is.
  • Die gesin ‘n verbintenis tussen ouers en kinders, wat normaalweg bloedbande kan wees.
  • Die familie ‘n breër verbinding tussen bloedverwante is.
  • Die staat ‘n regsverbintenis vir die ordelike  samesyn van burgers binne ‘n spesifieke geografiese gebied.
  • ‘n Sake-onderneming ‘n dienslewerende instelling is wat ook op wins en groei ingestel is.
  • Ens.

In sodanige koninkryksperspektief is een instelling nie na ‘n ander te herlei nie maar vorm  al die instellinge ‘n kulturele inslag en volgens ‘n religieuse rigting ‘n eenheidskarakter.

In hierdie verband is die kerk ‘n godsdiensinstelling vir die formele aanbidding van GOD  en van ‘n gemeenskap van mense met dieselfde religieuse ingesteldheid. Die liturg tree namens die gemeenskap/gemeente op en dien terselfdertyd as verteenwoordiger van GOD, gegrond op Bybelse analise en eksegese. So gesien, is dit uiters riskant vir die liturg om:

  • Die kansel vir “social gospel”-stories te misbruik.
  • Twyfel te saai of selfs ruimte vir twyfel te maak, want twyfel binne hierdie konteks is ongeloof.
  • Riskante, verdelende dogma te verkondig.
  • Die formele karakter van die kerk in/tot ‘n vermaaklikheidsinstelling te misvorm.

In die bestuur van die kerk is dit uiters noodsaaklik dat lidmate sal weet:

  • dat die erediens ‘n formele aanbiddingskarakter het,
  • dat die Tien Gebooie en gebed en toewyding noodsaaklike liturgiese aktes en dade is, en
  • dat ‘n gemeente substrukture kan/moet daarstel om aan ander godsdiensbehoeftes  uitdrukking/vervulling te gee.

Daar is egter substrukture van ‘n kerk waar gemeentelike behoefte en teologie in mindere of meerdere mate bedryf kan word. Omdat die godsdiens noodwendig op dogmavorming aangewese is, is die wisselwerking tussen teologie as godsdienswetenskap en kerklike liturgie van die allergrootste belang. Die kloof tussen teoloog en dominee moet uitgewis word. Die verskil tussen die historiese Jesus van die teoloog en die mitiese Jesus van die kerk moet in ewewig gebring word. Die geskiedenis van die kerk begin nie, soos Markus Borg suggereer, vier jaar na die aanvang van die Christelike jaartelling nie, maar by Abraham 1800 jaar voor die christelike kalender.

Dit is teen bg. agtergrond dat Julian Müller aan die orde tree.

In die godsbeskouing van Müller is:

  • GOD duskant die Sondag transendent … teïsties (daar vêr) … gebaseer op ‘n drie-vlak-wêreldbeeld (hemel, aarde, onder die aarde).
  • GOD anderkant die Sondag post-teïsties … selfs pan-teïsties (in alles en ook buite alles). In so ‘n benadering speel die bloedteologie (die kruis … die nagmaal) van die Sondagkerk geen rol nie. Bloedteologie skep ‘n karikatuurbeeld van GOD!

In die Jesus van die geloof anderkant die Sondag is Jesus nie die geslagte lam in ‘n verlossingsleer nie, maar GOD se gesig na die wêreld. Na die voorbeeld van Jesus leer die mens GOD beter ken.

Die Sondagkerk soek mag … word twyfel uitgesluit … ly die kerk aan sekularisasie (ontkerkliking) van sy lidmate … ens.  Anderkant die Sondag is daar ruimte vir kritiese denke … is die kerk buigbaar en oop … gaan dit oor bediening … bestaan geloof en twyfel in harmonie … is daar oop gesprek.

Die vraag is nou welke kritiek/kommentaar ek op Müller se dokument, in die lig van my kerkbeskouing, nahou?

Toegepas op die NGK is daar ‘n historiese verbondenheid tussen NGK en politiek … eers onder NP-bewind en nou onder ANC-regering. Onder NP-bewind het die NG Kerk rasse-differensiasie aan die hand van die dokument “Ras, volk en nasie” vergoeilik … en toe die NP-politiek verander, dogmatiese klemverskuiwings in die dokument “Kerk en Samelewing” aangebring. Nou weer word “Belhar” omhels.  Is dit om die ANC ter wille te wees? Mag is dus, soos Julian Müller dit stel, belangrik vir die NGK.

Dogmaties gesproke hou die NGK vas aan die belydenis van Nicea waarop 325 jaar na Christus besluit is, onder voorsitterskap van die heidense keiser Konstantyn. Dit geld ook vir die sg. drie-eenheid maar wat in feite ‘n twee-eenheid word, wanneer die onderskeid tussen GOD en Jesus uitgewis word. Wat dít betref, is Müller weer reg, wanneer hy die godwording van Jesus bevraagteken. Dogmatiese vernuwing is eenvoudig nie deel van die NGK se opset en ingesteldheid nie.  Dit is wel part en deel van teoloë van die NGK.

Tewens, as die kerk staande wil bly, ten aansien van ‘n immer-veranderende mens, sal die kerk hom los moet maak van die pre-moderne/mitiese inhoude wat nog steeds sy belydenisskrifte kenmerk.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Müller sy lesers wil laat dink. Hy sien sy lesers as sy post-universitêre studente. Hy neem die leerstoel na die gemeenskap.  Dit maak sy boeke boeiend en aktueel.

Müller is ‘n plaasseun van Nigel. Kerkgaan was vir hom as kind ‘n straf. Tog studeer hy teologie. Sy eerste gemeente is in Johannesburg-Oos. Hier vind hy die Sondagkerk. By die studentegemeente is die kerk ‘n instelling anderkant die Sondag. As professor maak hy van die narratiewe leermetode gebruik.

Die lees van Julian Müller se Geloof anderkant Sondag word aanbeveel!

Voetsole en veldskoene: Chris Jones oor versoening

revolution-360x564deur Leon Lemmer

Chris Jones is ‘n teoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het onlangs ‘n artikel oor versoening in Die Burger (28 Des, p 15) gepubliseer. Daar word berig dat hy die hoof van die US se kantoor vir moraliteit en morele leierskap is. ‘n Mens mag hom dus seker op sy spesialiteitsgebied toets. ‘n Probleem wat hom dadelik voordoen, is dat Jones ‘n eienaardige soort teoloog is. Sy benadering kan seker as na-modernisties beskryf word, as vloei-saam-met-die-stroom; dus as iets in die mode is, kan dit maar onderskryf word.

Jones gun homself hierdie skynbaar bandelose vryheid deur anders as tradisionele teoloë nie na die Bybel te verwys nie. By geleentheid het hy beweer “truths – and in particular Bible truths – are not fixed but wax and wane with the ebb and flow of each new society and culture”. Daarmee pluk Jones enige sprake van ‘n bonatuurlike mat onder die Bybel uit. Die Bybel is volgens hom blykbaar ‘n suiwer mensuitgedinkte en mensgeskrewe teks. Die rots waarop Jones gevolglik eerder bou, is Chris Jones. Op dié manier het hy voorheen sy mening oor bv die doodstraf en homoseksualiteit gelug.

Hierdie keer sê hy dat ons van ons troontjies moet afklim, ons afgode moet agterlaat en mekaar as gelykes moet omhels. Versoening vind glo net tussen gelykes plaas. Dit lyk vir my na ‘n doodloopstraatopsie, want die praktyk toon baie duidelik dat, ten spyte van al die propaganda wat die teendeel beweer, ons in baie opsigte (die opsigte wat wesenlik saakmaak) nie gelykes is nie. Ons moet ons nie laat mislei deur gelykverklaring eers voor die reg en daarna in die politiek (een mens, een stem) nie.

Selfs voor die reg is mense nie gelyk nie, want rykes kan beter regshulp as armes bekostig, sommige mense verstaan hofprosedure beter as ander, kan hulle beter as ander uitdruk en dus hulle belange beter beskerm, ens. Een mens, een stem is in baie opsigte ‘n gevaarlike klug, want mense verskil hemelsbreed in bv ingeligtheid en insig. Die meeste plaaslike kiesers, baie van hulle funksioneel ongeletterd, het geen benul van wat werklik belangrik is in die hede of met die oog op die toekoms nie. Hulle stem op grond van ras, propaganda/hoorsê, intimidasie, ens, in die waan dat hulle hier en nou bevoordeel gaan word.

Waar Jones wei en waarnatoe hy mik, is duidelik, want hy voer sy betoog met woorde soos weerloses, gemarginaliseerdes, verwondes, magteloosheid, uitsluiting, geregtigheid en waardigheid. Al die genoemde woorde word deesdae gebruik (eintlik misbruik) om ‘n saak ter bevoordeling van nie-wittes uit te maak en om wittes te benadeel. Dit is omdat die wittes vir nie-wittes, en veral swartes, se beweerde benadeling verantwoordelik gehou word. Jones se standpunt laat ‘n mens dink aan Sergey Nechayev (1847-1882) en François Furet (1927-1997) se frase “revolusionêre kategismus”. Volgens die HAT beteken kategismus: “Kort begrip … van die vernaamste leerstellinge van ‘n godsdiens.”

Jones gebruik ook ‘n woord wat ons nie in die ou Suid-Afrika gehoor het nie, naamlik voetsoolvlak. Deesdae word die destydse bevoordelingshiërargie soos volg voorgestel: veldskoenvlak heel bo, gevolg deur plakkie- en tekkievlak, en dan die heel laagste, voetsoolvlak. In die nuwe Suid-Afrika is dié piramide, soos dit ‘n revolusie betaam, omgekeer. Diegene op voetsoolvlak (swartes) is nou bo en kry ongekwalifiseerd simpatie, dié op plakkie- en tekkievlak (Asiate en bruines) ‘n mate van simpatie, terwyl dié op veldskoenvlak (wittes, veral Afrikaners/Boere, insluitende boere) verguis word.

Hierdie rondte verwys Jones darem wél na die Bybel, naamlik na die storie van Rispa wat aan God, en nie aan die koning nie, gehoorsaam was. Sy neem nie wraak nie, maar waak eerder oor die lyke van haar kinders. Hierdie verhaal kan op verskillende maniere vertolk word. Jones se uitleg is: Rispa “wórd die gesig van versoening en herstellende geregtigheid.” Godsdiens moet, volgens Jones, nie vir politieke doeleindes misbruik word nie. In hierdie opsig lê daar vir hom op die US-kampus ‘n groot sendingveld braak, want daar is van die rektor en die studentedekaan tot by die dekaan van die fakulteit teologie en ook in daardie fakulteit baie bevrydingsteoloë vir wie dit in die eerste plek nie om religie gaan nie, maar om politiek.

Op die US-kampus is die frase “herstellende geregtigheid” ‘n gewilde mode-frase by veral bevrydings- en (as daar van hulle oor is) ander teoloë. Met “herstellende geregtigheid” word beweer dat daar tydens apartheid (eintlik) geen geregtigheid was nie en dat hierdie positiewe waarde nou teruggebring moet word. Dit word in dieselfde konteks as transformasie, bemagtiging, regstellende aksie, ens, gebruik; dus ter bevoordeling van nie-wittes en benadeling van wittes.

Die revolusionêre aard van hierdie soort geregtigheid word deur Jones belig wanneer hy afwisselend ook die (blykbaar sinonieme) frase “radikale geregtigheid” gebruik; ook “radikale versoening”, wat plaasvind as mense “plekke met die ‘ander’ ruil”. Jones se ideaal van absolute gelykheid word hiermee bereik. Daarom plaas hy “ander” tussen aanhalingstekens. In die salige staat waarin almal gelyk/eenders is, word alle andersheid ontken. Die probleem is dat dit ‘n illusie is; dat (soos die tuin van Eden) so ‘n opset nie in die werklikheid aangetref word nie.

Naas “geregtigheid” vereis terme soos “agtergeblewe” en “gemarginaliseer” ook kwalifisering voordat hulle ondubbelsinnig tuisbring wat bevrydingsteoloë wil sê. Vir bevrydingsteoloë is die probleem dat “agtergeblewe” en “gemarginaliseer” nie duidelik maak of die betrokkenes deur eie toedoen of deur die laakbare gedrag van ander mense agter geraak het of uitgeskuif is nie. Om seker te maak dat dit nie op eersgenoemdes se eie slegtigheid dui nie, word daar dan by voorkeur van “agtergesteldes” gepraat. Dan is die bedoeling duidelik, naamlik dat hierdie mense agtertoe gedwing is, dus dat wittes verantwoordelik gehou word as nie-wittes nie op peil is nie.

Jones se vervreemding van die werklikheid blyk duidelik uit wat hy skryf: “Radikale versoening lei tot ‘n nuwe mensheid … Hierdie núwe mensheid word dikwels gebore in die moeilikste situasies – deur te vergewe, te herstel en te genees.” ‘n Voorbeeld hiervan vind hy dan waaragtig in die naloop van die Reitz-4-episode, wat in werklikheid ‘n geval van grootliks onskuldige studentepret was. In daardie episode is niemand gedood of beseer nie en niemand het werklik skade gely nie, maar die gebeurtenis is ter inkriminering van blankes gewetenloos uitgebuit.

Maar Jones stu voort met nog frases: “deernisvolle geregtigheid” en “radikale transformasie”. Ook: “Deur radikale versoening en herstellende geregtigheid kry mense al meer heelheid.” Jones verwys ook na “ware versoening, genesing en herstel.” Dit sluit aan by die gewilde sinspeling dat daar tydens apartheid (net) gebrokenheid was en dat die wittes siek was en genees moet word.

Soos baie ander skrywers kon Jones in Desember nie iets publiseer sonder om gunstig na Nelson Mandela te verwys nie: “Mandela was iemand wat op profetiese wyse sy lewe vir vryheid en versoening geoffer het, en as president politieke integriteit en sterk waardes soos geregtigheid, vergifnis en menswaardigheid vir ons nagelaat het.” Let op die onnodige gebruik van die tipiese teologiese term “profetiese”. Let ook op die insinuasie dat Mandela soos ‘n messias/verlosser gesterf het om vir ons daardie rits wonderlike waardes te laat beërwe. In die Wikipedia word daarenteen beweer dat Mandela aan ‘n longkwaal dood is.

Wat ek ironies vind, is dat die militante Mandela, wat deur Jones as die toonbeeld van versoening opgehemel word, dit baie duidelik gemaak het dat versoening nie van albei kante, wit én swart, moet kom nie, maar net van die blankes se kant af. Nog meer ironies is dat Mandela ‘n “Reverend Jones” direk teenspreek: “Over and over, he [Jones] preached the importance of reconciliation – implying that it was we who needed to reconcile ourselves to the whites” (Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 537).

Jones se gevolgtrekking is: “Ons land sal meer effektief op die pad van radikale versoening moet vorder.” Is die idealistiese absolute gelykheid van die gespreksgenote hiervoor ‘n noodsaaklike voorwaarde, soos Jones beweer? ‘n Voorspoedige, veilige land sou myns insiens veel eerder die teelaarde vir die versoening van sy gelukkiger inwoners kon wees. Vir so ‘n land is ‘n heeltemal ander politieke grondslag as die huidige een egter noodsaaklik.

Dit sou versoening bevorder as ook van die dwaasheid van politieke korrektheid afgesien word en daar direk gesê word hoe sommige van ons landgenote kan verbeter. Daar het die onsinnige gewoonte posgevat dat net die wittes sonder ophou sleggesê kan word. Daarenteen mag nie-wittes nie op hulle ooglopende tekortkominge gewys word nie. Dit is heeltemal moontlik dat die een party meer rasioneel oor versoening kan dink en dus beter weet hoe om te versoen as die ander party, wat geneig kan wees om instinktief te reageer en te roem op etniese meerderheidsteun. Kwantiteit as sodanig kan egter nie ‘n tersaaklike bydrae tot versoening lewer nie.

‘n Bekende beeld wat dikwels gebruik word, is dié van die handgeweefde mat. Die koper wat die mat ontvang, kyk graag na die bokant, die mooi kant. Die arbeider wat die weefwerk gedoen het, is baie bewus van die onderkant, wat nie so mooi is nie. Suid-Afrika het grootliks onverdiend in die skoot van die swartes geval. Jones skaar hom aan hulle kant en dink wat hulle doen, is mooi. Daarenteen word diegene onder wie se leiding die land opgebou is, die wittes, deur Jones minder mooi voorgestel, al word ondernemingsgees en voortreflikheid veral by hulle aangetref.

‘n Variasie hierop is diegene, soos Jonathan Jansen, wat bekommerd is oor hoe die relatief talentloses die skoolstelsel ervaar. Daarenteen bekommer ek my oor die begaafde leerlinge wie se talente in ‘n uitsiglose skoolstelsel versmoor word; daardie mense wat die leiding kan neem om die land uit die moeras te sleep.

Dit lyk asof Jones net vir die wittes preek. Dit verbaas my altyd as iemand ernstig voorgee dat hy sy etnisiteit dermate ontgroei het dat hy geen poging aanwend om vir sy identiteitsgenote in die bres te tree nie. Dat daar militante, hardegat swartes is, soos hierbo uitgewys is, is ‘n feit. Hoekom nie direk vir nie-wittes, veral swartes, sê dat sommige van hulle moet ophou om af te breek wat onder wit bewind opgebou is en dat hulle gerus ook kan ophou om die wittes te treiter, te besteel, te benadeel en uit te moor nie? As daar wesenlike resultate na sodanige oproep is, sal dit ‘n hupstoot aan versoening gee.

Die reg op lewe is die fundamenteelste mensereg. Slegs lewende mense kan al daardie ander mooi klinkende menseregte geniet. Dít gee ‘n ander perspektief op die woorde van Antjie Krog waarmee Jones sy artikel afsluit: “Stukkie vir stukkie sterf ons in versoening.”

Nico Koopman se verlange na Nelson Mandela

mandela_tronkseldeur Leon Lemmer

Daar is ‘n rubriekskrywer wat die vermoë het om my meer as enige ander te irriteer. Ek verwys na Nico Koopman, die dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy word reeds baie lank toegelaat om ‘n rubriek in Die Burger te skryf. ‘n Mens sou dié koerant kon vergewe as hy Koopman destyds as ‘n potensiële rubriekskrywer wou toets. Hierdie Naspers-publikasie gaan immers reeds lank van die standpunt uit dat “die bruin stem” gehoor moet word.

In ‘n stadium het Die Burger ‘n bruin redakteur, Henry Jeffreys, ‘n bruin senior adjunk-redakteur, Zelda Jongbloed, en ‘n bruin politieke redakteur, Heindrich Wyngaard, gehad. Vir die tradisionele, konserwatiewe, Westersgeöriënteerde lesers van dié koerant was dit nag. Weens die skerp daling in erkende joernalistieke standaarde het die sirkulasiesyfers spoedig dermate gesak dat ooreengekom is dat Jeffreys binne ‘n dag sy kantoor ontruim. Kort daarna is Jongbloed na Rapport uitgeskuif en het Wyngaard uit die joernalistiek koers gekry. Op hierdie manier het hierdie khoitopie tot ‘n einde gekom.

By die Naspers-koerante is die skielike vervanging van redakteurs en ander joernaliste geen ongewone verskynsel nie. In die geval van sulke blankes gebeur dit daarna selde dat teks afkomstig van hulle gepubliseer word. Die genoemde drie bruines word egter polities korrek anders behandel.

Jeffreys behartig steeds ‘n rubriek, wat as “Middelgrond” bekendstaan. Hy ag homself eerder swart as bruin en daar is by hom sekerlik geen gematigde of ewewigtige taksering van blankes nie. Byvoorbeeld, onlangs het hy lesers getrakteer op ‘n stommiteit deur te vewys na “die wandade van die fisieke en geestelike onteiening van die verlede” (20 Nov, p 8). Jeffreys se “middelgrond” is dat hy nooit moeg word om die lof van sy twee groot helde, die swart Nelson Mandela en die bruin Trevor Manuel, ongekwalifiseerd te besing nie.

Aan Jongbloed word steeds ‘n verbruikersbladsy in die koerant toevertrou. Sy het al herhaaldelik vertel dat sy militant anti-blank was. Die vraag is in hoeverre daardie negatiewe gesindheid werklik tot die verlede behoort. Selfs Wyngaard word steeds periodiek toegelaat om vlak subjektiwiteite, wat nóg kant nóg wal raak, in Naspers-koerante te publiseer. Hy het op ‘n keer daarop geroem dat hy op Caledon met gemiddeld (as ek reg onthou) ‘n D-simbool deur die matriekeksamen geskraap het. Feitlik onvermydelik beklee selfs hy deesdae, ingevolge die sug na ‘n khoitopie, ‘n pos aan die US.

Maar ek wil nie oor Koopman se “dampkring” (eens ‘n gewilde woord in Die Burger) skryf nie, maar oor Koopman self. Die aanleiding vir my skrywe is sy rubriek, “Godsdiens Aktueel”, met die opskrif: “Ek verlang steeds na Mandela” (Die Burger, 20 Nov, p 9). Dit behoort vir die kritiese leser dadelik duidelik te wees dat dit vir Koopman as bevrydingsteoloog nie in die eerste plek om godsdiens gaan nie, maar om politiek. Hy verdoesel sy politieke motiewe deur voor te gee dat dit ‘n verskuiwing van sistematiese teologie, wat veronderstel is om sy doseerplig te wees, na openbare teologie is. Reeds oor ‘n baie lang tyd versprei hy in feitlik iedere rubriek onverdunde ANC-propaganda. Daar is ook sterk tekens van anti-blanke sentiment aanwesig.

As daar iets is waarvan Koopman myns insiens hou, is dit wanneer ‘n NG Kerk-gemeente, bv sy predikant, hom dermate aan naïwiteit oorgee dat Koopman genooi word om daar oor “versoening” te kom preek. Dit gee dan aan Koopman ruim geleentheid om vir die rassistiese wittes die leviete voor te lees: hoe boos hulle was en hoe boos sommige steeds is, hoe siek hulle is en hoe hulle genees kan word om so kerngesond soos Nico Koopman te word.

Waarom Koopman is soos hy is en ‘n geesgenoot van Russel Botman is, word duidelik as albei se akademiese agtergrond in oënskou geneem word. Albei het in die teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) studeer en is deur veral Jaap Durand en Dirkie Smit, onderskeidelik die inisieerder en skrywer van die Belhar-belydenis, beïnvloed. Sowel Koopman as Botman het myns insiens dieselfde buitengewoon klein register van tweedehandse idees. Hulle verwys by voorkeur en herhaaldelik na menswaardigheid, menseregte, versoening, geregtigheid, inklusiwiteit, diversiteit en multikulturaliteit. Koopman het die onderskeiding verwerf dat McBrolloks hom op 16 Januarie vanjaar tot Poephol van die Week verklaar het; ‘n feit wat maklik op die internet gekontroleer kan word. Naas die twee eertydse UWK-dosente wat ek pas genoem het, is Koopman se helde polities linkse teoloë soos Beyers Naudé en Willie Jonker.

Sowel Koopman as Botman het hoogs waarskynlik met apartheidsbeurse aan die UWK studeer. Wat ek wil hê, is dat hulle die integriteit moet hê om dit te erken. Ek wil ook weet of hulle al ooit dankie gesê het vir die skool- en naskoolse onderrig wat hulle tydens apartheid ontvang het. Botman roem daarop dat hy in 1976 in ‘n leidende hoedanigheid by die studente-onrus op die UWK-kampus betrokke was. Klippe is gegooi, vandalisme is gepleeg en geboue is afgebrand. Wat ek wil weet, is of Botman en sy mede-onrusstokers en -vandale al pogings aangewend het om die skade te vergoed wat hulle aan staatseiendom aangestig of aangerig het? Of skuil hulle, soos Desmond Tutu, vir eie gewin agter die duiwelse kairos-dwaalleer waarvolgens misdade wat teen apartheid gepleeg is, nie misdade is nie? In enige beskaafde samelewing behoort sulke gedrag die boosdoeners permanent ongeskik vir die bekleding van enige openbare pos te maak. In die nuwe Suid-Afrika sit daar egter baie sulke sondaars in baie hoë poste.

In sy rubriek van 20 November kontrasteer Koopman “die leiers in die apartheidsregering” met “leiers soos Nelson Mandela en Oliver Tambo, Albertina Sisulu en Helen Joseph”. Joseph se naam word slu bygevoeg sodat dit nie uitsluitlik ‘n wit/sleg en swart/goed kontras is nie. Die genoemde ANC-kamerade word deur Koopman geloof as “leiers wat staan vir menswaardigheid en vryheid, geregtigheid en waarheid, en vir offerbereidheid ter wille van noodlydendes. Die leiers was téén ontmensliking, uitbuiting, onreg en selfverryking”, Dít is reeds lank die refrein in die een Koopman-rubriek na die ander, maar Die Burger doen niks om die vloei van hierdie soort onverdunde gif, wat versoening beduiwel, stop te sit nie.

“Mandela en kie het die taak gehad om die oue te vernietig, maar die huidige leiers moet die reste van die oue afbreek én die nuwe te voorskyn bring. Dit is tog anders om apartheid af te breek as wat dit is om ‘n nuwe demokrasie te bou wat in ‘n komplekse werklikheid politieke, maatskaplike en ekonomiese welwees vir almal bring.” Die waarheid is dat Mandela en kie nie net apartheid wou vernietig nie, maar gepoog het om Suid-Afrika in sy geheel te ruïneer. Pleks van “welwees vir almal” is dit ‘n klein en dikwels eties bedenklike groepie wat buitensporig baie by die swart bewind baat vind. Koopman verkies om te eenogig te wees om dit op te let.

“Mandela het net een termyn geregeer en het dus minder tyd gehad om foute te maak. Hy het boonop geregeer in ‘n tyd toe die euforie rondom ‘n nuwe Suid-Afrika lewend was en toe die idealisering van struggle-helde baie groter was. Maar miskien wil die verlange na Mandela en kie juis nie stil word nie omdat ons tog gesien het hoe Mandela wel ook die weg na die nuwe baan, hoe hy in sy kort regeertyd help om die oue af te breek en in uiters komplekse tye die fondament van die nuwe help bou, hoe hy met integriteit en verantwoordelikheidsin bou aan ‘n samelewing van eenheid en begrip, versoening en vriendskap, geregtigheid en menswaardigheid.”

Dit is net by ANC-aktiviste soos Koopman dat daar “euforie rondom ‘n nuwe Suid-Afrika” en “die idealisering van struggle-helde” was. Dit is hy wat naïef en onkrities na Mandela verlang. Mandela was nie teen selfverryking gekant nie. Die stinkryk Mandela het bitter min in sy lewe gewerk. Mandela is nie die toonbeeld van “offerbereidheid ter wille van noodlydendes” nie. Hy het eerder homself en sy familie buitensporig verryk, maar Koopman kyk dit doelbewus mis.

Het Koopman dit al ooit nodig gevind om te wonder watter persentasie geldelike hulp van filantropiese ondernemings wat onder die Mandela-naam bedryf word, soos die kinderfonds, na blankes gekanaliseer word? Die bedrag is waarskynlik nul, maar ten spyte daarvan hou Koopman vol om Mandela met integriteit, versoening, geregtigheid en natuurlik nie-rassigheid te assosieer. Waar is Mandela se “ontfermende geregtigheid” en nie-rassigheid as dit by blankes kom? Dit is waarom ek op 29 September op Praag geskryf het: “Dit is vir my dikwels moeilik om te besluit of Botman of … Koopman … die grootste anti-akademiese euwel op die US-kampus is.”

Koopman probeer doelbewus om te mislei. Toestande in die land was nie tydens Mandela se bewind beter as nou omdat hy net vyf jaar lank die staatshoof was nie, maar gewoon omdat dit selfs vir die ANC nie moontlik is om dadelik af te breek wat oor eeue tydens die blanke bewind opgebou is nie. Hoe langer die swart bewind duur, des te meer is daar agteruitgang en verval op alle terreine. Ek het in my skrywe van 29 September op ander gevalle van hierdie selfde soort doelbewuste misleiding of oneerlikeid by Koopman gewys. Hy het valslik beweer dat nie-wittes tydens apartheid van universiteitsopleiding uitgesluit is; net so valslik dat daar nie nuwe uitsluitings teen wittes aan die Botman-US gepleeg word nie en dat etnisiteit net as ‘n tydelike rassediskriminasiemaatreël aan die US gebruik word. Koopman is deesdae, soos Botman, blatant ten gunste van rassediskriminasie teen blankes. Albei weet egter dat die UWK-vandale destyds klippe gegooi het met die oog op die afskaffing van alle rassediskriminasie. Daar is hier baie duidelik manteldraaiery.

Toe Koopman na aanleiding van erfenisdag op 25 September in Die Burger geskryf het, het hy op sy kenmerkend eensydige manier net oor die Belhar-belydenis, demokrasie en Mandela geskryf. Feitlik vanselfsprekend het hy ook na “apartheidsonreg” verwys. Alles wat die blankes oor eeue hier tot stand gebring het, insluitende die US, en al die goeie wat die NG Kerk vir bv Koopman en sy etniese groep gedoen het, insluitende die kweekskool op Stellenbosch, het hy halstarrig geïgnoreer. Skynbaar al wat prominent in Koopman se wêreldjie is, is sy verknogtheid aan ANC-politiek.

Perspektief is broodnodig. Koopman is die dekaan aan die US se fakulteit teologie, voorheen die kweekskool van die NG Kerk. Hy is veronderstel om akademiese leiding by die opleiding van predikante te gee. Tydens apartheid het daar deurgaans anti-apartheidstemme uit die kweekskool opgeklink, bv van Bennie Keet, Willie Jonker en Nico Smith. Die plek is sedertdien dermate getransformeer dat geen anti-ANC-stemme deesdae daar opklink nie; om van pro-blanke-, pro-Afrikaner- en pro-Afrikaans-stemme nie te praat nie. Geeneen in daardie fakulteit maak hoorbaar beswaar teen die feit dat die onderrigtaal in daardie fakulteit in selfs groter mate as in die res van die US verengels het nie.

By die aanstelling en bevordering van dosente speel ras/kleur en geslag, dus nie-akademiese oorwegings, ‘n deurslaggende rol. Op hierdie manier is die teologie-opleiding aan die US tot in sy kern vergiftig deur oud-UWK-dosente en -studente, waarvan Koopman een is. Die eertydse kweekskool van die NG Kerk het in die skoot geval van snood ondankbare, disrespekvolle en dislojale elemente, waarvan Koopman die toonbeeld is. Wat kan van die afgestudeerdes verwag word? Dat die meeste van hulle waarskynlik pro-ANC en pro-Belhar sal wees. Hierdie gif sal toenemend die hele NG Kerk deursuur, samesmelting met die VGK meebring en verseker dat Afrikaans as kerktaal in sy swernoot gaan.

My kommer oor Afrikaans is nie ongegrond nie. Die dislojaliteit teenoor Afrikaans by talle ontwikkelde bruines is algemeen bekend. ‘n Aantal jare gelede het Afrikaanssprekende bruin ouers die grenselose vermetelheid gehad om ses van hulle kinders by die Afrikaansmedium Laerskool Mikro in Kuilsrivier in te skryf en terselfdertyd te eis dat hulle onderrig in Engels moet wees. As die NG Kerk en die VGK saamsmelt, sal daar ongetwyfeld bruines by kerkbyeenkomste opdaag en eis dat die verrigtinge in Engels moet wees. As daar nie aan hulle eis gehoor gegee word nie, sal die bekende verwyte van liefdeloosheid en rassisme opklink.

In die lig van die voorafgaande kan minstens twee vrae gestel word. Is daar nie regsinnige reste in die NG Kerk en elders oor wat bereid is om ‘n kruistog te onderneem teen die toestand waarin die US se teologiese opleiding verval het nie? En was dit nie dalk onbillik van McBrolloks om Koopman vir net ‘n week lank tot poephol te verklaar nie?

Izak du Plessis is ‘n teologies verdwaalde gees

Ds Izak du Plessis het onlangs uit die NGK Valleisig as predikant bedank en wye publisiteit geniet. So gee Neels Jackson volbladpublisiteit aan Du Plessis se afskeidspreek in die Beeld van 8 Junie 2010.

Du Plessis is nie drukbaar in ‘n blik nie. Toe Du Plessis hom as predikant laat oplei het en as sodanig gelegitimeer is, moes hy geweet het dat hy ‘n ampsdraer van ‘n kerk word met ‘n bepaalde belydenis en dogma. Du Plessis se preek adem ‘n rewolusionêre gees van ‘n selfvergoddelikende mens.

Izak is ‘n biersuiper, vandaar sy behoefte om die plaaslike kroeg te besoek. Let daarop dat hy nie mense daar wil bekeer nie. Om ‘n kroegmeisie in nood te help is beter as om in die kerk te wees. Die kerk kan by die kroeg gaan leer om “om te gee”. As die kerk relevant wil wees moet hy soos ‘n kroeg word. Daarmee demonstreer Du Plessis sy onkunde, want die kerk is daardie plek waar ‘n gemeenskap van gelowiges in ‘n biddende houding voor God te staan kom. Dit is ‘n geloofsgemeenskap waar ‘n sekere styl gehandhaaf word en ‘n liturgie geld. Wie in God se teenwoordigheid is, is nie ‘n biersuiper en losprater nie, maar ‘n beskeie mens wat sy beperktheid en aardsheid ken.

Du Plessis erken nou dat die klagtes oor leerdwalinge wat teen hom ingebring is, en waarvan hy oor 19 onskuldig bevind is, wel geldig was. Die vraag is of hy toe die klagtes in behandeling geneem is, die guts en die juridiese
weg gevolg het om skuld te erken … of het dit vir hom toe oor oorlewing gegaan?
Hy sien sy dwaling as sy eie persoonlike saak. Daarmee verraai Du Plessis sy liberale individualisme. In die sentrum van sy lewens- en wêreldbeskouing staan hyself. God, verklaar hy, het die gevangene geword van menslik uitgedinkte stelsels. In Du Plessis se alternatiewe godsdiens doen hy presies dít wat hy teen waarsku: God word in menslike terme deur hom ingekleur. Daarmee maak Du Plessis vir God los van Sy selfopenbaring aan honderde skrywers oor baie jare. God is nie so lief vir Sy kinders as wat hy, Du Plessis vir sy biologiese kinders is nie. Du Plessis moes iewers in die teologie geleer het dat die wetenskap van die liefde die etiek is.

Etiek is ‘n intermenslike verhouding. Die mens staan nie in ‘n fundamenteel etiese verhouding tot God nie, maar ‘n religieuse grondverhouding. Du Plessis soek “compassion” by die mens. Dit is juis God wat in ‘n verhouding van “compassion” tot die mens staan.

Du Plessis soek “compassion” vir en teenoor die swanger meisie en die seksuele gaymens, by wyse van spreke, en legitimeer in die proses menslike dade wat in die godsdiens as sonde te tipeer is. Sonde, bedoelende daarmee dat wanneer die sosiale norme van God vir ‘n geordende en ordelike lewe gebreek word, die geloofsverhouding tussen mens en God versteur word.

Wat Du Plessis dus doen is om God te vermenslik en af te bring tot die vlak van intermenslike liefde. God, daar en teen, is Almagtig, is ‘n God van geregtigheid en wil reg laat geskied, by gebreke waarvan hy die sonde straf. God is ‘n God van die verbond wat kontrakte met die mens sluit. God is ook meelewend en genadevol. God word deur Du Plessis verskraal tot die misterieuse, terwyl God Homself duidelik kenbaar maak in die Skrifte.

‘n Ander dwaling is dat Du Plessis verklaar dat hy in God leef. Die teendeel is waar: die Gees van God lê beslag op die hart van die mens. Dit is in die hart van die mens waar die uitgange van die lewe is en wat in konkrete dade omgesit moet word.

Du Plessis is ongemaklik met konsepte soos hemel en hel. Die implikasie is duidelik: omdat God nie buite die mens bestaan nie, daarom kan God nie op ‘n plek wees waar Sy troon is en waar Hy omring is van hemelwesens wat die lof van God besing nie.

Die ergste van Du Plessis se onkunde is dat hy nie weet wat geloof is nie. Geloof is ‘n vermoë waaroor alles mense beskik om met die transendente God in kommunikasie te kan tree. Diep ingebed in die menswees van die mens is sy hunkering om met sy Skepper verenig te word. Godsdiens, daar en teen, is die konteks waarin die gesprek plaasvind. So verklaar Paulus voor die Romeinse Keiser dat hy God, na die voorbeeld van Jesus aanbid. Waarteen Du Plessis dit eintlik het, is nie oor en teen geloof nie, maar oor en teen die geykte godsdiens waarbinne hy as predikant gefunksioneer het.

As predikant was hy in ‘n besondere verhouding om nuwe inhoud aan die godsdiens, as konteks vir die waarmaking van die geloof, te gee. Die feit dat Du Plessis bedank het, dui daarop dat hy ook op hierdie kardinale punt gedwaal het.

no depositФильчаков прокурор отзывы