praag.co.za

Tag: geloof

  • ANC gevra om in te gryp nadat mediese studente in Kuba bid

    Die Kubaanse ambassade in Suid-Afrika het sy kommer aan die regering in Pretoria oorgedra oor Suid-Afrikaners wat hulself tot geloof wend.

    Kuba het onder kommunisme alle geloofsuitinge ter wille van Marxisme soos in die Sowjet-Unie, verbied. Die Castro-broers, harde Marxiste wat die eiland soos ‘n privaatfamiliebedryf bestuur, duld steeds geen godsdiensbeoefening nie.

    Van die Suid-Afrikaners wat in Kuba medies studeer, gebruik glo geloof om siekes te genees.

    Dit het meegebring dat KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid, Sibongiseni Dhlomo, `n beroep op die godsdiensleiers gedoen het om in te gryp.

    Dhlomo sê Kubaanse amptenare het hom ingelig dat van die studente tot sewe uur per dag bid en nie genoeg studeer nie.

    Dhlomo glo dat dit hul studies sal benadeel.

    KwaZulu-Natal het tans 789 studente in opleiding in Kuba en 85 gekwalifiseerde dokters in diens van die departement.

    Aan die einde van Augustus, het die departement nog 13 studente ingeskryf en 335 mediese studente sal terugkeer na Kuba.

    Dr Dhlomo het vroeër gesê hy sal vir die 26 studente wat nie hul eksamens geslaag het nie, bid. Hulle moet aanvullende eksamens skryf.

  • Julian Müller-boek sit gelowiges aan die dink

    Die publikasie Geloof anderkant Sondag is deel van Julian Müller se trilogie. Die ander twee boeke is:  Om te mag twyfel en Opstanding. Dit blyk dat in die trilogie die aspek van “twyfel in geloof” sentraal staan.

    Titel: Geloof anderkant Sondag
    Skrywer: Julian Müller
    Kategorie: Godsdiens
    ISBN: 9780624066231
    Datum Vrygestel: 21 Julie 2014
    Prys (insl. BTW): R 175.00
    Formaat: Sagteband, 204pp

    ‘n Beoordeling van eersgenoemde hang grootliks af van ‘n eie standpunt in sake:

    • Die kerk as godsdiensinstelling en
    • Geloof (beter gestel: oor die inhoud van geloof).

    In ‘n Bybelse mensbeskouing is geloof ‘n eienskap of ‘n vermoë van menswees, naas ‘n juridiese besef, ‘n etiese verantwoordelikheid, ‘n sosiale lewe, ‘n ekonomiese aktiwiteit, ‘n taalvermoë, om logiese te kan dink, ens.

    Dit is die inhoud wat die mens aan geloof gee wat dikwels omstrede is!

    geloofanderkantIn hierdie verband kan (ja, moet!) die kerkbegrip aan ‘n struktuuranalise onderwerp word. Die kerk is ‘n enkele instelling in ‘n meer omvattende koninkryksperspektief. In ‘n koninkryksperspektief moet elke instelling ‘n godgewilde karakter hê en word elke instelling deur interne vryheid geken. So is die kerk ‘n vertikale godsdiensinstelling vir die formele aanbidding van Adonai Jahweh, naas en in onderskeiding van die volgende:

    • Die huwelik ‘n verbinding tussen man en vrou wat op gesinsvorming aangewese is.
    • Die gesin ‘n verbintenis tussen ouers en kinders, wat normaalweg bloedbande kan wees.
    • Die familie ‘n breër verbinding tussen bloedverwante is.
    • Die staat ‘n regsverbintenis vir die ordelike  samesyn van burgers binne ‘n spesifieke geografiese gebied.
    • ‘n Sake-onderneming ‘n dienslewerende instelling is wat ook op wins en groei ingestel is.
    • Ens.

    In sodanige koninkryksperspektief is een instelling nie na ‘n ander te herlei nie maar vorm  al die instellinge ‘n kulturele inslag en volgens ‘n religieuse rigting ‘n eenheidskarakter.

    In hierdie verband is die kerk ‘n godsdiensinstelling vir die formele aanbidding van GOD  en van ‘n gemeenskap van mense met dieselfde religieuse ingesteldheid. Die liturg tree namens die gemeenskap/gemeente op en dien terselfdertyd as verteenwoordiger van GOD, gegrond op Bybelse analise en eksegese. So gesien, is dit uiters riskant vir die liturg om:

    • Die kansel vir “social gospel”-stories te misbruik.
    • Twyfel te saai of selfs ruimte vir twyfel te maak, want twyfel binne hierdie konteks is ongeloof.
    • Riskante, verdelende dogma te verkondig.
    • Die formele karakter van die kerk in/tot ‘n vermaaklikheidsinstelling te misvorm.

    In die bestuur van die kerk is dit uiters noodsaaklik dat lidmate sal weet:

    • dat die erediens ‘n formele aanbiddingskarakter het,
    • dat die Tien Gebooie en gebed en toewyding noodsaaklike liturgiese aktes en dade is, en
    • dat ‘n gemeente substrukture kan/moet daarstel om aan ander godsdiensbehoeftes  uitdrukking/vervulling te gee.

    Daar is egter substrukture van ‘n kerk waar gemeentelike behoefte en teologie in mindere of meerdere mate bedryf kan word. Omdat die godsdiens noodwendig op dogmavorming aangewese is, is die wisselwerking tussen teologie as godsdienswetenskap en kerklike liturgie van die allergrootste belang. Die kloof tussen teoloog en dominee moet uitgewis word. Die verskil tussen die historiese Jesus van die teoloog en die mitiese Jesus van die kerk moet in ewewig gebring word. Die geskiedenis van die kerk begin nie, soos Markus Borg suggereer, vier jaar na die aanvang van die Christelike jaartelling nie, maar by Abraham 1800 jaar voor die christelike kalender.

    Dit is teen bg. agtergrond dat Julian Müller aan die orde tree.

    In die godsbeskouing van Müller is:

    • GOD duskant die Sondag transendent … teïsties (daar vêr) … gebaseer op ‘n drie-vlak-wêreldbeeld (hemel, aarde, onder die aarde).
    • GOD anderkant die Sondag post-teïsties … selfs pan-teïsties (in alles en ook buite alles). In so ‘n benadering speel die bloedteologie (die kruis … die nagmaal) van die Sondagkerk geen rol nie. Bloedteologie skep ‘n karikatuurbeeld van GOD!

    In die Jesus van die geloof anderkant die Sondag is Jesus nie die geslagte lam in ‘n verlossingsleer nie, maar GOD se gesig na die wêreld. Na die voorbeeld van Jesus leer die mens GOD beter ken.

    Die Sondagkerk soek mag … word twyfel uitgesluit … ly die kerk aan sekularisasie (ontkerkliking) van sy lidmate … ens.  Anderkant die Sondag is daar ruimte vir kritiese denke … is die kerk buigbaar en oop … gaan dit oor bediening … bestaan geloof en twyfel in harmonie … is daar oop gesprek.

    Die vraag is nou welke kritiek/kommentaar ek op Müller se dokument, in die lig van my kerkbeskouing, nahou?

    Toegepas op die NGK is daar ‘n historiese verbondenheid tussen NGK en politiek … eers onder NP-bewind en nou onder ANC-regering. Onder NP-bewind het die NG Kerk rasse-differensiasie aan die hand van die dokument “Ras, volk en nasie” vergoeilik … en toe die NP-politiek verander, dogmatiese klemverskuiwings in die dokument “Kerk en Samelewing” aangebring. Nou weer word “Belhar” omhels.  Is dit om die ANC ter wille te wees? Mag is dus, soos Julian Müller dit stel, belangrik vir die NGK.

    Dogmaties gesproke hou die NGK vas aan die belydenis van Nicea waarop 325 jaar na Christus besluit is, onder voorsitterskap van die heidense keiser Konstantyn. Dit geld ook vir die sg. drie-eenheid maar wat in feite ‘n twee-eenheid word, wanneer die onderskeid tussen GOD en Jesus uitgewis word. Wat dít betref, is Müller weer reg, wanneer hy die godwording van Jesus bevraagteken. Dogmatiese vernuwing is eenvoudig nie deel van die NGK se opset en ingesteldheid nie.  Dit is wel part en deel van teoloë van die NGK.

    Tewens, as die kerk staande wil bly, ten aansien van ‘n immer-veranderende mens, sal die kerk hom los moet maak van die pre-moderne/mitiese inhoude wat nog steeds sy belydenisskrifte kenmerk.

    Uit bogenoemde is dit duidelik dat Müller sy lesers wil laat dink. Hy sien sy lesers as sy post-universitêre studente. Hy neem die leerstoel na die gemeenskap.  Dit maak sy boeke boeiend en aktueel.

    Müller is ‘n plaasseun van Nigel. Kerkgaan was vir hom as kind ‘n straf. Tog studeer hy teologie. Sy eerste gemeente is in Johannesburg-Oos. Hier vind hy die Sondagkerk. By die studentegemeente is die kerk ‘n instelling anderkant die Sondag. As professor maak hy van die narratiewe leermetode gebruik.

    Die lees van Julian Müller se Geloof anderkant Sondag word aanbeveel!

  • Aan diegene wat liewer in die hel wil regeer

    Deur Joseph Secreve.

    Dr. Piet Croucamp verteenwoordig die nuwe klas akademici wat die wêreld soos ‘n olievlek oorspoel. Daardie eendimensionele denkers wat geleer het om kwantitatief te kan meet en navorsing te doen, maar wat die kwalitatiewe dimensie aanbetref kan hy seker nie meer tekortskiet as wat hy doen nie. Veral nie in sy standpunte oor geloof waarvan hy kennelik geen idee het wat hy sê nie. Om so herhaaldelik te vloek en te tier is mos meestal ‘n teken van kapitulasie en onmag.

    Maar goed, sonder om die man te speel, kom ons weerlê die argumente wat hy te berde bring. Ons begin met die maklike en meetbare fasette van godsdiens en gaan daarna die misterieuse wêreld betree van die meer esoteriese oorsprong van die godsdiens wat hy so al te ywerig wil afbreek.

    Het iemand ooit gewonder hoekom Christendom so lank al oorleef het? As dit ‘n geloof van oorlog was, soos dikwels beweer word, sou die oorlewing daarvan sin gemaak het, veral vanuit sy tipies Darwiniaans-Spenseriaanse “Oorlewing van die sterkste” benadering. Christendom is egter nie so ingestel nie. Byvoorbeeld sien ons dat daar in die geskiedenis agt kruistogte was, en die laaste was so agt honderd jaar gelede. Dit is in groot teenstelling met Islam, wat in die kort rukkie sedert 11 September 2001 ‘n wafferse twintig duisend(!) jihads teen die Weste afgeroep het.

    Die antwoord kan gevind word in die benadering wat Christendom onderskei het van die heidense opvattings wat destyds in die Romeinse Ryk gegeld het. Op grafte en monumente kan ons sien dat die Christene langer geleef het as die heidene. Die beginsel van naasteliefde en geloof in ‘n hiernamaals het ‘n uitwerking veroorsaak dat die aanhangers se lewenskwaliteit op aarde verbeter het. Selfs die geroemde Grieks-Romeinse dokter Galen – ‘n heiden – het die hasepad gekies elke keer as daar ‘n effense epidemie uitgebreek het, terwyl die Christene agtergebly het om die siekes te genees. Meestal het sowat twee derdes beter geword onder die sorgsame hand van die Christene, en die aantal van hulle wat oorlede is as gevolg van die siektes was ook nie beduidend hoog nie. Dis nogal fantasties wat skoon water en kos aan ‘n mens se gesondheid kan doen, en dit lyk asof die Christene dit geweet het, selfs al was daar geen wetenskaplike bewyse destyds om dit te staaf nie.

    Die latere Protestantse werksetiek het wondere verrig om welvaart verder te verhoog, soos ons in die Weste al te goed weet, en net soos in die Romeinse tyd was daar voortdurend keisers gewees wat Christendom wou vernietig omdat die verbeterende lewensomstandighede ‘n bedreiging vir hul magsposisie beteken het. Vandag sit ons met die geheime argitekte van die Nuwe Wêreldorde wat om dieselfde redes Christendom in verderf wil stort. Kyk maar na die herhaalde aanvalle vanuit links op Amerika en Suid-Afrika destyds toe Protestantisme die heersende godsdiens was, en dit is duidelik dat ‘n Nuwe Protestantse Republiek (NPR) die magshebbers nie op hul gemak sit nie.

    Dit sien ons ook in die ou wêreld waar ek woon. Hier het Protestantisme sy ontstaan gehad, maar die welsynstaat sorg dat dit moeilik is om werklik ryk te word soos in die NPRe vanwee allerlei glasplafonne wat in die wetgewings verwerk is. Dit is om daardie rede ook nie toevallig nie dat Duitsland tydens die Koue Oorlog langs geloofslyne opgedeel was tussen oos en wes, met die Wessies wat gemengd Katoliek en Protestants was en die Ossies wat oorwegend Protestants was en onder die dwang van Kommunisme moes leef.

    Onthou, die nuwe wêreld stel ‘n nuwe begin voor. Die ruimte om jou kultuur opnuut uit te vind is so wyd soos die eindelose landskap self. Die ou wêreld is vasgevang in eeue oue range en stande, elkeen wat op min of meer gespanne voet teenoor mekaar staan. Die welsynstaat was onder andere ook ingestel om die onsigbare kastes van Europa se welvarende stande in stand te hou deur die onderklasse se werk te bemoeilik om hoër op te beweeg.

    In sy uitbarsting blyk weereens dat Kloukramp onder die indruk is dat ‘n gebrek aan intelligensie ‘n mens na geloof lei. Onder andere verwys hy na die absurditeit van die kruisiging van Christus en dat daar kwansuis iets verkeerd is met die frontale lobbe van sy gelowige opponent. Dit wys weereens die feit dat iemand hoog opgelei is wil nie sê dat so iemand ‘n intellektuele ingesteldheid het nie.

    Op watter plek was Christus gekruisig? Golgotha: Die Plek van die …ja, u het reg geraai…die Plek van die Hoofskedel. Het iemand ooit die esoteriese boodskap daarvan bevraagteken? ‘n Mens se frontale lobbe sit mos in sy hoofskedel, aan die voorkant. Deur Christus te kruisig was die lig (vgl. Son – Seun, of Engels Sun – Son, of Nederlands Zon – Zoon) uitgedoof. Die lig van verligting was weg en het plek gemaak vir duisternis en bygeloof. Die mens was teruggeworpe in ‘n staat van dierlike angs in die nag nadat Christus die Gees gegee het.

    In soortgelyke verband het Emanuel Swedenborg ook geskryf dat die invloei van die Godheid deur die voorhoof plaasvind en daarna oor die gesig uitsprei, aangesien die voorhoof die setel van intellek is en die gelaat die binneste van die mens weerspieel. Hoewel hierdie verklaring uiters esoteries is, sien ons ‘n soortgelyke argument in Plato se Wette. Hierin het Plato verwys na slawe wat opgelei is as dokters teenoor wyse mense wat opgelei is as dokters. Die slawedokters volg instruksies maar verstaan nie die dieper werkinge daaragter nie. Met ander woorde hulle is goed opgelei maar het nie veel wysheid nie. Die wyse dokters verstaan die oorsprong en waardigheid van die mens beter.

    In die twintigste eeu is daar tallose voorbeelde hoe ateïsties opgeleide wetenskaplikes die grootste gruwel denkbaar op die planeet losgelaat het, van Mengele-eksperimente tot gedagtebeheerde slawe onder MK Ultra. Sulke eksperimente behoort nie slegs tot die verlede nie, maar word nog daagliks in lande soos Noord-Korea toegepas. Die uiters verontrustende outobiografie van Cathy O’Brien – Trance Formation of America – bewys dat daar nog steeds agter die skerms in die Verenigde State eksperimente op mense gedoen word wat suiwer satanisties is, om die minste te sê. Daar is dus wetenskap en bewys, maar uiters gevaarlik vanwee die totale gewetenloosheid waarmee hierdie wetenskap bedryf word.

    Daar kan dus onderskei word tussen twee soorte intellek, te wete ‘n laer intellek en ‘n hoër intellek. Die laer intellek bestaan uit hierdie genoemde wetenskaplike aberrasies en die hoër intellek bestaan uit die dieper begrip van iemand se menswees. Ek dink ons kan redelik maklik stel op watter vlak ons die spiritualiteit kan plaas en op watter vlak ons dr. Kopdoek se gedagtes kan indeel.

    Weereens het Swedenborg hierna verwys oor geeste wat na die hemel gegaan het met die gedagte dat hul innerlike gevoel van goedheid nie saakmaak nie: “…but when they came there, because their interior life was contrary to the angelic life, their intellectual faculties began to be blinded until they became like fools; and they began to be tortured in their voluntary faculties until they became like madmen. In a word, if those that have lived wickedly come into heaven they gasp for breath and writhe about, like fish out of water in the air. From this it can be seen that heaven is not outside of a man but within him.” (Uit: Heaven and Hell, stelling 54).

    Volgens Swedenborg verban geen godheid die mens na die hel nie, en probeer mense juis daaruit weg te lok. Mense gooi hulself in die hel, aangesien dit die omgewing is waar slegte mense nou eenmaal tuis voel. Die Bybelse “geween en gekners van tande” is die konstante vertrapping van slegte mense onder mekaar wat probeer om oor hul mindere te heers.

    Die interessante eienskap van ‘n monoteïstiese geloof is dat dit ‘n mens juis stimuleer om meer na te dink oor spirituele kwessies. By politeïstiese gelowe, waar baie gode heers, elkeen met ‘n spesifieke taak, word minder oor geloof nagedink, aangesien minder eise gestel word om na te dink oor die aard van die godheid. Weereens het monoteïsme gelei tot dieper en interessante insigte, veral omdat die godheid in monoteïsme moeilik peilbaar is.

    Een van Christendom se grootste bates in terme van sy verligtingsideale is die standpunt dat meerdere waarhede tegelyk kan bestaan. Vanuit die Grieke het ons geleer dat die mens uit twee nature bestaan, een dierlik en ander geestelik. In hierdie model moet een eienskap verdring word om die ander te bevoordeel. Sedert die meerdere-waarhede logika wat Christendom moontlik gemaak het, het ons geleer om te dink dat altwee mekaar moet komplimenteer om saam groter hoogtes te bereik. Soos Kierkegaard in Sygdommen til Toden (Die Siekte tot die Dood) geskryf het is die mens ’n sintese van die eindige en die eindelose, die tydelike en die ewige, van vryheid en noodsaak. Dit is dus uiters ironies dat die Hegeliaanse dialektiek (tese en antitese wat saam ‘n sintese vorm) wat die Kommuniste so graag aanhang ‘n suiwer Christelike oorsprong het; net jammer dat hulle nie oor die subtiliteite beskik om dit reg toe te pas nie.

    Sonder hierdie meervoudige waarheidmodel sou die moderne tyd net so grys, onverlig en monotoon wees soos wat Groukamp ons probeer weergee.

    So terloops, navorsing in die Verenigde State het uitgewys dat professore in die wiskunde en natuurwetenskappe eerder geneig is om kerk toe te gaan as hul kollegas uit ander fakulteite, wat aangee dat die suiwer wetenskappe nie genoeg is om ’n mens se spirituele dors te les nie. Daarbenewens is kerkgangers gelukkiger as ateïste, wat ‘n verdere aanduiding is dat Freud se standpunt dat godsdiens ‘n neurose is op klinkklare onsin berus. Andersins is mense uit die hoër middelklas eerder geneig om gelowig te wees of gereeld die kerk te besoek as mense uit die armer klasse. Daardie marxistiese stelling dat geloof die opium van die massa is, is met ander woorde ook ’n gefabriseerde twakstorie.

    Iets wat Kopkramp waarskynlik nie besef nie, is dat die oorspronklike skrywer van die Kommunistiese Manifes – Adam Weishaupt – geen idioot was nie. Hy het terdee geweet watter invloed geloof op mense gehad het, en hoekom dit vernietig moes word. Dit leer ons ook argeloos aan ons kinders as ons na die stryd tussen Dawid en Goliat verwys.

    Dawid het ’n reus verslaan deur hom met ’n primitiewe wapen presies tussen die oë te tref. Onthou die bogenoemde stelling oor die setel van goddelike ingewing. Wat Dawid in feite gedoen het is om Goliat se geestelike bewussyn uit te gooi. In die Hindoegodsdiens word verwys na die derde oog wat tussen die oë gesetel is, die oog wat oopgaan by bepeinsing van die allerhoogste. In die Egiptiese mitologie sien ons hoe die borsbeelde van die Farao’s ’n kobra het wat tussen die oë sit. Die slang simboliseer sluheid, en dit is die eienskap wat ’n koning moet hê om te regeer. Vergelyk ook Christus te boodskap in Mattheus 10:16 “Wees so skerpsinnig soos die slang maar behou die onskuld van die duif”.

    Toe Goliat sy spreekwoordelike derde oog verloor het, was dit kinderspel gewees om hom volledig te verslaan. Sodra ’n volk – hoe groot en magtig dan ook – sy geestelike krag verloor, is hy maklik verslaanbaar.

    Vergelyk ook die verhaal van Christus wat op water loop. Dit is ’n simbool van geloof gewees. Geloof bestaan uit die vermoë om uit jou omstandighede te transendeer. Toe Petrus na Hom wou loop en begin vrees, het hy weggesink. Dit simboliseer dat ’n mens sy swakhede kan oorkom deur te glo. Water geld as ’n eenvoudige simbool wat almal kan verstaan, vandaar dat hierdie voorbeeld gebruik was.

    Maar goed, daar is nog heelwat verhale in die Bybel wat simbolies is van dieperliggende aspekte. Aangesien dr. Koplap so graag staatmaak op wetenskaplike bewyse sal ek graag wou weet hoe hy die volgende wetenskaplik kan verklaar.

    Sedert ongeveer die periode vanaf 600 VC het iets dramaties plaasgevind dwarsoor die wêreld. In hierdie periode het die mens blykbaar opeens die vermoë ontwikkel om selfrefleksie toe te pas. Mense het meer eties, wiskundig en filosofiser begin word, en was ook gekenmerk deur die opkoms van Zarathoestra, Boeddha, Lao-Tsoe, Confucius, Xenophanes, Pythagoras, Isaiah, Theagenes en Hecataeus. Hindoeïsme het die geloof van Indië geword, die konsep van karma het by die Hindoes en Boeddhiste wortel geskiet, en Jeremia en Ezekiel het die nadruk begin lê op ’n mens se eie verantwoordelikheid. Die Olmeks in Meso-Amerika het ’n nuwe kalender ontwikkel, en die saad van monoteïsme was geplant in hierdie tyd.

    Moderne wetenskap het bewys dat astrologie geen invloed het om menslike gedrag nie, maar snaaks genoeg het hierdie bogenoemde verwikkeling juis plaasgevind met die opkoms van die Vistydperk. Hoe is dit moontlik dat so baie volkere, waarvan die meeste mekaar nie geken het nie, hierdie skielike wending ondergaan het?

    Anders sou ek wou weet hoe dit moontlik is dat die Egiptiese Oog van Horus presies lyk soos ’n afbeelding van die hipofise in die brein. Hoe het hulle destyds die verband geweet tussen hierdie orgaan en ’n mens se gemoedstemming?

    Die planeet Saturnus het ’n belangrike plek verower in die antieke en moderne godsdienste. Saturnus word van oudsher voorgestel met ’n swart kubus, of anders met ’n seshoekige Joodse Dawidster. Kyk maar as Jode bid dan bind hulle ’n swart kubus op hul voorkop, en Moslems loop om die swart kubus in Mekka tydens hul jaarlikse pelgrimstog. Hoekom loop Moslems antikloksgewys om die Kaaba? Die ringe van Saturnus draai ook antikloksgewys. Hoe het hulle dit destyds geweet toe daar geen teleskope was nie? Laat staan nog dat die noordpool van Saturnus seshoekig is soos ’n Dawidster. Hierdie ontdekking van die noordpool is baie onlangs eers ontdek. Hoe het hulle dit duisende jare gelede geweet?

    Dit is hierdie vrae wat eindeloos bind en die mens herinner dat sy lewe meer inhoud het as wat hy dink. Wetenskap is ’n instrument om vooruit te kom, maar verval in verskrikking as daar geen geestelike krag is om dit sinvol te maak nie.

    Net jammer dat die geleerdes nie hierdie waarhede meer raaksien nie.

  • Piet Croucamp vloek sy weg deur ‘n debat oor die bestaan van God

    In hierdie opname wat ons van ‘n leser ontvang het, argumenteer dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg teen die bestaan van God in debat met ‘n Christen.

    Hy beskryf sowel God as Jesus Christus as “breindood”. Hy maak ook van die F-woord gebruik om sy argument te staaf.

  • Selfs ‘n skietgebedjie help vir selfbeheersing

    Selfs ‘n skietgebedjie help vir selfbeheersing

    gebedDie jongste studie deur die Duitse sielkundiges by Saarland Universiteit en die Universiteit van Mannheim, het bevind dat gebed mense help met selfbeheersing.

    ‘n Skietgebedjie kan die selfbeheersingsuitputtingseffek omkeer, het die span bevind. Die bevindinge is in die Journal of Experimental Social Psycology aanlyn gepubliseer.

    “Hierdie resultate is in ooreenstemming met en dra by tot ‘n groeiende liggaam van bevindinge wat getuig van die positiewe effekte van gebed op selfbeheersing.”

    Gebed is reeds in die verlede gekoppel aan laer vlakke van ontrouheid en alkoholverbruik.

    Die Duitse skrywers het 79 mense, waarvan 41 is Christene is, 14 ateïste, 10 agnostici en 14 van ander godsdienste, gevra om deel te neem.

    Deelnemers was elkeen alleen gelaat vir vyf minute en gevra om óf te bid of vrylik oor een ding so intens as moontlik te dink.

    Volgende het hulle almal gekyk na grappige filmuittreksels met die helfte wat normaalweg reageer het en die ander helfte probeer het om hul emosies te onderdruk en hulle gesigsreaksies te beheer.

    Ten slotte, het hulle aan Strooptoetse deelgeneem waar woorde kleure beskryf maar verskyn in verskillende kleure ink, soos die woord blou geskryf in rooi ink.

    Vorige bevindings het getoon dat wanneer mense hard probeer om hul emosies en gedagtes te beheer, hulle die risiko van aggressiewe uitbarstings en ​​drankmisbruik of ooreet verhoog.

    Deelnemers moes reageer op die inkkleur, nie die geskrewe woord nie, wat selfbeheersing vra.

    Diegene wat vrylik in die eerste deel van die toets gedink het en toe probeer het om hul emosies tydens die filmstrokies te onderdruk het gesukkel met die Strooptaak.

    Maar dit was nie die geval vir die deelnemers wat aan die begin van die studie gebid het nie.

    Hulle het hoë vlakke van selfbeheersing tot aan die einde getoon.

    Die skrywers het ook bevind dat diegene wat die eers gebid het net so hard probeer het om emosies tydens die filmstrokies te onderdruk, maar het nie uitgeput geraak daarvan nie.

  • Konserwatief en gelowig, altyd aan die verkeerde kant

    Konserwatief en gelowig, altyd aan die verkeerde kant

    Swedenborg
    Swedenborg

    Deur Joseph Secrève

    Ek het tot dusver al gaande die menings van verskeie hofnarre gevolg wat een of ander kinderlike vreugde beleef om hul eie volk voortdurend te beswadder en verkleineer. Hiermee is ons geneig om te dink dat ons te make het met ‘n fenomeen van hierdie tyd, maar eintlik is hierdie iets wat al duisende jare oud is. So oud selfs dat dit in die Bybel opgeneem is. Ek wonder so af en toe hoe Paul Kruger sou gekyk het na sy geliefde stad (deesdae stat) en hoe dit verword het tot die soveelste multikulturele Hoer van Babilon.

    Interessant genoeg het die Romeinse krygsman Vegetius die anargie in die laat vierde eeu NC treffend omskryf, verwysend na die arrogansie waarmee die Romeine hul lewenswyse op ander afgedwing het, en om in Judea grondbelasting aan die Joodse inwoners op hul eie grondgebied te hef. Daardie wêreld was gekenmerk deur anargie, roofsug, verraad en verdorwenheid. Tegelykertyd was daar ’n bespotting gemaak van vroomheid, geregtigheid en menslikheid, en het dit voorgekom “asof die wêreld deur die Satan self geregeer was”. Die goeie middelklasburgers met hul Hellenistiese opvoeding het ook steeds meer onder druk gestaan en bedreig gevoel in hul voortbestaan, en het uiteindelik geen keuse gehad as om hul kragte saam te snoer ter wille van hul oorlewing nie.

    Dit lyk asof ons – soos die bekende gesegde – besig is om die geskiedenis te herhaal.

    Ons hoor byvoorbeeld akademi…ek bedoel kwasi-geletterde kleuters met kopdoeke aan, wat meen dat volksgenote wat tot die konserwatiewe kant behoort oor een of ander ondergemiddelde IK beskik. Hulle sou na alle waarskynlikheid ook “wetenskaplike” bevindinge kan staaf waarin hulle gelyk gegee word. Sug! Ook so oud soos die berge!

    Hierdie betreffende kleuter, dr. Piet Croucamp herhaal in feite opvattings wat sedert die wetenskapsrewolusie in die laat negentiende eeu en deur die twintigste eeu gebesig is. Die groot ironie is natuurlik dat die konserwatiewes altyd argwanend teenoor sulke bevindinge was terwyl die progressiewes hul selfvertroue in die wetenstaplike metode skaamteloos oorskat het. En daar is heelwat van hulle. Neem byvoorbeeld die Britse eugenetici Sir Francis Galton en Havelock Ellis, wat geglo het dat die swakker rasse verbied sou moet word om voort te plant, of Galton se neef Charles Darwin se bekende werk “On the Origin of Species or The Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life” (my kursivering). Daarnaas het ons ook ander linkses gehad soos Sir Julian Huxley, daardie sosialistiese voorbok wat so heftig kapsie gemaak het teen apartheid maar tegelyk ook geglo het in eugenetika, of die kommunis Hermann J. Muller wat ‘n Nobelprys gewen het vir sy bewering dat volkere gekweek kan word na de belang van die staat, onder andere deur sommiges te steriliseer.

    Die Sweedse Karolinska Instituut se afdeling Rassehigiëne het tussen 1930 en 1978 ongeveer 63 000 sterilisasies uitgevoer aan mense wat hulle as “onbevoeg” beskou het, en het nog honderde duisende mense van verskillende rasse ondersoek om te “bewys” dat die Sweedse ras ‘n beter soort was. Uiteindelik het die afdeling se deure gesluit nie omdat dit omstrede was nie, maar bloot omdat die tydsgees verander het en publieke belangstelling begin afneem het. Die belangrikste borg van die afdeling Rassehigiëne was niemand minder nie as die Nobel Instituut; daardie selfde groepie dus wat Vredespryse uitgedeel het aan al die wêreld se belangrikste terroriste en massamoordenaars, wat wissel van Henry Kissinger tot Mandela, van Arafat tot Obama.

    Ook het die Britse neuroloog HL Gordon – na aanleiding van sy navorsing van die breine van honderde swartes – gestaaf in The East African Medical Journal van 1943 dat hy ‘n neurologiese minderwaardigheid by hulle gevind het: “van 14,8%, om presies te wees”.

    Om maar te swyg oor die Britse Boerehater en romanskrywer Sir H. Rider Haggard wat gedink het dat Afrikaners geneties minderwaardig was omdat hulle van verskillende rasse afstam, waaronder swartes. Sulke verbasterde rasse was syns insiens gedoem om te misluk, en dit was die Engelse se plig om oor hierdie mindere rasse te heers en in onderwerping te hou.

    En waar is al hierdie linkses van weleer nou? Nee wat, hulle het 180 grade linksomkeer gemaak en preek nou nog meer fanatiek vanaf die ander kansel. Dis nou ewe skielik die konserwatiewes wat teen rasvermenging is en in biologiese meerderwaardigheid glo. Dis die konserwatiewes wat ‘n gebrekkige intelligensie het. Dis die konserwatiewes wat al die gruwel in die wêreld veroorsaak het. En hierdie belangrikste meningsvormers, dieselfde groepie wat so teen Afrikaners geskop en geslaan het destyds doen dit nou weer, maar hierdie keer vanuit ‘n ander invalshoek. En elke keer het hulle hul “wetenskaplike bewyse” ter hand om ter stawing.

    Dit is een van die belangrikste redes hoekom psigometriese toetse se bevindings beperk moet bly by mense wat weet wat hulle doen. ‘n IK-toets se resultaat is nie die alfa en omega van klassifisering nie. In die meeste gevalle is IK slegs ‘n newe-effek van ander diagnostiese ondersoeke en is eintlik slegs goed verstaanbaar met inbegrip van iemand se algehele sielkundige funksionering. Dikwels hang IK-meting af van iemand se emosionele toestand of denkstyl waarmee daardie persoon in die lewe staan. Die kriteria wat gemeet word is ook dikwels kultuurspesifiek. Byvoorbeeld sien ons dat die bevolkingsgroep in Suider-Afrika met die laagste IK is die Boesmans, wat ’n gemiddelde het van 54. Egter, sodra ’n gewone onkundige toeris soos ek in die Kalahari sou verdwaal, sou ek liewer die hulp van ’n Boesmanspoorsnyer vra as ’n Einstein met sy 170 IK.

    Hierdie bogenoemde stellings bewys dat dit nie net in ‘n verre verlede is dat mense so slordig en onkundig omgaan met wetenskaplike feite nie, en ook nie net in Suid-Afrika met sy grimmige en armoedige linkse tradisie nie. Nog so ’n interessante linkse figuur vind ons by een van die belangrikste grondleggers van die Europese eenwording, ’n sekere Frans-Duitse kommunis genaamd Daniel Cohn-Bendit. Hierdie vent probeer sy bes om op allerlei maniere die Europese Unie nog hegter saam te bind, soos byvoorbeeld die stigting van die Spinelli Groep, ’n denktenk vir groter eenwording wat hy na ’n kommunis vernoem het. Cohn-Bendit is ook bekend dat hy almal wat uniewording teenstaan as “geestelik siek” beskou, en klink hiermee verdag veel soos Croucamp met sy lae IK uitlating. Presies watter geestelike siekte hy hiermee bedoel, is nie bekend nie. Ek neem egter aan dat dit nie pedofilie is nie, want dis immers sy voorliefde om te sien hoe 5-jarige dogtertjies hulself voor hom uittrek, soos hy self toegegee het.

    Kennelik was sy gedagtes by klein kinders toe die geskiedenisles oor Karel die Grote gegee was. Keiser Karel was die eerste persoon wat Europa wou integreer, maar na sy dood het dit tog maar weer uitmekaar geval soos wat sy seuns moeite gehad het om die verskillende gebiede te reguleer. In elk geval is Cohn-Bendit se nommer een vyand die Europeër wat glo in die behoud van sy eie nasie, vandaar die ywer om regse stemme soos Geert Wilders, Filip Dewinter of die British National Party se monde te snoer.

    ’n Ander gunsteling stokperdjie by hierdie groep linkses is om die rug toe te keer op alle vorme van geloofsleer, waarskynlik omdat ‘n grondige kennis van geloof ‘n gesonde gemeenskapsgevoel en historiese bewussyn ontwikkel, wat bestaan uit liefde en opoffering terwyl die enigste wat links ons te biede het is haat en afguns. Blykbaar het wetenskaplike bevindings ook sogenaamd aangetoon dat ateïste ’n hoër IK het as gelowiges. Militante ateïste soos Richard Dawkins beweer mos dat die wêreld ’n beter plek sou word as geloof verbied was. Egter, die grootste ateïstiese beweging wat die mensdom nog gehad het – kommunisme – het meer as ’n honderd miljoen lewens gekos verlede eeu. Dit is die hoogste dodesyfer in so ’n kort tyd ooit, en al wat kommunisme eintlik gedoen het is om terug te keer na afgodery. Hoekom anders is Lenin se lyk in ’n masoleum bewaar en die stigter van Noord-Korea, Kim Il-Sung tot die status van ’n god opgehemel? Dit is wat gebeur sodra ‘n mens geloof afskaf in ‘n samelewing: Mense haal hul goue kalwe uit die kas en begin enige tydelike held, soos ‘n Mandela, te aanbid.

    Om nog meer skade op te noem wat wetenskaplike ateïsme aangerig het kan ons kyk na die Switsers-Amerikaanse pedagoog Paolo Lionni se opstel The Leipzig Connection, waarin verhaal word hoe die ambisies van ateïstiese en sosialistiese sielkundiges die Westerse skoolkurrikula totaal vernietig het. Die bekende filosoof/sielkundige in Leipzig, Wilhelm Wundt, was ’n vroeë grondlegger van behaviorisme gewees – daardie skool van sielkunde wat gestel het dat die mens geen hoër gewaarwording het nie en bloot reageer op beloning en straf. Sy invloed het gestrek na John Dewey, BF Skinner, G. Stanley Hall, JB Cattell en ander topfigure in die sielkunde. Wundt het ook nie geglo dat daar iets soos ’n spirituele aspek bestaan nie, en het sy hele loopbaan opgeoffer om te bewys dat die mens slegs ’n stimulus – responsmasjien is. Een van Wundt se studente, die vermaarde opvoeder John Dewey het geglo dat mense nie beter as diere is nie, en dat die rol van die onderwyser voortaan tweërlei moet wees, ten eerste om kinders te help sosialiseer in hul groep in plaas van hulle help om hul geestelike vaardighede te ontwikkel, en ten tweede om deur middel van beloning en straf te help om ervarings by hulle te kweek, wat ’n sluwe manier is om hul innerlike gewaarwording te rem.

    Weereens sien ons hoe die vroegmoderne opvoeders einlik een doel nagestreef het, en dit is om kinders op te voed nie om hulself te kan verryk nie, maar om hulle slawe van die tydsgees te maak. ’n Ander bekende ateïstiese opvoeder, Benjamin Bloom het geglo dat die hoogste vorm van intellek is wanneer die individu nie meer glo in die beginsels van reg en verkeerd nie! Ons kan duidelik die gevare hiervan insien om kinders sonder kernwaardes op te voed. Die resultaat is eerder Golding se Ryk van die Vlieë as Rousseau se Edel Barbaar.

    Dalk is dit wat Croucamp eintlik bedoel met sy lae IK konserwatiewes. Hulle dink te veel in terme van “reg” en “verkeerd” in Suid-Afrika en daarom nie vatbaar genoeg vir rewolusionêre aksies nie.

    Dit help verklaar waarom die konserwatiewe gelowiges teen die ewolusieleer gekant is. Dit is nie soseer vanweë die suiwer biologiese teorie nie, maar die potensiale misbruik wat mense gaan maak deur te stel dat die mens nie beter as ’n dier is nie. Anders gestel: Hoe meer mense in biologiese ewolusie glo, hoe meer gaan dit ten koste van geestelike ewolusie. Wanneer biologiese ewolusie te veel opgehemel word gaan mense die krag van die gees misken. Kru wetenskaplike afbakenings gaan ingevoer word om mense te kategoriseer sonder om rekening te hou met hul persoonlike waardes en strewes. Iewers het ek gelees dat die koms van Christus ’n nuwe fase in die mens se geestelike ewolusie ingelui het. Die vroeë Romeinse Christene was gekenmerk deur hul introspektiewe houding, in dié sin dat hulle hul energie geput het uit die besef dat elke mens ’n ganse heelal van belewenisse en rydomme in sy hart en siel het. Die beginsel van Christelike naasteliefde onderskraag hierdie besef. Blykbaar is dit ook die geheim agter Da Vinci se Mona Lisa-glimlag. Haar gelaatsuitdrukking verraai iemand wat swygsaam toekyk terwyl sy in kontak is met haar binneste heelal.

    Na Da Vinci sou dit nog twee honderd jaar duur totdat ’n redelik onbekende mistieke wetenskaplike, Emanuel Swedenborg sy innerlike belewenisse in ’n hele aantal volumes beskryf het. Ofskoon min mense van hom gehoor het, was hy een van die mees invloedryke denkers van die moderne tyd, en sy werke het mense so uiteenlopend soos Carl Jung tot Emerson, Abraham Lincoln tot Roosevelt beïnvloed, weereens met die nadruk op die mens se geestelike groei. In sy skrywes benadruk hy hoe ’n ingesteldheid van opoffering ’n mens nader tot sy skepper bring terwyl ’n egoistiese ingesteldheid mense juis in hul persoonlike hel laat beland. Saam met Goethe, daardie ander Lutherse denker, word Swedenborg beskou as een van die intelligentste mense wat nog geleef het, en albei was diep gelowig.

    Die wetenskapsrewolusie met sy faux pedagoë het jammer genoeg hierdie stemme uit die verlede stilgemaak, en hul dissipels verkondig nog steeds aan almal hul “verligtingsideale” vanuit hul akademiese leerstoele, wat eintlik alles behalwe verligtend is. Iemand soos Swedenborg sou na alle waarskynlikheid as ’n skisofreen afgemaak word en mense wat geloofsleerstellings ter harte neem as te onintelligent om wetenskap te verstaan.

    Gelukkig hoef ’n mens deesdae nie meer duisende rande te betaal vir ’n universitêre graad in die geesteswetenskappe nie, wat deesdae al hoe meer uit radikale propaganda bestaan. Die suiwerste kennis wat ons werklik nodig het kan gratis van internet afgelaai word. En daar lê die sleutel van indiwidue en volkere se vryheid.

    Eers dan kan ons in navolging van NP van Wyk Louw weer diegene wees wat die mensdom uit die donker nag van die siel sal lei en ’n nuwe wending gee aan die beginsel van voortbestaan in geregtigheid.