Karel Schoeman (77) sterf, laat kriptiese selfmoordbrief na

Die grootste lewende Afrikaanse romanskrywer, Karel Schoeman, is vandag in ‘n Bloemfonteinse hospitaal dood, vermoedelik nadat hy opgehou eet het in ‘n daad van selfgenadedood. In ‘n kriptiese brief (sien hier onder) wat bloot as ‘n “verklaring” getitel is, verwys Schoeman na ‘n poging om sy eie lewe te “beëindig” wat op die ouderdom van 75 “deur omstandighede gefnuik” is, maar dat hy nou “die saak doelgerig (wil) aanpak terwyl ek nog oor voldoende beweeglikheid, fisiese vryheid en geestelike helderheid beskik”.

Die brief, wat deur Schoeman op 27 April 2017 onderteken is, is aan PRAAG deur Schoeman se prokureur op Bloemfontein, mnr. Carl van Rensburg, beskikbaar gestel. Die datum (“Vryheidsdag”), asook die gebruik van die woord “selfbeskikking” om sy daad te beskryf, is swanger aan betekenis. As romanskrywer en letterkundige, sou Schoeman bewus daarvan wees dat sowel die datum as die gelade woord “selfbeskikking” geïnterpreteer sou word. In die laaste paragraaf skryf hy:

“Indien ek in my huidige poging slaag, is alle betrokkenes wat my betref volkome vry om met die buitewêreld daaroor te praat. Ek wil trouens hoop dat my dood daartoe sal bydra om sowel die wesenlike probleem van ouderdom as die algemene kwessie van selfbeskikking meer algemeen bespreekbaar te maak as wat op die oomblik die geval is, en bowenal dat dit sal kan help om ‘n wysiging in die huidige Suid-Afrikaanse wetgewing t.o.v. selfbeskikking teweeg te bring.”

Schoeman se testament sal vanoggend geopen word, maar die meeste van sy bates word blykbaar aan sy bediende wat hom jare lank versorg het, nagelaat. Daar sal ook geen seremonie van watter aard ook al wees nie. Sy oorskot sal veras word en die as “op ‘n onbekende plek uitgestrooi word”.

Karel Schoeman het ‘n twintigtal romans in Afrikaans geskryf, asook meer as dertig nie-fiksieboeke, hoofsaaklik van ‘n geskiedkundige of biografiese aard. Naas Langenhoven, C.M. van den Heever en enkele ander, was hy waarskynlik die mees prolifieke skrywer in Afrikaans in die meer onlangse tyd.

Hy het etlike toekennings, waaronder drie maal die Hertzogprys vir prosa, ontvang. In 2014 is hy deur die Sweedse dagblad, Svenska Dagbladet, genoem as een van die internasionale skrywers wat in daardie jaar ‘n gunsteling was om die Nobelprys vir letterkunde van die Sweedse Akademie te ontvang.

Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 in die dorpie Trompsburg in die Oranje Vrystaat gebore. Nadat hy by tye etlike jare in die buiteland deurgebring het, het hy hom weereens op Trompsburg gevestig, maar ook in Pretoria in ‘n ouetehuis gewoon. Tot voor sy dood was hy in Bloemfontein woonagtig, ‘n stad waaroor hy insgelyks etlike geskiedkundige werke gepubliseer het, waaronder Bloemfontein: die ontstaan van ‘n stad, 1846-1946.

Dan Roodt: PK-aasvoëls sirkel om Chris Barnard se skrywerslyk

Suid-Afrika, ‘n land wat twintig jaar gelede deur terreur en propaganda verower is en tans alle wêreldrekords vir geweld, misdaad en korrupsie slaan, beskik oor min inheemse kultuur. Daarom, as iemand soos die Afrikaanse skrywer Chris Barnard sterf, daal die polities korrekte aasvoëls in swerms neer om op sy skrywerslyk te kom aas. Immers kan die man nie meer vir homself praat nie en kan jy hom as figuur nou na hartelus polities korrek inkleur.

In beginsel luister ek nie meer na RSG nie, veral vanweë die swak, anglisisme-deurspekte Afrikaans wat die omroepers – op enkele uitsonderings na – praat. Vanoggend skakel ek egter vir tien minute teen my beterwete die stroom op my rekenaar aan om te hoor of enigiemand iets van belang oor Chris Barnard kan kwytraak. Volgens Izak du Plessis van RSG was Chris Barnard “‘n sestiger, een van die skrywers wat Afrikaans uit sy apartheidsdwangbuis kon bevry”.

Is dit die definisie van ‘n “sestiger”, wonder ‘n mens? Helaas kon die sestigers ons nie van die veel groter en versmorende dwangbuis van politieke korrektheid bevry nie! Selfs so ‘n geleentheid wat eerbiedig en apolities benader behoort te word, word deur die ideologiese obsessies van die heersende orde in sy korrupte verskrompeling ontsier. Sy agente op RSG en in die hoofstroommedia prewel soos die sinistere marionette wat hulle is.

Chris Barnard en Katinka Heyns
Chris Barnard en Katinka Heyns

Ek het Chris Barnard nie goed geken nie, hom wel destyds een of twee keer by skrywersgeleenthede ontmoet. Hy was versigtig om nooit aanstoot te gee nie en het vir seker geen duidelike politieke standpunte ingeneem nie. Dit was die geval onder die NP, asook onder die huidige ANC-SAKP. Hoe hy nou as nog ‘n gelukbringer vir marxistiese revolusie of ‘n “anti-apartheidsheld” toegeëien kan word, gaan ‘n mens se verstand te bowe. Trouens, my indruk van hom was dat hy eerder polities konserwatief was: ek herinner my dat hy doer in 1978 rond saam met die uitgewer Bartho Smit met die destydse minister van binnelandse sake – waarskynlik Connie Mulder – oor sensuur gaan beraadslaag het. André P. Brink en ander het histeries daaroor te kere gegaan en hom van “regsheid” beskuldig. ‘n Mens praat nie met die minister nie, want die Afrikanerregering is melaats. Dit was so min of meer die argument. Helen Zille het dieselfde byeenkoms van die Afrikaanse Skrywersgilde as joernalis vir die Rand Daily Mail gedek, waarskynlik om seker te maak dat André Brink vir sy Engelse base luister.

Ek wil nou nie nie hier so voor die man se begrafnis skandes maak nie, maar Breyten Breytenbach het my op ‘n keer vertel dat Chris Barnard en sy eerste vrou Annette in die vroeë sestigerjare iewers in Parys langs swartes in ‘n klas by die Sorbonne of waar dit ook al was, moes sit en daarteen beswaar gemaak het. Dis sekerlik geen skande nie: 96% van alle liberale joernaliste in die VSA woon in hoofsaaklik blanke woonbuurte en wil ook nie te naby swartes kom nie. Dieselfde geld ons eie joernaliste in die hier en nou. Ek noem die Sorbonne-insident net as bewys dat Chris Barnard kwalik ‘n gebore ondersteuner van Joe Slovo en Nelson Mandela was, soos wat RSG en die Media24-koerante hom nou wil uitbeeld.

Hoewel ek baie lief vir Afrikaans is, het ek helaas nie ‘n besondere hoë dunk van Afrikaanse skrywers nie. Daar is of was ‘n paar goeies, waaronder Chris Barnard. Meermale is die Afrikaanse skrywer egter goed, malgré lui, of ten spyte van homself soos die Franse sê. Chris Barnard was so ‘n skrywer. Soos genoem, het hy ‘n tydjie saam met sy eerste vrou  in Parys deurgebring en had ‘n skoot weg van die eksistensialisme. Maar anders as sy Franse tydgenote, was hy geen groot intellektueel wat oor sy werk kon teoretiseer of filosofeer nie. Wat sy romans soos Mahala, Boendoe en die kortverhaalbundel Duiwel-in-die-bos interessant maak, is juis dat hy intuïtief en nie werklik intellektueel of ideologies te werk gaan nie.

Tog openbaar hy ontroerende en diepsinnige dinge oor Afrikanerskap, wat tot dieselfde verbode terrein behoort as Elsa Joubert se lank vergete Afropessismistiese roman, Ons wag op die kaptein (Tafelberg, 1963). (Ek moet dit nog klaar lees, maar was beïndruk met die eerste helfte wat die dilemma van die Portugese inwoner van Angola met sy basterkinders en die bedreiging van swart geweld uitbeeld.) Anders as in die kitsch Angel-Saksiese voorstellings van Afrika (dink maar aan die rolprent met Robert Redford en Meryl Streep, Out of Africa), is die Afrika-bos nie noodwendig ‘n vriendelike plek nie. Trouens, deel van die vervreemding en vereensaming wat sommige van Chris Barnard se karakters ervaar, spruit juis uit die kultuurkonflik en die haglikheid van die onbeskaafde kontinent, die “boendoe”. Allermins polities korrekte temas.

Ek weet nie of daar nog literêre kritici in Afrikaans bestaan nie; waarskynlik is hulle ook reeds weggetransformeer en bestaan daar vandag net ‘n koor jabroers en -susters wat die heersende ideologie beaam om hul joppies op universiteit te behou. Min, indien enige, gaan Chris Barnard baie noukeurig nalees en vir ons interpreteer wat hy werklik te sê had.

Hy was een van ons, iemand wat in Afrikaans geskep het. Net om daardie rede behoort ons hom te eer.

Maar laat ons nie nalaat om ons minagting uit te spreek vir die kultuurloses, die polities korrekte joernaliste en omroepers wat op Chris Barnard probeer aas sonder dat hulle ooit ‘n boek van hom gelees het nie. In hul blinde Boerehaat en angsvallige konformisme verstaan hulle in elk geval niks nie.

Wêreld se grootste skrywer Günter Grass oorlede

Die grootste Duitse skrywer van ons tyd, Günter Grass, wat die stiltes van die verlede vir ‘n generasie Duitsers verbreek het, is in die hospitaal in Lübeck op die ouderdom van 87 oorlede.

Die Duitse president Joachim Gauck het die huldeblyke vir een van die wêreld se letterkundige reuse, gelei. “Günter Grass het ontroer, en hy het die mense van ons land in vervoering gehad, laat dink met sy literatuur en sy kuns,” het hy in ‘n verklaring gesê. “Sy literêre werk het aan hom vroeë erkenning regoor die wêreld besorg, soos sy Nobelprys tot ‘n groot mate daarvan getuig het.”

“Sy romans, kortverhale, en sy gedigte weerspieël die groot hoop en verdraaiings, die vrese en begeertes van ‘n hele geslag,” het die verklaring voorts gelui.

Huldeblyke het binne minute na die aankondiging van Grass se dood op Twitter deur sy uitgewer, Steidl begin verskyn.

Sy laaste roman in 2002, Kreeftegang, is in Afrikaans uitgegee deur PRAAG. Dit handel oor die Duitse skeepstragedie, die Wilhelm Gustloff wat in 1945 gesink het. Grass het sy laaste boek ‘n “liefdesverklaring aan die Duitse taal” genoem. Die boek bevat dele van die Duitse dialek, baie naby aan Afrikaans, wat Paul Kruger en Otto von Bismarck met mekaar gepraat het toe hulle ontmoet het.

Dit is meesterlik in Afrikaans oorgedra deur die akademikus, teaterkenner en vertaler Arnold Blumer.

Grass is opgekommandeer om in Hitler se weermag te dien in 1944 op die ouderdom van 16, as ‘n tenkkanonnier in die Waffen SS.

Dié onthulling het gesorg vir beskuldigings van verraad, skynheiligheid en opportunisme toe hy daaroor geskryf het in sy 2006-outobiografie, Skil die ui.

Die skrywer was verras deur die negatiewe reaksie. Grass het gesê die SS was bloot ‘n “elite-eenheid”, en dat hy openlik en eerlik was oor sy oorlogsrekord.

Hy is later in Cottbus gewond en gevange geneem, sonder dat hy ‘n skoot geskiet het en is in ‘n militêre hospitaal van die Amerikaanse weermag opgeneem.

Maar Grass het nogtans met sy kenmerkende eerlikheid verklaar: “As ek drie of vier jaar vroeër gebore was, sou ek, sekerlik, oorlogsmisdade gepleeg het.”

Hy het in 2012 vir groot omstredenheid gesorg nadat hy ‘n gedig Wat gesê moet word, gelyktydig in die Süddeutsche Zeitung, die Italiaanse La Repubblica en Spaanse El País, gepubliseer het.

Die gedig het Israel se beleid teenoor die Palestyne gekritiseer. Dit het ‘n woedende reaksie van die Israeliese ambassadeur in Duitsland, Shimon Stein, ontlok wat uitgevaar het teen Grass se “versteurde verhouding tot sy eie verlede, die Jode, en Israel”.

Günter Grass-boek daag eensydige siening van Duitse geskiedenis uit

Günter Grass, Duitsland se bekendste en mees geliefde skrywer, wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 1999
Günter Grass, Duitsland se bekendste en mees geliefde skrywer, wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 1999

Een van die moeilikste dinge vir enige romanskrywer om reg te kry, is juis om te praat oor dinge waaroor ‘n mens nie mág praat nie. Dinge wat nie polities korrek is nie en wat dalk tot uitroepe of beskuldigings van “regsheid”, “Nazisme” en, les bes, “rassisme” mag lei.

Só ‘n voorbeeld vir elke Afrikaner is Kreeftegang deur die Duitse Nobelpryswenner Günter Grass. Toe dit vroeg in die nuwe millennium in Duitsland verskyn, het dit oornag ‘n blitsverkoper geword en is die taboe-onderwerp van die Duitse lyding aan die einde van die tweede wêreldoorlog vir die eerste keer in die openbaar bespreek.

Met die grasie en waagmoed van ‘n groot skrywer het Grass ‘n taboe verbreek en heelwat daartoe bygedra om sy 80 miljoen landgenote van hul skuldige omgang met die verlede te bevry.

Soos elke PRAAG-vertaling van Europese boeke, is dit ‘n verruiming van ons kultuur wat self uit Noord-Europa stam en daarom ‘n kleinood om te besit.

Lees meer oor die boek op ons produkblad hier.

Izak de Villiers oorlede

Bekende leraar, skrywer, bekroonde digter en oudredakteur van Sarie en Rapport, Izak de Villiers, 73, is gister in die vroeë oggendure in sy huis in Johannesburg oorlede.

Hy is vroeër vandeesmaand met motorneuronsiekte gediagnoseer, nadat hy die afgelope twee jaar siek was.

De Villiers word oorleef deur sy vrou Rina en twee seuns, Louis en Jacques, asook ’n dogter, Chérie, en twee kleinkinders. Louis is ‘n bekende rugbyjoernalis.

Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie, maar ’n gedenkdiens sal na verwagting Vrydag uit die NG gemeente Aasvoëlkop in Northcliff gehou word.

 

косметика для детейФильчаков прокурор