Twintig jaar gelede was die lewensverwagting nog 65 jaar, teen die jaar 2000 het dit na 43 gedaal, tans lê dit by ʼn wêreldlaagtepunt van 29. Dit is volgens ʼn Duitse joernalis, Ulrich Werner Schulze, wat die land gedurende Julie 2008 weer besoek het, nadat hy gedurende 2003 en 2004 daar gewerk het.
Daar is tans na raming 120,000 weeskinders, meer as tien persent van die totale bevolking van 1,1 miljoen mense. MIV-Vigs is natuurlik die oorsaak, met byna 40% van Swazi’s wat hieraan lei.
Volgens die Duitse konsulaat is daar egter tekens dat dinge begin beter lyk, na ʼn verwoestende droogte wat die land tussen 2001 en 2003 lamgelê het. Dit kan met ʼn tikkie skeptisisme bejeën word, tensy mens natuurlik verwys na Koning Mswati die derde, wat homself Ngwenyama – “die leeu” noem, en altyd ʼn leeuvel by feestelikhede dra. Hy het naamlik 13 vrouens, waarvan elkeen oor haar eie BMW, chauffeur, huis, kraal en kredietkaart beskik.
Dat die koning nog enigsins geag en vereer word, kan toegeskryf word aan sy uitgesproke vriendelikheid, sy uitmuntende optrede en gedrag, dalk vanweë sy skoolopleiding wat hy in Engeland gekry het, en die feit dat hy elke jaar op 19 April, sy geboortedag, ʼn volksfees van vleis, pap en mielies aanbied waaraan die hele land kan deel. Maar dalk het dit meer te doen met die onoorwinbare soeke na harmonie en letargie wat onder die Swazi’s heers.
Die Europese Unie het in 2004 uit Swaziland onttrek, en hul antwoord op die vraag wat mens te doen staan in die katastrofale situasie, was: “Niks”. Volgens hulle heers daar geen noodtoestand nie, dit handel veel meer rondom ʼn huishoudelike probleem. Die oorsaak vir hierdie probleem verskyn soos skrif aan die muur – Koning Mswati.
Meer as twee derdes van MIV-Vigs-gevalle leef in Afrika suid van die ewenaar. Stehanie Nolen, ʼn Kanadese skryfster, het ʼn aangrypende boek daaroor geskryf: “28: Stories of Aids in Africa”, waarin sy onder andere die lewensverhaal van Siphiwe Hlope en haar familie skets, wat in ʼn hut in die noorde van die land geleef het, en deur Vigs uitgewis is. Die 28 in die titel dui op die 28 miljoen mense wat in die volgende vyf jaar aan Vigs gaan sterf. Sy noem dit die “Volksmoord deur onverskilligheid”
Volgens die “Times van Swaziland” het koning Mswati onlangs vrywiliglik ʼn vigstoets ondergaan. Die Swazi’s glimlag tevrede en fluister onderlangs.
веник фотоДанильченко Юрий отзывы