Voormalige president FW de Klerk het Maandag onttrek aan die 2010 Wêreldbekervredeskonferensie in Johannesburg die week omdat die regering weier om aan die Dalai Lama ‘n visum te gee.
“Mnr. De Klerk het die besluit met groot huiwering geneem, omdat hy die 2010 Wêreldbeker en die doel en konsep van die vredeskonferensie ondersteun.”
“Hy hoop dat daar nog tyd is vir die regering om sy besluit te verander.”
“Mnr. De Klerk was in kontak met aartsbiskop Tutu en identifiseer homself met die sienswyses van [die aartsbiskop] in die verband en met betrekking tot die weiering van die SA regering om ‘n visum toe te staan aan die Dala Lama,” het die stigting gesê.
Tutu, wat in Kalifornië was, het klaarblyklik geskryf aan president Kgalema Motlanthe en ‘n verduideliking gevra.
“Indien Sy Heiligheid se visum geweier word, gaan ek nie deelneem aan die komende 2010 Wêreldbeker se verwante vredeskonferensie nie,” het Tutu gesê.
“Ek sal die regering se optrede verdoem as skandelik, in lyn met die swak rekord by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, as totale verraad teenoor ons vryheidstryd se geskiedenis.”
“Ons gee skaamteloos toe aan druk van die Sjinese. Ek is baie ontsteld en skaam daaroor,” is hy aangehaal.
Motlanthe se woordvoerder, Thabo Masebe het Maandag aan Sapa gesê die president het Tutu se brief gekry wat ‘n verduideliking vra oor die regering se weiering om aan die Dalai Lama ‘n visum te gee.
“Ja, die president het die brief gekry. Die posisie wat ons geneem het, is dat die ‘n uitnodiging aan die Dalai Lama nie in die belang van Suid-Afrika is nie.”
Suid-Afrika het nie ‘n visum aan die Dalai Lama toegestaan nie omdat hy nie die wêreld se aandag wil aflei van die voorbereidings vir die 2010 Sokkerwêreldbeker nie.
“Die Suid-Afrikaanse regering het nie ‘n probleem met die Dalai Lama nie,” het Masebe gesê.
“Maar op hierdie stadium is die hele wêreld gefokus op die land as gasheer vir die 2010 Wêreldbeker. Ons wil hê die fokus moet op Suid-Afrika bly.”
“’n Besoek van die Dalai Lama sal die fokus vanaf Suid-Afrika verskuif na sake in Tibet.”
Masebe het gesê Sjina,’n groot handelsvennoot van Suid-Afrika, het geen rol gespeel in die besluit van die regering nie.
“Die besluit is gemaak deur die regering en nie deur die Republiek van Sjina nie,” het hy gesê.
‘n Woordvoerder vir die Dalai Lama het gesê hy is baie teleurgesteld deur die besluit.
“Dit is waar, dat Suid-Afrika, onder baie druk van die Sjinese owerhede ‘n visum vir die Dalai Lama geweier het,” het woordvoerder Thubsen Samphel aan AFP gesê.

‘n 16-Jarige seun is dood nadat hy deur ‘n haai aangeval is by Tweede strand in Port St Johns in die Oos-Kaap, het die Herald Online Maandag berig.