Vyf gewapende mans is Dinsdag gearresteer nadat hulle in ‘n huis in Kempton Park gevang is wat hulle probeer beroof het, het die Ekhurulenipolisie gesê.
Kaptein Jethro Mtshali het gesê die mans wat by die huis aangekom het in ‘n wit Toyota Condor is deur bure op die perseel gesien.
Die buurman het die polisie geskakel wat die mans in die huis gevang het. Die mans het klaarblyklik die familie aangehou en met telefoondrade vasgebind voor hulle die huis deursoek het.
Mtshali het gesê ‘n vuurwapen is ook gevind.
Die mans is aangekla van gewapende roof, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Hy het gesê die mans sal in die Kempton Park se landdroshof verskyn wanneer polisie vasgestel het of hulle verbind is aan ander misdade.
