'n Onderwyser by Indumo is gearresteer vir die beweerde verkragting van een van sy leerlinge, het KwaZulu-Natal se polisie Donderdag gesê.
Kaptein Jabulani Mdletshe het gesê die onderwyser is Woensdag op die skool se terrein in boeie weggeneem.
Die man het klaarblyklik met die 17-jarige leerling van Indumo, in noordelike KwaZulu-Natal gesels op 8 Maart en haar gevra om saam met hom na sy vriendin se huis toe te gaan.
"Sy het dit gedoen, maar toe hulle daar aangekom het was daar niemand nie."
Hy het haar toe na bewering verkrag.
Dae later het 'n ander onderwyser gesien die meisie is depressief, waarna die meisie vertel het wat gebeur het.
Die polisie en die meisie se ouers is daarna in kennis gestel.
