‘n 16-Jarige seun is dood nadat hy deur ‘n haai aangeval is by Tweede strand in Port St Johns in die Oos-Kaap, het die Herald Online Maandag berig.
Luyolo Mangele het deelgeneem aan ‘n branderplankry-oefening toe die haai Vrydagmiddag toegeslaan het.
Hy is aan die been gebyt en kon daarin slaag om na die strand toe te roei waar ‘n instrukteur en lewensredder hom uit die water gehaal het.
Hy is later in die hospitaal dood.
“My broer was ‘n ywerige branderplankryer wie se lewe rondom swem gedraai het,” het Mangele se broer Luyanda, 21, gesê.
In Januarie is Sikhanyiso Bangilizwe, 25, dood, na ‘n aanval deur ‘n Zambesihaai toe hy saam met kollegas by dieselfde strand geswem het.
Die besturende direkteur van die Wildekus Wagte, Khaya Mjo het gesê daar is ‘n toename in die aantal branderplankryers en dit kan die haaie lok.
Die Wildekus Wagte, die plaaslike munisipaliteit en die departement van vervoer is besig om alternatiewe metodes te ondersoek om die strand te beveilig teen haaiaanvalle.
Haainette is ‘n oplossing, maar het sommige negatiewe gevolge en kan maklik beskadig word in rowwe see, het Mjo gesê.
‘n Voorstel om elektrodes te gebruik om haaie af te weer is ook gemaak, maar omgewingsbewuste mense sal dit afkeur, omdat dit ook ander spesies kan affekteer, het Mjo aan die Herald gesê.
