Westerse magte worstel om Iran se kernambisie hok te slaan en sê hulle is “intens besorg” oor die Islamitiese Republiek se tegnologiese sprong met die lansering van hulle eerste binnelandsgeboude satelliet in 'n wentelbaan in.
Die tegnologie om satelliete te lanseer is “uiters soortgelyk aan ballistiese (missiel)-vermoë,” sê 'n segsman vir die Franse buitelandse ministerie, Eric Chevallier.
“Ons kan nie anders as om dit te koppel aan die uiters ernstige bedenkinge oor die ontwikkeling van 'n militêre kernvermoë nie.”
In Washington het die nuwe administrasie van President Barack Obama gesê Iran se aksie sal nie stabiliteit in die Midde Oosterse streek bevorder nie.
“Pogings om missielafleweringsvermoë te ontwikkel, pogings om 'n onregmatige kernprogram te begin, of die dreigemente wat Iran jeens Israel maak en die land se ondersteuning van terreur is van diepgaande kommer vir hierdie administrasie,” sê die Withuissegsman, Robert Gibbs.
Iran het sy Omid (Hoop)-satelliet Maandag die ruimte ingestuur. Dit is vervoer deur die tuisgeboude Safir-2 ruimtevuurpyl, berig plaaslike nuusagentskappe.
'n Amerikaanse amptenaar het bevestig dat “dit voorkom asof die Iraniërs die lansering van 'n laewentelbaansatelliet uitgevoer het.”
Die Duitse minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier noem dit 'n “sorgwekkende ontwikkeling” wat “die tegniese prestasies” toon “waartoe Iran in staat is, en ook oor die dreigemente.”
Iran se president, Mahmoud Ahmedinajad het die lansering lof toegeswaai en verklaar dat sy land “amptelik 'n teenwoordigheid in die ruimte behaal het.”
Maar die tydsberekening het ook die besorgdheid in die internasionale gemeenskappe verhoog.
Die aankondiging van die lansering het gekom op die vooraand van 'n vergadering in Duitsland van senior diplomate van die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad asook Duitsland wat deurlopend probeer om die kernwrywing met Iran tot 'n einde te bring.
Ongeag VN-sanksies gaan Teheran voort om alle oproepe te weerstaan om sy uraanverryking te bevries.
Die Weste verdink Teheran daarvan dat hulle verrykte uraan wil hê om 'n kernbom te bou, 'n aanklag wat Teheran ontken terwyl hy aanvoer sy kernwerk is vir vreedsame energiedoeleindes.
“Ons het vir jare probeer om Iran te verhoed om sy eie kernprogram en eie kernwapens te ontwikkel. Tot dusver het ons nie geslaag nie,” sê Steinmeier en hy wys daarop dat gesamentlike pogings met Washington nou nog dringender is.
As Iran se aartsteenstander in die Midde-Ooste sien Israel Teheran se kernveldtog as 'n grootskaalse bedreiging en die Israelse verdedigingsminister het gister by Washington aangedring om nie die opsie van militêre optrede teen die Islamitiese Republiek uit te sluit nie.
Ahmadinejad verwerp egter die aantygings.
“Ons het 'n goddelike uitkyk op tegnologie, anders as die oorheersende wêreldmagte wat Sataniese visies het,” sê hy.яхтингФільчаков прокурор