Soedannese vliegtuie het Maandag bomme gegooi naby aan 'n dorp wat deur rebelle beset word in Darfoer, nadat die regering gevra het dat die vredesmaglede die gebied moet verlaat voor die beplande aanval, het die internasionale mag gesê.
Duisende burgerlikes het skuiling gesoek rondom 'n basis wat bestuur word deur 'n gesamentlike VN/Afrika Unie mag in Darfoer, suid van die dorp Muhajiriya, het 'n woordvoerder vir die vredesmagte gesê.
UNAMID het gesê Khartoem het Sondag gevra dat vredesmaglede onttrek omdat die weermag gereedmaak om die dorp terug te neem van rebelle van die Justice and Equality Movement (JEM) wat die dorp verlede maand oorgeneem het.
"Maar ons gaan nie padgee terwyl daar duisende ontwortelde mense rondom ons kamp is nie," het UNAMID woordvoerder Noureddine Menzi gesê. "Die Soedanese regering behoort te weet dat hulle aksies die burgerlikes en ook UNAMID in gevaar stel."
Die UNAMID sending is onderbeman en het ook te min toerusting terwyl spanning oplaai in Darfoer voor die verwagte besluit van die Internasionale Kriminele Hof of hulle president Omar Hassan al-Bashir gaan vervolg vir oorlogsmisdade.
Menzi het gesê bemiddelaars het probeer om gesprekke met die regering en rebellegroepe aan die gang te kry om gevegte oor Muhajiriya te voorkom.
UNAMID amptenare het gesê dat vredesmaglede berig het oor bomme wat Maandag sowat 3 kilometer oos van die dorp geval het. Niemand van die Soedanese weermag was onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
Lugaanvalle in Darfoer is verbied in 'n VN Veiligheidsraadresolusie, maar Soedan se weermag het gesê dat hulle die reg het om rebellemagte wat nie die vredesooreenkoms onderteken het nie, te konfronteer.
Menzi het gesê die VN/AU verteenwoordiger in Darfoer, Rodolphe Adada, het Maandag senior regeringsamptenare in Khartoem ontmoet om 'n einde aan die krisis in die suid-Darfoer dorp te bewerkstellig.
VN/AU onderhandelaar, Djbril Bassole het beplan om na naburige Tsjaad te vlieg om rebelle leiers te ontmoet, het hy gesê.
