Die VN-hoof het Maandag gesê dat hy nie dink die nuutgevormde nasionale eenheidsregering is 'n volmaakte oplossing nie, en dat dit slegs Zimbabwe se politieke krisis kan oplos indien president Mugabe verdere vooruitgang maak.
VN sekretarisgeneraal Ban Ki-Moon, wat Sondag met Mugabe vergader het terwyl die Afrika Unie beraad aan die gang was in Addis Abeba, het gesê dat hy hom aangemoedig het om polities vorentoe te beweeg, deur stappe te neem soos om politieke gevangenes vry te laat.
Vrydag het die opposisieleier, Morgan Tsvangirai en sy MDC ingestem om binne weke aan te sluit by die eenheidsregering met Mugabe, in 'n toegewing om die land se humanitêre krisis op te los.
"Hoewel ek die besluit van mnr. Tsvangirai en die MDC verwelkom om aan te sluit by die regering van nasionale eenheid, glo ek steeds dat dit nie die perfekte situasie is nie," het Ban Maandag aan joernaliste gesê. "Ek het president Mugabe aangemoedig om voort te bou op die nuwe ontwikkeling…en om te probeer om so vinnig as moontlik vooruitgang te maak, sodat hulle meer demokrasie en vryheid kan verseker."
Zimbabwe is in 'n politieke krisis sedert die betwiste presidensiële verkiesings verlede jaar. Vandag het die land die wêreld se hoogste amptelike inflasiekoers, meer as 300 mense is dood aan cholera sedert Augustus en miljoene het voedselhulp nodig.
