Brittanje het, ten spyte van skeptisisme oor Zimbabwe se nuwe koalisieregering, belowe om die land ter wille van die sukkelende bevolking te help. Dit dui 'n aanpassing in die Weste se houding teenoor Zimbabwe aan.
Hierdie opmerkings van Mark Malloch Brown is 'n eggo van die geluide uit Washington sedert die opposisieleier Morgan Tsvangirai ingestem het om in 'n magsdelingsregering met President Robert Mugabe betrek te word.
Die Obama-administrasie het die VSA se aandrang dat Mugabe moet uittree, laat vaar, en die Europese Unie het ook die ooreenkoms verwelkom, alhoewel Westerse moondhede sê hulle is nog nie gereed om sanksies op die president en sy gevolg op te hef totdat hulle tasbare bewyse van hervorming sien nie.
Malloch Brown sê hy is deur Afrika-leiers by 'n spitsberaad in die Ethiopiese hoofstad oortuig dat die nuwe regering 'n kans gegun moet word.
“Ek dink die een boodskap wat ek helder en duidelik uit hierdie spitsberaad gekry het en waarvoor ek baie simpatie het, is dat ons dit 'n kans moet gee, dat ons ons bes sal doen om dit te ondersteun, want die behoeftes van Zimbabwiërs is so oorweldigend,” sê hy.
“Ons is skepties maar ons moet probeer om dit te laat werk.”
Hy het bygevoeg dat Brittanje en ander lande vrygewige skenkers sal wees indien die ooreenkoms suksesvol is.
Mugabe het intussen 'n sessie van die spitsberaad oor die wêreldwye ekonomiese krisis gebruik om los te trek teen Westerse moondhede wat hy daarvan beskuldig dat hulle ondersteuning aan Zimbabwe van die IMF en Wêreldbank geblokkeer het.
“As gevolg van sekere onwettige, eensydige en ekstraterritoriale wetgewing deur sommige magtige lede van hierdie instellings, is die gebruik van ons lidmaatskapregte gesmoor,” het hy aan ander Afrika-leiers gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.