Hamaspolisie in Gasa het by 'n stoor vol VN-humanitêrehulpgoedere ingebreek en duisende komberse en kospakke gesteel, het 'n VN-woordvoerder Woensdag gesê. Dit het die moontlikheid laat ontstaan van 'n skeuring tussen die organisasie wat sorg vir die meeste van Gasa se inwoners en die gebied se militante regering wat die toevoer van broodnodige hulp bedreig.
Christopher Guinness, 'n woordvoerder vir die VN se hulpagentskap (UNRWA) het gesê Hamaspolisie het Dinsdagaand by 'n pakhuis in Gasastad ingebreek en 3 500 komberse en meer as 400 kospakke wat gereed was vir verspreiding aan 500 gesinne gesteel.
"Hulle was gewapen, hulle het dit net geneem, hulle het dit met geweld geneem," het Guinness gesê, en die insident as "absoluut onaanvaarbaar" bestempel.
Polisie het die hulpmateriaal gekonfiskeer nadat UNRWA-amptenare geweier het om dit te oorhandig aan die Hamasbeheerde ministerie van sosiale sake, het hy gesê. Soortgelyke hulppakke is reeds versprei aan 70 000 inwoners gedurende die laaste twee weke.
Ahmad Kurd, die Hamas-amptenaar in beheer van die ministerie, het nie die diefstal ontken nie, maar het beweer dat die VN die hulp aan plaaslike groepe met verbintenisse aan Hamas-teenstanders verskaf.
"UNRWA het nie gedoen wat hulle gesê het hulle sal doen nie, en het hulp verleen aan groepe wie se aktiwiteite hulle verbind aan politieke aktivisme," het Kurd gesê.
VN-amptenare het gesê hulle versprei die hulp direk aan plaaslike inwoners volgens 'n lys wat saamgestel is deur gemeenskapsleiers. Hulle het gesê die hulpvoorraad was geberg in plaaslike stoorfasiliteite, en opgepas deur 'n plaaslike VN-werknemer, omdat die organisasie se normale stoorplekke vol was.
Sommige internasionale skenkers het kommer uitgespreek dat fondse wat bedoel is om Gasa te herbou in die hande van Hamas kan val, terwyl die VN probeer het om dié vrese te besweer.
'n Skenkerskonferensie is vir later die maand in Kaïro geskeduleer.
