Die Amerikaanse president Barack Obama het Woensdag 'n salarisbeperking van 500 000 Amerikaanse dollar geplaas op uitvoerende beamptes van finansiële instellings wat die belastingbetalers se hulp vra om hulle maatskappye uit te help, in 'n poging om Wallstraat se spandabelrigheid hok te slaan.
Die president het ook belowe dat die tesourie volgende week 'n nuwe strategie bekend sal maak om bevrore kredietmarkte oop te maak, in 'n poging om lenings en verbruik tydens die grootste ekonomiese krisis sedert 1930 aan te help.
"Wat mense kwaad maak, en met reg, is dat uitvoerende beamptes beloon word vir mislukking, veral wanneer daardie mislukking deur die Amerikaanse belastingbetalers gesubsidieer word," het Obama by die Withuis gesê.
"Vir topuitvoerendebeamptes om hulleself te beloon met daardie tipe vergoedingspakkette in die middel van 'n ekonomiese krisis is nie net swak smaak nie – dit is slegte strategie en ek as president sal dit nie verdra nie."
Volgens nuwe reëls, mag base van maatskappye wat voordeel trek uit hulp van die tesourie nie meer as $500 000 per jaar betaal word nie, het Obama gesê.
Obama se ongelukkigheid met Wallstraat se vrygewigheid het verlede week opgevlam ná hy 'n koerantberig gelees het wat besonderhede verskaf het van die $18,4 miljard in bonusse wat Wallstraatfirmas verlede jaar gekry het, selfs nadat aandelemarkte getuimel het en die ekonomie in 'n resessie verval het.
Kritici van die Withuis sal waarskynlik redeneer dat die stap dit moeiliker sal maak vir Wallstraatfirmas om toptalent te lok en dit mag lei tot huiwerigheid van sukkelende maatskappye om hulpfondse te aanvaar.
