
Die ANC se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NGV) is moontlik een van die eerste ponde vleis wat die linkses by die Zuma-regering gaan eis, en nog ‘n groot stap na die nagmerrie van 'n volledig-sosialistiese
staat.
Die NGV is na wat berig word die lieflingkind van die vakbonde en die linkses. Dit wil Brittanje se NHS na-aap, maar sonder die Britte se groot poel belastingbetalers of relatief-bekwame staatsdiens. Suid-Afrika se vyf miljoen of wat belastingbetalers sal dus noodgedwonge gesondheidsorg aan sowat 50 miljoen ander onbetalers en 15 miljoen onwettige immigrante moet verskaf. Van hierdie 65 miljoen wat deur die 5 miljoen gedra sal moet word, is sowat een uit elke vier tussen 18 en 35 MIV+ en derhalwe uiters vatbare vir siektes soos tering, cholera en ander opportunistiese infeksies.
Dit neem nie ‘n aktuaris om te bedink wat gaan gebeur nie. Die oorblywende standaard van mediese sorg vir die 5 miljoen belastingbetalers sal eenvoudig in duie stort. Dit is ‘n ope geheim dat dit juis is wat die vakbonde wil vermag: die vernietiging van mediese fondse en privaat mediese sorg. Jy sal byvoorbeeld nie meer in die toekoms ‘n belastingkorting vir jou mediese fondsbydraes kan ontvang nie, wat privaat mediese fondse en mediese sorg van ‘n aanvaarbare standaard buite die bereik van almal uitgesonderd die heel rykes sal plaas.
Ek is persoonlik nie verskriklik opgewonde oor die vooruitsig van die soort behandeling wat ek by die getransformeerde personeel in Steve Biko Akademies sal ontvang, sou ek siek word nie. Tuisbehandeling van kanker of hartsiekte klink na ‘n meer aantreklike opsie as Steve Biko Akademies.
As ons nie wil emigreer nie, en, laat ons eerlik wees, bostaande kruipende sosialisme is seker om nog blankes tot emigrasie te dryf, sal ek en jy as Afrikaners plan moet maak.
Dat daar ‘n krisis kom, is seker. Daar is ook egter ‘n geleentheid in die krisis.
Die sentrale probleem is natuurlik dat Afrikaners deelneem aan die formele Mzansi-ekonomie. Die Mzansi-belastinggaarder, die een staatsdepartement wat nog funksioneer, kan dus maklik ons salarisse bykom, en al hoe meer daarvan nasionaliseer om aan grandiose dog geklike sosialistiese planne te spandeer. Mediese sorg en die konfiskeer van toenemende dele van jou salaris om vir 15 miljoen MIV-lyers ARM’s en TB-medisyne te koop, is slegs een deel hiervan.
Die bedrieglik-eenvoudige dog voor-die-hand-liggende oplossing is om ons as Afrikaners aan die Mzansi-ekonomie te onttrek. In eenvoudige terme gestel: as ek nie ‘n salaris by ‘n Mzansi-maatskappy trek nie, as ek nie ‘n bankrekening in ‘n getransformeerde bank het nie, het ek myself as voormalige melkkoei onbeskikbaar gemaak vir die sosialiste se voorgestelde plundery van my bates.
Hoe doen Afrikaners dit? Een manier is om ‘n virtuele betaalmiddel te skep, waarmee ons onder mekaar handel dryf, buite die formele Mzansi-ekonomie. Hierdie is nie ‘n oorspronklike gedagte nie. Daar was voorheen sprake van “talente”, ‘n alternatiewe geldeenheid, onder ander Afrikanergroepe.
Ek stel iets soortgelyk aan talente of dan lojaliteitspunteskemas in die vooruitsig as een deel van ‘n moontlike oplossing. Lugrederye het byvoorbeeld lugmyle as lojaliteitsskemas, en ENB het sy eBucks-skema. Lugmyle het ‘n waarde (uitgesonderd SAL se nikswerd Voyager-myle liegspul). Die wisselkoers vir eBucks is R1 = 10 eBucks. eBucks is ‘n heel wettige punteskema, en kan verruil word vir onder andere blomme en wyn by aanlynwinkels soos Netflorist.
As iemand wat persoonlik betrokke was by eBucks se IT-ontwikkeling, sal ek die eerste wees om te erken dat dit nie heeltemal so maklik is nie. Dis nie soseer die tegnologie nie, maar eerder die vertroue by die publiek wat die probleem is. As die publiek en handelaars nie vertroue in die waarde van hulle ruilmiddel het nie, sal dit nie van die grond af kom nie. eBucks kan fisiese goedere koop omdat ENB dit rugsteun met regte rande.
Daar is ook dinkwerk nodig rondom die gebruik van die punte om goedere aan te koop wat byvoorbeeld ingevoer moet word. Volkswagen AG gaan nie sommer Afrikaners se puntestelsel as ruilmiddel aanvaar om aan ons motors te verkoop nie. Een moontlikheid, wat ek in ‘n volgende stuk verder sal verken, is om ‘n Afrikanerbank te stig, wat Afrikaners se geld uit die sakke van die getransformeerde Mzansi-banke se vetkatdirekteure sal verwyder.
Begin die punteskema wel posvat, sal dit egter ver gaan om Afrikaners teen die toenemende sosialisme in Mzansi te beskerm. Veral dienste is ‘n voor-die-hand-liggende kandidaat vir ‘n puntestelsel. As ek my IT-dienste byvoorbeeld aan ‘n mede-Afrikaner verkoop, en sodoende punte in die virtuele ruilstelsel verdien, kan ek byvoorbeeld daardie punte gebruik om vir ordentlike mediese sorg by ‘n Afrikanerdokter te betaal.
Die tegnologie is daar.
Die beweegrede – kruipende sosialisme – is daar.
Weer eens: dis slegs ons eie gesloer en gebrek aan optrede wat verhoed dat ons onsself ekonomies vrymaak van die sinkende skip bekend as Mzansi.