SAL se vlerke moet weer geknip word

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is alweer in die knyp en belastingbetalers moet hoes.

Die lugdiens het opnuut die regering om geldelike steun genader, nadat hulle twee jaar gelede leningswaarborge van R5 miljard rand ontvang het.

Die minister van Openbare Betrekkinge, Lynne Brown het gesê SAL het aansoek gedoen om verder skuld te maak.

Die lugredery het intussen nie sy jaarverslag by die parlement ingedien nie.

Die regering het in 2012 verlengde waarborge toegestaan in ruil vir grootskaalse herstruktuering, maar het klaarblyklik nie die nodige maatreëls ingestel om belastingbetalers te spaar nie.

Die swak rand en ‘n verouderde vloot word voorgehou as twee grootste probleme.

Die lugredery word egter drooggemelk deur duur buitelandse konsultante en bestuurders, asook kaderaanstellings.

Meeste passsiers van SAL turbulensie-vlug ontslaan

Een van 20 passasiers, insluitende ‘n baba, wat Woensdag beseer is op ‘n SAL-vlug tussen Johannesburg en Hong Kong, sê dit was vreesaanjaend.

Ewald Sadie beskryf op Facebook hoe ” verskeie mense ‘n paar ernstige rugbeserings” opgedoen het en in die hospitaal opgeneem moes word.

Die mense was aan boord vlug SA-286 toe die voorval plaasgevind het. Van die 165 mense aan boord is minstens 17 passasiers en drie bemanningslede beseer.

Die voorval het vyf uur van Hong Kong plaasgevind in die lug toe die vlug ernstige turbulensie ondervind het. Ambulanse en mediese personeel was daar toe die vliegtuig geland het.

Binnepanele op die vliegtuig sal ook herstel moet word, het ‘n woordvoerder van SAL gesê.

Sulke ernstige woelinge is glo skaars en is nie iets wat opgetel word op die radar nie.

Weerradar wys vog, terwyl onstuimigheid veroorsaak word deur die wind.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê dit is nog nie duidelik wanneer die passasiers en bemanning wat beseer is tydens hewige turbulensie na Suid-Afrika sal terugkeer nie.

Die redery sê 18 van die 20 beseerdes, is reeds uit ‘n hospitaal in Hong Kong ontslaan.

Die voorval het in die lugruim bo Maleisië plaasgevind.

Menseregtekommissie ondersoek SAL-diskriminasie

sahrcDie Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gaan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) se kadetprogram ondersoek, het die vakbond Solidariteit Dinsdag gesê.

“Solidariteit het die ondersoek versoek omdat die lugdiens geen wit manlike kandidate by sy kadetprogram aanvaar het nie,” het Dirk Groenewald, hoof van die arbeidshof-afdeling van die vakbond, gesê.

Groenewald het gesê Solidariteit het namens tien wit mans, wat aansoek gedoen het vir die program, gevra dat ‘n ondersoek gedoen word. Dié mans se aansoeke was onsuksesvol omdat hulle wit is.

Hy het gesê die kadetprogram se toelatingsvereistes diskrimineer onregverdig teen wit mans en kom neer op ‘n kwotastelsel.

Groenewald het gesê Solidariteit het gevra dat die lugdiens beveel word om sy diskriminerende praktyke te stop en die program oop te stel vir mense van alle rasse en geslagte.

“Indien daar bevind word dat die tien kandidate as gevolg van hul ras nie aanvaar is nie, moet die SAA die nodige stappe doen om die saak reg te stel en die kandidate by die program insluit.”

Die SAA en die SAMRK was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie. – Sapa

Goudstaking skop af

goldfieldsWerksaamhede word vanoggend ingekort by die Goldfields South Deepmyn op Westonaria suidwes van Johannesburg. Sowat 80 000 werkers wat tot die NUM behoort het die Kamer van Mynwese se verhoogde salarisaanbod van 6,5 persent verwerp en begin staak. Slegs kontrakwerkers het vandag vir diens aangemeld. Daar is onbevestigde berigte dat hulle met die opsegging van hul kontrakte gedreig is indien hulle sou wegbly. Om twaalf-uur vanmiddag gaan daar ‘n massabyeenkoms en betoging by die suidelike skag wees, waar die mynbestuur, die SAKP, Cosatu en die burgerlike organisasie, SANCO die werkers sal toespreek. Sekuriteit is by die myn verskerp.

Die Suid-Afrikaanse kamer van koophandel en nywerheid sê intussen goudprodusente se salarisaanbod moet in die regte perspektief gesien word. Goudprodusente sê die huidige ekonomiese toestande in Suid-Afrika het bygedra tot die finale salarisaanbod. ‘n Woordvoerder van die kamer, Peggy Drosky sê beide werkgewers en vakbonde moet bereid wees om opofferings te maak. Drosky sê werkers het dalk werklike behoeftes, maar maatskappye moet ook winsgewend wees om te kan voortgaan om mense in diens te neem. Volgens Drosky moet daar ‘n duideliker definisie wees van wat ‘n ordentlike lewenspeil in Suid-Afrika is.

In ‘n afsonderlike voorval, het betogers myngereedskap by ‘n skag van Anglo-Platinum se Twickenhammyn buite Burgersfort in Limpopo aan die brand gesteek en verskeie voertuie beskadig. ‘n Plaaslike munisipale raadslid, Vincent Mpofela sê ‘n elektriese transformator is ook afgebrand. Inwoners verkwalik die myn omdat plaaslike werkers afgelê word, terwyl werkers uit ander provinsies aangestel word. Die myn-bestuur was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die vakbond die NUM gaan nie afsien van sy eis vir ‘n 15 persent verhoging vir sy lede in die konstruksiebedryf nie. Dit volg nadat die vakbond BCAWU vroeër ‘n aanbod van ‘n 10 persent verhoging deur die Suid-Afrikaanse federasie van kontrakteurs in siviele ingenieurswese aanvaar het. BCAWU verteenwoordig 40 000 konstruksiewerkers. Die NUM, wat die meerderheidsvakbond is, eis ook ‘n minimumloon van R5 500, bonusse en ‘n mediese fonds pakket. Die vakbond se sekretaris in KwaZulu-Natal, Bongani Manyoni sê vakbondleiers gaan na verwagting môre byeenkom om te bespreek hoe die staking uitgebrei kan word. Manyoni sê hulle wil hê werkgewers moet besef dat hulle ernstig is oor hulle eise.

Werknemers by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg kla dat hulle toegang tot die SAL-kantore sowel as die tegniese perseel geweier word. Dit wil voorkom asof dit deur stakende tegniese personeel veroorsaak word. Werkers wat aan die vakbond, Satawu verbonde is, staak reeds twee weke lank omdat hulle op hoër salarisse aandring. Na bewering is gisteraand se nagskofwerkers ook nie toegelaat om die gebou te verlaat nie. – RSG

Petroljoggies staak van Maandag

joggieTot 72 000 petroljoggies en ander werknemers by vulstasies en motorhandelaars landwyd sal van Maandag (2 September) af staak nadat die onderskeie partye in die loononderhandelinge nie ooreen kon kom nie.

Die werknemers is almal lede van die metaalwerkersvakbond, Numsa. Volgens ’n Numsa-verklaring eis hulle ’n “menswaardige loon en verbeterde diensvoorwaardes”.

Die NUM het intussen aangedui dat hulle ‘n salarisooreenkoms met goudmynprodusente wil aangaan voor Vrydag se spertyd om ‘n staking in die bedryf te voorkom.

Die NUM se hoofsekretaris, Frans Baleni, sê ‘n staking is die laaste uitweg. Die NUM het die afgelope Saterdag aan produsente sewe dae tyd gegee om te voldoen aan sy eis vir ‘n salarisverhoging voordat hulle tot ‘n staling oorgaan.

Gesprekke tussen die SATAWU-vakbond en die SAL om ‘n einde te maak aan die lugdiens-staking van twee dae, is in Johannesburg hervat.

Die hoofsekretaris van SATAWU, Zenzo Mahlangu, sê die lugdiens wil nie sy aanbod van ‘n verhoging van 6,5% hersien nie. Hy sê SATAWU is ook nie bereid om in te stem tot enige bedrag minder as die aanvanklike eis van 12% nie.

Hy sê nog ‘n vakbond is gereed om môre tot ‘n staking oor te gaan.

 

Vals kapingswaarskuwing in PE ondersoek

pelughawe‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Tlali Tlali sê hulle stel ondersoek in na ‘n vals kapingskennisgewing wat gistermiddag paniek veroorsaak het op ‘n vlug wat in Port Elizabeth geland het.

Volgens Tlali is die vals kennisgewing geaktivieer vir die vlug SA 417 wat in Johannesburg opgestyg het.

Nooddienste en bykomende veiligheidspersoneel is na die lughawe in Port Elizabeth gestuur om die vlug in te wag.

Tlali sê die vliegtuig en al die passasiers is deursoek, en is veilig verklaar. Hy sê hulle wil graag uitvind waar die kapingskennisgewing vandaan gekom het.- RSG