Afrikanerbanke

As jy dit nog nie self ervaar het nie, het jy seker al meermale gehoor van vriende en kennisse met eindelose frustrasies by dié banke waarvan sommige eens groot Afrikanerinstellings was.

Ons het so gewoond begin raak om deur volksvreemdes bedien te word. Uit frustrasie praat ons soms maar Engels net om gedoen te kry wat gedoen moet word – en selfs dít maak dit nie altyd makliker nie. Die internet help gelukkig dat ons minder in toue hoef te staan, maar soms moet ons tog iemand gaan spreek by ‘n bank. Daarvoor moet daar dan eers die nodige moed bymekaar geskraap word, want ons weet al watter avontuur wag. Om net oor te dra wat jou behoefte is (veral as dit nie deur die standaarddiens bevredig kan word nie), is meermale ‘n proses wat kreatiwiteit en deursettingsvermoë verg.

Ek hoor stemme opgaan wat sê: “Ons moet ons voet neersit en eis dat ons in ons eie taal bedien word.” Waarom? Wil ons altyd aan ander dienswillig bly? Waarom wil ons vashou aan instellings wat lankal nie meer aan ons behoort nie? Wil ons dít wat ons bymekaar kon maak nog langer onder die beheer plaas van persone en instellings wat, op hul beste, nie ons belange op die hart dra nie en nog meer geld in hulle sakke steek? Kon die Afrikaner nie in die verlede (al is dit ‘n geslag voor die meeste van ons) dit regkry om reuse-instellings op die been te bring nie? Ons het die vermoë. Ons het dit eenmaal gedoen en ons kan dit weer doen.

Net soos daar op alle ander terreine van ons volk se lewe na eie strukture gestrewe moet word (soms met innoverende idees), moet daar ook gestrewe word na instellings wat bankdienste aan, deur en terwille van die Afrikaner kan lewer. Deur verskillende entiteite wat outonoom funksioneer, word die risiko van ‘n oorname van ‘n groot suksesvolle instelling deur vyandige of gierige partye drasties verminder.

Daar het reeds drie “Afrikanerbanke” die lig gesien wat besig is om te groei en die pad voor te berei. Hierdie instellings werk met mekaar saam ten einde ‘n relevante bydrae te lewer tot die daarstel van ‘n groterwordende Volksekonomie.

Die drie instellings: Kleinfontein Spaar en Krediet Koöperatief, Orania Spaar en Krediet Koöperatief en Oranjekas, is spaar- en kredietkoöperasies wat in die proses is om om te skakel na koöperatiewe banke. In hierdie instellings en andere wat mag volg, lê die vermoë om die fondse van Afrikaners wat tans deur vreemde instellings beheer word vir eie gewin, oor te neem, te bestuur en fondse te genereer wat gebruik kan word om die belange (waaronder die strewe na selfbeskikking) van die Afrikaner te bevorder.

Uit die aard van die saak moet dit instellings wees wat in eie reg finansieel kan bestaan en kan die implementering daarvan nie met ‘n enkele daad afgehandel word nie. Daarom sal dit ‘n proses wees om te beweeg van die eerste basiese dienste na volledige bankdienste aan die volk.

Die drie instellings wat ek genoem het, is pioniers in die aanspreek van hierdie behoefte en het reeds ver gevorder in die realisering daarvan. Die basiese dienste van beleggings, lenings en spaarrekeninge (met beperkte toegang) kan reeds gedoen word, maar onderhandelinge is al goed op dreef om binnekort kaartfasiliteite en internettoegang beskikbaar te stel.

Die nasionale en selfs internasionale ondersteuning deur die vryheidsliewende Afrikaner van hierdie instellings en die oprig van nuwes kan ‘n tydvak van ‘n nuwe ekonomiese opbloei vir die Afrikaner inlei.

все персонажи мультфильмовпрокурор Фильчаков

Orania vat die spoor

Daar is min plattelandse dorpies in die wêreld wat kan spog met al die aandag wat ons eie Orania geniet. Vir byna twintig jaar besoek joernaliste, politici, akademici en talle ander nuuskierige agies van heinde en ver hierdie bedrywige dorpie in die Bo-Karoo. Hoekom dan nou juis Orania?

Op die oog af lyk Orania soos ‘n rustige plek met sy skilderagtige Karookoppies wat uitstaan bo nederige wonings, pekanneutboorde en uitgestrekte landerye. Die Oranjerivier is die hoofaar van die dorp en sorg vir ‘n plantryke omgewing, wat op sy beurt sorg vir ‘n voëlryke lugruim. Heelwat besighede is werksaam op die dorp en twee volkseie skole bevorder die jonges se kennis. Die oënskynlik landelike voorkoms van Orania behoort weliswaar geen sensasionele emosies by die benieude besoeker op te wek nie.

Egter beskou niemand Orania as net nog ‘n plattelandse dorpie nie. Soos Nkandla in KwaZulu-Natal is Orania ook die tuiste van ‘n bevolkingsgroep wat inheems aan suidelike Afrika is. Tewens beskik beide gemeenskappe oor ‘n paar uiteenlopende eienskappe waar onder meer kultuur, taal en ander antropologiese faktore die besoeker onmiddelik daarvan sal oortuig dat hy in twee verskillende lande is.

Dit is immers nie revolusionêr dat die mono-etniese Zoeloe-bevolking van Nkandla hul kultuur sonder vreemde inmenging kan uitleef nie; tog is daar mense wat hulself vergaap aan Afrikaners in Orania wat presies dieselfde basiese menseregte geniet. ‘n Heel koddige situasie as mens bietjie daaroor dink.

Oraniërs het al vrede gemaak met die kortsigtigheid van sommige mense en fokus veel eerder op die groot verantwoordelikheid wat hulle op hul skouers geneem het. Om ‘n etniese minderheid in Afrika te wees is nie ‘n gesogte posisie nie, veral nie as mens deur ‘n vyandige volksvreemde meerderheid regeer word nie. Mens sit met ‘n probleem indien dié meerderheid nóg bekwaam, nóg betroubaar optree.

Die logiese oplossing is om onder die juk van die volksvreemde meerderheid uit te kom eerder as om langsamerhand te kwyn. Hierbenewens is ‘n eie grondgebied, eie arbeid en selfbeskikking oor eie instellings die voorvereistes vir oorlewing. Desnieteenstaande moet eie grondgebied deurlopend uitgebrei word terwyl eie arbeid in baie gevalle eers opgelei moet word en dan moet eie instellings nog van meet af opgebou word. Tog bewys Oraniërs daagliks dat hierdie ‘n berg is wat die Afrikaner wel kan klim.

Op Saterdag 6 Maart 2010 het Orania talle CVO-skole van reg oor suidelike Afrika ontvang tydens ‘n groot sportbyeenkoms. Vir baie kinders en ouers was dit ‘n eerste smakie van Afrikanervryheid en ‘n geleentheid om te sien hoe Orania uit sy pionierskoene gegroei het en nou ‘n ontwikkelingsfase betree. Hierdie einste volkstaatgroeipunt wat destyds as ‘n doodgebore konsep bestempel was, het vir honderde besoekende gesinne ‘n veilige, gerieflike en gesellige ligging geword waar ouers hul kinders kan sien presteer op die sportveld, hul taal onbeskaamd kan praat en hul kultuur onverhinderd kan uitleef.

Terwyl toestande in Mzanzi vandag behoorlik pas hou met die res van Afrika is Orania besig om met rasse skrede vooruit te beweeg, warm op die spoor van Afrikaner-republikeinse vryheid.

компрессор с ресивером купитьДанильченко Юрий Харьков

Orania en Obama

Die huidige ronde van die volkstaatdebat het híér begin op 11 Januarie 2010:

Sou jy dit oorweeg om in ‘n volkstaat te bly?

Ja: 56% 6191 stemme

Nee: 27% 2941 stemme

Dit hang af: 17% 1912 stemme

Aangesien ek op generlei wyse betrokke is by Beeld of Naspers nie en ook nie ‘n pleitbesorger vir hulle is nie, is dit natuurlik nie aan my bekend wat hulle beweegredes of motivering was om die meningspeiling te hou nie, maar één ding wat soos ‘n paal bo water staan, is dat hulle méér gekry het as waarop hulle gereken het.

Let wel: dit was nie ‘n peiling oor Orania in die besonder nie, maar oor ‘n volkstaat in die algemeen.

Al het ek ook nie ‘n opdrag van Orania nie, is dit vir my duidelik dat, van Pieter du Toit se abortiewe poging om hulle verleentheid oor die uitslag te verbloem en te verdoesel, tot Tim du Plessis se rubriek in Vrydag se Beeld asook uit die leserskommentare, dat die oorgrote meerderheid mense die Afrikanervolkstaatgedagte koppel aan Orania.

Heeltemal tereg ook, want dit is die Oraniërs en hulle voorsate/voorgangers wat dekades gelede al die volkstaatgedagtes en -pogings geloods het met, onder andere, die nedersetting by Morgenzon.

Aangesien “enige publisiteit beter is as geen publisiteit”, is die huidige debat dus ‘n welkome bonus vir Orania en sou ‘n mens verwag dat ondersteuners van die ideaal hulle ingevolge goeie ou boere gesonde verstand sou vereenselwig met die Orania vertrekpunt, wat oortuigende getuienis lewer van die praktiese haalbaarheid van die volkstaatgedagte, mits ‘n mens die moed van jou oortuiging het.

Wat sien ons egter?

Skielik kom elkeen te voorskyn met sy eie mishoop waar hy wil koning kraai, van Anton Barnard en Dan Roodt tot Danie Goosen, in plaas daarvan dat hulle skouer aan die Ossewaniawiel sit en die Orania-inisiatief met volle oortuiging en alle mag ondersteun.

Één opslaanhuis is méér werd as tien lugkastele!

Nou wil julle seker weet waar kom Obama dan in…

Reeds gedurende die Amerikaanse presidensiële voorverkiesingsveldtog was daar die enkelinge wat gewaarsku het dat, in teenstelling met McCain, Obama géén bewese rekord van praktiese leierskapsprestasies het nie, maar niemand wou luister nie.

установка брекетов стоимостьАлександр Фильчаков Васильевич

Anton Barnard is reg: Afrikanerowerheid eerste

Anton Barnard se skrywe oor die Wolkstaat stuur die gesprek oor Afrikanerselfbeskikking in die regte ringting. Ten eerste is dit belangrike dat die nuwe lewe wat hierdie gesprek ontvang het, volgehou word. Ten tweede moet ons nou realisties praat en raakvat.

Anton se argument, dat om nou reeds oor grense te kibbel voortydig is en dat dit boonop veroorsaak dat die onderskeie faksies vir mekaar die herrie in raak, is gewis die waarheid. Sy argument dat dit die Afrikaner se teenstanders van ammunisie voorsien om Afrikanerselfbeskikking af te skiet, is ook korrek.

Mag ek self enkele voorstelle aan die hand doen? Ek verstaan dat Afrikanerleiers nie ten volle daarvan sal kan wegkom om van grense te praat nie, maar indien hulle dan moet, mog hulle dit hoogstens in baie vae terme doen. Dit doen nie die selfbeskikkingsideaal enige guns deurdat faksionele leiers mekaar se idees van waar die volkstaat moet wees, afskiet nie. Vir die pro-Pretoria-volkstaters om die Oraniërs af te skiet en andersom is, op hierdie stadium, ‘n sinnelose gesprek wat meer skade as goed doen. Dit bring verlamming mee en werk so in die vyand se hand.

Eintlik kan al die onderskeie gebiede uiteindelik deel wees van ‘n volkstaat, of dalk nie een daarvan nie. Die punt wat Anton aanraak en waarmee ek volmondig saamstem, is dat Afrikanerselfbeskiking, ten minste in die kort termyn nie van ‘n volkstaat afhanklik is nie. Hoewel die volkstaat die doel is waarheen gewerk moet word, sal dit raadsaam wees om die strukture, ‘n Afrikanerowerheid (AO), nou reeds op die been te bring.  Daar is tientalle redes waarom die stigting van ‘n AO die eerste prioritiet moet wees. Anton het dit reeds grootliks aangespreek, so ek sal dit vir die oomblik daar laat.

Die idee van ‘n AO wat dienstegeoriënteerd is eerder as ‘n blote politieke spreekbuis klink ook in die kol. Dienslewering sal geloofwaardigheid skep en daarmee saam groei in ondersteuning. Vanuit die staanspoor mag dit nie moontlik wees om dienste te lewer nie, maar Rome is nie in een dag gebou nie. Die feit is dat ‘n AO baie vinnig invloed en mag sal ontwikkel, wat dan weer as vertrekpunt na territoriale selfbeskikking sal dien.

Ook stem ek saam met Anton dat die stigting van die AO op nie-demokratiese grondslag plaasvind. Anton se logika is reg, dat ‘n demokratiese proses te langsaam is en dat dit selfs totstandkoming kan belemmer. Wat wel van kardinale belang is, is dat die stigters hoëprofiel- Afrikanerleiers en ‘n breë front van organisasies moet insluit. Daarsonder sal geloofwaardigheid weereens ‘n probleem wees. Daar behoort wel ‘n rooster neergelê te word vir die demokratisering van ‘n te stigte AO.

En dit is waarskynlik hier waar die wa in die drif gaan vassit. Ons leiers kan maar net nie vir mekaar vind nie en dit blyk dat elkeen koning wil kraai op sy eie mishoop. Dat elkeen hul eie organisasie wil kultiveer om die boom te word wat die vrugte van Afrikanervryheid gaan dra is uiters eng en gevaarlik. Hierdie voortgesette faksionalisme verteenwoordig ‘n roekelose gedobbel met die voortbestaan van die Afrikanervolk.

Hierdie stugge domastrantheid moet ten einde kom. Niemand wen hierdeur nie en intussen is die Afrikaner/Boerevolk die groot verloorder. Ons leiers moet besef dat nie een van hulle die heilige beker van waarheid vashou nie. Elkeen het hoogstens ten dele ‘n waarheid beet. Die grootse waarheid lê langs die weg van kompromievorming.

Ek het voorheen ‘n beroep op ons leiers gedoen om emosionele intelligensie ten opsigte van mekaar aan die dag te lê. Dis tyd dat hulle die ander ou se ego net so belangrik soos hulle eie ag en lig loop om op mekaar se tone te trap. Of ons dit nou wil weet of nie, maar Afrikaners (en Afrikanerleiers) se ego’s is baie meer kleinserig as wat hulle wil voorgee. Eintlik is alle mense maar so. Dit is die normale stand van die menselike psige.

Ons leiers moet egter oorgaan tot een of ander akkoord vir die vorming van ‘n AO. Iemand sal die inisiatief moet neem. Die vraag is egter: “Wie?” Ek mag verkeerd wees, maar my gevoel is dat dit nie sonder aanmoediging gaan gebeur nie. Dis hier waar ek aan die hand wil doen dat ons ‘n nie-partypolitieke petisie op die been bring om die leierskap van alle Afrikanerfaksies tot so ‘n aksie op te roep. Indien hulle in gebreke bly om ‘n populêre oproep te gehoorsaam, kan dit op rekord gestel word dat hulle die volk in sy uur van nood die rug gekeer het.

медицинская справка 86Фильчаков

Die ons-is-nie-so-nie Afrikaners

Die meningspeiling onder Beeld lesers,waar ‘n meerderheid hul ten gunste van ‘n volkstaat uitspreek, is veelseggend as mens in ag neem dat baie “regses” in elk geval nie eers Naspers se dagblaaie lees nie.

Tim du Plessis se reaksie is egter tipies: Hierdie mense wil nie regtig ‘n volkstaat soos Orania hê nie, hulle is maar net ontevrede.

Dan gee Tim vir ons ‘n tipiese Nasperssedeprekie wat daarop neerkom dat jy ontevrede mag wees, solank jy nie “regs” is nie. Soos gewoonlik word die term “regs” en “rassisties” na willekeur omgeruil.

Tim stel dan terselfertyd dat die begrippe regs ,links, verlig en verkramp uitgediende begrippe raak. Hierdie nuwe standpunt is betekenisvol, want politieke etikettering is ‘n sleutelkomponent van Naspers se strategie as selfaangestelde meningsvormer van “Afrikaanses”. Ek vermoed hierdie nuwe standpunt is noodgedwonge omdat, volgens die Naspers definisie van “regs” en “rassisties”, die meeste van Beeld se lesers nou “regse rassiste” is.

Met die Reitzvideo se histerie het Tim egter vir ons ‘n nuwe etiket vir die “nuwe” verligte Afrikaners gegee, nl. die “ons-is-nie-so-Afrikaners”.

Die ons-is-nie-so-Afrikaners het eers ‘n gemors van Apartheid gemaak en nou klaarblyklik aan die onderhandelingstafel ook ‘n gemors van die liberale demokrasie gemaak. Al ideaal wat nou vir hulle oorgebly het is “om nie soos die regses te wees nie.”

Kom ons kyk na ‘n paar tipies regse Afrikaners wat ten gunste is van selfbeskikking:

Piet Retief

Andries Pretorius

Koos de la Rey

Christiaan de Wet

Kom ons kyk na ‘n paar tipies linkse “ons- is-nie-so” Afrikaners wat ‘n nou onbekende politieke bedeling voorstaan:

Piet Koornhof

Pik Botha

F.W.de Klerk

Eugene de Kock

Die interessantste voorbeeld van die ons-is-nie-so-Afrikaners is natuurlik Eugene de Kock,wat volgens Rapport losgelaat gaan word om regses te jag.

Ek verstaan nou hoekom Naspers so ontsteld is oor De Kock se moontlike vrylating, want as hy losgelaat word kan Beeld die meeste van sy lesers verloor.

 

advertising cost onлобановский александр дочь

Orania is die volkstaat, en basta!

Dan Roodt, jy is n intelligente man, maar soms dink ek my oordeel laat my in die steek.

Jy praat en praat, maar wat is die oplossings?

Ek was ook jare terug in jou posisie, deur te weet iets is erg verkeerd maar nie te weet wat die oplossings is nie.

Daar is ‘n hele rits organisasies wat ‘regs’ is, maar nie besef dat almal reeds weet wat die probleem is nie, mense soek oplossings.

Oplosings is nie om Pretoria se naam te behou nie, want as daar nie meer mense is wat aan Pretoria se naam waarde heg nie, dan kan hulle dit rustig verander.

Tans is die gevaar dat sake so skeef loop dat die oorblywende blanke in Suid Afrika met haas sal vlug, omdat die “Regses” nie die oplossings wat werk nastreef nie maar eerder hul volgelinge probeer oortuig van wêreldhowe en ander twak.

Ons kans om SA terug te kry onder ons beheer is nul, ‘n kind van vyf kan dit vir jou sê.

Wat wel waar is, is dat Orania reeds bestaan, mense leef daar met ‘n kriminele statistiek vergelykbaar met Switserland.

Jy propageer dat dit n onwerklbare plan is, en verkoop malhede soos om Silver Lakes en ander voorstede (waar hope volksvreemdes reeds woon) eerder te sien as potensiële volkstate?

Klim in jou kar en gaan ondersoek Orania eerstehands.

Wat nodig is, is dat volksgenote belê in industrie daar, stuur kinders na koshuise toe daar, sodat die plek kan uitbrei om plek te maak vir wanneer alles finaal hier uitmekaar val.

Prof. Boshoff kan jou vat en wys dat sy plan werk, die res kan jou net n klomp twak vertel, jy is nie uitgesluit nie.

Beste Marius,

Net drie opmerkings:

1. Carel Boshoff IV het Vrydagaand 15 Januarie 2010 by die Diamantvaleilandgoed uit sy eie erken dat “Orania nie die politieke oplossing vir die Afrikaner is nie” en dat die plek meer van ‘n “geslaagde eksperiment” as ‘n volwaardige volkstaat is.

2. Die infrastruktuurbelegging om 2 tot 3 miljoen Afrikaners in die Noord-Kaap te vestig, sal waarskynlik triljoene rand in vandag se geld kos; waar gaan dit vandaan kom. Ry bietjie hier in Pretoria, Centurion en Midrand rond en dink by jouself dat alles wat jy hier om jou sien op Orania gebou moet word.

3. Ek was al op Orania en het groot waardering vir wat daar vermag is. Myns insiens moet Orania deel vorm van die uiteindelike groter volkstaat, ons eie ondafhanklike Afrikaanse Republiek.

Dan Roodt

турецкий хамампрокурор Фильчаков

Volkstaat moet Weste van die land uitmaak

Volkstaat vanaf Orania weswaartsDie huidige debat rondom ‘n volkstaat wat op beide Praag en Die Beeld se webwerwe losgebars het, het my genoop om na beide die kaarte van Praag en die VF+ se voorgestelde gebiede te kyk. Die gebied wat deur Praag voorgestel word sal ideaal wees, maar ek kan eenvoudige nie insien hoe die ANC ooit afstand van hierdie gebiede sal doen nie. Dit vorm hoofsaaklik die ekonomiese hartland van die Suid-Afrikaanse staat, en demografies bevat dit ‘n baie hoë bevolkingsgetal wat by verre uit nie-Afrikaners bestaan. Ek wil my eie voorstel indien en sal graag die mense van Praag se opinie daaroor wil pols.

As ‘n mens die VF+ se voorgestelde gebied in die Noord-Kaap (met dorpe soos Prieska, Barkly-Wes en Jan Kempdorp ook ingesluit) neem en dit deur ‘n strook met die Groter Pretoria area (insluitend Brits en Hartebeespoortdam) verbind, kan dit nie ‘n meer verkrygbare gebied vorm nie. Hierdie strook sluit dan rofweg die Wes-Rand, Potchefstroom, Klerksdorp en Schweizer-Reneke in. Dalk kan dele van die Noordwes-Vrystaat wat gebiede soos Bothaville en Odendaalsrus insluit aangeheg word?

Die voordele van die VF+ gebied is dat dit yl bewoon is, dus kan ‘n Afrikaner meerderheid wel in ‘n relatiewe kort tydperk bewerkstellig word en daar is geen nywerhede of myne wat die ANC as redes kan aanvoer om nie die gebied af te staan nie. Dit verleen ook toegang tot die weskus en dus ‘n seeverbinding. Die Groter Pretoria gebied, die Wes-Rand en die strook wat dele van die ou Wes-Transvaal en Noordwes-Vrystaat kan insluit bevat reeds ‘n hoë konsentrasie Afrikaners, daar is sterk kultuur-historiese aansprake en ‘n reeds gevestigde infrastruktuur. Dit mag ook net makliker wees om byvoorbeeld Afrikaners wat in die Oos-Rand en Johannesburg woon te oorreed om hulle in die Afrikaner Wes-Rand of Groter Pretoria gebiede te vestig. Nie juis ‘n reuse trek dan nie of hoe! Ek sien uit na Praag se kommentaar.

тамбов лежакилобановский александр игоревич

Beeld se volkstaatpeiling: ‘n geleentheid vir die VF+?

Die Afrikaanse dagblad Beeld het ‘n peiling op sy webwerf gehou wat gevra het of sy lesers, wat byna almal Afrikaners is, ‘n volkstaat sou steun. ‘n Volslae meerderheid, 54%, het gesê ja. ‘n Verdere 19% het gesê dit hang af. Sowat sewentig persent van Beeld se lesers sou die gedagte dus moontlik steun.

Beeld het die peiling opgevolg met ‘n stuk linkse propaganda verbloem as ‘n redaksionele stuk wat kommentaar gelewer het oor die peiling, wat weer eens toon hoe uit pas Beeld met sy lesers is. Alhoewel tot soveel as 70% van sy lesers voel dat hulle nie meer lus is vir die reënboognasie nie, blaas Beeld steeds in dié rubriek die uitgediende vuvuzela van die gefaalde Azaniese staat, en verkwansel hy steeds sy multi-kulti perdevye as soetkoek. Die vuvuzela wat Beeld blaas se deuntjie is die ou-ou een: Afrikaners sal sink of swem saam met die res van Mzansi. Dis ‘n belaglike argument, soortgelyk daaraan vir ‘n passasier op die Titanic om vol te hou hy wil nie op ‘n reddingsboot klim nie, want hy wil graag saam met die skip sink.

Die peiling se uitkoms was nietemin ‘n baie verblydende uitslag vir my. Dit lyk of die meerderheid Afrikaners uiteindelik die skrif aan die muur gesien het. Suid-Afrika was toe nié anders as enige ander Afrikaland suid van die Sahara nie, het Jan Alleman besef. Die ANC was toe nie die redders wat aan ons voorgehou is nie. Suid-Afrika is nie spesiaal nie, en ook nie sy swart regering nie. Dit is bloot nog ‘n Afrikaland, met alles wat dit impliseer: endemiese misdaad, verval, wanbestuur, korrupsie; ‘n land wat onderworpe aan die stelselmatige verdomming en ‘n versnelling na agterlikheid wat so kenmerkend van post-koloniale Afrika is. Selfs Beeld se redaksionele stuk erken noodgedwonge dat laasgenoemde die geval is.

Die uitslag van die peiling is die goeie nuus. Dit lyk of die tyd ryp is vir selfbeskikking.

Die raaiselagtige verskynsel, en die minder goeie nuus, is egter dat Afrikaners, die meningspeiling ten spyt, skynbaar die volkstaatgedagte slegs in die teorie steun. Op voetsoolvlak het ons wat Afrikaners is skynbaar ander prioriteite as ‘n volkstaat. Die Vryheidsfront Plus is immers sedert sy ontstaan reeds by uitstek die voorstaander van dié gedagte, maar die groot meerderheid blankes, meer as 90% van die blanke kiesers, ook Beeld se lesers, stem eerder vir die DA as vir die VF+. Die VF+ se gedagte was vir ‘n volkstaat aan die Weskus, met Orania as die beginpunt. Daar is so ‘n kaart op die VF+ se webwerf.

Of is dit so raaiselagtig dat Afrikaners die volkstaat as slegs goeie plan beskou in die abstrakte? Ek dink nie so nie.

Ek het nou kennelik die voordeel van ‘n 20/20 geskiedenisvisie, maar die eerste probleem is dat Orania bykans sinoniem geword het met die volkstaatgedagte. Dit was ‘n fout om Orania aan die volkstaatgedagte te koppel. Daar gaan mense wees wat nou kwaad gaan wees vir my, maar as ons eerlik met onsself moet wees, sal ons moet toegee Orania het nie gewerk nie en dat die VF+ sy geld gevolglik destyds op die verkeerde perd verwed het.

Daar was tot onlangs toe minder as 1000 inwoners, dws minder Afrikaners as wat daar in ‘n kleinerige voorstad van Centurion of Kaapstad woon. Voorts is Orania se behoudende lewensuitkyk nou nie juis iets wat ek vermoed aanklank sal vind by jongmense nie. Beeld se berig lê op sarkastiese wyse sy vinger op die probleem: volgens Beeld se rubriek verkies die Afrikaners eerder die Menlynpark-winkelsentrum. Beeld is helaas reg. Pieter Mulder, die leier van die VF+, asook die VF+ se topleierskap, woon nie een eens in Orania nie, omdat daar geen ekonomiese geleenthede daar is nie. Praktiese oorwegings weeg swaarder as ‘n volkstaat. Dis nie onverwags nie. Bitter min Afrikaners gaan uit hul poste bedank en die risiko neem om na ‘n woestynstreek te verhuis wat sonder werksgeleenthede is, al kla hulle oor die simptome van ‘n vervallende Afrikaland.

Omdat Orania se sukses heel beperk is, word die volkstaatgedagte en dus selfbeskikking vir Afrikaners met dieselfde kwas geteer. Omdat Orania nie uit sy nate bars nie, sal selfbeskikking ook nie werk nie, word geïmpliseer. Selfs die VF+ sal dit erken, soos mens duidelik kan agterkom uit die VF+ se bykans totale stilte oor die Noordkaapse volkstaat deesdae. Om te sê die VF+ is deesdae selfs louwarm oor ‘n volkstaat, sou wees om dinge te oordryf. Dit is gevolglik al te maklik vir opponente van selfbeskikking om ‘n vinger na Orania te wys en te sê: “Daar’s julle volkstaat, maar julle eie mense stel nie eens belang nie.” Sodoende word die gedagte van selfbeskikking as onbelangrik en doodgebore afgemaak, juis omdat die publiek Orania en selfbeskikking noodwendig met mekaar assosieer.

Daar is egter ‘n probleem wat selfs groter as die publiek se persepsies van Orania is. Dit is naamlik dat selfbeskikking en ‘n volkstaat, dws ‘n afgebakende, onafhanklike gebied, bykans sinoniem geword het. Mense sal stellings maak soos dat ‘n onafhanklike grondgebied ‘n voorvereiste is vir selfbeskikking. En nie net sommer énige grondgebied nie: dit moet een wees met seetoegang, anders as heelwat ander suksesvolle lande soos die sjarmante Switserland, Oostenryk, Tsjeggië, Luxembourg en ander plekke wat op ‘n verbysterende wyse daarin slaag om as lande te oorleef sonder seetoegang of ‘n hawe. Luister jy na hierdie mense, moet mens eers die stuk grond en dan selfbeskikking kry.

Sê wie?

Die Palestyne en Israel baklei donkiejare al oor grondgebied, maar nietemin het die Palestyne ‘n groot mate van selfbeskikking en ‘n eie owerheid, die PO. Die PO bestaan al is daar laslappies van Israel se nedersettings op die Wesoewer (die gewaande gebrek aan lewensvatbaarheid van laslappies is nog ‘n gunstelingbeswaar.) Die Baske in Spanje geniet heelwat outonomiteit, maar Spanje se grondgebied is nie verdeel in twee afsonderlike lande nie. Die Duitse volk is nie ‘n sinoniem vir die Duitse grondgebied nie. Die Afrikanervolk is ook nie noodwendig gebiedsgebonde nie. Daar bly immers sowat 150,000 jong Afrikaners op enige tydstip in Londen. Die Jode is stellig die beste voorbeeld van ‘n volk wat dwarsoor die wêreld versprei is, en tot 1948 toe geen grondgebied gehad het nie. Wat verhoed Afrikaners om ‘n eie owerheid tot stand te bring? Beslis nie die huidige gebrek aan ‘n grondgebied nie, behalwe natuurlik as iemand my wil vertel dat ons nie sulke goeie bestuurders as die Palestyne kan wees nie.

Al is hy tans in die praktyk hoogstens louwarm teenoor die gedagte van selfbeskikking, bly die VF+ nietemin steeds ‘n sleutelrolspeler in hierdie verband. Die VF+ se prestasie by die stembus is hoeka reeds op ‘n afwaartse trajek. Vernuwing is duidelik nodig. Die beste stuurmanne staan mos altyd aan wal, maar as hierdie stuurman die VF+ van raad kon bedien, sou ek die volgende voorstel.

1. Beweeg weg van die gedagte van onmiddelike territoriale onafhanklikheid, en lê klem op selfbeskikking, in teenstelling met ‘n eie land of ‘n volkstaat as ‘n mediumtermyndoelwit. Kry sodoende eindelik iets wat ‘n differensiator is tussen die VF+ en die DA: waar die DA ‘n multi-kulti ANC-lite is, hoort die VF+ na my mening sy naam gestand te doen en hom te beywer vir selfbeskikking, soortgelyk aan dié wat die Baske en Katalane in Spanje geniet, of dan die PO.

2. Die heel eerste stap in hierdie proses is die totstandkoming van ‘n Afrikanerowerheid, ‘n verkose liggaam wat onafhanklik van ‘n politieke party staan, en wat ten doel het om van die regeringsfunksies wat die ANC regime in elk geval nie kan lewer nie, aan Afrikaners te verskaf. Veiligheid is die aangewese beginpunt.

3. Drink maar die onaangename medisyne en stap af van die Orania / Noordkaapgedagte. Dis doodgebore en ‘n albatros om die nek.

4. Maak ‘n eie grondgebied of, na my mening, grondgebiede rondom Pretoria en in die Weskaap, die langtermyndoelwit.

Beeld se peiling het getoon dat iets tussen 50% en 70% van Afrikanerkiesers reg is om die gedagte van selfbeskikking te steun. Die VF+ se stempersentasie is onder die 9%, wat beteken dat iets tussen 40 en 60% van die Afrikanerkiesers reg is om selfbeskikking te ondersteun, maar in weerwil daarvan vir ‘n liberale reënboognasieparty stem. Is dit net ek, of wink hier ‘n gróót geleentheid vir die VF+?

Lees gerus ook Anton Barnard se woernaal, SAmizdat.

люстры интернеталександр лобановский класс

Die blywende aard van die volkstaat

Die dae van die vorming en oprigting van Volkstate is waarskynlik nie getel nie. 'n Amerikaanse deskundige, Jerry Z. Muller, het in 'n artikel in Foreign Affairs aangetoon hoe modernisering grootliks die oorsaak van etniese selfbewussyn en separatisme is. 

Muller, 'n professor in geskiedenis aan die Katolieke Universiteit van Amerika, skryf in die Maart/April uitgawe van Foreign Affairs  (my vertaling): “Etniese nasionalisme het ‘n groter en meer blywende rol in die moderne geskiedenis gespeel as wat algemeen verstaan word, en die prosesse wat gelei het tot die dominansie van die etnies-nasionale staat asook die skeiding van etniese groepe in Europa gaan waarskynlik elders herhaal word.  Verhoogde verstedeliking, geletterdheid en politieke mobilisasie; verskille in bevolkingsaanwasse,  die ekonomiese prestasie van verskillende etniese groepe en immigrasie sal die interne strukture en grense van state uitdaag.  Of dit nou polities korrek is of nie; etniese nasionalisme sal voortgaan om die wêreld van die een-en-twintigste-eeu te vorm.”

Mense ag die nasiestaat vandag as die vanselfsprekende vorm van politieke assosiasie terwyl die gedagte van ‘n ryk uiters skaars is.  Die geskiedenis toon egter dat mense vir langer in Ryke as in Nasiestate gewoon het.

Gedurende die dae van die Hapsburg- en Romanofryk was die handel- of middelklasse grootliks Duitsers of Jode.  In die Ottomaanse ryk was hulle Armeniërs, Grieke of Jode, terwyl die werkersklasse etnies uiteenlopend was. 

Die militêre kompetisie tussen die ryke het hulle genoop om te moderniseer ten einde hulle ekonomieë in staat te stel om die nodige weermagte te produseer en te onderhou.  Hierdie modernisering van die ekonomieë het massageletterdheid en maklike kommunikasie genoodsaak.  Die grootliks landbou-gerigte etniese groepe soos die Tsjegge, Pole, Slowakiërs en Oekraïners het verstedelik, net om agter te kom dat dit onmoontlik is om ekonomies te vorder in werksplekke wat nie jou taal en kultuur deel nie.  Sprekers van dieselfde tale het begin om hul lotgevalle as gedeel te ervaar en om hul gemeenskappe teenoor ander te definieer.  Uiteindelik het hulle ook begin om state van hul eie op te eis.

Michael P. Todaro en Stephen C. Smith skryf in Economic Development dat (my vertaling): “Etnisiteit en geloof gereeld ‘n wesenlike rol in die sukses of mislukking van ontwikkelingspogings speel.  Dit is duidelik dat hoe groter die etniese- en geloofsdiversiteit van ‘n land, hoe groter is die kans dat daar interne twis en politieke onstabiliteit sal wees.  Dit is daarom nie verrassend nie dat die mees suksesvolle onlangse ontwikkelingservarings – Suid-Korea, Taiwan, Singapoer en Hong Kong – in homogene kulturele samelewings voorgekom het.

Vandag is daar ‘n gewilde illusie dat ons in ‘n wêreld van individuele regte, oop grense en internasionale reg leef.  Tog ervaar die duisende Afrikane en Asiërs wat jaarliks sterf in hul pogings om Europa binne te kom dat sy grense in werklikheid nie so oop is nie. ‘n Opname sal toon dat daar in 1900 vele state in Europa was wat nie oor ‘n enkele dominante etniese bevolking beskik het nie, terwyl daar in 2008 slegs twee sulke state oor is, waarvan een (België) geleidelik besig is om in twee te verdeel.  Die separatistiese projek het in Europa geseëvier; nie verdwyn nie.

Suid-Afrika as politieke entiteit is veel meer tekenend van dié van ‘n ryk as van ‘n nasiestaat.  Die grondgebied is so groot soos dié van Wes-Europa, terwyl elf tale amptelik erken word.

Die apartheidsregering wou nie die nodige finansiële opofferings maak om etniese nasiestate op ‘n geordende wyse te laat ontstaan nie.  Die ANC-regering daarteenoor, skroom nie om die instrumente van modernisering mildelik op die landelike bevolkings te laat neerreën nie.  Die plakkerskampe wat soos paddastoele opspring, toon duidelik aan dat die proses van verstedeliking onstuitbare momentum geniet. 

Die Amerikaanse militêre skrywer, James F. Dunnigan, beskryf Suid-Afrika as ‘n moontlike toekomstige konflikgebied.  Hy skryf dat multikulturalisme die vloek van Afrika is terwyl Suid-Afrika nie anders is nie; dat demokrasie ‘n hoog aangeskrewe doel is, maar dat dit ‘n glibberige dier is wat in gewapende wanorde opeindig indien dit nie bymekaar gehou kan word nie.

Geweldpleging vorm ‘n omgewing waarin daar meer verloorders as wenners is.  Die gedagte daaraan laat my naar word.  Dit hoef egter nie die enigste uitweg te wees nie.  Om Carel Boshoff (IV) aan te haal: “Sedert 1900 het die geografiese gebied wat ons as Suid-Afrika ken oor ses drasties verskillende grondwette beskik.  Die nuutste sal in alle waarskynlikheid nie die laaste een wees nie.”

As Oraniër is dit vir my verblydend om te sien hoe die groei van die dorp, ekonomies sowel as demografies, vir Afrikaners aandui dat daar ook vir ons hier in Suidelike Afrika ‘n ruimte is waarin ons onsself sal kan uitleef.

интернет магазин детских товаровлобановский александр