Waarnemende president Joseph Msika het Maandag gesê ondernemings wat nie gehoor gee aan die regering se opdrag nie, is ”verraaiers” wat met buitelandse magte saamwerk om die Mugabe-regering tot ’n val te bring. ”Ons sal nie ons pogings laat vaar om hierdie ongewenste situasie reg te stel nie. Sommige gewetenlose vervaardigers bly uitdagend en skep ’n kunsmatige gebrek aan goedere,” het Msika gesê. “Ons sal nie verraaiers, drosters en geldknoeiers toelaat om in te meng met ons goeie lewe nie,” was sy waarskuwing aan sakelui.
Robert Mugabe is tans in Akkra, waar hy die beraad van Afrika-unieleiers bywoon. Verlede Woensdag het hy buitelandse maatskappye in Zimbabwe gedreig dat hy hulle sal nasionaliseer. Dit lyk of Mugabe probeer om met hierdie soort uitsprake sy rustelose bevolking te paai.
Eergister het Mugabe ’n jubelende skare in Ghana toegespreek en ’n beroep op politieke en ekonomiese eenheid in Afrika gedoen. ”Om eerlik te wees, as ons nie ons sokkies optrek, begin organiseer en ons hulpbronne gesamentlik aanwend nie, sal ons nooit welvarend word van hulp wat uit bronne buite Afrika ontvang word nie,“ het hy die toehoorders vermaan. Mugabe is nou 83 jaar oud en steeds vasbeslote om in 2008 weer vir president in Zimbabwe te staan.
