Vliegtuig van AAL verongeluk

Image

Nog ‘n vliegongeluk

Ses mense het Donderdag die lewe gelaat in ‘n ongeluk nadat ‘n Boeing 737 van die nasionale lugredery van Angola, Angola Air Lines, ‘n noodlanding moes uitvoer. Die nuus is deur die Angolese persagentskap, Angop, bekend gemaak. Afrika spog reeds met die swakste lugvaartrekord ter wêreld en hierdie is die tweede noodlottige voorval wat die kontinent in Junie opgelewer het.

 
Aan die begin van die maand het ‘n Boeing 737 van Kenyan Airlines neergestort nadat dit van Kameroen se Douala-lughawe opgestyg het oppad na Nairobi. Die ongeluk het 114 lewens geëis. Dié lugredery het voorheen gespog met ‘n veilige diens aangesien Air France-KLM ‘n 26% aandeel besit.
 
Nigerië het die ergste rekord van alle tye opgestel so onlangs as tussen 2005 en 2006 toe 200 mense in lugongelukke omgekom het. Dit het IATA genoop om ‘n ‘Partnership for Safety’ program van stapel te stuur in samewerking met Pratt & Whitney asook Boeing aan die begin van 2007.
 
Die hoof van Angolese Inligting (TAAG), Mario Perreira, het bevestig dat ‘n vliegtuig verongeluk het, maar kon nie ‘n aanduiding gee van die aantal slagoffers of passasiers nie. In Luanda het ‘n Direkteur van ‘n maatskappy wat vir lughawe-onderhoud verantwoordelik is, Celso Rosa, egter gesê daar was 70 passasiers aanboord.
 
Die Angolese vliegtuig het blykbaar op die lughawe van Mbanza-Kongo ‘n noodlanding uitgevoer waarna dit in ‘n gebou gebots het en aan die brand geslaan het. Die gebou is in puin gelaat. Die lughawe is 480km noord vanaf die hoofstad geleë naby die grens van Gaboen en die Kongo. Die vlug het gister omstreek een-uur van Luanda opgestyg.

Meneer Rosa het ook aangedui dat daar "geen probleem met die toestand van die vliegtuig was wat die ongeluk kon veroorsaak nie". Die onderhoud was glo op datum. Angop beweer insgelyks in hul verklaring dat die loodse nie die vliegtuig na die landing onder beheer kon bring nie.

Daar heers ook nog geen eenstemmigheid oor die dodetal of die aantal reisigers nie. Volgens die Angolese staatsradiodiens is 4 mense oorlede en 66 van die 70 passasiers beseer. Angop maak melding van 78 passasiers waarvan 6 gedood is. Laasgenoemde bron beweer voorts dat ‘n Italiaanse priester, George Zulanelo, onder die oorledenes is.

Omdat daar geen gesondheids- of nooddienste in die noorde is nie, moes TAAG inderhaas ‘n Boeing na Mbanza-Kongo stuur om die beseerdes te gaan haal en na Luanda terug te bring vir mediese sorg. Dokters, verpleegsters en ‘n tegniese span was aan boord. ‘n Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is ondertussen gelas.

сауны своимиАлександр Фильчаков