praag.co.za

Energiekonferensie in Botswana

Written by

in

Die Toronto- asook Botswana-aandelebeursgenoteerde CIC Energy Corp sal die nuwe geïntegreerde aanleg en kragstasie ontwikkel saam met International Power plc. Aangesien die prys van die projek gestyg het vanweë die wêreldwye belangstelling in energie, moet bykomende beleggers gevind word om die enorme skuldlas te help dra.

Kgomotso Abi, regeringsamptenaar van Botswana meen dit is skandalig dat dié beskikbare grondstof so afgeskeep word en dat sy land net 1 miljoen ton per jaar lewer. Die Mmamabula-projek word as onontbeerlik vir die streek se ontwikkeling geag omdat elektrisiteitsvoorsiening reeds nie na wense geskied nie.

Nie net in Suid-Afrika is daar tekorte en moet Eskom die publiek daagliks aan besparing herinner nie. Die minister van Energiesake van Zambië het in April aangekondig dat sy land nie met die stygende aanvraag van 1 600 megawatt tans tot 4 500 megawatt in 2010 kan voorbly nie.

In Zimbabwe is toestande besonder sleg en die land moet 40% van sy elektrisiteit invoer van Zambië en die DRK. Net soos Zambië nie hul buurman langer van hulp sal kan wees nie, is die DRK ook nie in staat om elektrisiteit vir uitvoerdoeleindes te lewer nie omdat daar ‘n dringende energietekort aan die tuisfront dreig.

Suid-Afrika sal die grootste voordeel uit die nuwe Mmamabula-stasie trek van tussen 2 100 MW tot 2 400MW. Net die opbrengs van een van die 15 myne wat tans in Botswana ontgin word is voorts groot genoeg om na markte in China en Indië verskeep te word. Die Richardsbaaispoorlyn sal egter opgegradeer moet word om so ‘n vragtoename te kan hanteer.

Blessed Chitambira, ingenieur van die Mynwese-departement van Botswana, het benadruk dat sy land nie al hul rykdom aan buitelanders sal afstaan nie en dat omgewingsfaktore swaar sal weeg om te keer dat bronne oorbenut word. Omgewingskenners neem ook deel aan die konferensie op dieselfde vlak as beleggers en steenkoolmynspesialiste sodat die "geologiese omgewing van Botswana" nie uit die oog verloor word nie. Die myn sal uit ‘n oopgroef- sowel as ‘n ondergrondse deel bestaan.

Suid-Afrikaanse kennis is aangewend in die bestuur van die projek. Wynand Marais is as HUB aangestel. Ander bestuurders, veral ondergrondse mynspesialiste, wat met die hand uitgesoek is, is Jock Nel, Ronnie van Eeden, en Tegniese Direkteur Dr Jacob van der Merwe.

Alhoewel Botswana se groeikoers van 9% afgeneem het na 5%, is dit steeds ‘n prestasie vir ‘n Afrikaland. Dit is uitsluitlik natuurlik te danke aan toerisme en veral diamante wat verantwoordelik is vir 77% van uitvoerinkomste wat die staat inoes. Ten spyte van die ekonomiese welslae bly die werkloosheidkoers egter tussen 24% en 40%.

справку пндФильчаков прокурор отзывы

Comments

Leave a Reply