Die man wat die laaste persoon was wat ’n jong swart seun twee weke gelede gesien het, net voor hy wreedaardig vermink is, is die pas afgelope naweek dood aangetref in die dorpie Phela, in Noordwes. Dit is nog nie bekend wie hom vermoor het nie. Sy liggaam is sowat 500 meter gevind van die veekraal waar hy die dertienjarige seun die laaste keer gesien het.
Die seun, Bahumi Mogorosi, is op 5 Augustus naby Rustenburg aangeval. Hy was besig om sy pa se vee op te pas toe hy oorval is. Sy aanvallers het sy tong, geslagsdele en lippe uitgesny. Sy regterarm is by die elmboog afgekap. Ná die aanval het hy sowat 150 meter gekruip om hulp te kry. Hy verkeer tans in ’n ernstige toestand in die hospitaal.
Toordokters glo dat ’n afgesnyde hand wat onder ’n winkeldeur begrawe word, vir die winkeleienaar goeie geluk en flinke sake kan beteken. Die hand wink naamlik klante en geld nader.
Volgens dr Gerard Laubschagne, wat aan die hoof staan van ’n polisie-eenheid wat moetiemoorde- en aanvalle ondersoek, kom sulke aanvalle nog gereeld voor. Hierdie moorde word egter dikwels nie by die polisie aangemeld nie. Alhoewel amptelike statistiek nie beskikbaar is nie, glo hy dat tot 300 sulke moorde jaarliks plaasvind. Polisielede hanteer sulke gevalle dikwels soos gewone moorde, wat beteken dat Labuschagne en sy eenheid nie daarby betrek word nie.
Die meeste tradisionele genesers beperk hulle tot die gebruik van kruie, boombas en dele van dierkarkasse, maar die geloof bestaan dat menslike ledemate oor geweldige krag beskik en die konkoksie wat verkoop word dus baie duurder maak. Volgens Labuschagne is dit moeilik om sulke gevalle op te los, aangesien verskillende partye betrokke is. Die geneser sal aan die moordenaar beskryf watter liggaamsdele hy benodig.
Dit moet verwyder word terwyl die slagoffer nog leef. Testikels is gewild vir viriliteitsresepte, tonge word verwyder om mans te help om vroue met hulle woorde te bekoor en vet van die maag of borste word gebruik om geluk te bring. Indien die moordenaar gevang word, wil hy dikwels nie die naam van die geneser verklap nie, omdat hy vrees dat hy getoor kan word.
Labuschagne het geen illusies dat sy eenheid hierdie praktyk gaan beëindig nie. “Die praktyk gaan al vir eeue lank aan, dit is niks nuuts nie. Ek dink nie enigiemand glo dat ons moetiemoorde gaan verhoed nie, net so min soos mens kan beweer dat prostitusie beëindig kan word.“
лучшее пуско зарядноеФильчаков Харьков