Tokyo kritiseer sy kamarade

Image

Tokyo Sexwale

Tokyo Sexwale, wat onlangs sy presidensiële ambisie bekend gemaak het, het Vrydag die huidige situasie in die ANC gekritiseer. Volgens hom word die klimaat binne die party gekenmerk deur “karaktermoord, smeerveldtogte, moddergooiery, fluisterveldtogte en die verspreiding van gerugte.”

Sexwale het by ’n fondsinsamelingsdinee van die ANC-jeugliga opgetree. Volgens hom dra nie een van bogenoemde aspekte by tot “die soeke na beter lewenskwaliteit vir al ons burgers nie.” Hy is aan die einde van sy toespraak luid toegejuig. Hy het die gaste daaraan herinner dat diegene wat Chris Hani destyds vermoor het, die land in chaos wou dompel. Hy het dit vergelyk met wat nou in die ANC-alliansie aan die gang is. “Hoekom doen ons dit aan onsself?” wou hy weet.

Die voormalige Gauteng-premier en sakeman het verder beklemtoon dat baie ander ANC-leiers betrokke was in die sakewêreld, soos hyself. Albert Luthuli was byvoorbeeld voorsitter van die Afrika Suikerboervereniging en Walter Sisulu het ook sakebelange gehad. “So, ons hou van sakemanne in die ANC,” het hy gesê.

Hy het nie in sy toespraak na sy presidensiële ambisie verwys nie. Hy meen die ANC staan tans voor ’n keuse: hulle kan in ’n gekkeparadys lewe of aandag gee aan kwessies soos “faksievorming, etniese tendense, provinsialisme, streeksverbondenheid en etnisiteit.“

Alhoewel hy nie direk verwys het na Thabo Mbeki of Jacob Zuma nie, het Sexwale gesê “die uitruil van beledigings in die openbaar, afkrakende kommentaar en soortgelyke afbrekende openbare optrede deur leiers wat ’n voorbeeld behoort te stel, moet vinnig in die kiem gesmoor word.“ As dit nie gebeur nie, sal die ANC volgens hom die respek en vertroue van hul ondersteuners verloor.

Sexwale meen voorts dat, in die lig van die huidige klimaat in die party, mense nie verbaas moet wees oor die “toename in gewaagde massaprotes en die ontstellend gewelddadige betogings en ander vorme van onwettige optrede wat deur kwellinge oor dienslewering veroorsaak word nie.“ Hy het verwys na die situasie in Khutsong waar “ons skynbaar beheer verloor het.“

Wat die ANC se nasionale konferensie in Desember betref, meen Sexwale dat mense moet besef dat daar nie ’n superster verkies gaan word wat met ’n towerstaffie al die party se probleme gaan oplos nie. Wat belangrik is, is dat leiers verkies word wat die uitdagings verstaan en “wat altyd onthou dat dit nodig is om ’n beter lewe vir almal te skep.“

центробежный насосФильчаков