Die voormalige Gauteng-premier en sakeman het verder beklemtoon dat baie ander ANC-leiers betrokke was in die sakewêreld, soos hyself. Albert Luthuli was byvoorbeeld voorsitter van die Afrika Suikerboervereniging en Walter Sisulu het ook sakebelange gehad. “So, ons hou van sakemanne in die ANC,” het hy gesê.
Hy het nie in sy toespraak na sy presidensiële ambisie verwys nie. Hy meen die ANC staan tans voor ’n keuse: hulle kan in ’n gekkeparadys lewe of aandag gee aan kwessies soos “faksievorming, etniese tendense, provinsialisme, streeksverbondenheid en etnisiteit.“
Alhoewel hy nie direk verwys het na Thabo Mbeki of Jacob Zuma nie, het Sexwale gesê “die uitruil van beledigings in die openbaar, afkrakende kommentaar en soortgelyke afbrekende openbare optrede deur leiers wat ’n voorbeeld behoort te stel, moet vinnig in die kiem gesmoor word.“ As dit nie gebeur nie, sal die ANC volgens hom die respek en vertroue van hul ondersteuners verloor.
Sexwale meen voorts dat, in die lig van die huidige klimaat in die party, mense nie verbaas moet wees oor die “toename in gewaagde massaprotes en die ontstellend gewelddadige betogings en ander vorme van onwettige optrede wat deur kwellinge oor dienslewering veroorsaak word nie.“ Hy het verwys na die situasie in Khutsong waar “ons skynbaar beheer verloor het.“
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.