Die geskiedenis is geskryf in 1994 en ja, die meerderheid Afrikaners en blankes in die algemeen, het die droom geglo. Ek onthou nog hoe ek 'n alleenstem was in my finalejaarklas op Tuks. Ek onthou nog hoe ek met my plantkundeprof geargumenteer het. Dit het min of meer gegaan oor "jou pêrels vir die swyne gooi", ens. Die demokrasie werk mos maar so: die meerderheid se wil geld. Deur nou vir FW van verraad te beskuldig, is maar net suur druiwe. Ek het geweet die monster wat geskep is, gaan ons geskiedenis en baie van ons mense self verslind. My vraag is, hoekom het jy nie?
Wat beteken die naam Pretoria sonder sy oorspronklike inhoud? Die inhoud wat Afrikanertrots versinnebeeld het. 'n Boer op sy perd in die middestad omring deur 'n woelige Afrikaanse gemeenskap – die stadsaal, Transvaalse museum, 'n geskiedkundige Pretoriastasie met besonderse argitektuur, banke op elke hoek met Afrikaanse toonbankpersoneel, die reserwebank, die hoogs gesofistikeerde staatsteater waar opera en klassiekemusiekuitvoerings in deftige bekleding ondersteun is, 'n wakende Uniegebou met 'n oorheersend Afrikaanse parlement, die AJO (Afrikaanse Jeugorganisasie) met sy Anton Van Wouw-beelde by sy ingange om hulpbehoewende en jong Afrikaners in die algemeen, 'n tuiste in die stad te gee, die yslike groot NG Kerk-moedergemeente wat nog jongmense kon trek, Melrose-huis wat half vergete daar in die middestad soos 'n doemprofeet vir die Afrikaner tot herhinnering roep en dan die Heldeakker wat eens 'n plek van helde was, maar wat nou gestroop word van alles wat waardevol is en kort-kort aan die lot van hekse en ander vandale oorgelaat word.
Kortom, Pretoria het sy siel verloor; net die skelet bly oor. Daardie skelet het 'n nuwe naam – Tshwane. Selfs die juweel van Afrikaanse universiteite, Tuks – daar waar die ossewa in die glaskas onder die biblioteek ons aan ons wortels herinner het – het die ossewa stilweg verwyder om die skelet Tshwane tot diens te wees. Soos die nuwe vlag by die Uniegebou hoort, so hoort die nuwe naam by die nuwe Pretoria.
Word wakker, kyk om julle. Pretoria ís Tshwane. Trouens, ek dink dis taamlik arrogant van 'n klein minderheidsgroepie om hulle wil op 'n oorweldigende meerderheid te wil afdwing. Wanneer laas het julle daar in die ooste van Pretoria gaan besoek aflê in Mabopane, Shoshanguwe, Eersterus en Garankuwa. Ek dink dis tydmors om vir 'n leë dop te probeer stry. Ek stel nie belang in die naam sonder sy inhoud nie. Soos 'n Springbokspan sonder Afrikaners, sonder 'n vlag, sonder 'n volkslied, sonder sy siel…
Dus vra jy my, sou ek sê Pretoria is klaar Tshwane, maar vra jy my of mens 'n keel moet opsit dan sou ek wou aanhaal: "Soet is die stryd van die stryder". Ek geniet dit om die vyand te treiter, want dit hou ons strydgees wakker. Die verset gaan dus oor die stryd self en nie oor die skelet van Pretoria nie.
Die belangrikste vir my, vir die Afrikaner, is sy gees. As ons ons gees kan lewendig hou, kan ons weer voor begin, hier of elders of self later weer die name herstel – wie weet…?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.