Volgens ekonomiese kenners kan hierdie wetgewing die ekonomiese krisis in die land aansienlik vererger. Dit sal aan die regering ongekende magte verleen om te besluit hoe buitelandse firmas, ook in die mynbedryf, moet funksioneer.
Mugabe is vas van plan om die wetsontwerp goedgekeur te kry. Sy ZANU-PF-party het immers die meerderheid setels in die parlement. Die nuutste poging van die regering om sy greep op die land se ekonomie te verstewig, kom net ná ’n aankondiging dat die land se inflasiekoers nou op 7 634% staan.
Chroniese tekorte aan petrol, kos en buitelandse valuta is toenemend aan die orde van die dag. Die nuwe inflasiekoers volg op die regering se onlangse besluit dat alle prysverhogings gestaak moet word, wat winkelrakke leeg gelaat en tekorte vererger het. Sowat 80% van die bevolking is tans werkloos.
Intussen het die Suid-Afrikaanse regering Donderdag sy tevredenheid uitgespreek oor die moontlikheid van vrye en regverdige verkiesings in Zimbabwe. Die kabinet het ’n verslag van president Thabo Mbeki aanvaar waarin beweer word dat die president se pogings om ’n ooreenkoms tussen ZANU-PF en die MDC-opposisie te beding “volgens plan verloop.”
Volgens Themba Maseko, regeringswoordvoerder, word vertroue in die verslag uitgespreek dat “hierdie samesprekings tot ’n ooreenkoms sal lei wat die fondament vir vrye en regverdige verkiesings in Zimbabwe sal lê.“
Dit volg op verlede week se SAOG-byeenkoms in Lusaka, waar leiers van suidelike Afrika saamgestem het dat die probleme in Zimbabwe “oordryf word.“
