Belgi? bly sonder ‘n regering n? koalisievorming misluk

Image

Yves Leterme… misluk

BRUSSEL – Die poging van Yves Leterme om ‘n nuwe Belgiese regering saam te stel, het misluk. Ná 40 dae van onderhandelinge tussen die verskillende politieke partye, het hy vir die eerste keer in 40 jaar die Belgiese koning in kennis gestel dat hy geen regering kon saamstel nie. Die koning moes eers uit Frankryk gehaal word waar hy vermoedelik met vakansie was.

België het ‘n swetterjoel partye wat boonop tussen Nederlandstalige Vlaminge en Franstalige Wale verdeel is. Leterme het gepoog om steun rondom die Christen-Demokratiese party te monster en sodoende ‘n meerderheid te kry om ‘n kabinet saam te stel.

Die eerste poging om ‘n regering te vorm, het reeds op 10 Junie – 75 dae gelede – misluk. Vanaf daardie datum het die Franstalige partye teeneise teenoor die Vlaamse partye begin instel, in reaksie op Vlaamse eise van vóór 10 Junie. Hierdie teeneise was vir die Vlaamse partye heeltemal onaanvaarbaar. Vlaminge verteenwoordig 60% van die Belgiese bevolking, maar betaal tagtig persent van die land se belastings. Hulle glo dat hulle deur hul Franstalige medeburgers uitgebuit word wat op die welvaartstaat teer en sodoende van Vlaamse geld leef.

Woesdagaand het die Vlaamse partye van die Franstaliges geëis dat hulle moet verklaar of hulle ernstig is om ‘n nuwe staatsvorming deur te voer. Hulle het egter geen bevredigende antwoord ontvang nie. Tot diep in die nag is gepoog om ‘n kompromis te bereik. Teen middagete gister was dit egter duidelik dat daar ‘n dooiepunt in die onderhandelinge tussen Vlaamse en Franstalige partye bereik is en het Yves Leterme besluit om die koning, die simboliese staatshoof van België, in kennis te stel.

Die Franstalige partye blameer die Vlaamse partye vir die mislukking omdat hulle te veel mag en outonomie wil opeis, asook die regeringsvormer wat volgens hulle nie ‘n goeie werkswyse aan die dag gelê het nie.

Die Vlaamse partye CD&V/N-VA en Open VLD vorm ‘n hegte gemeenskapsfront en verwyt die Franstalige partye, veral die CDH, vir die mislukking. Volgens hulle bly die Franstalige partye die debat ontwyk en "hoor nie" wat die Vlaamse partye bedoel met hul vraag na ‘n "ernstige" staatshervorming wat op groter Vlaamse outonomie moet uitloop nie.

Die leier van die nasionalistiese Vlaams Belang, Filip Dewinter, het reeds te kenne gegee dat die Vlaamse Parlement tot ‘n referendum oor Vlaamse onafhanklikheid behoort oor te gaan. Daar bestaan altesaam sewe parlemente in België, sowel geografiese streeksparlemente as parlemente wat die drie taalgemeenskappe (Nederlands, Frans en Duits) bedien.

Die MR, ‘n Franstalige party, kon die Vlaamse partye nog ‘n ooreenkoms bereik wat die kulturele en sosio-ekonomiese geskille sou bylê, maar nie met die CDH waarvan die leidster, Joëlle Milquet, volstrek nee gesê het. Die CDH het nie goed gedoen in die verkiesing in Mei nie en het gehoop op ‘n koalisieregering met die Sosialistiese Party. Op die huidige sentrum-regse koalisie was die party glad nie voorbereid nie. Boonop sou deelname aan so ‘n koalisie die CDH verbind tot federale hervormings en groter magte vir die taalgemeenskappe waaroor hy aan sy kiesers belowe het dat dit "nooit" sou deurgaan nie.

Die Belgiese koning het gisteraand sy raadpleginge begin en het al die MR-voorsitter Reynders ontvang. Die verwagting is nou dat die koning gou ‘n skakelbeampte of bemiddelaar sal aanstel wat waarskynlik Franstalig sal wees.

Die skakelbeampte of bemiddelaar kan poog om nuwe koalisiekombinasies te vind, of kan terugval op diegene wat die eerste koninklike bemiddelaar, Jean-Luc Dehaene, "die enigste realisties moontlike koalisie" noem. In die laaste geval moet hy of sy poog om ‘n keuse van koalisievennote te vind wat die Vlaamse partye tot koalisievorming kan verlei. Daar is geen ander manier nie. ‘n Regering sonder die sentrum-regse Vlaamse party, die CD&V/N-VA is onmoontlik. En Open VLD sal met geen ander koalisievenoot saamwerk nie.

Dit is ironies dat twee taalgemeenskappe wat ‘n hoofstad, Brussel, met die Europese Unie van 25 lande deel, nie in staat is om mekaar te vind as dit by die samestelling van die Belgiese regering kom nie.

signup bonusОлександр Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae