Terwyl Guinee Donderdag hul spyt oor die gebeure beken het, het die Franse aangedring op ‘n verduideliking asook ‘n versekering dat so iets nie herhaal sal word nie. Polisievakbonde het ook gevra dat hul lede beter beskerming moet geniet in delikate operasies, volgens die minister van binnelandse sake, Michèle Alliot-Marie. Sy het bygevoeg dat sulke optrede van Guinese burgers "heeltemal onaanvaarbaar" is.
Die ses polisielede wat deel vorm van grensbewaking is met hul aankoms in Konakry deur passasiers en voornemende reisigers aangerand. Alhoewel hulle nie ernstig beseer is nie, is die lede almal getraumatiseer deur die aanvalle. Die twee Guineërs wat deur die Franse teruggeneem is na hul land van herkoms het losgekom en was deelagtig aan die rebellie.
Volgens die ses Franse het die Guinese polisie in Konakry hulle ingewag en ook deelgeneem in die aanval. Die twee onwettige immigrante was klaarblyklik uit die staanspoor "aggressief" en het begin gil en skree om passasiers "vir hul saak op te sweep". Verskeie passasiers het die grenspolisie van "onmenslikheid" beskuldig nog voor die vliegtuig opgestyg het en die "verwelkomingspartytjie" wat vir die ses polisielede gereed gestaan het is dmv selfone vooraf vanuit Parys gereël.
Die Guinese regering ontken dat hul polisie aan die aanrandings deelgeneem het. Die twee onwettige immigrante was deel van die groepie hongerstakers wat al ‘n paar weke lank in Lille protesteer. ‘n Woordvoerder van ‘n Franse organisasie wat vir onwettige burgers omgee, Comité des sans-papiers du Nord, sê die Franse regering se optrede is ‘n skandaal. Hy meen onwettige immigrante word soos "ondermense" behandel.
